Jy blaai in die argief vir 2014 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Misleidend

Maart 25, 2014 in Uncategorized

JB Roux skryf oor Sushi en sjampanje, deur Kristel Loots.(Boeke24)
Die resensent, JB Roux, kan gegrief voel. In die papier-weergawe van die drie Media24-oggendblaaie, staan sy resensie op die Boekeblad afgedruk in die linkerkantste hoek onder, een van drie kort resensies. Dit is ’n netjiese resensie waarin Roux aandui dat die meester van chick lit in Afrikaans nog nie dieselfde vakmanskap openbaar wanneer sy ’n gewone liefdesverhaal takel nie. Slotsom, diplomaties gestel: ’n Swak poging deur Kristel Loots. In die elektroniese weergawe (webwerf én op tablet-toep) het die resensie ’n opskrif bygekry. Wie ookal daardie opskrif geskryf het, het nie die moeite gedoen om die resensie behoorlik te lees en die inhoud daarvan in die opskrif te weerspieël nie. “Loots so gewild soos roomys en sjokoladesous” is een van die min positiewe opmerkings in die resensie, maar is erg misleidend vir die leser.

Riaan Grobler skryf oor Erfstories, deur Engela van Rooyen. (Boeke24)
Reklame eerder as resensie.

Profile photo of crito

by crito

Sampie en politiek

Maart 18, 2014 in Uncategorized

Christi van der Westhuizen skryf oor Verdeelde land, deur Sampie Terreblanche. (Rapport Boeke)
Ek het oneindig baie plesier geput uit Van der Westhuizen se bespreking, en die klompie politieke waarhede waartoe die boek haar slot-opmerkings geïnspireer het. Sampie Terreblanche is ‘n instelling op ons dorp, ‘n korrelkop van wie mense verwag dat hy dwars sal wees. Van der Westhuizen gaan nie in op al sy argumente nie, maar haak mens se aandag nogtans met wat ek vermoed die kern van Terreblanche se werk is.

J.B. Roux skryf oor Als oor kop, deur Bernette Bergenthuin. (Rapport Boeke)
Roux begin lekker tong-in-die-kies, en gaan dan geleidelik oor na algemene inligting oor die skrywer en haar roman. Hy het vergeet om te sê of hy diep binne sy hart daarvan gehou het.

Kerneels Breytenbach skryf oor Halfpad een ding, deur Zirk van den Berg. (Rapport Boeke)
Ek het hierdie resensie op Rapport se webwerf gelees – dit lyk nie of ‘n subredakteur ‘n laaste keer ‘n oog hieroor gewerp het nie. Maar as mens sulke leesirritasies ignoreer, kry hy dit wel reg om een ding sterk oor te dra, naamlik dat mens Halfpad een ding ernstig moet benader omdat dit anders is as meeste romans oor die Anglo-Boereoorlog.

Marthinus Beukes skryf oor Stil punt van die aarde, deur Johann de Lange. (Boeke24)
Johann de Lange het dit in die verlede al sleg getref met onbesonne resensies; hierdie keer nie. Marthinus Beukes bespreek die bundel van omslag tot omslag, gee die leser genoeg leiding om die bundel self behoorlik te gaan lees. Net so welkom as wat ‘n nuwe bundel deur Johann de Lange is , is Marthinus Beukes se hertoetrede tot die geledere van resensente. Té lank stil gewees.

Ilza Roggeband skryf oor Laaste dans, Drienie, deur Steve Hofmeyr. (Boeke24)
Steve Hofmeyr sit opgesaal met ‘n persepsie-probleem. Nie alle boekliefhebbers is bereid om aan hom te dink as skrywer nie. Ilza Roggeband se bespreking suggereer dat dit ‘n fout is om só te dink. Goed, Ilza, ek sal gaan lees, maar as die hele boek klink soos die “mooi” deel wat jy aanhaal, voorsien ek ‘n moeilike sessie. Ek weet nie van sukkel af nie.

Erika de Beer skryf oor Halfpad een ding, deur Zirk van den Berg. (Boeke24)
Eienaardig, om die minste te sê. Erika de Beer skryf heel onderhoudend oor Zirk van den Berg se roman, maar teen die einde van die resensie laat val sy dat sy nie oortuig is deur die hoofkarakter in dié roman nie. Kort daarna verklaar sy dat dit mens ‘n paar uur goeie ontvlugting sal bied. Strook dit? Ek vermoed hier skuil ‘n meer negatiewe belewing van die roman, soos ook gesuggereer word deur haar opmerkings oor Boereverraaier en Fees van die ongenooides. Laasgenoemde vergelykings is blinde puisies op die gangbare gelaat van die resensie. Móét romans oor die Anglo-Boereoorlog naskrywings van Fees van die ongenooides wees? En haar opmerking dat die karakter Jacob “klaarblyklik” geïnspireer is deur Blake se Boereverraaier is iets wat sy op geen manier kan toets en verifieer nie. Dit stal net die resensent se verwysingsveld ten toon, vanpas of nie, en is reeds deur Van den Berg weerlê.

Profile photo of crito

by crito

Van Malan tot Verwoerdburg

Maart 11, 2014 in Uncategorized

Hermann Giliomee skryf oor D.F. Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, deur Lindie Koorts. (Rapport Boeke)
Rapport Boeke is weer aan die gang. Hermann Giliomee sorg sommer met die intrap vir ’n waarneming wat mens ruk. Twintig jaar na die val van apartheid is daar ’n tekort aan Afrikaanse geskiedkundige publikasies omdat navorsers Afrikaans té vrot onder die knie het en nie die bronne verstaan nie. Wat vir my ook groot nuus is, is dat Koorts aandui hoe Malan sy apartheidsdenke in Nederland gaan haal het. ’n Lekker lang resensie wat my aandag end-uit weggehou het van die uitsending van die Cape Argus-fietswedren. Giliomee hoort nie onder die verbeeldinglose geskiedkundiges na wie hy via Karel Schoeman in dié resensie verwys nie.

Johann Lodewyk Marais skryf oor Karnaval en Lent deur T.T. Cloete. (Rapport Boeke)
Marais maak dit ook nie vir mens maklik nie. Sy eerste twee paragrawe is genoeg om mens se balngsteling te laat verdamp. Maar dan kom hy op dreef, en maak hy die Cloete-bundel vir mens oop. En net wanneer jy dit begin geniet, sluit hy, sommer lekker abrup. Dit laat mens vermoed hy moes sy resensie ná die inlewering verkort, of dalk is dit namens hom gedoen. Nietemin, dis wat hy tussen-in doen wat saak maak, en dié gedeelte is substantief en prikkelend.

Jean Oosthuizen skryf oor God se oë is blou, deur Abel Pienaar. (Raport Boeke)
Oosthuizen skryf met begrip oor dié boek deur Abel Pienaar, iemand wat ongemaklik voel in sowel kerk as nie-kerk. Wanneer hy wegspring met ’n opmerking oor Zen-Christene en Boere-Boeddhiste het hy onmiddelik my aandag, synde n Stellenbosser wat diep onder die indruk is van ons dorp se geskiedenis, Pienk Piet en al. Oosthuizen skryf begrypend eerder as krities – vermoedelik sal dié Vrydag tydens die Woordfees kom wanneer outeur deur resensent ondervra word.

Philip John skryf oor Stil punt van die aarde deur Johann de Lange. (Rapport Boeke)
Ek wonder soms wat dit sal kos om literatore te laat besef dat as daar iets nuuswaardigs aan ’n digbundel is, ’n literêre kritikus liewer sy lyf volledig koerantresensent moet hou en die nuuspunt  die kapstok van die resensie maak. Philip John skryf ’n heel billike resensie, sonder dat hy werklik baie diep delf, en steek die een nuuswaardigheid in die middel van ’n paragraaf weg: ’n gedig or die Blou Bul-skrumskakel, Francois Hougaard. ’n Erotiese gedig.

Johan Smith skryf oor Bomskok, deur Thinus Horn. (Rapport Boeke)
’n Gangbare resensie, al raak die resensent verlei deur die opvatting dat resensie-lesers ’n volledige opsomming van die verhaal wil hê. Sy opmerking oor vloekwoorde het my wel laat skrik: Hoekom sou mens suke dinge wil miskyk? Ek geniet dit nogal wanneer mense verbeeldingryk vloek. Hopelik ken die spul joernaliste in Bomskok hul storie.

Annemarie van der Walt skryf oor Enkelreis, deur Zarine Roodt (Boeke24)
Dít is hoe resensies geskryf moet word! Informatief, krities. Van der Walt skets die omvang wat Roodt haar ten doel gestel het, en gee die redes hoekom sy faal. Maar sy doen dit op só ’n manier dat mens besluit daar is wel ander, goeie redes hoekom jy hierdie boek sal wil lees. Vir nuuskierige Jungiane.

Thys Human skryf oor Verwoerdburg, deur Johann Rossouw. (Boeke24)
’n Bietjie wollerig geskryf – mens moet die resensie verskeie kere herlees om helderheid te kry oor presies wat in Johann Rossouw se Verwoerdburg aan die bod is. Die leser van die resensie word gedwing om besluite te neem oor dinge wat Human sê ten einde ’n greep te kry op wat moontlik in Verwoerdburg aan die gang is. Een voorbeeld: Wat is die verband tussen die manjifieke kortverhaal waarmee Jakes Botha vir hom ’n patronaat losslaan, en die roman waaroor die agtergeblewenes gegrief is? Geen? Orraait. En is Jakes ook daardie Jakes van Siener? Orraait. Maar wanneer Human uiteindelik sy kritiese reaksie vorendag bring, is dit een wat mens kan verstaan: Daar is té veel van die outeurstem in die roman se uitsprake teenwoordig. Ek vermoed dit is ’n roman wat ’n heftige debat kan ontketen onder ouer lesers.

Profile photo of crito

by crito

Die skinder

Maart 4, 2014 in Uncategorized

Cas van Rensburg skryf oor Bomskok, deur Thinus Horn. (Boeke24)
Dit is ’n resensie waaraan mens jou kan verkneukel, hierdie. Mits jy in die joernalistiek belangstel. Van Rensburg skryf met die nonchalance van iemand wat die regte skinderstorie agter die storie ken. Mens wens hy het meer leidrade gegee oor die herkenbare figure – die enigste naam wat onmiddelik na vore spring is dié van Max du Preez, en deur sy beskrywing van die koerantredakteur in die roman, hak Van Rensburg jou. Jy gaan die boek móét lees, snuffelend agter herkenbare gesigte aan. Is dit die edelste manier om leser te lok vir ’n boek? Hoekom nie? En dankie ook, meneer Van Rensburg, vir die tong in die kies betreffende “grondverskuiwend”.

Dewald Koen skryf oor Die derde graf, deur Calvyn van Niekerk. (Boeke24)
Dewald Koen beskou Die derde graf op ’n effense afstand. Gevolglik is die resensie in gedempte toon, sodat die uiteindelike aanbeveling amper aan mens verbygaan. Maar die resensie het wel een groot pluspunt: Koen probeer nie vir jou die storie vertel nie. Hy laat die boek sy geheime en skatte behou, die leser moet hulle self gaan ontdek. Geen “spoiler alert” hier nodig nie!