Jy blaai in die argief vir 2014 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Die Engelse Afrikaanse koerante

Junie 23, 2014 in Uncategorized

Dis somer in die noordelike halfrond, en vandeesweek sal julle tevrede moet wees met Crito Merk I. Long time, no see.

Laat ek sommer dadelik sê wat my irriteer van die twee Afrikaanse boekeblaaie (Rapport, Boeke24). Hulle is so Engels.

Pas voorverlede week het hoor en sien vergaan soos daar in Johannesburg en Pretoria getjank is oor die sluiting van Beeld se Kunsblad. Wat sal gebeur as Boeke24 ook sneuwel? Ek kan voorspel dit sal as nasionale ramp beskou word, maar soos sake nou staan, sal die trane misplaas wees..

Afgelope Sondag is daar vier boekbesprekings in Rapport – ’n 300% verbetering op die situasie verlede jaar hierdie tyd. Maar net een van daardie boeke is ’n Afrikaanse boek.

Dit help nie Rapport Boeke herstel so mooi na sy patetiese vertoning die vorige drie, vier jaar nie. As julle nie Afrikaanse boeke bespreek nie, ding julle mee teen Engelse publikasies wat meestal beter besprekings van die Engelse boeke plaas.

Die enkele Afrikaanse boek wat Rapport Boeke vandeesweek bekyk het, is Paula Marais se Skaduself. Hierdie resensie, geskryf deur Kay-Ann van Rooyen, ’n vryskutteksredakteur en lid van twee boekklubs (ek neem aan die een is Leserskring), het my nie oorrompel met ’n vars benadering nie.

Gelukkig verneem ’n mens met ’n mate van verligting dat Van Rooyen die meeste van die karakters in die boek in haar geestesoog kon sien, en is jy saam met haar ontsteld dat dit nie die geval met die hoofkarakter was nie. Van Rooyen kon haar glad nie in haar verbeelding voorstel nie. Ek wonder wat maak die ander boekklublede van hierdie dilemma?

Daar was Sondag darem een troos. Hannelore F. Bekokstower het van By gemigreer na Rapport se Weekliks. Hoe By daardie ene deur hul vingers laat glip het – ag jammer, ek het vergeet Volksblad en Beeld het By deur hul vet vingertjies laat glip. Wat ook al, wat ook al. Bekokstower is ’n welkome toevoeging tot Rapport Boeke se deeltjie van Weekliks. Ek sal die koerant bly koop net vir haar.

Boeke24 het Maandag vier resensies geplaas, waarvan twee oor Afrikaanse boeke is. Ilza Roggeband bespreek Esta Steyn se Biegbrief & ander verhale. Jacomien van Niekerk skryf oor Adriaan Coetzee se bundel Gordel.

Ek het albei gelees en het min klagtes. Glo nie ek gaan die twee boeke wat onder bespreking is self koop nie, maar dis nou maar ekke. As ek nie oorrompel word deur ’n resensent se geesdrif nie, raak ek agterdogtig.

Profile photo of crito

by crito

Om die aandag te hou

Junie 17, 2014 in Uncategorized

Madri Victor gesels oor Stippellyn, deur Erika Murray-Theron. (Rapport Boeke)
Een les wat studente van die resensiekunde gou leer, is dat as ’n resensent nie dadelik die aandag van sy leser gryp nie, sal die leser se aandag dwaal na die volgende koerantopskrif. Dít is hoe koerante werk. Ek het teen die derde paragraaf weggedwaal, en die resensie eers later kom deurlees, omdat ek moet. Nie alle koerantlesers moet nie. Madri Victor is ’n vryskut-manuskripontwikkelaar en die resensie dra dan ook die stempel van die dinge waarin sy spesialiseer. Maar sy het duidelik nie haar medium in ag geneem nie. Die eerste deel van die resensie is ’n vervelige opsomming van die verhaal, waarna haar detailkritiek kom; ek kan my indink dat dit vir Murray-Theron van nut sal wees, en vir die uitgewer stof tot nadenke, maar vir ’n Sondagoggend-koerantleser is dit té omslagtig aangebied. Victor, as iemand wat die krag van bondigheid sal snap, kon hierdie resensie veel interessanter, aansienlik korter en met veel meer begrip vir die medium geskryf het.

Louise Viljoen skryf oor Vyf-en-veertig skemeraandsange, deur Breyten Breytenbach. (Boeke24)
Louise Viljoen se resensie-styl is nou al só gevestig dat mens dit kan uitken as haar naam nie daarby staan nie. Hierdie keer is daar wel iets bykomends daaraan: Langer paragrawe, wydreikend oor die inhoud, en ’n mens het dadelik die gevoel dat sy die bundel só goed ken dat sy net die allerbelangrikste inligting met jou deel. Sy vat hier en raak dáár, nooit ingestel op ’n ontleding van die intiemste oomblikke of die glibberigste woordspel nie; dit gaan oor strekking, aansluiting en die meer oorhoofse kenmerke van hierdie laatverse van Breyten Breytenbach. En haar slot is werklik puik – ’n bevestiging dat die digter steeds die reus van ’n digter is wat hy altyd was. Ek dink nie sy is heeltemal te vinde daarvoor om die oggendblad-lesers se behoeftes te bevredig nie – hierdie is die soort resensie wat vir toekomstige verwysing geskryf is, iets wat analise vir die student en die navorser oneindig makliker sal maak eendag. Viljoen sal bes moontlik ook lesers met aandagafleibaarheid vinnig laat aanbeweeg; vir diegene wat in die digkuns belang stel, sal dit sekerlik wees om die sker te gaan haal om die resensie uit te knip.

Andries Visagie skryf oor Vyf-en-veertig skemeraandsange, deur Breyten Breytenbach. (Boeke24)
Visagie benader die dugbundel met dieselfde akademiese vlyt as Louise Viljoen, maar hy neem uit die staanspoor een besluit wat sy resensie ’n voorsprong bo Viljoen s’n gee – hy haal baie aan uit die gedigte. Sy taksering van die bundel stem ooreen met Viljoen s’n, maar hy gee die leser daardie binneblik wat help om mens meer vertroud te maak met die werk onder bespreking. Visagie se afsluiting antisipeer ander reaksies op dié bundel, maar maak ten slotte ’n opmerking wat boekdele spreek. Ek twyfel of Visagie (en Viljoen) dieselfde lesers se aandag trek as wat Madri Victor of Danie Botha doen, en ek het ‘n vermoede dat Victor en Botha harder sal moet veg om hl lesers se aandag end-uit te hou as wat Viljoen en Visagie nodig het om te doen.

Danie Botha skryf oor Daar doer in Duitswes, deur Helm Joste. (Boeke24)
Danie Botha pak sy resensie heeltemal anders aan as meeste resensente: Hy probeer jou nuuskierig maak. Enersyds doen hy dit deur sy woordkeuses en formulerings só aan te pak dat jy nie sy geesdrif vir die boek kan ignoreer nie. Andersyds doen hy dit deur soveel as moontlik opmerkings te maak wat heenwys na iets eiesoortigs – die soort opmerkings wat net genoeg is om jou nuuskierigheid die oorhand te laat kry. Implisiet in só ’n benadering is uiteraard die resensent se oorweldigend positiewe reaksie op die bundel – mens verwag eintlik geen negatiewe kommentaar nie. Botha lewer dít wel ook (die boek se redaksionele versorging is nie na wens nie), maar jy het eintlik geen ander keuse om dit te ignoreer nie. As ’n resensent só jubel, sê dit net een ding: Koop die boek.

Profile photo of crito

by crito

Op soek na subredakteurs

Junie 10, 2014 in Uncategorized

Erika de Beer skryf oor Skaduself, deur Paula[ Marais (Boeke24)
Is daar nie meer subredakteurs by die Afrikaanse koerante nie? Erika de Beer se resensie is in alle opsigte buiten dié van taalgebruik bevredigend. Ten minste drie paragrawe sou daarby gebaat het as iemand dit net vir haar uitmekaargehaal en opnuut geformuleer het. Die ergste daarvan: “Thea, en ook nie Clay of Sanusha nie, maak nie aanspraak op die leser se simpatie nie. Dit word aan jou oorgelaat om te besluit – as jy daardie besluit kan neem.” As ’n subredakteur dit onder hande geneem het, sou dit waarskynlik só gelyk het: “Thea maak nie aanspraak op die leser se simpatie nie – ook nie Clay of Sanusha nie. Dit word aan die leser oorgelaat om self te besluit waar sy/haar simpatie lê.” Dit is hinderlikhede soos hierdie wat die simpatie wat ek met die Afrikaanse oggendblaaie het, van my vervreem.

André le Roux skryf oor Houtwerk vir almal, deur Peter Alkema. (Rapport Boeke)
Ek skryf nie oor die resensies van vertaalde werke nie, maar terwyl my irritasievlak oor swak taalgebruik hoog is, moet ek hierdie resensie onder u aandag bring. André le Roux trek die taalgebruik in hierdie vertaalde werk uitmekaar en vra dan die vraag: “Bly daar dus nog ’n boek oor?” Ja, antwoord hy self, dis ideaal vir die beginner-houtwerker. Ek weet nie hoekom hy dié antwoord gee nie, want in die oorblywende deel van die resensie wys hy nog verdere gruwels en leemtes uit. Le Roux sê self ’n slag dat dit lyk of die boek vir Julius Malema geskryf is. Dit is ’n growwe belediging, maar daargelaat. Die boek wat hy beskryf, is ’n beletsel op die goeie naam wat die betrokke uitgewer deur die jare opgebou het, en te oordeel na die aangehaalde foute ’n kru belediging vir enigiemand wat die boek sou aanskaf omdat dit ’n Afrikaanse publikasie is.

Profile photo of crito

by crito

Applous

Junie 3, 2014 in Uncategorized

Daniel Hugo skryf oor Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte, deur Breyten Breytenbach. (Rapport Boeke)
Die moeilikste opdrag wat ’n Afrikaanse resensent kan ontvang, is om ’n nuwe werk deur Breyten Breytenbach of Marlene van Niekerk te moet resenseer. Om dan nog as digter ook oor eersgenoemde te moet skryf, is ’n bykomende probleem. Daniel Hugo is as digter iemand wat fyn kan kies. Sy strategie met hierdie resensie is dan ook dié van iemand wat weet waarvoor hy hom inlaat, en dan besluit dat hy hom aan niks gaan steur nie – hy sal sy bewondering uitspreek soos hy wil. Die gevolg is ’n resensie waarin hy wys dat hy bewus is van die gebreke in Breytenbach se verse, maar sy waardering vir dít wat die digter doen is só oorheersend dat mens dadelik besef dit is binne die groter prentjie eintlik beuselagtig. Die interessantste opmerking wat Hugo vir my maak, is “Breytenbach se oeuvre kan as een groot groeiende gedig gelees word.” Ook: “Hy is ’n kosmiese oerkrag waarsonder Afrikaans ondenkbaar is.”  Uiteindelik het ek die resensie ’n dag neergesit en weer gaan lees. Dit is vir my verkieslik dat resensies ’n kritiese gees moet toon. Hierdie resensie doen dit – maar dit doen ook iets wat soms veel moeiliker is. Dit spreek bewondering en dankbaarheid uit op ’n manier wat self applous verdien.