by

Kos en evolusie

Augustus 13, 2013 in Uncategorized

Kosblik, saamgestel deur Nicole Jaeckel Strauss. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Die lekkerte van ‘n Herman Lategan-resensie is dat hy so polemies en uitdagend skryf. Jy wil reageer, op baie dinge. Self wil ek hom koggel oor sy ophef oor ‘n cliché in die openingsin, terwyl hy self lekker wei onder die goed. Harde hou in die kosmandjie, nè. Sodra ek Kosblik self gelees het, sal ek waarskynlik luidkeels met hom saamstem oor die bydraes wat hy loof, maar nóú wil ek voorlopig roerend met hom saamvra hoekom iemand soos Peter Veldsman nie in hierdie boek is nie. Sy opmerking oor die afwesigheid van “bruin en swart” Afrikaanse stemme is waarskynlik die een wat die meeste reaksie sal uitlok. Dit is ‘n vraag wat net deur die samesteller van die bundel beantwoord kan word, op dieselfde manier as wat net Rapport se Boekeredakteur sal kan verduidelik hoekom sy ‘n wit resensent gekry het om hierdie boek te resenseer. Dit sal interessant wees om albei antwoorde te hoor! Natuurlik steek daar ‘n dik stuk moedswilligheid in Lategan se vraag – sy lys van moontlike swart en bruin bydraers bevat verskeie name van skrywers wat nog nooit met die maak van kos geassosieer is nie, en ook nog nooit daaroor geskryf het nie. Hy is net besig met duimsuig. Maar dit bevat ook name van mense wat wel al oor dié onderwerp geskryf het, wat die geldigheid van sy vraag onderstreep. In sy geheel dus eersteklas Lategan, om n nuwe cliché te poneer.

Evolusie, wetenskap en geloof, deur Jaap Durand. Resensie: André Bartlett (Boeke24)
Dis regtig gaaf dat Boeke24 nie vir George Claassen gekry het om hierdie boek te resenseer nie. André Bartlett bespreek Jaap Durand se analise van die lewensverhaal van Teilhard Chardin met ‘n kalm gemoed en hoop uiteindelik die boek gee ‘n “nuwe stuwing aan die gesprek oor geloof en wetenskap”. O ja? Is daar ‘n kat se kans (jammer, mnr. Lategan) dat die “sekere ateïstiese wetenskaplikes” na wie Bartlett in paragraaf twee van die resensie verwys, sal rustig kloek oor hierdie boek en verder gaan skrop in hul studeerkamers?

Aantrekkingskrag, deur Deon Opperman. Resensie: Danie Botha. (Boeke24)
‘n Besielde besluit om my ou ADK-mater Danie Botha te vra om hierdie dramateks te resenseer. Hy ken die verhoog, en hy is oud-uitgewer. Hy besef hy bespreek die essensie van die toneelstuk – die teks sonder interpretasies deur regisseur en spelers, sonder die die omstandigheid waarin die gehoor hulle bevind en wat hul interpretasie kan verwring of verskerp. Die resultaat is ‘n bespreking wat vir koerantleser sowel as dramaturg van groot nut is.

Hartepad, deur Gerrit Rautenbach. Resensie: Theo Kemp (Boeke24)
Theo Kemp is in die eerste plek ‘n skrywer, en hy kyk met ‘n skrywer se bedeesde oë na Gerrit Rautenbach se reisverhale. Die kritiek wat hy lewer, sal sekerlik ‘n neerslag vind in Rautenbach se aanpak van sy volgende publikasie. Goed en wel, maar ek sou meer oor die grein van die bundel wou weet – meer oor die hongersnood en die wilde natuur waarna hy in die verbygaan verwys. Of is dit juis Kemp se strategie om ons nuuskierig te maak?

3 antwoorde op Kos en evolusie

  1. jy is so reg ~ oor Jaap Durand se boek : daar is ongelukkig baie min ateistiese wetenskaplikes wat berusting daarin sal kan vind.

  2. Liewe Crito
    Ek reageer nie graag op kritiek op resensies nie, maar jy raak iets kwyt wat ek nie kan laat verbygaan nie. Jy skryf: “… Sy lys van moontlike swart en bruin bydraers bevat verskeie name van skrywers wat nog nooit met die maak van kos geassosieer is nie, en ook nog nooit daaroor geskryf het nie. Hy is net besig met duimsuig.”
    Duimsuig? A nee a. Baie van die wit skrywers in die boek word ook glad nie met kos geassosieer nie. Wil jy vir my vertel dat mense wat skryf verbind moet word met kos voordat hulle oor kos kan skryf?
    Dis mos gek. Eet die mense dan nie? Word kos dan nie van kleintyd af al deel van ons herinneringe nie? Dit is tog iets universeel, soos seks, die liefde, die dood en al daai dinge.
    Ek ken die skryfwerk van elke bruin en swart skrywer wat ek daar genoem het (en ek het nog name jong), ek kan jou waarborg (ek weet jy vind dit moeilik om te glo), dat hulle wél oor kos kan skryf (oogwink).
    Verder, Anastasia de Vries het my gevra om die boek te resenseer sonder dat sy geweet het watter koers ek daarmee sou inslaan. Om te vra waarom sy dit nie aan ʼn bruin resensent gegee het nie is moedswillig.
    You’re clutching at straws. Is daar ʼn bietjie cognitive dissonance te bespeur hier? Dis mos ʼn feit soos ʼn koei (cliché, ja toemaar), dat bruin en swart Afrikaanse skrywers meestal met sulke tipe bloemlesings geïgnoreer word, al sê jy wat.
    Groete van kombuis tot kombuis
    Herman Lategan
    Seepunt

  3. crito het gesê op Augustus 20, 2013

    Ek glo jou graag, Herman, maar ook net ten dele. Mathews Phosa ‘n goeie kok? Ivor Price? Vincent Oliphant? Nee. Julian de Wette, ja, het al by hom geëet.
    Natuurlik was dit moedswillig om te vra hoekom Me. De Vries nie die boek aan ‘n bruin resensent gegee het nie. Net so moedswillig soos jou vraag. Daar is geen manier waarop ek kon weet of sy nie eers iemand anders gevra het om die boek te bespreek nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.