Jy blaai in die argief vir 2013 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Kritiese ontvangs

Desember 3, 2013 in Uncategorized

Sondag op ’n voëlplaas, deur Johann Nel. Resensie: Anél Viktor (Rapport Boeke)
Met ’n opskrif soos “Manwees se clichés raakgevat” het ek die resensie begin lees en gevrees vir die ergste. Het Johann Nel hom hier vasgeloop in die deurpriemende blik van ’n feminis? Het hy die ouer chauvinistiese mansorde besing en gedink hy gaan wegkom daarmee? Ek wens dit was só eenvoudig. Om mee te begin is die opskrif wat vir die resensie gegee is, nie ’n refleksie van wat sy skryf nie. Mens is dus negatief gestem deur ’n opskrif, en dan moet jy al lesende daarvan probeer ontslae raak. In die eerste paragraaf weerspreek Viktor die opskrif, maar daardie eerste indruk is moeilik om af te skud. Viktor gee boonop ’n samevatting van die verhaal op só ’n manier dat daar geen rede vir die lees van die roman oorbly nie. Van ’n waarlik kritiese ontvangs is hier geen sprake nie – om te resenseer beteken nie mens moet die verhaal opsom nie. Die resensie is positief, die koerant wou dit negatief hê, en die verloorder is Johann Nel.

Onder die radar, deur Dana Snyman. Resensie: Pieter-Louis Myburgh (Rapport Boeke)
Dis duidelik dat die resensent goed gedink het voordat hy hierdie resensie geskryf het. En hy kom so naby as fokkit aan ’n vloekwoord om ’n vraag uit te spreek wat alle liefhebers van Snyman se skryfwerk kwel: Is hierdie geliefde skrywer besig om self met ’n groot depressie-probleem te worstel? Myburgh praat van die toenemende mate waarin ’n diepliggende weemoedigheid in sy werk deurskemer, en ’n entjie verder van die somber slotte van sommige van die verhale. En dat dit nie ligte leesstof is, soos ons van Snyman verwag nie. Dis ’n goeie resensie, en ek is seker meeste lesers sou hul afleidings op dieselfde manier uitgespel het as ek hier.

Lekker wild! deur Andries Botha en Willem Krog. Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Boeke)
Kerneels Breytenbach maak ons op onderhoudende manier baie nuuskierig oor hierdie boek deur Dot Serfontein se seun en wyle Andries Botha. Maar iets hinder my: Hoekom skryf hy net positiewe resensies? Kies hy sy boeke só, of wil hy vir niemand aanstoot gee nie? ’n Paar opmerkings oor tipografie en fotografie is nie saam ’n behoorlike vorm van kritiek nie. Die verwysingsveld wat hy betrek sorg dat sy lesers dadelik geboei sal wees, maar hy kon wat my betref meer krities gewees het en die boek geplaas het binne die konteks van die uitwissing van die land se wild. Dis een ding om watertand te skryf oor ystervarkvel – maar waar is die kontekstualisering? Jag hierdie mense werklik ystervarke? Moes die boek se titel dan nie liewer Lekker boelie!  gewees het nie? Daardie opmerking oor die oplewing in die mark vir wildvleis laat my wragtag rooi sien!

‘n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank, deur Nico Nel en Uys van der Hoven. Resensent: Koos Kombuis (Boeke24)
Net die naam Koos Kombuis by hierdie resensie het my dit onmiddelik laat lees. Ek het gewonder wat die beklinker sou wees. Tussen die hoogs positiewe opmerkings (uiteindelik ‘n paragraaf té lank?) is daar gewoonlik ‘n Kombuis-opmerking wat vir jou die teken gee dat hierdie boek die moeite en geld werd is. Dit kom dan ook wanneer hy aandui dat dit nie net ‘n bundel van grappies en sports is nie, daar is ook diepgang. Om te sê dat die verhaal “Onmin in die Karoo” ‘n teologiese strikvraag bevat waaraan nog geen dominee ooit gedink het nie – dit is mos net so goed Kombuis gee jou ‘n geskrewe waarborg dat jy hiervan gaan hou.

Sondag op ‘n voëlplaas, deur Johann Nel. Resensie: Dewald Koen (Boeke24)
Nou goed, wat is ‘n kritiese reaksie op ‘n roman? Dit behels kontekstualisering t.o.v. genre en ander skrywers, dit behels ‘n reaksie op die manier waarop die werk afwyk of ooreenstem met ander romans in dieselfde genre, dit behels ‘n oorsig oor tematiek, dit behels ‘n reaksie op die oortuigingskrag en effek van die roman, dit behels ‘n taksering van die skrywerskap en taalgebruik, dit behels ‘n aanduiding van swakhede of buitengewoon sterk eienskappe, en les bes ‘n aanduiding deur die resensent van sy persoonlike reaksie op die roman. Goed, meeste studente sou so iets kon doen. Die vaardige resensent sal dit egter só aanbied dat die lees van die resensie self ‘n plesier is, en ‘n diens aan die koerant se lesers bied deur hulle aan te moedig of af te raai om die betrokke boek te lees/koop. Dewald Koen se resensie bevat al hierdie dinge, en getuig van respek vir ‘n nuwe skrywerstalent.