Jy blaai in die argief vir 2014 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Plesier in woorde

Februarie 25, 2014 in Uncategorized

Ingrid Winterbach resenseer Deel XIV (S-SKOOI) van die WAT. (Boeke24)
Terwyl Rapport se groot boeke-droogte voortgaan, het Boeke24 sommer baie lewendig geword. Die jongste teken daarvan is die keuse van Ingrid Winterbach as resensent van Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Winterbach is naas Marlene van Niekerk die vlugtigste gebruiker van Afrikaans onder die huidige geslag skrywers. Om een van haar romans te lees, is om op ’n taal-ontdekkingstog te gaan. Haar reaksie op hierdie deel van WAT gee mens ’n idee van die manier waarop sy taal benader, en hoe sy woordeboeke gebruik. Woordeboeke is nie net nutsboeke nie, hulle is ook ’n enorme plesier, iets waarin mens kan snuffel sonder end. Dít is wat Ingrid Winterbach se resensie vir my sê (en, uiteraard, dat mens nie altyd ‘n leksikograaf hoef te kry om woordeboeke te resenseer nie). As mens kyk na die lyste voorbeelde wat sy aanhaal, is daar net een ding wat die resensie-leser kan sê: Hoe wonderlik werk daai kop nie!

Profile photo of crito

by crito

Volpunte vir Erasmus

Februarie 18, 2014 in Uncategorized

Annelise Erasmus skryf oor Skarlakenkoors, saamgestel deur Peter van Noord en Karin Eloff. (Boeke24)
Bundels erotiek skep altyd ’n probleem vir resensente. Beoordeel jy die gehalte van die skryfwerk, of die mate waarin die inhoud jou prikkel? Omdat mens dit min of meer as gegewe kan beskou dat iets wat deur die hande van Peter van Noord en Karin Eloff is, op ’n aanvaarbare skrywerspeil sal wees, laat dit jou met een uitweg, en dit is om die bundel te meet aan sy prikkeling. Annelise Erasmus se respons is een van die vindingrykste reaksies op hierdie dilemma wat ek nog gelees het. Volpunte vir die manier waarop sy dit baie duidelik maak dat die inhoud haar geprikkel het – asook vir die manier waarop sy die aandag tot by die laaste evokatiewe sin hou. Hierdie keer kan niemand wat tot die bundel bygedra het, kla oor die aandag wat die resensent aan die hele bundel gegee het nie. Meer sulke resensies, asseblief tog!

Marius Crous skryf oor Die rooi veer in Vasco se hoed, deur Rosa Smit. (Boeke24)
Dit is verkeerd om hierdie resensie te vergelyk met die een van Skarlakenkoors, wat net bo dit op die boekeblad verskyn het – maar mens kan nie anders nie. Dit is sekerlik feitlik onmoontlik om met selfs ’n geringe mate van opgewondeheid digbundels te resenseer – die vakgebied dwing die resensent tot ’n nugter, objektiewe aanpak. Crous se resensie val op omdat hy so besonder onopgewonde is oor die gedigte. Dit is geen verrassing wanneer hy teen die einde verklaar dat hierdie bundel nog nie gereed was vir publikasie nie. Die vraag ontstaan ongelukkig dan ook by my of dit nie wenslik is om die resensie baie in te kort nie. In die ganse leespubliek is daar net een persoon wat werklik baat vind by die uitvoerige skrywe van Crous, en dit is digter.

Marietie Louw-Carstens skryf oor Die Modimolle monster, deur Karyn Maughan en Shaun Swingler. (Boeke24)
Soms vind ek my in die posisie dat ek absoluut geen belangstelling in die onderwerp van ’n boek het nie. Om dan ’n resensie daaroor te lees, is vir my net so oninteressant as om die boek self te lees. As die resensie knap geskryf is, hinder dit nie. Is dit swak aangepak, eskaleer mens se irritasie vinnig. Die enigste slotsom waartoe ek ná die lees van hierdie bespreking kon kom, is dat Marietie Louw-Carstens baie goeie maniere het en met ’n omweg tog laat deurskemer wat sy van hierdie boek dink: Prul.

’n Algemene vraag: Gaan Rapport se boekeblad herstel?

Profile photo of crito

by crito

Reg gehoor?

Februarie 11, 2014 in Uncategorized

Annemarie van der Walt skryf oor Meer as een grens van Connie Luyt. (Boeke24)
Dankie vir die nuus. Maar wat op aarde is “uitknoping” en “suutjie-spaai”?

André Bartlett skryf oor Op soek na Jesus van Neels Jackson. (Boeke24)
My eerste reaksie, terwyl die paragrawe van die resensie verbygaan, is dat nòg Jackson nòg Bartlett al gehoor het van Robert Graves se King Jesus. Maar dit blyk gou dat Jackson ‘n nuwer, vindingryker idee had vir hierdie boek. Bartlett se aanpak is ewe verfrissend, en totaal sonder dweepsug. Werklik ‘n resensie wat die moeite werd is om te lees. Sê iemand wat glad nie in hul teikengehoor is nie.

Profile photo of crito

by crito

Leesdoepa

Februarie 4, 2014 in Uncategorized

Johann Louw skryf oor Dokter in die huis, deur dr. Jan van Elfen en dr. Don du Toit. (Rapport Boeke)
Louw is self ’n mediese dokter en sy resensie plaas die stempel van goedkeuring op die boek. Goed om te weet, al is die resensie die gedrukte weergawe van goeie kollegiale “bedside manner”.

Francois Smith skryf oor Nuwe stories 2, saamgestel deur Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh (Rapport Boeke)
’n Baie belangrike punt wat Francois Smith in hierdie bespreking maak, naamlik dat die behoeftes van die lesers ook in ag geneem moet word wanneer aanmoedgingsprojekte vir jong skrywers geloods word. Nuwe stemme 2 het té veel skrywersmankemente wat deurgelaat is, en die bundel moes daarom liefs nie gepubiseer gewees het nie. Dis ’n harde oordeel, maar dankie daarvoor.

Martinette Louw skryf oor Ek’s g’n Slams, deur Fatima Dawood. (Rapport Boeke)
Ná Martinette Louw se resensie ken ons die verhaal. Nog ’n boek by verstek gelees.

Anna-Bet Bester skryf oor Skarlakenkoors, saamgestel deur Peter van Noord en Karin Eloff. (Rapport Boeke)
’n Lekker lewendige resensie deur iemand wat hierdie versameling erotiese verhale duidelik baie geniet het. Kan geen fout daarmee vind nie. Wat ek wel mis, is ’n bespreking van en/of verwysing na Willem Pretorius se “Die oorloë van alle moeders”, ’n besonderse dekonstruksie van erotiese verhale. Só ’n ontleding sou haar omerking dat die bundel as geheel baie geslaagd is, vir my my baie meer gewig laat dra het.