Jy blaai in die argief vir 2013 Julie.

Profile photo of crito

by crito

“Spoiler alert”

Julie 30, 2013 in Uncategorized

Moord in die beloofde land, deur Francois Bloemhof. Resensie: Johan Smith. (Rapport Boeke)
Die moderne konvensie skyn te wees dat resensente soms ‘n “spoiler alert” moet plaas by hul resensies. Wanneer hulle nie anders kan as ‘n deel van die verhaal se groot geheim te verklap nie. Johan Smith het nie nodig gehad om ‘n “spoiler alert” te plaas nie, maar hy het  gevaarlik na aan die wind geseil. Smith analiseer hierdie spanningsverhaal baie knap, Hy beskryf die verskillende verhaalelemente, en identifiseer dan uiteindelik iets wat hy dink ‘n “heeltemal ander verhaallyn” is, maar dan blyk om die kern van hierdie roman te wees. Ek het dié boek pas gelees, en dit is vir my interessant om te sien hoe Smith verbete daarteen waak om meer oor hierdie ander “teenwoordigheid” in die roman te sê.

Moord in die beloofde land, deur Francois Bloemhof. Resensie: Stephanie Nieuwoudt. (Boeke24)
Geen “spoiler alert” hier nodig nie, trouens, dit lyk of Nieuwoudt die belangrike verhaallyn wat Johan Smit in sy Rapport-resensie aandui kwalik raaksien en afmaak as ‘n “surrealistiese” element in die boek, iets wat net by die hoofkarakter te vinde is. Geen wonder Nieuwoudt is maar louwarm oor Moord in die beloofde land nie.

Profile photo of crito

by crito

Dis net die begin

Julie 23, 2013 in Uncategorized

Die SAW in die Grensoorlog 1966-1989, deur Leopold Scholtz. Resensie: Louis Bothma. (Boeke24)
Hierdie is een van die belangrikste resensies wat ek nog op die skraler geworde Boeke24 se ruimte gelees het. Nie oor die onderwerp nie, maar oor hoe dit geskryf is. Bothma behandel Leopold Scholtz se boek en die redes hoekom dit as ‘n voorlopige taksering beskou moet word. Hy vergelyk dit met soortgelyke publikasies uit dieselfde kulturele sfeer, en sê wat prysenswaardig is van Scholtz se werk, veral in die mate waarop dit ‘n eie standpunt weg van dié van generaal Jannie Geldenhuys s’n inneem. En dan gee hy sy eie credo, wat neem ek aan die rigsnoer vir sy resensie is: “‘n historikus moet ‘n gewete wees wat hom nie laat intimideer nie, allermins deur helde, legendes en ikone.” Bothma neem sy reaksie op die boek dan verder – hy sê dat lesers vantevore in die steek gelaat is deur geskiedskrywers wat swak, halwe of verdraaide (my ekstrapolasie) verslae oor die Grensoorlog gelewer het. Moontlik lees ek té veel in Bothma se wonderlike slotparagraaf, waarin hy Albert Blake aanhaal oor die noodsaaklikheid om die Afrikaner se geskiedenis te herwaardeer – vir my is die implikasie dat Leopold Scholtz se werk nog nie afgehandel is nie. Dit is ‘n baie interessante manier om ‘n resensie te sluit, veral nadat hy die vraag vra: “Wil ons hê die nageslag moet dieselfde onaangename verrassing as ons kry?” Dit sal interessant wees om te sien of Scholtz op hierdie aansporing reageer. Bothma beveel die lees van Scholtz se boek sterk aan. Ek beveel weer die lees van dié resensie sterk aan – ignoreer die opskrif, want dit reflekteer nie die inhoud van die resensie nie. Dit is nie ‘n “ja, maar …”-resensie nie. Dit is ‘n kritiese bespreking, ‘n sterk reaksie, en ‘n aanduier van dít wat ná ‘n boek soos hierdie moet kom.

Klara, deur Mariël le Roux. Resensie: Elsabé du Toit. (Boeke24)
Du Toit vermors ses paragrawe op die opsomming van die boek se storie. Dan volg een paragraaf met die kritiese reaksie (waarop sy eerder ses paragrawe kon afgestaan het). En dan een paragraaf waarin sy askies sê vir die nietighede waaroor sy pas geseur het, en les bes vir Mariël le Roux aanmoedig om nog meer te skryf. Mariël le Roux (eintlik alle skrywers!) verdien beter behandeling as hierdie. Ek wil nie weet van elke klein kinkel in die storielyn nie. Die laaste paragraaf dwing my tot die afleiding dat die resensent dink Le Roux is ‘n uitstekende storieverteller – hoekom dan nie meer aandag daaraan gee nie? Die resensent is ‘n bibliotekaresse, en sy behoort juis te kan uiteensit wat mens nou net tussen die lyne moet snap, naamlik dat mens baie lekker lees aan ‘n Mariël le Roux-roman. Nou hoe lekker, liewe resensent? Dalene Matthee-lekker, of E. Kotzé-lekker?

Oorlopers, deur Ian Raper. Resensie: René Bohnen. (Boeke24)
René Bohnen skryf met ‘n eie aanslag, nooit deurpriemend krities nie, maar ook nie met wolhandskoene aan  nie. Sy gee net genoeg om mens se nuuskierigheid te prikkel, en dan oortuig sy my met een sinsnede – “angswekkende juwele”- om tog die moeite te gaan doen om hierdie bundel in die hande te kry.

Profile photo of crito

by crito

Met ‘n plank geslaan

Julie 16, 2013 in Uncategorized

Diva, deur Isa Konrad. Resensie: Melt Myburgh. (Boeke24)
Melt Myburgh vertel van die groot plesier wat hierdie boek hom gebring het (met voorbehoude), maar hy sorg self vir ‘n paar mooi oomblikke. Die eerste is waar hy beskryf hoe ’n speurder sy eie integriteit onder verdenking gebring het: “Hy het sy naam met ‘n plank geslaan …” Heerlik! Ook sy beskrywing van die ontknoping wat die grense van die verbeelding verras.

Nuwe Stemme 5, saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais. Resensie: Marius Crous (Boeke24)
“Soos ‘n wafferse Simon Cowell het ek nou almal aangetree en oor almal iets positiefs of iets tot stigting en lering genoem.” Marius Crous het die beste manier gevind om ‘n bloemlesing soos Nuwe Stemme te benader. Kort en kragtig en almal kry ‘n beurt. Baie nuttig ook om byderhand te hê wanneer jy die gedigte lees. Die betrokke digters sal waarskynlik voel dat Crous by elkeen meer kon uitgewei het. Miskien wel. Maar dán sou veel minder lesers die resensie klaargelees het. Die krag van hierdie resensie lê in sy bondigheid.

Veronica – die kleur van liefde, deur Alita Steenkamp. Resensie: Riette Rust. (Boeke24)
Met ‘n werk soos hierdie, waar ‘n précis van die verhaal dit maklik reduseer tot ‘n versameling clichés, is dit meer billik teenoor die skrywer om ‘n effe meer filosofiese, kwasi-akademiese benadering te kies. Hou jou lyf sosioloog. Ná hierdie resensie is dit nie nodig om die boek ook te lees nie.

Profile photo of crito

by crito

Kontreie naby en ver

Julie 9, 2013 in Uncategorized

Kloek reseppe & bak stories, deur Hetta Hager. Resensent: Karin Brynard. (Rapport Boeke)
Skeerhuisstories, deur Don Horn. Resensent: Karin Brynard. (Rapport Boeke)
Kontreitaal amuseer baie mense. Kontreigewoontes en -gebruike ook. Soms voel mens jy moet van dieselfde kontrei kom om boeke daaroor na behore te waardeer, anders kan dit vrek vervelig wees. Maar as Karin Brynard – mens moenie vergeet sy was lank joernalis nie – sulke boeke bespreek, dan huppel jy deur die resensie en vandaar pyl jy reguit winkel toe. In hierdie twee gevalle sal jy ‘n e-pos aan die skrywer moet rig om die koop beklink te kry. Te oordeel aan die manier waarop sy hierdie boeke bespreek, en die lengte van die resensies, is die boek van Hetta Hager die een wat die moeite wat jy gaan hê om dit in die hande te kry, beslis werd maak.

Swart op wit, deur Annelie Botes. Resensie: Annemarie van Nierkerk. (Rapport Boeke)
Die een ding wat ‘n mens algaande begin agterkom van Annelie Botes, is dat sy een van daardie rare mense is wat nog nooit verveeld by die huis gesit het nie. Daar’s altyd iets aan die gebeur. Soms vir haar nie so lekker nie, soos die slag toe sy ‘n uiters ongevoelige opmerking oor swart mense in ‘n onderhoud met Rapport gemaak het. Die nadraai daarvan is blykbaar die insident wat hierdie boek die meeste gevoed het. Annemarie van Niekerk skryf met begrip daaroor, en versuim nie om te vermeld of die geweldige negatiewe reaksie op haar opmerking ‘n kentering gebring het by Botes nie. Van Niekerk plaas dit ook in konteks – ‘n positiewe ontvangs wat waarskynlik vir Botes groot verligting sal bring. Wat is narsisme maar ‘n wonderlike ding.