Jy blaai in die argief vir 2014 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Opgevrolik en ontevrede

Augustus 26, 2014 in Uncategorized

Marius Crous resenseer Die stilte opgeskort, deur Heilna du Plooy. (Boeke24)
Ek word erg opgevrolik deur resensies soos hierdie ene; ’n resensent wat nie ’n digbundel benader asof dit per definisie bo almal se vuurmaakplekke is nie, maar verstaanbaar vir alle sterwelinge. Toegegee, Du Plooy maak daarna, maar Crous dui die temas aan, verpak sy mening netjies en lê ’n mening aan ons voor wat die bundel baie sterk aanbeveel. Jammer dan net, nè, dat Crous nie verder ingegaan het nie op die implikasies van die Versindaba-onderhoud wat hy heeltemal ten regte aanhaal. Waarskynlik net ons ou Pukke wat sal snap hoe ’n groot ding Du Plooy in daardie onderhoud gesê het en wat die politieke implikasies daarvan is.

Riëtte Grobler resenseer Ctrl Z my lewe, deur Cheréne Pienaar. (Boeke24)
Terwyl die groot en klein dramas van ons lewens elders duisendvoudig afspeel, sit ek en wonder hoe dit moontlik is om ’n hele resensie te skryf sonder om te verduidelik wat die titel van die boek beteken. “Dat die titel ’n dubbele betekenis het, oor geloof en natuurlik in rekenaarterme, is ’n slim kinkel,” verduidelik Grobler. Maar nadat die uwe in al my middeljarige onskuld die resensie gelees het, weet ek nie wat die hoofkarakter by implikasie wil hê “undo” moet word nie. Wil sy doodgaan of met ’n skoon lei begin. Die antwoord sal ons ontwyk tot ons die boek gelees het; die vraag is net of die resensent dit gevind het.

Elsabé du Toit resenseer Die 13de kaart, deur Madelein Rust. (Boeke24)
Dit sal gebeur. In die resensie waarin gekla word oor die oormaat clichés in die boek, sluit die resensent af met die versugting dat die hoofkarakter ’n huishoudelike naam sal word vir Afrikaanse misdaadverhaal-aanhangers.

Marius Crous resenseer Solank verlange die sweep swaai, deur Danie Marais. (LitNet)
Twee resensies van digbundels binne twee dae – maar ’sulke resensie skud mens nie in ’n oggend uit die mou nie. Mens kan aanneem Marius Crous het ’n aanloop van meer as ’n maand gehad om daaroor na te dink. Uiteindelik het Heilna du Plooy se bundel hom geval, en Danie Marais s’n nie. Die krag van sy Du Plooy-resensie is die groot tematiese uitleg. Waar sy aanvaarding van Du Plooy se goeie hoedanghede geskied sonder stilistiese detailkritiek, vereis sy negatiewe reaksie op Marais se bundel dit wel. Hy verkies egter om te konsentreer op inhoud, en die leser moet vir lief neem daarmee dat hy nie die poësie onderwerp aan ’n analise van die retoriese middele nie. Hy vind Marais se verse voorspelbaar en ervaar dit as verkapte prosa. “Verkapte prosa” is die naaste wat hy aan stylanalise kom, wat jammer is, gegee die baie ruimte tot sy beskikking. Die herlees van sy resensie wek ’n verdere gewaarwording: Dat Crous meer reageer op die lewe wat deur die digter vir openbare konsumpsie verdig word as wat hy op die verse self reageer. Twee gedigte kry ’n mate van goedkeuring, maar Crous haal nie daaruit aan nie; sy aanhalings reserveer hy vir dinge wat uiteindelik as dwarsklappe beskou moet word. Die skerpste daarvan (en ek haal dit met ’n mate van bewondering aan vir sy formulering):  ” ‘Die dronkverdriet hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê’ (91) is eweneens ’n kragtige manifes oor die digterskap en staan ook in die teken van die aanhaling uit Auden elders in die bundel, naamlik dat poësie eintlik tot niks aanleiding gee nie.” Crous se slot, waarin hy ’n aanhaling gebruik om Marais sarkasties aan te moedig om prosa te skryf, eindig met “Miskien voel ek dat die outobiografiese verslaglewering oor sy saai middelklaslewe nou te eenselwig word en dat daar nie genoeg poëtiese eksperimentering is om die leser tot ander insigte te dwing nie.” Miskien? ’n Resensie waarvan die eerste paragraaf ’n ophaal is van vorige negatiewe kritiek op Marais se verse, en daarna ’n gekla oor die gedigte se voorspelbaarheid, gaan nie oor hoe die resensent miskien voel nie. Die probleem is natuurlik dat hierdie resensie mens aan die dink sit oor dinge wat Crous kon geskryf het, maar nie het nie. Binne ons literêre taalfamilie dink mens aan soortgelyke situasies. Die Nederlandse Tagtigers, ons eie Dertigers en Sestigers se reaksies op die gemoedlik alledaagse in die digkuns; het Crous nie hier die kans gehad – terwyl dit handel oor die persoonlike lewe wat so sterk figureer in die gedigte – om in opvolging van daardie literêre bewegings ’n groot standpuntinname te maak oor die huidige groeipunte in die Afrikaanse digkuns nie? Met verwysing na die praatvers en die ontploffing daarvan op Facebook en die internet. Miskien is dit dat ek meer verwag van ’n bespreking wat op LitNet verskyn.

Profile photo of crito

by crito

Weer die regte resensent

Augustus 13, 2014 in Uncategorized

Deon Maas bespreek ’n Duisend stories oor Johannesburg, deur Harry Kalmer. (Boeke24)
Dis ’n vreeslike ding wat mens besef, so met die lees van Deon Maas se resensie: Net Johannesburgers kan nostalgies raak oor daardie plek. Sy resensie is gedompel in liefde vir die stad en sy mense, vir die verlede wat Johannesburg so saam met die jare probeer afskud het, en afgeskud gekry het, tot net hul liefde vir die stad oorgebly het. Ek dink nou al soos Maas. En Kalmer, by verstek. Dis ’n goeie resensie hierdie. Maas is nie’n literator nie, hy is ’n enfant terrible wat, of hy dit sal erken of nie, glo in kultuur. Sy resensie van Kalmer se boek is reguit en eerlik, nostalgies en hunkerend. Hy gaan haal dit by X-Ray Visagie, en bring mens dan onder Kalmer se bekoring sonder om die verhaal uit te spel of te veel detail te verklap. Sy een beskrywing van hoe Kalmer sy verhaal geleidelik ontvou is só oorspronklik mens wil sommer hande klap: “…terwyl Harry sy storie stadig ontbloot soos ’n ontkleedanser wat langer as net een Guns N’ Roses-liedjie vat om van haar klere ontslae te raak.” En rondom alles is Johannesburg se allure, purper soos die voorstedelike dak wat die stad se jakarandas in die somer opsit. Dit was ’n begeesterde keuse om Deon Maas hierdie boek te laat resenseer.

Neels Jackson bespreek Geloof anderkant Sondag, deur Julian Müller. (Boeke24)
Jean Oosthuizen bespreek Geloof anderkant Sondag, deur Julian Müller. (Rapport Boeke)
Gepraat van die regte ressensent vir ’n boek kry. Hier is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n boekeredakteur ’n resensent kan kies met ’n doel voor oë – omdat hulle voorspelbaar sal optree binne ’n gegewe konteks. Oosthuizen is Müller simpatiek gesind; Jackson hou by veilige uitsprake wat Müller tot ’n groot mate marginaliseer. Mens kan raai dat Rapport vir Oosthuizen gekies het omdat sy resensie reaksie sou uitlok. Neels Jackson, as redakteur van die Kerkbode, sou gewis nie op té veel tone trap met sy resensie nie. Ook geen verrassing nie dat Oosthuizen die Woordfees 2013-debakel ophaal, en Jackson nie.

Gielie Hoffmann bespreek Die baanbrekers, deur Marco Botha. (Boeke24)
Ja, ek het die boek onmiddelik bestel. Ek stel belang in die motiveringswetenskap, en hierdie werk skyn, na aanleiding van Gielie Hoffmann se resensie, presies in my kraam te pas. Dit is vir my betekenisvol dat Suid-Afrika in die afgelope dekade of twee mense opgelewer het wat die internasionale sporttoneel sterk beïnvloed het – en hierdie resensie maak my wys dat mens hier die beste oorsig daaroor sal kry. Maar ek maak my ook gereed vir tandekners, want Hoffmann se resensie is nie ’n kritiese verslag nie. Hy sê baie dinge wat my laat wonder of hy nie dalk té veel onder die ban van sommige van die afrigters is nie. Hy kry hoendervel wanneer hy na Heyneke Meyer se spangesprekke luister – wat gaan van die man oorbly as hy die dag in die kleedkamer instap van ’n werklik verbeeldingryke afrigter?

Dewald Koen bespreek Pleisters vir die dooies, deur Fanie Viljoen. (LitNet)
Dewald Koen gebruik die groter ruimte wat LitNet tot sy beskikking stel en skryf die soort resensie wat sy hoë taksering van die roman ondersteun. En, bygesê, wat Fanie Viljoen verdien. Pleister vir die dooies is ’n jeugroman wat ook tot volwassenes sal spreek – dis grensverskuiwend, baanbrekerswerk en Afrikaans se eie Catcher in the Rye, sê Koen. In sy reaksie agterna reageer hy verder op vrae deur Jonathan Amid. Die resensie, loshande die beste behandeling wat Fanie Viljoen in baie jare van ’n kritikus gekry het, is nog nie volledig nie, en die duiwel sit in die formulerings wat hy ten afsluite maak. Met die argumentering en opbou van die bespreking kan mens nie fout vind nie, hoewel ek voel dat hy in meer detail ’n kritiese oog kon gegooi het op die roman se ratwerk: plot, spanningslyn, karakterbou, tempo, en so meer. Maar as jy in ag neem dat hy reeds ’n veel langer resensie op grond van die belangrikheid van die publikasie sou kon motiveer, is hy dit aan sowel die skrywer as die leser van boek én resensie verskuldig om ook krities stil te staan by die sake wat hy aanroer. Byvoorbeeld oor hoekom volwassenes ’n jeugroman sal geniet – is die tipering “jeugroman” hier geldig? Is Fanie Viljoen ’n jeugroman-skrywer, of ’n roman-skrywer? Die konsep “grensverskuiwend” ten opsigte van Afrikaanse jeugromans moet uitgepak word, so ook “baanbrekerswerk”. Dit behoort nie vir Jonathan Amid nodig te wees om verdere vrae te stel nie. En dan Catcher in the Rye: die verband/vergelyking tussen die twee moet geanaliseer word, al is dit dan net kursories. Ek vermoed dit sal hom moontlik weer by die kwessie van geyktheid en stereotipes uitbring, wat vir my baie interessant sal wees. Coenraad Walters se reaksie op Koen se resensie is ook ’n belangrike voetnoot by hierdie resensie. Dalk moet LitNet die twee in tandem gebruik vir hul dekking van jeuglektuur?

Profile photo of crito

by crito

‘n Bietjie noir

Augustus 5, 2014 in Uncategorized

Deborah Steinmair bespreek Waar boosheid broei, deur Peet Venter. (Rapport Boeke)
Deborah Steinmair is ’n slim skrywer. Sy voer mens met woorde, maar gee jou fantasie en nagmerries in. Wanneer sy resensies skryf, kry ek altyd die gevoel dat sy met albei hande sukkel om haar tong uit haar kieste te beur, maar moed opgegee het. Met hierdie resensie kon ek nie die gevoel afskud dat sy dit aanvanklik geskryf het met ’n uitroepteken aan die einde van elke sin nie. Kyk net hier: “Venter het ’n sober, ekonomiese en trefseker aanslag! Hy het ’n slag met die uitbeelding van gewetenlose geweld! Die leser is in bekwame hande, die storie stu onweerstaanbaar voort! Die boek is uitmergelend en onneersitbaar! Die magte van lig en donker is in ’n stoeigreep verstrengel, ook in die gemoed van die “goeie ouens”! Daar is heelwat op die spel! Dis grinterig en hardgebak! Die protagoniste is voor die voet dodelik aantreklik en sexy, maar menseverhoudings bly ’n taai turksvy!” Voordat ek gestenig word: Elders in dié noir-resensie duik die tekens op wat mens help om die roman in perspektief te plaas, te laat besef dat ondanks sy geankerdheid in die misdaadroman-kultuur, jy hier met die ware Jakob te doen het: “misdaadfiksie wat baie wil vermag, kommentaar lewer en stof tot nadenke bied,” in Steinmair se woorde. As Steinmair sê sy het iets geniet, bedoel sy dit. Peet Venter sal die resensie waardeer.

Jean Oosthuizen bespreek Ek kies steeds die kerk, deur Neels Jackson. (Rapport Boeke)
Die tweede en grotendeels waarderende resensie oor Neels Jackson se gebundelde rubrieke. By Oosthuizen bespeur ’n mens ’n groter mate van sinisme as by André Bartlett (wat die ander bespreking geskryf het). Sy opmerking oor kerke wat voortploeter oor die gay-kwessie is betekenisvol, en sy slotwoorde oor die verhale van ander mense wat nie meer die kerk kies as veilige ruimte om hul geloof uit te leef nie smeek om opvolging deur die uitgewer van hierdie boek.

Cas van Rensburg bespreek Kamphoer, deur Francois Smith (Boeke24)
Van Rensburg voorspel ’n groot toekoms as skrywer vir Francois Smith, maar al het hy dit nie só uitgespel nie, vind mens in hierdie deeglike analise van Kamphoer se goeie hoedanighede die soort opmerking wat jou dit in elk geval laat besef: Hoe die leser soms gedwing is om woord vir woord te lees tot dit hom uiteindelik letterlik asemloos gelaat het. Van Rensburg se resensie wys dat hy ook ’n gawe het met die geskrewe woord, en met die opbou van ’n betoog. Hierdie resensie kon mens lees omdat jy dit geniet het om te beleef hoe ‘n meesterlike resensent sy gedagtes onder woorde bring. Kamphoer het hom aangespoor om een van sy beste boekresensies nog vir die huidige boekeblad-regime te skryf. Terloops: As daar al ooit ’n kandidaat vir Elmari Rautenbach se tweevuis resensie-benadering was, is dit  Kamphoer. Dit is ’n gebruik wat gerus op meer gereelde basis kan herleef.