Jy blaai in die argief vir 2013 November.

Profile photo of crito

by crito

Besielde keuses

November 26, 2013 in Uncategorized

Kobra, deur Deon Meyer. Resensie: Bennie Griesel (Boeke24)
Deon Meyer het met harde werk en skitterende verhale ’n amper onaantasbare figuur geword. Wie kry mens om sy jongste werk te resenseer – iemand wat die maksimum aantal lesers sal lok, en elke woord laat inneem? Probeer self daardie een antwoord. Jo Prins het iemand opgediep wat mens half oorbluf laat – die Kaapse regter Bennie Griesel. En die waagstuk slaag. Griesel is nie geknel deur die jargon van die joernalistiek nie, en skryf met ’n gemaklike, leesbare styl. Hy skryf onderhoudend, maar uiteindelik ook argumenterend. Wanneer hy uiteindelik tot die besluit kom dat hierdie Meyer se beste boek nog is, is jy heeltemal oortuig. Meer hiervan, asb!

Kobra, deur Deon Meyer. Resensie: Andries Wessels (Boeke24)
Andries Wessels se resensie kan allermins beskou word as ’n soort kontrole-resensie vir Bennie Griesel s’n. Wessels is ’n gesiene akademikus en die kere dat hy boeke geresenseer het, het hy homself met oortuiging laat geld. Maar ek kon nie help om tog sy resensie as ’n soort kontrole te lees nie, en ongeldig soos my gebruik ook was, beaam hy vanuit sy hoek die strekking en oordeel van die Kaapse juris. Wat my wel tot ’n mate kwel, is die feit dat Wessels die eggenoot is van die boek se uitgewer. Die feit dat hy ingestem het om die resensie te skryf, suggereer dat hy geen probleem daarmee gesien het nie. ’n Mens moet ook aanneem dat as hy nie van Kobra gehou het nie, hy dit sou geskryf het.

Baarde, briewe en barmhartigheid, deur Doc Immelman. Resensie: Joan Hambidge (Boeke24)
Joan Hambidge het vir my gevoel ’n bietjie minder gereeld bocke geresenseer vanjaar as in die verlede, soveel so dat ek al begin wonder het wat aan die gang is. Sy kom hierdie keer amper rumoerig aan die gang. Mens slaak eintlik ’n sug van verligting. Hambidge is terug. Daarna pak sy rustig haar indrukke uit, op ’n manier wat paslik hulde bring aan Immelman se bydrae in die verlede om Afrikaners oor hul gunsteling-onderwerpe aan die lees te kry.

Bokspronge, deur Stephen Nell. Resensie: Wynand Claassen (Boeke24)
Nog ’n besielde keuse van resensent. Om ’n voormalige Springbok-kaptein en -keurder te kry om ’n boek oor rugby te bespreek, is ’n uitstekende besluit. Veral omdat Wynand Claassen bekend is daarvoor dat hy nie ’n groefwandelaar is nie. Hy het ’n paar bedenkinge oor Stephen Nell se boek, maar in die geheel is dit ’n resensie wat duidelik maak dat hier geen sensasionalisering aan die orde is nie. Claassen kon miskien een of twee van die brokkies “vergete nuus” aangehaal het om die leser te interesseer.

Profile photo of crito

by crito

Lekker en onkrities

November 19, 2013 in Uncategorized

Onder die radar, deur Dana Snyman. Resensie: Resensie: Charles Smith (Boeke24)
Baie resensente het al probeer om te beskryf presies wát die essensie van Dana Snyman se bekoring is. Min het dit nog reggekry soos Charles Smith: “Hy is die argeoloog wat met sy soeklig in die grot soek waar die Afrikaanse denkpatroon vir dekades geheers het – en nou verdwyn. Met sy pen lig hy die seil van die nuwe Suid-Afrika op en kyk wat ons was en dalk steeds is.” Genoeg om te weet of mens op dieselfde golflengte is as die resensent. Die res van die resensie is vir hierdie leser oorbodig. Netjies. Vir bewonderaars soos ek. Maar ek kan my indink dat daar lesers sal wees wat nie van Snyman se soort weltschmerz hou nie, en sal voel dat dit tyd is dat Snyman krities bespreek moet word.

Moord-en-roof: In die kop van ’n baasspeurder, deur Albert Blake. Resensie: Amanda Roestoff. (Boeke24)
“Nie sommer enige ou gaan hiervan hou nie,” sê Roestoff. Nou ja, mens kan dit seker ook sê van  boeke oor snydokters , vuilisverwyderaars en die verpleërs van terminaal siekes. Die punt is seker tog dat die skrywer dit regkry, of nie regkry nie, om in ’n tyd waarin die Suid-Afrikaanse polisiediens met agterdog en openlike minagting bejeën word, ’n boek te skryf waarin die gesonde kern van dié diens beskryf word. Blake fokus op Charles Miller, ’n speurder wat Piet Byl na die kroon steek – en waarskynlik sal wen ook. Roestoff se resensie bevat ’n element van verleë wees oor die smetterige terrein waarop hierdie geregsdienaars hulle moet begewe, en sy as joernalis ook, maar die resensie self dien uitstekend in sy doel.

’n Plan is ’n duineboerdery, deur Louw van Schalkwyk, oorvertel deur Ann Hiemstra.Resensie: Amanda Botha (Rapport Boeke)
Eintlik ‘n lekkerlees-artikel hierdie, eerder as ’n resensie. Amanda Botha is ’n gesoute joernalis, en die manier waaop sy hierdie boek en sy inhoud hanteer, is vol warmte en deernis, en ’n groot liefde vir die kontrei waaroor die boek handel. Sou ’n kritiese resensent dit anders benader het? Moontlik – maar’n mens moet sekerlik ook in ag neem dat Botha daardie keuse kon gemaak het voordat sy geskryf het, en dat haar jare se ondervinding deurslag gegee het.

Profile photo of crito

by crito

Ouderdomsperk

November 12, 2013 in Uncategorized

Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, deur Jaco Jacobs. Resensie: Mia Oosthuizen. (Rapport Boeke)

Steeds is daar nie ‘n behoorlike oplossing vir die probleem van hoe jeugromans ten beste geresenseer behoort te word nie. Soms is daar moedige pogings van die redakteurs van boekeblaaie om lesers uit die teiken- of portuurgroep te kry om dié boeke te bespreek. Met gemengde resultate. Mens het altyd die vermoede dat daar ‘n ander persoon aanwesig was wat die taal geskaaf het, soms selfs ‘n bietjie gehelp het met die dink en formuleer.

En dan is daar die ander uiterste. Volwassenes wat vlerksleep by die teikengroep. Op elke moontlike knoppie word gedruk in ‘n poging om die jeug net aan die lees te kry. Kyk na die knallers, hou dop watse opmerkings word gebruik om die boek aantreklik te maak vir ‘n jonger ouderdomsgroep as dié waaraan die resensent behoort.

Sonder uitsondering sal resensente in laasgenoemde groep hulself uiteindelik ontmasker as pedagoë, of kolporteurs van die boek. Hierdie nuk skep ongelukkig dan presies die soort ouderdomsgaping wat die resensent behoort te probeer vermy.

In Mia Oosthuizen se resensie slaag sy uit die staanspoor om nie binne bogenoemde paradigma vas te val nie. Sy gee nie voor dat sy jonk is of ‘n spesiale begrip het vir die probleme van vandag se jeug nie.

Sy gee eerder dadelik erkenning aan al die goeie aspekte van Jacobs se skryfwerk en die sterk eienskappe van hierdie roman. Sy bied ‘n idee van wat die verhaal behels sonder om die inhoud in besonderhede te verklap. Sy sny die tematiek aan en lê dit bloot in een lang sin sonder jargon.

Maar dan begin die steurende elemente hul verskyning maak. Kort voor sy Jacobs se hoë taalstandaard aanprys, skryf sy vanwaar as twee woorde. Nou goed, miskien het die Taalkommissie in een van sy onheldere oomblikke besluit dit kan maar twee woorde wees. Vir my pla dit.

Mens kan nog aanvaar, soos Oosthuizen doen, dat jonger lesers grafiese elemente by die prosa verkies, maar wanneer sy met groot stelligheid verklaar dat lesers van 11 en ouer deur die boek vermaak en verryk sal word, en dat volwassenes dit op verskillende vlakke sal kan gebruik en geniet, moet mens protesteer – of ten minste stawing vra.

Hoekom kinders van spesifiek 11 en ouer? Wie het die ouderdom bepaal? Of is dit omdat kinders deesdae omtrent elf in Graad 5 word, en Graad 5 is wanneer hulle veronderstel is om self te kan begin lees? Nou hoekom nie só sê nie?

Verder: Hoe “gebruik” volwassenes ‘n boek? Wil volwassenes jeugromans “gebruik”?

En hoe seker is sy dat sommige lesers, 11 of ouer, nié verryk en vermaak sal word nie?

Sulke opmerkings laat my agterdog oor die resensie as geheel groei – en eintlik is dit nie nodig nie as mens hierdie laaste opsommende paragrawe ignoreer. Ek kry die gevoel dat die lastige paragrawe geskryf is vir ouers, onderwysers en bibliotekarisse. Daar is ander maniere om sulke inligting oor te dra, en as mens die resensie fyn lees, kry jy al daardie indrukke sonder dat dit met ‘n lepel aan jou gevoer word.

Met die uitsondering van die ouderdom-bepaling, natuurlik.
Spoorvat, deur Riana Scheepers en Leti Klein. Resensie: Gisela Ulyatt. (Boeke24)
‘n Formulistiese resensie wat nie ver van ‘n ramp af is nie. Begin met kontekstualisering, en dan paragraafsgewyse ‘n beskrywing van een en soms twee skrywers se bydraes. Ten slotte probeer die resensent ‘n veralgemening (dat dit in dié bundel oor liefde vir die geskrewe woord gaan) staaf aan die hand van ‘n aanhaling uit Riana Scheepers se bydrae (ek neem aan dis haar bydrae, mag ook ‘n voorwoord wees, die resensent dui nie aan nie). Van ‘n grondige kritiese reaksie op die skryfwerk is daar werklik nie sprake nie, en dus sou mens hierdie poging as reklame eerder as resensie kan tipeer. Dit is jammer, want wat Ulyatt oor die inhoud verklap, wek by my die vermoede dat die onderwerpe die skrywers geïnspireer het en dat hier dalk baie goeie skryfwerk te vinde is. Jammer dat die resensent nie gedink het die lesers van resensies wil dít weet nie.

‘n Dief aan die kers, deur Anton F. Prinsloo. Resensie: Constant Steyn (Boeke24)
Nog ‘n resensent wat die irritasievlak opskuif met ‘n opmerking dat “ons taal en sy gebruikers net baat kan vind by verrykende lees- en leerstof soos dié”. Hoe kan ‘n resensent aanneem dat lesers onverryk is op enige gebied? Maar gelukkig is Constant Steyn andersins ‘n man na my hart. Hy omseil die verklaring van die boek se titel baie netjies, ‘n vernuftige manier om die leser van die resensie te motiveer om die boek te lees indien nie te koop nie. Die paragraaf oor Prinsloo se hantering van “skelm woorde” is ook ‘n prikkel wat dieselfde doel dien. Die resensie maak mens nuuskierig, en dít is wat uiteindelik die meeste saak maak.