Jy blaai in die argief vir 2013 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Welkom terug

Augustus 27, 2013 in Uncategorized

Hierdie mens, deur Wilma Stockenström. Resensies: Louise Viljoen en Joan Hambidge. (Boeke24)
As my geheue my nie in die steek laat nie, is hierdie die eerste dubbeldoor-resensies van ‘n boek sedert Elmari Rautenbach se termyn by Boeke24. Dis gepas. Die twee resensente kan nie meer uiteenlopend wees nie; boonop resenseer Louise Viljoen nie meer so gereeld nie. By Joan Hambidge bespeur ek ook ‘n ratversnelling. Iemand met ‘n belangstelling in die Afrikaanse poësie sal dus onmiddelik weet hier is iets spesiaals te lese. Albei resensente reageer uiters positief, maar dit is die moeite werd om die resensies met mekaar te vergelyk en te sien dat elk se aaknopingspunt en argumentasie ewe geldig en sterk is. Ek hoop Boeke24 doen dit gou weer – sulke dubbeldore gee die blad groter intellektuele integriteit.

Deelstad, deur Karel Schoeman. Resensie: Jan-Jan Joubert. (Boeke24)
Jan-Jan Joubert maak ‘n logiese sprong heel in die begin wat mens verwar. Hoekom sou ‘n boek oor sy gunsteling-stad deur sy gunsteling-skrywer moontlik ‘n baie groot teleurstelling wees? Gelukkig is die ander uitkoms wat hy voorsien wel waar: Deelstad is volgens hom weer Schoeman op sy heel beste. In sy geheel beskou is dit nie die soort resensie waarin ‘n mens ‘n baie kritiese benadering van die resensent verwag nie. Joubert wys daarom ook nie op die taalfout in een van die aanhalings uit die boek wat hy plaas nie. Dit gaan eerder oor ‘n samekoms van smaak en voorkeure, en lei die leser na die boek of weg daarvan. Ek kan my voorstel dat iemand wat meer van New York hou, of entoesias is vir Amsterdam, nie noodwendig Jan-Jan Joubert se geesdrif sal deel nie. Daarom is dit gelukkig dat hy soveel klem plaas op Schoeman en sy manifestasies in hierdie boek. Dit gee Berlyn-haters rede om die koop ernstig te oorweeg.

Noot vir dood, deur Ilza Roggeband. Resensie: Annemarie van der Walt. (Boeke24)
Die resensent praat op ‘n plek van die “gawe giggel van herkenning”. Nadat ek hierdie resensie gelees het, het ek begin wonder. Wie herken sy … Kurt D, of dalk daai ou met die onderbaadjies op Noot vir Noot? Nou nie geggigel nie, maar sodra ek dit lees, sal ek seker. Die resensie is effe vol formulerings wat mens al voorheen gehoor het, tog laat die onderwerp mens se gedagtes op hol gaan. Ilza Roggeband het haar vingers op ‘n pols geplaas en Van der Walt laat weet mens kan dit voel klop.

Profile photo of crito

by crito

Skerp slot

Augustus 20, 2013 in Uncategorized

Kennis is mag, deur Malene Breytenbach. Resensie: Christell Stander. (Rapport Boeke)
Ek voel jammer vir Malene Breytenbach. Mens sou Christell Stander se bespreking van Kennis is mag kon tipeer as ‘n oor-ernstige analise van ‘n roman wat nie ernstig gelees wil wees nie, maar ek is bevrees só ‘n siening is nie heeltemal geldig nie. Mens sou kon sê Stander, ‘n navorsingsgenoot van die Universitet van Stellenbosch, is hiper-gevoelig vir die raakpunte wat Breytenbach se denkbeeldige universiteit Utopia met teenswoordige Stellenbosch het – maar dit is nie geldige teenkritiek nie. Feit is, Stander se resensie is een waarin sy haar argument sterk uiteensit, en met ‘n gevolgtrekking waaraan mens nie maklik kan torring nie. Waar ek die meegevoel ontwikkel, is by die slotsin. Baie resensente wens hulle kan ‘n goeie “put-down” skryf. Stander het.

Kosblik, saamgestel deur Nicole Jaeckel Strauss. Resensie: Johan van Zyl. (Boeke24)
Op die hakke van Herman Lategan se resensie oor Kosblik lewer Johan van Zyl ‘n uitmuntende resensie oor dieselfde boek. Die boek lok sterk reaksies uit, wat miskien ‘n pluspunt is. Maar mens moet Van Zyl se resensie lees om ‘n behoorlike idee te kry van die groot plusse en die groot minusse van hierdie versameling. Ek kan nie met hom saamstem dat ‘n versameling kos-kunstighede ‘n geslags- of ouderdomsriglyn ook moet volg nie, maar wat die res betref, is dit ‘n besonder uitlokkende, goed geargumenteerde betoog. Van Zyl vind sekere leemtes (luck of the draw, sou samesteller Strauss seker kan teenpraat), maar in sy geheel is hierdie die soort resensie waarna die redakteurs van boekeblaaie hunker. Van Zyl reageer op die inhoud, hy analiseer die leemtes, hy het ‘n eie siening en smaak, hy prys die goeie hoedanighede. Hy sou net op een punt nog opmerkings kon bygevoeg het, naamlik oor die literêre vlak wat gehandhaaf word, of nie gehandhaaf word nie. Maar in sy geheel is dit ‘n bespreking wat koerantlesers sal laat regopsit, en dadelik op Twitter uitblaker dat hulle nou ‘n uitstekende resensie deur Johan van Zyl in die oggendkoerant gelees het. En vanaand, oor ‘n bier of glasie wyn sê “Hel, het jy gelees wat Johan van Zyl vandag in die koerant geskryf het ….” Puik joernalistiek.

Valsrivier, deur Dominique Botha. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
Joan Hambidge peul uit haar gebruiklike gefragmenteerde resensiestyl, en skryf ‘n resensie wat al die nodige dinge doen. Sy is loftuitend, maar nie steurend só nie; as mens mooi nagaan, is sy eintlik konserwatief in haar skryfstyl, maar die regte woorde op die regte plekke, en sy slaag in haar doel. En die gedig wat sy uiteindelik aanhaal, is beeldskoon, soos sy sê.

‘n 101 Bakgat om te lewe en sterwe, deur RR Ryger. Resensie: Willem Kempen. (Boeke24)
‘n Resensie kan in baie rigtings beweeg, soos Willem Kempen s’n hier doen. Mens kan soek vir die soort inligting wat gewoonlik vir jou die snellers is vir die aankoop of nie van ‘n boek. Vir my het die groen liggie begin gloei toe hy Ryger se werk probeer tipeer: “Die resultaat is iewers tussen Triomf en American Psycho, met ’n bietjie Mickey Spillane vir die humor.” Vir ander lesers mag dít weer die teken wees om die boek te vermy, maar dit werk vir my.

Profile photo of crito

by crito

Kos en evolusie

Augustus 13, 2013 in Uncategorized

Kosblik, saamgestel deur Nicole Jaeckel Strauss. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Die lekkerte van ‘n Herman Lategan-resensie is dat hy so polemies en uitdagend skryf. Jy wil reageer, op baie dinge. Self wil ek hom koggel oor sy ophef oor ‘n cliché in die openingsin, terwyl hy self lekker wei onder die goed. Harde hou in die kosmandjie, nè. Sodra ek Kosblik self gelees het, sal ek waarskynlik luidkeels met hom saamstem oor die bydraes wat hy loof, maar nóú wil ek voorlopig roerend met hom saamvra hoekom iemand soos Peter Veldsman nie in hierdie boek is nie. Sy opmerking oor die afwesigheid van “bruin en swart” Afrikaanse stemme is waarskynlik die een wat die meeste reaksie sal uitlok. Dit is ‘n vraag wat net deur die samesteller van die bundel beantwoord kan word, op dieselfde manier as wat net Rapport se Boekeredakteur sal kan verduidelik hoekom sy ‘n wit resensent gekry het om hierdie boek te resenseer. Dit sal interessant wees om albei antwoorde te hoor! Natuurlik steek daar ‘n dik stuk moedswilligheid in Lategan se vraag – sy lys van moontlike swart en bruin bydraers bevat verskeie name van skrywers wat nog nooit met die maak van kos geassosieer is nie, en ook nog nooit daaroor geskryf het nie. Hy is net besig met duimsuig. Maar dit bevat ook name van mense wat wel al oor dié onderwerp geskryf het, wat die geldigheid van sy vraag onderstreep. In sy geheel dus eersteklas Lategan, om n nuwe cliché te poneer.

Evolusie, wetenskap en geloof, deur Jaap Durand. Resensie: André Bartlett (Boeke24)
Dis regtig gaaf dat Boeke24 nie vir George Claassen gekry het om hierdie boek te resenseer nie. André Bartlett bespreek Jaap Durand se analise van die lewensverhaal van Teilhard Chardin met ‘n kalm gemoed en hoop uiteindelik die boek gee ‘n “nuwe stuwing aan die gesprek oor geloof en wetenskap”. O ja? Is daar ‘n kat se kans (jammer, mnr. Lategan) dat die “sekere ateïstiese wetenskaplikes” na wie Bartlett in paragraaf twee van die resensie verwys, sal rustig kloek oor hierdie boek en verder gaan skrop in hul studeerkamers?

Aantrekkingskrag, deur Deon Opperman. Resensie: Danie Botha. (Boeke24)
‘n Besielde besluit om my ou ADK-mater Danie Botha te vra om hierdie dramateks te resenseer. Hy ken die verhoog, en hy is oud-uitgewer. Hy besef hy bespreek die essensie van die toneelstuk – die teks sonder interpretasies deur regisseur en spelers, sonder die die omstandigheid waarin die gehoor hulle bevind en wat hul interpretasie kan verwring of verskerp. Die resultaat is ‘n bespreking wat vir koerantleser sowel as dramaturg van groot nut is.

Hartepad, deur Gerrit Rautenbach. Resensie: Theo Kemp (Boeke24)
Theo Kemp is in die eerste plek ‘n skrywer, en hy kyk met ‘n skrywer se bedeesde oë na Gerrit Rautenbach se reisverhale. Die kritiek wat hy lewer, sal sekerlik ‘n neerslag vind in Rautenbach se aanpak van sy volgende publikasie. Goed en wel, maar ek sou meer oor die grein van die bundel wou weet – meer oor die hongersnood en die wilde natuur waarna hy in die verbygaan verwys. Of is dit juis Kemp se strategie om ons nuuskierig te maak?

Profile photo of crito

by crito

Toegeeflikheid

Augustus 6, 2013 in Uncategorized

Skottel en spens, deur Peet du Toit. Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Boeke)
Juig-resensies laat gewoonlik die gevaarligte vir my flits. Onbeteuelde geesdrif kan ‘n masker wees vir blindelingse goedpratery, waardeur die resensent se kritiese oordeel vergete raak. In hierdie eienaardige resensie werk dit andersom. Kerneels Breytenbach wys nie alleen al die boek se foute uit nie – hy doen dit op ‘n manier wat Peet du Toit sekerlik twee keer sal laat dink voordat hy ooit weer ‘n publikasie soos hierdie aanpak. Ek wonder nogal of die professionele uitgewer nie meer toegeeflik moet wees teenoor iemand wat ‘n boek uit liefde vir sy onderwerp maak nie. Nietemin, ná sy kritiek loop Breytenbach oor met geesdrif vir die inhoud op twee van die drie fronte wat hy uitwys, en is dit uiteindelik ‘n baie positiewe resensie.

Elke dogter het ‘n ma, deur Madeleine Volschenk. Resensie: Madri Victor. (Rapport Boeke)
‘n Vrek interessante resensie wat ook daarin slaag om die boek aantreklik genoeg vir die leser te maak. Victor, wat ‘n “manuskripontwikkelaar” is, sluit haar bespreking af met die soort opmerking wat ‘n manuskripontwikkelaar sou gee aan ‘n skrywer wat nog een laaste korreksie moet maak voordat die manuskrip gereed is vir publikasie.

Oorlopers, deur Ian Raper. Resensie: Nini Bennett (Rapport Boeke)
‘n Baie ongelukkige resensie. Twee sleutelparagrawe begin met dié woord, en daarna lees ‘n mens die resensie met ys in jou oë. Uiteindelik het Bennett dit oor “leesversperrings” wat die digter kwansuis sou geskep het. Die vraag wat hier opgewerp word, is of ‘n resensent se negatiewe oordeel aanvaarbaar is as die resensent die gedigte nie verstaan het nie. Is die gebrekkige verwysingsveld van die leser van die gedig genoeg rede om die gedig af te skiet? Ek weet dit is ‘n ou vraag, en in hierdie geval kon Bennett haar resensie gered het deur een of twee voorbeelde van sulke “leesversperrings” aan te haal en te wys hoekom sy dit as sodanig beskou.

Bleek planeet, deur Dolf van Niekerk. Resensie: Amanda Lourens (Rapport Boeke)
Dit is lekker om te sien hoe ‘n resensent werklik slaags raak met ‘n digbundel. Dit maak nie altyd vir onderhoudende leesstof so op die milde Sondagoggend nie, maar dit lewer tog ook iets op wat later gebruik kan word om die bundel self van ‘n kant af te lees en te begryp. Wat Lourens wel regkry, tesame met haar positiewe reaksie, is om te laat deurskemer dat ‘n mens hier met een van ‘n ouer geslag digters te make het.

Die bleek man op my hakke, deur Harriet Christou. Resensie: Jeanne Els (Rapport Boeke)
Hoe moedig ‘n resensent sy of haar lesers aan om ‘n boek oor skisofrenie te lees? Dis ‘n taai opdrag, want meeste lesers skram weg van geestesongesteldheid, en nog des te meer wanneer dit handel oor iemand wat lank haar simptome verswyg het en tussen “normale” mense rondbeweeg het. Jeanne Els het haar taak met begrip en ‘n sagte hand benader, en kry dit dan ook reg om mens nuuskierig te maak. In die proses besweer sy ‘n mens se natuurlike vooroordeel. Net een punt van kritiek. Die intreesin van die boek word aangehaal ten die einde van die resensie. Daardie sin is van só ‘n aard dat Els die resensie ook daarmee kon begin het: “Wanneer bloed by badkrane uitkom, weet ek dis sulke tyd.”

Swart op wit, deur Annelie Botes. Resensie: Gisela Ullyatt. (Boeke24)
Annelie Botes se rehabilitasie en boetedoening is groot nuus. Dit is selde dat ‘n persoon met so ‘n prominente openbare profiel die kans kry om die etikette wat om haar nek gehang is deur ander, met een slag te probeer afruk. Gisela Ullyatt se resensie lees baie lekker, en wat ek daarvan waardeer, is dat sy uiteindelik sterk klem laat val dat Botes se uitsprake gewoon persoonlike menings is, en nie noodwendig feite nie. Die idee wat by mens posvat terwyl jy die resensie lees, is dat Ullyatt die worsteling by Botes raakgesien het, die poging om aan die keurslyf te ontsnap, en dat die Afrikaanse leserspubliek hierna kan hoop op nuwe fiksie uit haar bevryde pen.

Elke dogter het ‘n ma, deur Madeleine Volschenk. Resensie: J.B. Roux (Boeke24)
Ek het hierdie resensie ‘n paar keer moes deurlees om helderheid te kry oor ‘n knaende gevoel dat die resensent nie geweldig opgepluk is met die boek nie, maar omdat sy ‘n debuutskrywer is, wil hy nie té krities wees nie. En toe besef dat hy ‘n baie goeie sleutel vir die onderskeidende leser gelaat het in sy openingswoorde: “veerligte”. Slim gedoen.

Skrapnel, deur Irma Venter. Resensie: Cilliers van den Berg (Boeke24)
Die feit dat Ciliers van den Berg gevra is om hierdie boek te resenseer, sê vir my dat die roman as substansieel geag word. Die resensie wat hy daarvan lewer, is lank en deeglik beredeneer, en bevestig die aanname oor substansie. Sy vernaamste punt van kritiek is dat die verweefdheid van misdaadroman, avontuurroman en liefdesverhaal nie soomloos is nie. Dit is wesentlike kritiek, maar hoe meer Van den Berg oor die roman sê en mankemente openbaar, hoe meer wonder ‘n mens uiteindelik of daar nie hier met ‘n kanon na ‘n mossie aangelê is nie.

Siende blind, deur Chanette Paul. Resensie: Erika de Beer (Boeke24)
Sien Cilliers van den Berg se resensie oor Skrapnel, en lees dan hierdie een. De Beer se kritiese ingesteldheid is duidelik minder akuut as Van den Berg s’n. Vir haar is dit ‘n pluspunt dat hierdie roman deels familiedrama, deels romanse en deels riller is. Oor die integrasie daarvan laat sy haarself nie uit nie. Haar kritiek teen die roman handel oor Paul se gebruik van retoriese middels, wat nou nie juis die soort ding is wat die roman kan sink nie. Wat my wel intrigeer, is dat De Beer afsluit met die opmerking dat die lees van die roman vir haar ‘n groot plesier was (“‘n Mens is eintlik half ontredderd as jy eindelik van die mallemeule moet afklim”), wat suggereer dat die kritiek teen die retoriese middels nie werklik van kardinale belang was nie.