Profile photo of crito

by

Twee soorte eenvoud

Julie 1, 2014 in Uncategorized

Dis pure lekkerte om op ‘n Sondagoggend ‘n boekresensie raak te loop wat mens kan ontleed, én ontleed, en uiteindelik neersit met die wete dat die resensie kwalik korter kon, maar nie beter nie. Jean Oosthuizen se bespreking van Begin die reis deur Angus Buchan is ‘n gewikste resensie – en bedrieglik eenvoudig geskryf.

Ek is nie seker of alle resensente hul taak benader met inagneming van die waarskynlike lesers en die publikasieplek nie. Oosthuizen gee geen aanduiding dat hy dit gedoen het nie, maar tog sorg hy dat hy alle moontlike lesers aanspreek.

Sy openingswoorde is: “Ons is almal op pad hel toe, waarsku die evangelis Angus Buchan in sy jongste boek.” Daarmee sorg hy dat ongelowiges (die spektrum van agnostikus tot ateïs) onmiddelik weet hulle hoef nie verder te lees nie.

Maar diegene wat nog gelowig is, en ten minste al vir hulself sekere geloofskwessies uitgepluis het ( en die hel is sekerlik onder die top drie), sal van nuuskierigheid verder lees om te sien hoe Oosthuizen met Buchan begin argumenteer.

Oosthuizen verwys na die Angus Buchan-handelsmerk wat oral in die boek te sien is, en na Buchan se draai-of-braai-teologie. Sy formulerings is van só ’n aard dat ’n leser nie anders kan as om sy agterdog jeens Buchan voortdurend te onthou nie.

Soos mens kan verwag, spreek die resensent hom uit oor Buchan se simplistiese sienings van die redding en die doop. Ek vermoed teoloë sal in elke paragraaf van die resensie raakpunte met groter teologiese sake kan uitwys, maar vir my is die resensie se beste paragraaf dié een:

“Mense soos Buchan wat ’n draai-of-braai-teologie verkondig, bedoel dit waarskynlik goed, maar dit skep baie vrae by mense wat verder dink.”

Met een paragraaf skryf hy Buchan af as Reborn Lite.

Kyk nou hoe het ek die resensie geniet – en ek is normaalweg een van dié wat die waarskuwing in die eerste pargraaf sou raaksien en nie verder sou lees nie.

’n Resensie wat wel met geesdrif aangepak het, is dié van Niel van Deventer oor Danie Marais se Solank verlange die sweep swaai. Omdat ek dit op my tablet gelees het, moes ek eers by die uitgewer se webwerf gaan soek vir die titel van die bundel, en toe kon ek die resensie lees.

Die pluspunte vir die resensie is baie: Van Deventer gee die gedigte self baie kans om geniet te word, en hy gee vir Marais krediet vir die manier waarop hy die middeweg bewandel tussen Facebook-poësie en die erg intellektuele digkuns wat baie lesers laat skrik vir digkuns. Daarbenewens weet Van Deventer baie goed wat die pad is wat Marais tot by hierdie punt bewandel het, en kan die bundels se tematiese swaartepunte aanstip.

Aan die negatiewe kant iets wat sekerlik nie Van Deventer ten laste gelê moet word nie: Nie al die aangehaalde gedigte maak tipografies sin op ’n tablet nie. Wil die redakteur van Boeke24 nie ’n afspraak met die uitgewers maak dat aangehaalde gedigte volledig neffens die resensie afgedruk word nie? As die New Yorker dit kan doen, hoekom nie ook Die Burger nie?

Geesdrif is ook in ’n mate te bespeur in Annemarie van der Walt se bespreking van Glipstroom, Anemari Jansen se skryfdebuut. Van der Walt sluk ’n wind oor sekere gebrek in die roman (die ou telling en showing-probleem) asook die té ligte redigeerdershand, maar uiteindelik gee sy te kenne dat die debutant genoeg talent het om mens na haar volgende werk te laat uitsien.

Riaan Grobler, wat vir my ’n nuwe naam onder die resensente is, skryf oor Peet Venter se Waar boosheid broei. Ek sal nog meer van sy resensies moet lees voordat ek lelik of loftuitend oor Grobler kan wees; mens kan maar net hoop dat hy nie weer ’n keer sal teruggryp na een van die oudste clichés in boekresensies nie, daardie ene oor die blaaie wat mens nie vinnig genoeg kan omblaai nie.

Die boekeredakteur van wie ek hierbo gepraat het, Jo Prins, waag self sy hand aan ’n klein aankondiging oor ’n boek, naamlik George Claassen se Sêgoed met slaankrag. Ek wens hy het vir ons ’n paar voorbeelde gegee van die onnoselste aanhalings waarna hy verwys. Maar nou’s dit te laat. Sal maar die boek moet gaan koop – daai een woord, “onnoselste”, dis hy wat my gevang het.

2 antwoorde op Twee soorte eenvoud

  1. tina10 het gesê op Julie 2, 2014

    Miskien moet jy vir ons die volmaakte resensie skryf?

  2. crito het gesê op Julie 8, 2014

    Ek dink nie dis die punt nie, Tina.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.