Jy blaai in die argief vir 2013 September.

Profile photo of crito

by crito

Plesier en min plesier

September 17, 2013 in Uncategorized

Plesierengel, deur Leon van Nierop. Resensie: Johan van Zyl (Boeke24)
Baie plesier gehad aan hierdie resensie. Met hersiene uitgawes is dit altyd verkieslik dat die resensent albei weergawes gelees het, soos die geval is met hierdie nuwe weergawe van ‘n 16-jaar oue roman. Van Zyl haal met groot genot sommige van die skrywer se vindingrykhede aan, maar uiteindelik laat skemer hy ook genoeg agterdog oor die sensasie deur, en uiteindelik is ‘n mens onder geen illusie nie: Die herskrywing van Plesierengel is steeds verstrooiingslektuur.

Gekoopte leuens, deur Lien Roux-de Jager. Resensie: Riaan Grobler (Boeke24)
Positiewe resensie, maar geen geesdrif by die resensent te bespeur nie nie.

Maar wie snoei die rose in die nag? deur Abraham H. de Vries. Resensie: Cilliers van den Berg (Boeke24)
Ek het gedink Cilliers van den Berg kan nie ‘n voet verkeerd sit nie, maar hier het hy. Hy takseer De Vries se  werk in hierdie bundel korrek as meer toeganklik (omdat hulle aanvanklik vir ‘n massamedium, ‘n koerant se Saterdag-bylaag geskryf is), maar hy bring dit nie in verband met die ander soortgelyke bundels van De Vries wat buite die bestek van sy “ernstige” publikasies val nie. Die res van die resensie getuig, soos mens kan verwag, van Van den Berg se kundigheid – dis net dat hy kundiger kon gewees het. Sy verwysing na “Die ander lig” en die karakter Stanley laat my byvoorbeeld wonder of Van den Berg bewus is van die verband tussen De Vries en David Kramer, of dat De Vries vantevore oor Stanley geskryf het.

Profile photo of crito

by crito

Wilma se week

September 3, 2013 in Uncategorized

Hierdie mens, deur Wilma Stockenström. Resensie: Marthinus Beukes. (Rapport Boeke)
Verlede week was beslis Wilma Stockenström se week. Twee besonder goeie resensies by Boeke24, en in Rapport ‘n ewe klinkende respons. Marthinus Beukes begin met ‘n aanhaling, en sodra mens dié gelees het, is die res eintlik maar formaliteit. Jy’s oortuig. Beukes se analises en omskrywings is net genoeg om mens diep onder die indruk van die bundel en digter te bring. En jy weet: Jy sal die lees van die resensie in die winkel opvolg. Dit voel eintlik banaal om oor die handelsaspek van ‘n digbundel te praat nadat jy gelees het hoe Beukes die bundel se tematiek uitbring in ‘n pragtige afsluiting. Maar digbundels is trae verkopers, en resensies is koerante se kopersbegeleiding aan lesers.

‘n 101 bakgat maniere om te lewe en te sterwe, deur RR Ryger. Resensie: Steyn du Toit. (Rapport Boeke)
Steyn du Toit verklap die inhoud van die twee verhale waaruit hierdie bundel bestaan, maar probeer nie om te verduidelik hoe hulle verbind is aan die gesamentlike titel nie. Of hoe hulle aansluit by Ryger se vorige publikasies nie. Nie goed genoeg nie – Ryger is ernstiger analise werd.

Valsrivier, deur Dominique Botha. Resensie: Johan Smith. (Rapport Boeke)
Smith begin met ‘n skadeloosstelling. Hy skryf moeilik oor Valsrivier omdat dit soveel emosie by hom uitgelok het. Daarna kan hy as resensent eintlik enigiets doen, want die leser weet reeds dat Valsrivier inhoudelik van só ‘n aard is dat jy nie jou hart kan verhard nie – en dat die resensent weet hy dink nie meer reguit daaroor nie. Uiteindelik is die resensie heeltemal stylvol en met smaak deurgevoer. En daardie gedig …

Monument, deur Maretha Maartens. Resensie: Ilza Roggeband. (Boeke24)
Nie alle resensente het genoeg moed om Maretha Maartens die stryd aan te sê nie. Mens kry die indruk dat llza Roggeband dit wou doen, maar nie kon nie. Ek het een opmerking opgespoor wat lof toeswaai (vir die navorsing wat vir dié roman gedoen is), en uiteindelik ‘n skoorvoetende toegewing dat Monument dalk tóg ‘n monument is vir die vele vroue, wit en swart, wat help bou het aan Suid-Afrika. Die res is in gedempte toon, neutraal verwoord, en die slotsin sê die roman het knoetse. En aan die negatiewe kant? Die geheel is nie goed genoeg nie – dit kon ‘n groter roman gewees het. Vermoedelik in omvang en strekking. Die vraag is nou net of die resensent dinge nie meer verstaanbaar sou gemak het nie as sy haar resensie minder subtiel aangepak het.