Profile photo of crito

by

Dis net die begin

Julie 23, 2013 in Uncategorized

Die SAW in die Grensoorlog 1966-1989, deur Leopold Scholtz. Resensie: Louis Bothma. (Boeke24)
Hierdie is een van die belangrikste resensies wat ek nog op die skraler geworde Boeke24 se ruimte gelees het. Nie oor die onderwerp nie, maar oor hoe dit geskryf is. Bothma behandel Leopold Scholtz se boek en die redes hoekom dit as ‘n voorlopige taksering beskou moet word. Hy vergelyk dit met soortgelyke publikasies uit dieselfde kulturele sfeer, en sê wat prysenswaardig is van Scholtz se werk, veral in die mate waarop dit ‘n eie standpunt weg van dié van generaal Jannie Geldenhuys s’n inneem. En dan gee hy sy eie credo, wat neem ek aan die rigsnoer vir sy resensie is: “‘n historikus moet ‘n gewete wees wat hom nie laat intimideer nie, allermins deur helde, legendes en ikone.” Bothma neem sy reaksie op die boek dan verder – hy sê dat lesers vantevore in die steek gelaat is deur geskiedskrywers wat swak, halwe of verdraaide (my ekstrapolasie) verslae oor die Grensoorlog gelewer het. Moontlik lees ek té veel in Bothma se wonderlike slotparagraaf, waarin hy Albert Blake aanhaal oor die noodsaaklikheid om die Afrikaner se geskiedenis te herwaardeer – vir my is die implikasie dat Leopold Scholtz se werk nog nie afgehandel is nie. Dit is ‘n baie interessante manier om ‘n resensie te sluit, veral nadat hy die vraag vra: “Wil ons hê die nageslag moet dieselfde onaangename verrassing as ons kry?” Dit sal interessant wees om te sien of Scholtz op hierdie aansporing reageer. Bothma beveel die lees van Scholtz se boek sterk aan. Ek beveel weer die lees van dié resensie sterk aan – ignoreer die opskrif, want dit reflekteer nie die inhoud van die resensie nie. Dit is nie ‘n “ja, maar …”-resensie nie. Dit is ‘n kritiese bespreking, ‘n sterk reaksie, en ‘n aanduier van dít wat ná ‘n boek soos hierdie moet kom.

Klara, deur Mariël le Roux. Resensie: Elsabé du Toit. (Boeke24)
Du Toit vermors ses paragrawe op die opsomming van die boek se storie. Dan volg een paragraaf met die kritiese reaksie (waarop sy eerder ses paragrawe kon afgestaan het). En dan een paragraaf waarin sy askies sê vir die nietighede waaroor sy pas geseur het, en les bes vir Mariël le Roux aanmoedig om nog meer te skryf. Mariël le Roux (eintlik alle skrywers!) verdien beter behandeling as hierdie. Ek wil nie weet van elke klein kinkel in die storielyn nie. Die laaste paragraaf dwing my tot die afleiding dat die resensent dink Le Roux is ‘n uitstekende storieverteller – hoekom dan nie meer aandag daaraan gee nie? Die resensent is ‘n bibliotekaresse, en sy behoort juis te kan uiteensit wat mens nou net tussen die lyne moet snap, naamlik dat mens baie lekker lees aan ‘n Mariël le Roux-roman. Nou hoe lekker, liewe resensent? Dalene Matthee-lekker, of E. Kotzé-lekker?

Oorlopers, deur Ian Raper. Resensie: René Bohnen. (Boeke24)
René Bohnen skryf met ‘n eie aanslag, nooit deurpriemend krities nie, maar ook nie met wolhandskoene aan  nie. Sy gee net genoeg om mens se nuuskierigheid te prikkel, en dan oortuig sy my met een sinsnede – “angswekkende juwele”- om tog die moeite te gaan doen om hierdie bundel in die hande te kry.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.