Profile photo of crito

by

Van Malan tot Verwoerdburg

Maart 11, 2014 in Uncategorized

Hermann Giliomee skryf oor D.F. Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, deur Lindie Koorts. (Rapport Boeke)
Rapport Boeke is weer aan die gang. Hermann Giliomee sorg sommer met die intrap vir ’n waarneming wat mens ruk. Twintig jaar na die val van apartheid is daar ’n tekort aan Afrikaanse geskiedkundige publikasies omdat navorsers Afrikaans té vrot onder die knie het en nie die bronne verstaan nie. Wat vir my ook groot nuus is, is dat Koorts aandui hoe Malan sy apartheidsdenke in Nederland gaan haal het. ’n Lekker lang resensie wat my aandag end-uit weggehou het van die uitsending van die Cape Argus-fietswedren. Giliomee hoort nie onder die verbeeldinglose geskiedkundiges na wie hy via Karel Schoeman in dié resensie verwys nie.

Johann Lodewyk Marais skryf oor Karnaval en Lent deur T.T. Cloete. (Rapport Boeke)
Marais maak dit ook nie vir mens maklik nie. Sy eerste twee paragrawe is genoeg om mens se balngsteling te laat verdamp. Maar dan kom hy op dreef, en maak hy die Cloete-bundel vir mens oop. En net wanneer jy dit begin geniet, sluit hy, sommer lekker abrup. Dit laat mens vermoed hy moes sy resensie ná die inlewering verkort, of dalk is dit namens hom gedoen. Nietemin, dis wat hy tussen-in doen wat saak maak, en dié gedeelte is substantief en prikkelend.

Jean Oosthuizen skryf oor God se oë is blou, deur Abel Pienaar. (Raport Boeke)
Oosthuizen skryf met begrip oor dié boek deur Abel Pienaar, iemand wat ongemaklik voel in sowel kerk as nie-kerk. Wanneer hy wegspring met ’n opmerking oor Zen-Christene en Boere-Boeddhiste het hy onmiddelik my aandag, synde n Stellenbosser wat diep onder die indruk is van ons dorp se geskiedenis, Pienk Piet en al. Oosthuizen skryf begrypend eerder as krities – vermoedelik sal dié Vrydag tydens die Woordfees kom wanneer outeur deur resensent ondervra word.

Philip John skryf oor Stil punt van die aarde deur Johann de Lange. (Rapport Boeke)
Ek wonder soms wat dit sal kos om literatore te laat besef dat as daar iets nuuswaardigs aan ’n digbundel is, ’n literêre kritikus liewer sy lyf volledig koerantresensent moet hou en die nuuspunt  die kapstok van die resensie maak. Philip John skryf ’n heel billike resensie, sonder dat hy werklik baie diep delf, en steek die een nuuswaardigheid in die middel van ’n paragraaf weg: ’n gedig or die Blou Bul-skrumskakel, Francois Hougaard. ’n Erotiese gedig.

Johan Smith skryf oor Bomskok, deur Thinus Horn. (Rapport Boeke)
’n Gangbare resensie, al raak die resensent verlei deur die opvatting dat resensie-lesers ’n volledige opsomming van die verhaal wil hê. Sy opmerking oor vloekwoorde het my wel laat skrik: Hoekom sou mens suke dinge wil miskyk? Ek geniet dit nogal wanneer mense verbeeldingryk vloek. Hopelik ken die spul joernaliste in Bomskok hul storie.

Annemarie van der Walt skryf oor Enkelreis, deur Zarine Roodt (Boeke24)
Dít is hoe resensies geskryf moet word! Informatief, krities. Van der Walt skets die omvang wat Roodt haar ten doel gestel het, en gee die redes hoekom sy faal. Maar sy doen dit op só ’n manier dat mens besluit daar is wel ander, goeie redes hoekom jy hierdie boek sal wil lees. Vir nuuskierige Jungiane.

Thys Human skryf oor Verwoerdburg, deur Johann Rossouw. (Boeke24)
’n Bietjie wollerig geskryf – mens moet die resensie verskeie kere herlees om helderheid te kry oor presies wat in Johann Rossouw se Verwoerdburg aan die bod is. Die leser van die resensie word gedwing om besluite te neem oor dinge wat Human sê ten einde ’n greep te kry op wat moontlik in Verwoerdburg aan die gang is. Een voorbeeld: Wat is die verband tussen die manjifieke kortverhaal waarmee Jakes Botha vir hom ’n patronaat losslaan, en die roman waaroor die agtergeblewenes gegrief is? Geen? Orraait. En is Jakes ook daardie Jakes van Siener? Orraait. Maar wanneer Human uiteindelik sy kritiese reaksie vorendag bring, is dit een wat mens kan verstaan: Daar is té veel van die outeurstem in die roman se uitsprake teenwoordig. Ek vermoed dit is ’n roman wat ’n heftige debat kan ontketen onder ouer lesers.

1 antwoord op Van Malan tot Verwoerdburg

  1. Thys Human het gesê op Maart 12, 2014

    Beste Crito, jou opmerkings oor my resensie van Johann Rossouw se “Verwoerdburg” het my aan die dink gesit. Ek besef nou dat ek meestal resensies skryf vir lesers wat die betrokke teks reeds gelees het. (En dus weet wat die verband tussen bepaalde teksaspekte en -vergelykings is.) Wat ek dalk nalaat, is om lesers wat nog nié die teks gelees het nie, genoegsaam in ag te neem. Dit verg uiteraard ‘n fyn balans – jy moet nie net belangstelling wek of bekendstel nie (dit kan ‘n klinkende uitgewersopsomming les bes ook doen); jy moet darem terselfdertyd ook stof tot nadenke te bied vir diegene wat reeds klaar gelees het. Maar dankie, dankie dat jy my weer aan dié moontlike blindekol herinner het. En baie groete.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.