Profile photo of crito

by

Oor skittery

Julie 8, 2014 in Uncategorized

Wanneer laas het ‘n boekeblad my soveel vreugde gebring as afgelope Maandag s’n van Boeke24?

Fransjohan Pretorius se resensie van Kruger, Kommandos & Kak deur Chris Ash is ‘n uiters negatiewe resensie en ek het gewonder of ek nie ‘n titsel outydse jingoïsme in my reaksie daarop bespeur nie, maar uiteindelik kon ek die vrees weerlê: Pretorius se resensie is ‘n kritiese reaksie op ‘n boek, en die feit dat hy dit gebruik om die boek se vernaamste onwaarhede en historiese dwalinge bloot te lê, is aan die adres van die skrywer gerig. Hoe ek daarop reageer, is my saak; dit is nie dat Pretorius inligting manipuleer om Boereoorlog-sentimente wakker te maak nie. Hy skryf as historikus oor ‘n ander historikus se feitefoute.

Ek sou graag wou weet wat Suid-Afrikaanse uitgewers dink van die titel, waarin ‘n kru Afrikaanse woord binne ‘n Engelse konteks gebruik word. Daardie woordjie het gesorg dat die boekeredakteur die slimste opskrif in ‘n baie lang tyd bo-aan die resensie kon skryf. Ek vermoed mens sou ook kon sê dat Fransjohan Pretorius se hele resensie op implisiete wyse sê dat daardie woordjie na dese Chris Ash se boekie in sy totaliteit verteenwoordig – dalk selfs die skrywer en sy reputasie.

Hopelik sal die uitgewer, Thirty Degrees South, ook tot ander insigte gebring word deur Pretorius se resensie. Ek het gaan kyk na hul webblad, en ek wonder nou of mens enigiets kan glo wat hulle oor hulself en hul publikasiebeleid sê as hulle sulke strontryke boeke publiseer.

Naas hierdie wonderlike resensie is daar een deur Annemarie van Niekerk oor ‘n Nederlandse vertaling van Karel Schoeman se Hierdie lewe. Ek het dit gelees, en Van Niekerk is, soos ons uit haar Suid-Afrikaanse dae leer ken het, ‘n baie onderhoudende resensent. Maar hoekom ‘n resensie plaas oor ‘n boek wat nie in Suid-Afrikaanse winkels op die rakke is nie? Is daar nie Afrikaanse boeke wat bespreek kon word nie.

Onderaan die bladsy bespreek die Johannesburgse kunsfilosoof Candess Kostopoulos vir Jannie Malan se bundel In ligte laaie. Dit is ‘n resensie wat vreugde van ‘n ander aard bring. Ek het ‘n vermoede dit sal die digter ‘n baie ernstige WTF-moment  besorg; ek het self gesukkel om van die resensie ‘n eksistensiële belewenis te maak, al koesend onder die verwysings wat verbyvlieg. En nee, ek koop nie die opmerking oor invloed deur Danie Marais as dit nie geboekstaaf is nie.

Net ‘n dag vantevore het Daniel Hugo se bespreking van vermelde Danie Marais se nuwe bundel, Solank verlange die sweep swaai, in Rapport Boeke my nogal laat nadink oor die boekeredakteurs se pogings om geskikte resensente vir digbundels te kry, aangesien hulle skynbaar eerder resensies van poësie plaas as oor prosa en niefiksie. Of dalk verkeer ek onder ‘n verkeerde indruk.

Nietemin, vir my is Daniel Hugo een van die mees betroubare resensente van digkuns, omdat hy self een is, en boonop konsentreer op ‘n soort digkuns waar afronding, verfyning en eenvoud belangrik is in sy poging om veelvoud en groter dinge onder woord te bring. Maar is hy die beste resensent van Danie Marais se soort vers? Van digkuns wat, soos Hugo self op ‘n plek suggereer, soms baie naby aan prosa kom?

Hugo verduidelik dan hoekom Marais wel ‘n heel besonderse soort poësie skryf, en sy resensie is vir my meer as die moeite werd om te lees – omdat dit ook iets van Hugo se aanpak verklap.

Een van die ander kwellings wat ek in my tere gemoed moet verwerk, is of dit werklik regverdig teenoor resensente is om hul resensies van dieselfde boek met mekaar te vergelyk. Is dit die resensies self wat goed/sleg is – of is die resensies net ‘n aanduiding van ‘n goeie of ‘n swak resensent?

Gewoonlik is my besluit min of meer dat ook resensente af-dae het, en dat iemand ‘n gewoonte daarvan moet maak om swak resensies te skryf voordat mens hom/haar begin ignoreer.

Vandeesweek is dit Madri Victor (LitNet) en Johan Smith (Rapport Boeke) se besprekings van Die 13de kaart, ‘n debuutroman deur Madelein Rust, wat my tot nadenke gestem het. Albei bespreek die boek asof hulle dink ‘n resensie is ‘n toets of mens die boek wel gelees het.

Die noodwendige gevolg is dat albei té veel klem plaas op die vertel van die verhaal – en ook té veel ruimte daaraan afstaan. Victor het meer ruimte op LitNet vir haar bespreking, en gebruik dit dan ook om in detail stil te staan by die goeie hoedanighede van die roman. Smith het minder ruimte, en sy kritiek is in vergelyking met Victor s’n effe bolangs.

Albei verwys na redigeringsfoute in die boek, wat die uitgewer sekerlik sal wil vergeet; hulle verskil egter oor die aard van die vroulike hoofkarakter, en hoe dié aangebied word. Victor se opmerking oor laasgenoemde dra vir my meer gewig. Smith sou sy opmerking, naamlik dat n vrouekarakter bykans nooit nie as sterk voorgestel kan word as daar nie ’n man is om haar situasie te definieer nie, wat my betref die kapstok van sy hele resensie kon gemaak het. Nie alleen sou sy resensie dan polemies gewees het nie en sou hy aandag gelok het na die boek nie, maar ook sou hy gedwing gewees het om die samevatting van die verhaal baie bondig te moes gedoen het.

0 antwoorde op Oor skittery

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

1 terugspoor