Profile photo of crito

by

Taai toffie

Julie 29, 2014 in Uncategorized

Wium van Zyl skryf oor Vlugtig deur die hel, deur Gert Sarrisam. (Rapport Boeke)
Wium van Zyl sê dié boek was vir hom maar ’n taai toffie – en dis presies die gedagte wat by mens opkom wanneer jy die resensie lees. Die resensent moet probeer om duidelikheid te bring, leiding te gee vir diegene wat die boek self gaan lees – maar gou het mens die gevoel dat die boek se onortodokse inhoud vir hom ’n klipharde Wilson-toffie was. En die bietjie wat Van Zyl vertel oor die inhoud laat mens wonder of die skryf nie vir Sarrisam ’n soort terapie was wat liefs nie in die huidige vorm gedeel moes gewees het nie.

Kerneels Breytenbach bespreek Kamphoer, deur Francois Smith. (Rapport Boeke)
Dis nou seker wat mens ’n gloeiende resensie sou noem. Breytenbach se geesdrif is aansteeklik, al is die resensie vir my effens swaartillend. Die resensie het vir my een leemte – dieselfde soort gebrek wat mens kry wanneer digbundels bespreek word en daar geen enkele aanhaling is wat die uitsprake help staaf/illustreer nie. En dis tog hier sekerlik ’n vereiste – die resensent gee so hoog op oor die gehalte van die skryfwerk. Wat ek wel van die resensie hou, is dat Breytenbach sy betoog só aanbied dat ’n mens die boek onmiddelik wil hê en lees.

André Bartlett skryf oor Ek kies steeds die kerk, deur Neels Jackson. (Boeke24)
André Bartlett krap hier aan ’n ding en ’n mens moet hom tot orde roep. Sy resensie is heeltemal leesbaar en interessant tot by die punt waar hy sê dat die boek ook moes stilgestaan het by die redes hoekom party mense dit moeilik vind om hulle langer met die kerk te vereenselwig. Wat? Ons het mos nou al so vyf jaar gelede alles daaroor gelees in George Claassen se bydraes in By. Kan ons dit nie maar as gelees beskou nie? Einde van grappie. Dis goed om te sien, hier in die tyd wat joernaliste se dae skynbaar getel is, dat Neels Jackson se werk gebundel word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.