Jy blaai in die argief vir 2013 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Die geheim

Junie 18, 2013 in Uncategorized

Duisend dae op jou spoor, deur Cas Vos. Resensie: Charl-Pierre Naudé. (Boeke24)
Wat ‘n resensie! Nie alleen is dit ‘n openhartige, kritiese reaksie op Cas Vos se bundel nie, maar gee dit aan alle digters wat hul werk gepubliseer wil sien, baie waardevolle raad. Sorg dat jy ‘n uitgewer nader wat ‘n geskiedenis het van digkuns uitgee. Wanneer Naudé praat van “ervare” uitgewers, is dit ‘n mondvol. Daardie mondvol behels dinge soos keuring, redigering, en sekerlik leiding. Die dinge wat in die resensie ter sprake gebring word as synde afwesig.

Ou bloed, deur Peet Venter. Resensie: Riaan Grobler (Boeke24)
Wat help dit Riaan Grobler het baie van die roman gehou? Hy het meeste van die verhaal se geheimenisse verklap, onder meer die beweegredes vir die moorde. Hoe vlot die resensie ookal geskryf is, Grobler het nòg die skrywer nòg die potensiële lesers ‘n guns gedoen deur sy analise/uiteensetting van die verhaal. Sies man.

Profile photo of crito

by crito

Vermoedens

Junie 11, 2013 in Uncategorized

Verstevlei, deur Jaco Fouché. resensie: Jaco Botha (Boeke24)
Bespeur ek iets desperaats in die plasing van twee kennersmenings in ‘n boksie by hierdie resensie? So al asof die redakteur besef die resensie laat geskied nie reg aan die wenner van die derde prys in NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd nie? Moontlik wel, hoewel die resensie heel belowend begin. Botha is duidelik op hoogte met Fouché se oeuvre. Ek hou van sy beskrywing van die roman as Boere-Freudiaanse teks. Hy gaan maak ‘n draai by Leroux en tot hier was my aandag geboei. En dan ontspoor hy. Hy vermoed Fouché haal uit sy eie lewe aan. Hy vermoed die roman is meestal heel goeie kuns wat ‘n gemoedstemming van sy eie dra en “dat daar ‘n hele klomp mooi sinne in hierdie boek is”. Vermoed? WTF: “Maar of dit vernuwende kuns is, is ek nie van oortuig nie.” Waar was die subredakteur? En dan raak dit nog erger. Ek haal dit liefs nie aan nie, maar Jaco Botha het meer vermoedens en gelofies as wat Jaco Fouché kan verduur. Wat help dit ‘n resensent skryf ‘n driekwart goeie resensie, en begin dan spoke vermoed, waarvoor hy self eers skrik, en dan hangskouers die aftog blaas omdat hy duidelik nie sy eie analise glo nie en dink “sekere letterkundiges” gaan die boek lem? Nóú verstaan mens hoekom die boekeredakteur Louise Viljoen en Linda Rode se kennermenings in ‘n boksie naas hierdie mank resensie geplaas het. Albei sê in een sin wat Jaco Botha in die laaste gedeelte van sy resensie moes gesê het.

Deur ruite van die reis, deur Melanie Grobler. Resensie: Cas Vos (Boeke24)
Jammer, maar dit is nie goed genoeg nie. Cas Vos bespreek die nuwe werk van sy mede-digter Melanie Grobler met baie insig en met inagneming van die tematiese opbou van die bundel. Maar hy laat na om te verwys na die plagiaat-klagtes wat haar vorige bundel sy rakplek gekos het, en wend geen poging aan om te bepaal hoe dit haar digterskap beïnvloed het nie. Melanie Grobler was op haar dag as een van die belowendste Afrikaanse digters van ons tyd beskou. Die ernstige poësie-leser sal wil weet hoe die trauma haar werk beïnvloed het. In terme van Melanie Grobler se digterskap, en die ontvangs wat sy kry met haar hertoetrede tot die digterswêreld, is hierdie resensie en die een in Rapport van ontsaglike groot belang, en Vos het dit hoegenaamd nie in aanmerking geneem nie.

Onder water, deur Martie Preller. Resensie: Erika de Beer (Boeke24)
De Beer laat die boek interessant klink, maar ek voel altyd gekul wanneer ek aan die einde van ‘n resensie oor ‘n interessante storie moet lees dat ek op geen manier deel is van die skrywer se teikengehoor nie.

Profile photo of crito

by crito

Lof en ontduiking

Junie 4, 2013 in Uncategorized

So was dit – Stories van gister en vandag, deur Johan van Wyk. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Ek het al gewonder wat is die grootste kompliment wat ‘n resensent ‘n boek kan gee. Herman Lategan het hier ‘n lofbetuiging gelewer wat die resensie sommer vlerke gee. Hy haal uit die boek aan, en reageer dan só: “Nadat ’n mens so iets lees, bly jy liewer stil. Dié boek gee ek nie weg of vat dit na ’n tweedehandseboekwinkel nie. Dis te kosbaar. Hy bly op my boekrak (om herlees te word) tot die dag wanneer ook ek na beter oorde verhuis.” Goed, dis al voorheen gesê, maar nie op hierdie manier nie.

In die aanslag op onse velle val ons bloed op die grond, deur Frans Calitz. Resensie: Herman Lategan (Rapport Boeke)
Lategan sê mens moet nie jou neus optrek vir boeke wat deur die skrywers self gepubliseer is nie. En dan verwys hy na S.J.A. de Villiers se Kook en geniet. Goed en wel. Alles wat hy oor die boek sê, al die kritiek wat hy uitspreek of op versagtende wyse insinueer, laat mens dadelik besef dat hierdie publikasie ‘n professionele uitgewer nodig gehad het. Ofskoon hy dan wal gegooi teen vooroordeel, slaag Lategan dan wel daarin om my te laat besluit om nie hierdie boek te koop en te lees nie.

Duisend dae op jou spoor, deur Cas Vos. Resensie: Zandra Bezuidenhout. (Rapport Boeke)
Afrikaanse boekeblaaie gee meer aandag aan digbundels as aan prosa – meer romans kry nie die gelukkie van ‘n resensie nie, terwyl vrot bundels kosbare sentimeters koerantruimte ontvang. Zandra Bezuidenhout het hierdie bundel benader met die wete dat sy Cas Vos se vorige bundels hoog aangeslaan het, en is iemand wat, soos sy dit formuleer, Cas Vos se spoor volg. Dit is belangrike inligting om te verskaf, want dit verklaar hoekom sy die bundel in gedempte toon bespreek, en uiteindelik ‘n mening formuleer wat dit vir jou duidelik maak dat dit só ‘n mindere poging deur Vos is dat dit net vir diegene is wat Vos se spoor volg. Die vraag wat by my ontstaan, is of dit nie beter sou wees om net haar slotparagraaf te gepubliseer het, en die res van die ruimte aan ‘n verdienstelike roman af te staan nie?

Evolusie, Wetenskap en Geloof, deur Jaap Durand. Resensie: Cas van Rensburg. (Rapport Boeke)
Die titel van hierdie boek laat mens se moed sak. Hoe sê die rugbyskrywers? “Snuifgetrap.” Ek het nie rekening gehou met Cas van Rensburg nie. Sy hele aanpak kom neer op ‘n blitskursus oor Teilhard de Chardin, via Jaap Durand se reaksie op hom. Dis interessant en meevoerend geskryf, en die moeite werd om end-uit te lees. Wens net die titel was meer vindingryk!

Rangeer, deur Clinton V. du Plessis. Resensie: Nini Bennett. (Rapport Boeke)
Jammer, “hoewel sommige gedigte nog die nodige afronding kort” is nie genoeg van ‘n kritiese reaksie op Du Plessis se bundel om vir hom of die leser nuttig te wees nie. Wat help dit mens pak ‘n bundel tematies uit, maar jy takseer nie die digkuns nie? En om sake te vererger, probeer Bennett om die digter te plaas teenoor ‘n rits ander digters en pop kunstenaars, en les bes ook die Beat Generation, alles in een paragraaf nadat sy soveel ruimte afgestaan het aan verduidelik en aanhaal (sonder evaluerende respons) en eintlik bitter min gesê het. As dit so ‘n goeie bundel is, verdien dit ‘n beter, reaktiewe resensie.

My hel in Dubai, deur Selna Visser, en Ilse Salzwdel. Resensie: Vernon Janse van Rensburg. (Boeke24)
Kyk, dis een ding om respek en deernis te hê met die person oor wie ‘n boek handel, en ‘n ander ding om ‘n swak boek deur daardie persoon en haar hulpskrywer krities te bespreek. Janse van Rensburg gee genoegsame blyke dat hy bewus is van die boek se leemtes, maar deins dan uiteindelik weg van ‘n reguit kritiese samevatting.

Die ander vrou, deur Kristel Loots. Resensie: J.B. Roux (Boeke24)
Dankie aan die resensent vir die opdiep van hierdie aanhaling: “(…) French kiss dat jou panty sommer vanself van jou lyf af val.”

Koljander, deur Carié Maas. Resensent: Annamarie van der Walt. (Boeke24)
Maas kan haar gelukkig ag met die resensente wat haar debuutwerk bespreek. Christell Stander het ‘n besonder knap bespreking in Rapport gelewer, en nou het Annemarie van der Walt vir Boeke24 ook ‘n baie leeswaardige resensie geskryf. Van der Walt is bereid om meer van die verhaal te vertel, maar ook sy skram weg van te veel inligting gee. Noudat ek die roman self gelees het, besef ek hoe ‘n fyn spel Van der Walt speel; en ook hoe gepas haar kritiese opmerkings oor ‘n verskeidenheid elemente in die roman is. Ek kan wel op een punt van haar verskil. Met verwysing na die besonderse aanwending van style in die dialoog, sê sy: “Waar dit wel soms effens haper is in die mond van die karakter Dominique, Karen se ontwerper. Dit neig om plek-plek te gemeenplasig te raak en strem die gang van die verhaallyn.” Is daardie gemeenplasigheid nie juis die punt nie – dit gee jou ‘n blik op haar karakter.

Dwelmslagoffer: Sestien jaar in ‘n Thai-tronk, deur Joanne Joseph, met Larissa Focke. Resensie: Susan Cilliers (Boeke24)
As mens van die resensente van romans kan verwag dat hulle nie die hele verhaal aan jou moet vertel nie, sou mens eweneens van die resensent van ‘n niefiksie-boek oor die lewe en lotgevalle van ‘n dwelm-muil ook kon verwag om nié te skryf nie oor daardie een vraag wat altyd gestel word aan dwelm-muile wat gevang word. Wie het jou vliegkaartjie betaal en wat was die doel van jou reis? Mens kan net aanneem dat dit wel deeglik in die boek self bespreek word. Susan Cilliers pypkan die natuurlike slaggate van ‘n resensie soos hierdie, en draai mens se gedagtes in ‘n ander rigting. Die boek gaan nie oor die rede hoekom Vanessa Goosen haar in ‘n Thai-tronk bevind nie, maar oor die karakter wat sy openbaar het om haar beproewing te oorleef. Netjies.