by

Wilma se week

September 3, 2013 in Uncategorized

Hierdie mens, deur Wilma Stockenström. Resensie: Marthinus Beukes. (Rapport Boeke)
Verlede week was beslis Wilma Stockenström se week. Twee besonder goeie resensies by Boeke24, en in Rapport ‘n ewe klinkende respons. Marthinus Beukes begin met ‘n aanhaling, en sodra mens dié gelees het, is die res eintlik maar formaliteit. Jy’s oortuig. Beukes se analises en omskrywings is net genoeg om mens diep onder die indruk van die bundel en digter te bring. En jy weet: Jy sal die lees van die resensie in die winkel opvolg. Dit voel eintlik banaal om oor die handelsaspek van ‘n digbundel te praat nadat jy gelees het hoe Beukes die bundel se tematiek uitbring in ‘n pragtige afsluiting. Maar digbundels is trae verkopers, en resensies is koerante se kopersbegeleiding aan lesers.

‘n 101 bakgat maniere om te lewe en te sterwe, deur RR Ryger. Resensie: Steyn du Toit. (Rapport Boeke)
Steyn du Toit verklap die inhoud van die twee verhale waaruit hierdie bundel bestaan, maar probeer nie om te verduidelik hoe hulle verbind is aan die gesamentlike titel nie. Of hoe hulle aansluit by Ryger se vorige publikasies nie. Nie goed genoeg nie – Ryger is ernstiger analise werd.

Valsrivier, deur Dominique Botha. Resensie: Johan Smith. (Rapport Boeke)
Smith begin met ‘n skadeloosstelling. Hy skryf moeilik oor Valsrivier omdat dit soveel emosie by hom uitgelok het. Daarna kan hy as resensent eintlik enigiets doen, want die leser weet reeds dat Valsrivier inhoudelik van só ‘n aard is dat jy nie jou hart kan verhard nie – en dat die resensent weet hy dink nie meer reguit daaroor nie. Uiteindelik is die resensie heeltemal stylvol en met smaak deurgevoer. En daardie gedig …

Monument, deur Maretha Maartens. Resensie: Ilza Roggeband. (Boeke24)
Nie alle resensente het genoeg moed om Maretha Maartens die stryd aan te sê nie. Mens kry die indruk dat llza Roggeband dit wou doen, maar nie kon nie. Ek het een opmerking opgespoor wat lof toeswaai (vir die navorsing wat vir dié roman gedoen is), en uiteindelik ‘n skoorvoetende toegewing dat Monument dalk tóg ‘n monument is vir die vele vroue, wit en swart, wat help bou het aan Suid-Afrika. Die res is in gedempte toon, neutraal verwoord, en die slotsin sê die roman het knoetse. En aan die negatiewe kant? Die geheel is nie goed genoeg nie – dit kon ‘n groter roman gewees het. Vermoedelik in omvang en strekking. Die vraag is nou net of die resensent dinge nie meer verstaanbaar sou gemak het nie as sy haar resensie minder subtiel aangepak het.

1 antwoord op Wilma se week

  1. I like how this material reads. Your points are thought-provoking. This is tangible information I can wrap my brain around and appreciate. You have proven nothing is black and white.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.