Profile photo of crito

by

Ingewriemel tussen die semels

Oktober 28, 2013 in Uncategorized

Joost en Amor – Agter die Skerms, deur Gavin Prins. Resensie: Hannelie Booyens. (Boeke24)
Dis ’n belangrike resensie dié. Hannelie Booyens resenseer nie alleen ’n boek nie, sy wys ook tot watter mate die media bereid is om selfondersoek in te stel – en reguit te wees met die antwoord.

Die feit dat Boeke24 se redakteur vir Booyens as resensent gekies het, is vir my op sigself betekenisvol. Dit is in joernalistieke kringe vry algemeen bekend dat Booyens self in ’n stadium ’n boek oor Steve Hofmeyr sou skryf. Die projek is gekelder deurdat mense wat as bronne gebruik sou word, die deur in haar gesig toegemaak het. Sy is dus uitstekend geplaas om ’n oordeel te kan uitspreek oor dít wat sy “embedded” joernaliste noem, asook oor die situasie waarin die outeur van hierdie boek, Gavin Prins hom bevind het.

Ironies ook dat die slotsom waartoe sy oor hierdie praktyk kom, uitgespel word in die koerante van ’n koerantgroep wat baie jare lank die “embedded” joernaliste van die ou Nasionale Party was!

Nietemin, Booyens se bespreking van die boek het ’n verleidelike begin. Booyens vertel hoe sy as Huisgenoot-joernalis die celebrity-fenomeen van naderby beleef het – en die simbiotiese verhouding tussen media en celebrities.

Dan vertel sy hoe Prins betrek is by die glanslewe van die Van der Westhuizen-egpaar – ’n bespreking wat eintlik sentreer om die ou beginsel waarvolgens joernaliste altyd onbetrokke en objektief moet bly. Gavin Prins het hierdie beginsel verbreek, met ’n verdoemende samevatting deur Booyens as gevolg: “Maar as jy ingewriemel raak tussen die semels, is smetterige joernalistiek van die laagste gehalte onvermydelik.”

Booyens se kennis van die huidige joernalistieke toneel bied uit ander hoeke stof tot nadenke: die dinge wat winsgewende enjins vir koerante en tydskrifte bly, die onervare, jong joernaliste wat vaardig is, en die rol wat celebrity-joernaliste se opgeblase ego’s speel om die nuusagenda te bepaal.

Die gevolg, sê Booyens, is ’n pantomime waarvan ons die draaiboek-elemente kan identifiseer.

Hierdie analise is benouend omdat mens weet Booyens moes haarself waarskynlik inhou. Haar uitsprake oor Joost en Amor verbrysel enige illusie wat mens moontlik nog oor hulle gehad het, maar Booyens se finale oordeel is die skrynendste: Joost en Amor se vennote in die media lyk nie veel beter nie.

Is dit ’n resensie waaraan enigiets toegevoeg kan word? Moontlik wel.

Waar sy haar uitlaat oor joernaliste wat “ingewriemel raak tussen die semels” en die onvermydelike gevolg van “smetterige joernalistiek van die laagste gehalte”, sou dit gedeug het om die voorbeeld van Dominic Dunne by te haal – iemand wat homself tegelyk kon inwriemel én ’n objektiewe afstand behou, met die noodwendige en blye gevolg van top-joernalistiek.

Miskien het Booyens té onlangs aan dieselfde krip as Gavin Prins gestaan om onbevange daaroor te kon skryf, maar ’n resensie soos hierdie is sekerlik die plek waarin vrae gestel kan word oor die manier waarop onervare joernaliste aan hulself oorgelaat word in ’n media-omgewing waarvoor hulle nie opgewasse is nie. Nie elke joernalis kan ontwikkel in ’n Jacques Pauw of Max du Preez nie, maar sommiges kan met bystand en die ontwikkeling van goeie oordeel tot ’n nuwe geslag top-joernaliste ontwikkel.

As mens dan hierdie resensie lees, is dit met die gevoel dat Gavin Prins in die steek gelaat is. Gelukkig weet mens dan dat Booyens se benaming “vennote in die media” nie suiwer op Prins gemik is nie, maar die werkgewers van Prins wat toegelaat het dat ’n jong joernalis met ambisies só vir die wolwe gegooi is.

4 antwoorde op Ingewriemel tussen die semels

  1. “…vir die wolwe gegooi is.”

    Regtig? boeke 24 – en vir wie werk Booyens?

    Is hierdie nie net reklame nie – “There is no such thing as bad publicity.”

    En dit laat my sommer oor Crito se onafhanklikheid ook wonder…

  2. vega het gesê op Oktober 28, 2013

    Dankie vir die stuk.

  3. lora2me het gesê op Oktober 28, 2013

    Wat die boek ookal werd is, gaan nie saak maak nie, want die sensasie rondom die geskrif gaan die uitgawes van die rakke af laat weet. Ons ou Suid-Afrikaners hou darem so baie van ‘n bietjie skinder en vuil wasgoed. Ek hoop nie iemand gee die boek vir my present nie.

  4. Elly het gesê op Oktober 28, 2013

    Okay … interessant. Bly ek het gelees wat jy geskryf het, want ek was vol kritiek. Maar mens moet seker objektief wees. My kritiek was vir die paar betrokke ook, hul het immers self die media gebruik toe dit hul gepas het, met vuil wasgoed nietemin.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.