by

Toegeeflikheid

Augustus 6, 2013 in Uncategorized

Skottel en spens, deur Peet du Toit. Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Boeke)
Juig-resensies laat gewoonlik die gevaarligte vir my flits. Onbeteuelde geesdrif kan ‘n masker wees vir blindelingse goedpratery, waardeur die resensent se kritiese oordeel vergete raak. In hierdie eienaardige resensie werk dit andersom. Kerneels Breytenbach wys nie alleen al die boek se foute uit nie – hy doen dit op ‘n manier wat Peet du Toit sekerlik twee keer sal laat dink voordat hy ooit weer ‘n publikasie soos hierdie aanpak. Ek wonder nogal of die professionele uitgewer nie meer toegeeflik moet wees teenoor iemand wat ‘n boek uit liefde vir sy onderwerp maak nie. Nietemin, ná sy kritiek loop Breytenbach oor met geesdrif vir die inhoud op twee van die drie fronte wat hy uitwys, en is dit uiteindelik ‘n baie positiewe resensie.

Elke dogter het ‘n ma, deur Madeleine Volschenk. Resensie: Madri Victor. (Rapport Boeke)
‘n Vrek interessante resensie wat ook daarin slaag om die boek aantreklik genoeg vir die leser te maak. Victor, wat ‘n “manuskripontwikkelaar” is, sluit haar bespreking af met die soort opmerking wat ‘n manuskripontwikkelaar sou gee aan ‘n skrywer wat nog een laaste korreksie moet maak voordat die manuskrip gereed is vir publikasie.

Oorlopers, deur Ian Raper. Resensie: Nini Bennett (Rapport Boeke)
‘n Baie ongelukkige resensie. Twee sleutelparagrawe begin met dié woord, en daarna lees ‘n mens die resensie met ys in jou oë. Uiteindelik het Bennett dit oor “leesversperrings” wat die digter kwansuis sou geskep het. Die vraag wat hier opgewerp word, is of ‘n resensent se negatiewe oordeel aanvaarbaar is as die resensent die gedigte nie verstaan het nie. Is die gebrekkige verwysingsveld van die leser van die gedig genoeg rede om die gedig af te skiet? Ek weet dit is ‘n ou vraag, en in hierdie geval kon Bennett haar resensie gered het deur een of twee voorbeelde van sulke “leesversperrings” aan te haal en te wys hoekom sy dit as sodanig beskou.

Bleek planeet, deur Dolf van Niekerk. Resensie: Amanda Lourens (Rapport Boeke)
Dit is lekker om te sien hoe ‘n resensent werklik slaags raak met ‘n digbundel. Dit maak nie altyd vir onderhoudende leesstof so op die milde Sondagoggend nie, maar dit lewer tog ook iets op wat later gebruik kan word om die bundel self van ‘n kant af te lees en te begryp. Wat Lourens wel regkry, tesame met haar positiewe reaksie, is om te laat deurskemer dat ‘n mens hier met een van ‘n ouer geslag digters te make het.

Die bleek man op my hakke, deur Harriet Christou. Resensie: Jeanne Els (Rapport Boeke)
Hoe moedig ‘n resensent sy of haar lesers aan om ‘n boek oor skisofrenie te lees? Dis ‘n taai opdrag, want meeste lesers skram weg van geestesongesteldheid, en nog des te meer wanneer dit handel oor iemand wat lank haar simptome verswyg het en tussen “normale” mense rondbeweeg het. Jeanne Els het haar taak met begrip en ‘n sagte hand benader, en kry dit dan ook reg om mens nuuskierig te maak. In die proses besweer sy ‘n mens se natuurlike vooroordeel. Net een punt van kritiek. Die intreesin van die boek word aangehaal ten die einde van die resensie. Daardie sin is van só ‘n aard dat Els die resensie ook daarmee kon begin het: “Wanneer bloed by badkrane uitkom, weet ek dis sulke tyd.”

Swart op wit, deur Annelie Botes. Resensie: Gisela Ullyatt. (Boeke24)
Annelie Botes se rehabilitasie en boetedoening is groot nuus. Dit is selde dat ‘n persoon met so ‘n prominente openbare profiel die kans kry om die etikette wat om haar nek gehang is deur ander, met een slag te probeer afruk. Gisela Ullyatt se resensie lees baie lekker, en wat ek daarvan waardeer, is dat sy uiteindelik sterk klem laat val dat Botes se uitsprake gewoon persoonlike menings is, en nie noodwendig feite nie. Die idee wat by mens posvat terwyl jy die resensie lees, is dat Ullyatt die worsteling by Botes raakgesien het, die poging om aan die keurslyf te ontsnap, en dat die Afrikaanse leserspubliek hierna kan hoop op nuwe fiksie uit haar bevryde pen.

Elke dogter het ‘n ma, deur Madeleine Volschenk. Resensie: J.B. Roux (Boeke24)
Ek het hierdie resensie ‘n paar keer moes deurlees om helderheid te kry oor ‘n knaende gevoel dat die resensent nie geweldig opgepluk is met die boek nie, maar omdat sy ‘n debuutskrywer is, wil hy nie té krities wees nie. En toe besef dat hy ‘n baie goeie sleutel vir die onderskeidende leser gelaat het in sy openingswoorde: “veerligte”. Slim gedoen.

Skrapnel, deur Irma Venter. Resensie: Cilliers van den Berg (Boeke24)
Die feit dat Ciliers van den Berg gevra is om hierdie boek te resenseer, sê vir my dat die roman as substansieel geag word. Die resensie wat hy daarvan lewer, is lank en deeglik beredeneer, en bevestig die aanname oor substansie. Sy vernaamste punt van kritiek is dat die verweefdheid van misdaadroman, avontuurroman en liefdesverhaal nie soomloos is nie. Dit is wesentlike kritiek, maar hoe meer Van den Berg oor die roman sê en mankemente openbaar, hoe meer wonder ‘n mens uiteindelik of daar nie hier met ‘n kanon na ‘n mossie aangelê is nie.

Siende blind, deur Chanette Paul. Resensie: Erika de Beer (Boeke24)
Sien Cilliers van den Berg se resensie oor Skrapnel, en lees dan hierdie een. De Beer se kritiese ingesteldheid is duidelik minder akuut as Van den Berg s’n. Vir haar is dit ‘n pluspunt dat hierdie roman deels familiedrama, deels romanse en deels riller is. Oor die integrasie daarvan laat sy haarself nie uit nie. Haar kritiek teen die roman handel oor Paul se gebruik van retoriese middels, wat nou nie juis die soort ding is wat die roman kan sink nie. Wat my wel intrigeer, is dat De Beer afsluit met die opmerking dat die lees van die roman vir haar ‘n groot plesier was (“‘n Mens is eintlik half ontredderd as jy eindelik van die mallemeule moet afklim”), wat suggereer dat die kritiek teen die retoriese middels nie werklik van kardinale belang was nie.

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.