Jy blaai in die argief vir 2014 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Wanneer bekend onbekend is

Mei 28, 2014 in Uncategorized

Mia Oosthuizen skryf oor Bloujaar, deur Keina Swart. (Rapport Boeke)
Wollerig. Hoe moet ’n koerantleser reageer op ’n opmerking soos “Met hierdie boek vertel Swart ’n bekende verhaal …” as die verhaal nie aan jou bekend is nie? Is die Rampie Malherbe oor wie dit handel, ’n verbeelde of werklike karakter? Hoekom sê sy Swart moes Rampie sy eie verhaal laat vertel het? Wat bedoel sy daarmee? Ek is bevrees, as ’n resensie meer vrae opwerp as wat daar antwoorde binne die resensie self verpak is, kan dit nie as ’n doeltreffende resensie beskou word nie.

Annemarie van der Walt skryf oor Stippellyn, deur Erika Murray-Theron. (Boeke24)
Van der Walt beskou Stippellyn as een van daardie romans waarin die gedagtewêreld eerder as dié van fisieke handeling die fokus is. Sy reageer bondig daarop, afstandelik. Uiteindelik vind sy dit ’n “voedende leeservaring”, wat mens laat vermoed dat sy tot diepe nadenke deur die roman beweeg is. Daardie nadenking vorm nie deel van haar resensie nie. Jammer.

Rudolf Stehle bespreek Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, deur Andries Bezuidenout. (Boeke24)
’n Uitstekende resensie oor ’n besonderse digbundel. Ek het die bundel reeds deurgewerk, en lees die resensie dus met ’n effens ander benadering. Net een leemte in die bespreking: Wanneer Stehle sê daar is enkele gedigte wat nog onaf is, moet hy nie alleen hul titels gee soos hy doen nie, maar ook aandui op watter manier die afronding nog makeer. Dit gaan oor die gesag waarmee die resensent opmerkings maak.

Profile photo of crito

by crito

Die saak met die saak

Mei 20, 2014 in Uncategorized

Marietie Louw-Carstens skryf oor Moord op Griekwastad, deur Charné Kemp. (Boeke24)
Ek volg nie hierdie hofsaak nie. Ek het die resensie benader met ’n oop gemoed (so oop as wat dit kon wees nadat ek die “op” in die titel raakgesien het) en is bevrees dit is ook maar koue kos. Louw-Carstens sê dit is ’n boek wat mense soos ek insiggewend sal vind. Goed so. Dit sal ook interessant wees vir hulle wat wel die saak gevolg het. By hierdie opmerkings, verwag mens, sal sy begin uitpak hoekom die twee groepe lesers dit interessant en insiggewend sal vind. Maar nee, ons kry net ’n verdere getokkel oor dit wat mens weet, en nie weet nie. Die goeie hoedanighede van die boek word nie deur die kritiese resensent opgehou vir oorweging nie. Die swak hoedanighede word nie uitgelig nie. En dan sluit sy af met ’n slot wat dawerend positief is en net weer dieselfde onrus aanwakker: Hoekom vind sy die boek só goed? Is die idee nie dat sy vir voornemende lesers sê hoekom nie?

Vicus Bürger skryf oor Die Griekwastad-moorde, deur Jacques Steenkamp. (Boeke24)
Deel van die antwoord op die vrae wat Louw-Carstens se resensie opgewerp het, word in Vicus Bürger se bespreking beantwoord: Die boeke is die lees werd omdat Charné Kemp en Jacques Steenkamp aan die voorpunt van die beriggewing oor die Griekwastad-moorde gestaan het. Hulle is die (hopelik) mees ingeligte persone om daaroor te kan skryf. Bürger stel die boek se gebreke en slordighede genadeloos aan die kaak, maar hy gee ook die soort inligting wat mens nie in Louw-Carstens se bespreking oor die Kemp-boek kry nie: Wat was die joernalis se werkswyse, sy eie mening en hoe dit verskil van ander s’n. Dinge wat ’n resensieleser sal oortuig dat daar wel iets unieks aan die boek is.

Riaan Grobler skryf oor Die sideboard, deur Simon Bruinders. (Rapport Boeke)
Netjies – die resensent verkry ’n kritiese afstand op die roman wat hy bespreek, en op dié manier lewer hy homself nie uit aan die verpligting om soveel as moontlik van die storie te vertel nie. Die voordeel van sy benadering is dat hy lof kan toeswaai wanneer hy moet, maar dat hy dermate afstand het dat hy sowel die felle kritiek as die lofbetuigings met dieselfde neutraliteit afhandel. Tematies ’n belangrike werk, maar die outeur kan nog ontwikkel. Kort en kragtig.

Profile photo of crito

by crito

Die vrae hang steeds

Mei 13, 2014 in Uncategorized

Johan Smith skryf oor Laaste dans, Drienie, deur Steve Hofmeyr. (Rapport Boeke)
Johan Smith gee onmiddelik erkenning aan die feit dat wanneer mens die naam Steve Hofmeyr hoor, jy dadelik sekere verwagtings het. Vooroordeel by lesers kan ’n probleem wees, nè? Smith lanseer dan sy betoog teen daardie vooroordele in, gee aan Hofmeyr die voordeel van die twyfel en is baie in sy skik met die roman. Daar is net een aspek van die resensie, en daardeur die roman, wat vir die resensieleser behoort te kwel. Die roman handel oor Muller Joubert, ’n beeldpoetser van die SAPD  – dus ’n wit woordvoerder vir die polisie in ’n tyd waarin André Traut seker die laaste oorlewende wit beeldpoetser van die werklike SAPD is. En die beeldpoetser (skakelbeampte?) ondersoek ’n anonieme oproep. Nou, is die man ’n speurder of ’n beeldpoetser? Hier is iets nie heeltemal lekker nie, en die feit dat Smith nie daaroor vrae het nie, of ten minste verduidelik hoekom ’n wit beeldpoetser hom met ’n ondersoek sal besig hou terwyl hy eintlik vir die publiek moet vertel hoe geseënd ons is om die SAPD te hê wat oor ons waak, maak ‘n mens baie agterdogtig.

Deborah Steinmair skryf oor Kopskoot, deur Rudi van Rensburg. (Rapport Boeke)
Hoe op aarde skryf ’n mens ’n resensie sonder om die verhaal te gaan staan en opsom? Hier is jou antwoord. Steinmair lewer ’n onderhoudende, lekkerlees-resensie, vol woordvindsels en met besonderse insigte in die ratwerk van die speurroman. Rudi van Rensburg sal die resensie lees en bly wees daar is ’n resensent wat verstaan het wat hy gedoen het – en dit op ’n gallop geniet het. Ek hoop Steinmair word ’n gereelde resensent.

Johan Myburg skryf oor Skulp, deur Hennie Aucamp. (Boeke24)
’n Uitstekende resensie wat in Die Burger se app effens gekneus is deur die swak tipografiese hantering van die aangehaalde gedigte. Myburg se uiteensetting van die bundel se tematiese bouwerk, en die manier hoe dit by Aucamp se oeuvre aansluit getuig van baie nadenke en die soort insig waarby die resensieleser baie baat. Ek hou van sy formulerings en die manier waarop dit soms iets oplewer wat self sing en die verbeelding aangryp: “Aucamp se jare lange omgang met die liedteks en verhoogmatigheid is nêrens ver van dié versameling kwatryne nie. In sommige gevalle skuif die twee ooreen en gooi ’n enkele skaduwee.”

Helen Schöer skryf oor Bloedspoor, deur Bets Smith. (Boeke24)
Sy sê dit nie reguit nie, maar ek dink nie Helen Schöer het eintlik van hierdie boek gehou het nie. Dis half ’n moordverhaal en half ’n liefdesverhaal, sê sy. Dis nie heeltemal duidelik wie die twee speurders in die storie is nie, maar hulle is komiese speurders, sê sy. Is dt dus ’n satire? Of net half ’n komiese roman, sodat dit uiteindelik’n roman van drie helftes is? Nugter weet, maar Schöer sê nie vir ons nie. Haar opmerking oor wat met ’n paar van die vroulike studente gedoen kan word, is wel veelseggend. groot irritasie? Groot verveling? Wie weet? Helen Schöer?

Profile photo of crito

by crito

Met respek

Mei 6, 2014 in Uncategorized

Philip John skryf oor Skulp, deur Hennie Aucamp. (Rapport Boeke)
Dit is seker té gou na Hennie Aucamp se afsterwe om ’n werklik kritiese bespreking van ’n “laatwerk” soos Skulp te gee. Philip John haal ’n paar van Aucamp se kwatryne aan wat my laat vermoed dat hy besluit het om dit ’n resensie van eerbied en respek te maak, en nooit van dié besluit afgewyk het nie. Ek wonder wat ’n jong Hennie Aucamp van “Viering” sou maak.

Annelie de Wet skryf oor Vuurklip, deur Marié Heese. (Rapport Boeke)
’n Roman oor die Afrika-stamme wat ’n honderd duisend jaar gelede aan die suidkus van die kontinent gelewe het? ’n Saak van navorsing en ’n hoogs aktiewe verbeelding – verifikasie van feite is moeilik. Om dan ’n wit sangoma te kry wat die boek resenseer voeg ’n dimensie aan die resensie toe wat mens selde vind. Annelie de Wet benader haar bespreking met vindingrykheid. Omdat sy só buite die gewone patrone reageer, lees mens end-uit met jou aandag gespits. In die kol!

Daniel Hugo skryf oor Die houtbeen van St Sergius, deur Chris van der Merwe. (Boeke24)
Die wind waai maar skraal in die wêreld van die Afrikaanse leterkunde. Min uitgewers sien nog kans om bundels met die letterkundige opstelle van akademici te publiseer. Wanneer daar wel so ’n bundel verskyn, staan almal verwonderd oor die plesier wat hulle bring. Daarvan getuig ook Daniel Hugo se resensie van Die houtbeen van St Sergius, wat gepubliseer is deur ’n universiteitsitgewery – ironies genoeg nie die universiteit waaraan Chris van der Merwe verbonde was nie. Hugo reageer positief op die bundel, en wys op ’n paar leemtes in Van der Merwe se benadering. Water onder die brug, gewis, maar die kritiek is smaakvol aangebied en doen nie afbreek nie aan die beeld wat die resensieleser kry van ’n publikasie wat die moeite werd sal wees om aan te skaf.

Joan Hambidge skryf oor Reisiger te perd, deur Piet van Rooyen. (Boeke24)
Ja, hier’s nou ’n resensie wat ek geniet het. Besprekings van digbundels in Rapport Boeke of Boeke24 vertoon só dikwels ’n akademiese patroonmatigheid. Hambidge hanteer hierdie bundel heeltemal anders – dit is ’n reaksie waarin sy verduidelik hoekom sy die bundel so geniet het. Die resensie val in geen patroon in nie, is net suiwer verslag van genot. Sy dui aan hoekom die genot opgewel het, maar sonder enige modieuse frases of akademiese jargon. En in die proses het sy absoluut seker gemaak dat hierdie leser daardie bundel gaan koop.