Jy blaai in die argief vir 2013 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Ingewriemel tussen die semels

Oktober 28, 2013 in Uncategorized

Joost en Amor – Agter die Skerms, deur Gavin Prins. Resensie: Hannelie Booyens. (Boeke24)
Dis ’n belangrike resensie dié. Hannelie Booyens resenseer nie alleen ’n boek nie, sy wys ook tot watter mate die media bereid is om selfondersoek in te stel – en reguit te wees met die antwoord.

Die feit dat Boeke24 se redakteur vir Booyens as resensent gekies het, is vir my op sigself betekenisvol. Dit is in joernalistieke kringe vry algemeen bekend dat Booyens self in ’n stadium ’n boek oor Steve Hofmeyr sou skryf. Die projek is gekelder deurdat mense wat as bronne gebruik sou word, die deur in haar gesig toegemaak het. Sy is dus uitstekend geplaas om ’n oordeel te kan uitspreek oor dít wat sy “embedded” joernaliste noem, asook oor die situasie waarin die outeur van hierdie boek, Gavin Prins hom bevind het.

Ironies ook dat die slotsom waartoe sy oor hierdie praktyk kom, uitgespel word in die koerante van ’n koerantgroep wat baie jare lank die “embedded” joernaliste van die ou Nasionale Party was!

Nietemin, Booyens se bespreking van die boek het ’n verleidelike begin. Booyens vertel hoe sy as Huisgenoot-joernalis die celebrity-fenomeen van naderby beleef het – en die simbiotiese verhouding tussen media en celebrities.

Dan vertel sy hoe Prins betrek is by die glanslewe van die Van der Westhuizen-egpaar – ’n bespreking wat eintlik sentreer om die ou beginsel waarvolgens joernaliste altyd onbetrokke en objektief moet bly. Gavin Prins het hierdie beginsel verbreek, met ’n verdoemende samevatting deur Booyens as gevolg: “Maar as jy ingewriemel raak tussen die semels, is smetterige joernalistiek van die laagste gehalte onvermydelik.”

Booyens se kennis van die huidige joernalistieke toneel bied uit ander hoeke stof tot nadenke: die dinge wat winsgewende enjins vir koerante en tydskrifte bly, die onervare, jong joernaliste wat vaardig is, en die rol wat celebrity-joernaliste se opgeblase ego’s speel om die nuusagenda te bepaal.

Die gevolg, sê Booyens, is ’n pantomime waarvan ons die draaiboek-elemente kan identifiseer.

Hierdie analise is benouend omdat mens weet Booyens moes haarself waarskynlik inhou. Haar uitsprake oor Joost en Amor verbrysel enige illusie wat mens moontlik nog oor hulle gehad het, maar Booyens se finale oordeel is die skrynendste: Joost en Amor se vennote in die media lyk nie veel beter nie.

Is dit ’n resensie waaraan enigiets toegevoeg kan word? Moontlik wel.

Waar sy haar uitlaat oor joernaliste wat “ingewriemel raak tussen die semels” en die onvermydelike gevolg van “smetterige joernalistiek van die laagste gehalte”, sou dit gedeug het om die voorbeeld van Dominic Dunne by te haal – iemand wat homself tegelyk kon inwriemel én ’n objektiewe afstand behou, met die noodwendige en blye gevolg van top-joernalistiek.

Miskien het Booyens té onlangs aan dieselfde krip as Gavin Prins gestaan om onbevange daaroor te kon skryf, maar ’n resensie soos hierdie is sekerlik die plek waarin vrae gestel kan word oor die manier waarop onervare joernaliste aan hulself oorgelaat word in ’n media-omgewing waarvoor hulle nie opgewasse is nie. Nie elke joernalis kan ontwikkel in ’n Jacques Pauw of Max du Preez nie, maar sommiges kan met bystand en die ontwikkeling van goeie oordeel tot ’n nuwe geslag top-joernaliste ontwikkel.

As mens dan hierdie resensie lees, is dit met die gevoel dat Gavin Prins in die steek gelaat is. Gelukkig weet mens dan dat Booyens se benaming “vennote in die media” nie suiwer op Prins gemik is nie, maar die werkgewers van Prins wat toegelaat het dat ’n jong joernalis met ambisies só vir die wolwe gegooi is.

Profile photo of crito

by crito

Uit twee hoeke

Oktober 15, 2013 in Uncategorized

Klimtol, deur Etienne van Heerden. Resensente: Willie Burger en Annemarie van Niekerk. (Boeke24)
Na die lees van Klimtol het ek gedink aan een van die refreine in Brendan Behan se The Hostage, wat lui “there’s no place on earth like the world”. Klimtol het ‘n groot indruk op my gemaak. Ek het gewonder wat die resensente daarvan sou maak. Die antwoord, tot dusver, is baie. Goeie skryfwerk, sien ons dikwels, spoor resensente aan om bo die patrone uit te styg. Hoe sou ‘n resensent van Pretoria, en een van Den Haag, lees aan Etienne van Heerden se Paternoster-roman?

Willie Burger se resensie begin met ‘n opsomming van die verhaal. Maar gou sien mens dis net ten dele. Algaande bring hy Klimtol in verband met Van Heerden se ander romans, wys hy tematiese ooreenkomste, wys hy op aanvullings en voortsettings. En wanneer hy daarmee klaar is, sien jy dat welke groot hoeveelheid kritiese reaksie en ontleding opgesluit lê in sy resensie. Hier, besef jy, is die aanknopingspunt vir enige akademiese behandeling van Klimtol, en sal dit nog lank bly. Wat ‘n puik resensie!

Annemarie van Niekerk se respons is ewe belangrik. Sy lig meeste van die dinge uit wat Burger aanstip, maar haar hoek is ‘n bietjie meer afstandelink. Sy gee inligting oor die verhaal, maar net om tematiese elemente te kan belig. Waar Burger sterk fokus op Klimtol as roman binne ‘n oeuvre, is Van Niekerk meer geïnteresseerd daarin om dit binne ‘n tradisie te plaas – Hemingway en Mda is die twee name wat sy noem. In haar laaste paragraaf noem sy net sommige van die dinge wat Burger meer pertinent uitspel. Van Niekerk s’n is eweneens ‘n besonder knap resensie – veral omdat sy en Burger in hul interpretasies mekaar se sienings bevestig.

Albei benaderings is uiteraard geldig: die indringende kyk binne die oeuvre, en die wyer kyk binne die letterkunde. En dit is wanneer ‘n mens sulke resensies lees dat jy besef watse belangrike rol iets soos Boeke24 speel binne die kring van die Afrikaanse taal.

Profile photo of crito

by crito

Iets ekstra

Oktober 10, 2013 in Uncategorized

Die avonture van Malboer, deur Johan Jack Smith. Resensies: Nathan Trantraal en Deon Maas. (Rapport Boeke)
Maas skryf oor die boek voor hom, Trantraal oor homself. Eersgenoemde is informatief, laasgenoemde ‘n kuriositeit.

i-Tjieng, deur Koos Kombuis. Resensie: Pieter-Louis Myburgh. (Rapport Boeke)
Die lekkerte van deurmekaar raak met die I Ching is dat jy nie agterna opgeskeep is met gewetenswroeging of Belhar nie. Dít is wat Koos Kombuis skynbaar ook agtergekom het, en sy sardoniese humorsin laat hoogty vier het. Hierdie indruk word verder verstewig deur Pieter-Louis Myburgh, wat duidelik die heksagramme se rigtingwysers gevolg het oor die skryf van resensies, en die resensie afsluit met die Kombuisiaanse bons mots dat dié i-Tjieng goedkoper en heelwat snaakser is as ‘n besoek aan ‘n sielkundige.

Maar wie snoei rose in die nag? deur Abraham H. de Vries. Resensie: Betsie van der Westhuizen. (Rapport Boeke)
‘n Baie netjiese resensie. Dit voldoen na albei kante aan die eise wat koerantresensies stel: Dit eerbied die werk waaroor dit gaan, en dit gee kopstukke te lese aan mense wat op ‘n Sondagoggend iets wil lees wat hulle boei, en dalk in die week boekwinkels toe sal laat koers kry. Net een gebrek: Van der Westhuizen laat na om te sê by watter deel van De Vries se oeuvre hierdie bundel aansluit, sy sterk literêre kortverhale, of die op die kontrei afgestemde vertellings van ‘n Plaaswinkel naby Oral.

‘n Fontein voor ons deur, deur Marita van der Vyver. Resensie: Dineke Volschenk. (Boeke24)
Dit is interessant hoe goeie skryfwerk resensente daardie iets ekstra laat gee. Dineke Volschenk het haarself met hierdie resensie oortref – daar is baie resensente wat in ‘n hele loopbaan nooit ‘n inleidingsin soos “Marita van der Vyver is al dekades lank die stem van my geslag” geskryf kry nie. Haar volgende groot oomblik is in die tweede paragraaf, waar sy ‘n enorme hoeveelheid insig en kennis in een komplekse, dog maklik snapbare sin teleskopeer. Haar samevatting van Van der Vyver se skryfwerk as “bevestigend” is vir my gevoel een van die belangrikstes wat ‘n resensent nog van Van der Vyver se kuns gemaak het. Daarna gryp sy die kern van Van der Vyver se nie-fiksie binne twee paragrawe vas, en gee dan die resensie oor aan die inhoud, en maak die boek ten slotte van toepassing op die algemene leser – ‘n vitamien B-inspuiting vir “gewone “mense, sê Volschenk. Ek het ‘n Fontein voor ons deur nog nie gelees nie, en kan nie sê hoe belangrik dit is binne Van der Vyver se ouevre nie. Dineke Volschenk se aanprysing en aanbeveling daarvan kan ek wel takseer, en dit is een van die eenvoudigste dog knapste resensies wat ek nog oor ‘n publikasie van Marita van der Vyver gelees het.

Profile photo of crito

by crito

Regte keuse

Oktober 1, 2013 in Uncategorized

Klawerjas, deur Adam Small. Resensie: Hein Willemse. (Boeke24)
Hierdie bundel het sy digter die afgelope ruk ‘n paar onsmaaklike aanvalle in die pers besorg. Om dié rede was dit ‘n uitstekende keuse om Hein Willemse die bundel te laat resenseer. Willemse was voorheen aan UWK verbonde, en is deesdae hoogleraar in letterkunde aan Tuks. Sy resensie is ewewigtig en sy argumentering uitstekend uiteengesit. Willemse is dit in die verlede al verkwalik dat hy ‘n jargonsmous is; hierdie keer is die resensie vry daarvan, behalwe in gevalle waar dit funksioneel is. Hy benader die bundel met respek vir die inhoud en vind uiteindelik dat Adam Small met Klawerjas sy stem teruggekry het. Hy dui ‘n deurlopende gebrek in die bundel aan, en interessant genoeg maak hy kapsie teen een van Small se oudste hebbelikhede, pedantiese uitsprake. Maar as mens hierdie bevindinge in konteks plaas, is hierdie resensie een wat helder en duidelik sê dat Adam Small hiermee ‘n baie groot bydrae gemaak het tot die letterkunde in Afrikaans. Dit bring ook meteens ‘n nuwe perspektief op die aanvalle wat op Small gemaak is.

Klawerjas, deur Adam Small. Resensie: Clinton V. du Plessis (Boeke24)
Boeke24 se tweede mening oor Klawerjas is geskryf deur die digter Clinton V. du Plessis. Sy bespreking is baie minder krities ingestel as Hein Willemse s’n, en sluit af met “Staande ovasie aan ‘n uitstaande woordkunstenaar”. Ek kan nie daarmee fout vind nie, maar wanneer Boeke24 ‘n tweede mening aanvra, kan ‘n mens sekerlik verwag dat dit op dieselfde kritiese peil sal wees as die ander resensie.

Wenkbrou, deur Deborah Steinmair. (Boeke24)
Lekker. Steinmair is ‘n aangeleerde smaak, as ek dit só kan stel. Sodra mens onder haar betowering kom, sal enigiets wat sy skryf jou in vervoering hê. Erika de Beer gee met haar resensie van Wenkbrou blyke dat sy diep onder hierdie skrywer se betowering is, wat vir my, as iemand wat Steinmair se vorige werke geniet het, presies genoeg sê. Hopelik is De Beer se samevatting (“Dit lees so lekker dat dit met die eerste oogopslag by jou kan verbygaanhoe slim dit aanmekaargesit is”) genoeg om diegene wat nog buite die kraal staan, na binne te lok.