by

Die groot en die klein publiek

Mei 14, 2013 in Uncategorized

Die gewildste Afrikaanse gedigte, saamgestel deur Leserskring. Resensie: Ian Raper. (Boeke24)
Wat skryf ‘n resensent oor ’n bloemlesing waarby die publiek via verskeie media hul stem laat hoor het, en waarmee hy wesentlik geen fout te vind het nie? Leserskring se idee om via hul lede, By se lesers en RSG se luisteraars vas te stel wat die gewildste Afrikaanse gedigte is, is só ‘n blink een dat mens eintlik dadelik wil weet hoe lyk die uiteindelike gewildheidsleer. Ian Raper het besef dit sou onverskoonbaar wees om dít te verklap, en dat hy sy resensie moet plooi rondom ‘n paar kernsake, soos vox populi versus die literêre keuses, en die feit dat dit gaan oor die verse waarvan mense hou, nie die digters waarop hulle versot is nie. Raper voer sy argumentasie met heelwat verfyning; ek hou van die manier waarop hy die trefferslys-element ter sprake bring by die indeks. Wat hy nie noem nie, is dat ‘n bundel soos hierdie ‘n baie nuttige bron van kennis is vir diegene wat so maklik hul “verse” op Faceboek uitblerts, salig onder die indruk dat hulle werke van gehalte lewer. Hier is nou ‘n maatstaf!

Rooiland, deur Tertius Kapp. Resensie: Schalk Schoombie. (Boeke24)
Soos Schalk Schoombie die inhoud analiseer, klink Rooiland na ‘n verbluffende skepping. Ek sal sy woord daarvoor aanvaar. Ek is ongelukkig een van daardie mense wat nie dramatekste lees nie. Ek gaan kyk na die opvoering. Schoombie erken self dat Rooiland eers waarlik op die verhoog beslag kry – daar waar spelers en ‘n regisseur my lesersluiheid kan vernietig. Wat in ‘n sin my vermoede bevestig dat hy die opvoering gesien het en daarna die teks gelees het. Maar dit mag andersom wees. Ek het nog altyd gevind dat Schoombie min gelykes het as Afrikaanse toneelresensent en vertrou sy interpretasie van die teks. Wanneer Rooiland in my omgewing opgevoer word, sal hierdie resensie vir my onmisbaar wees. Intussen is daar ‘n vraag wat my bly hinder en wat Schoombie skynbaar nie as deel van sy opdrag geag het nie: Hoeveel mense koop nog Afrikaanse dramatekste vir hul leesgenot? Of selfs ter stigting? Hierdie resensie is die naaste waarin die groot Afrikaanse leserspubliek aan Tertius Kapp se Rooiland gaan kom, en daarom is ek bly dat Schoombie die een is wat dit resenseer.

Vegter en balling, deur Chris Schoeman. Resensie: Riaan Grobler. (Boeke24)
‘n Leesverslag eerder as ‘n resensie. Riaan Grobler het skynbaar geen anekdotes gevind waardeur hy dié boek oor Charles von Maltitz se dagboekinskrywings tydens die Anglo-Boereoorlog vir ons interessant kon maak nie, niks nuuts daarin bespeur wat só eienaardig is dat dit aan die groot klok gehang móés word nie.

‘n Nuwe wildernis, deur Ben Viljoen. Resensie: Jeanette Ferreira. (Rapport Boeke)
Jeanette Ferreira is ‘n ou hand in die uitgewerswese en haar gunstige taksering en warm aanbeveling van hierdie boek is vir my goed genoeg. Wat ek wel interessant vind – en dit in ‘n resensie waarin sy ‘n paar taalsake opper – is haar gebruik van die term roman-in-schuifjes. Ek ken dit nie (wat my fout kan wees, ek hou nie by met literêre jargon nie) en moes my verbeelding gebruik om dit te probeer uitpluis. Beteken schuifjes dieselfde as kleurskuifies, wat andersins ook bekend is as kleurdias? Daardie film in ‘n raampie wat in die jare sewentig en tagtig nog in groot omloop was, en deur projektors op skerms en mure vertoon is voordat Powerpoint alles beduiwel het? Ferreira behoort te waak teen sulke jargon. Of dit verduidelik.

1 antwoord op Die groot en die klein publiek

  1. Ian Raper het gesê op Mei 22, 2013

    Waar Crito saam met my dit goedkeur dat bloemlesings soms afsonderlike gedigte self as gronsdslag het (hoewel ek nie ander benaderings sou verbied of selfs afmoedig nie!), kom hy/sy ten slotte tog weer by ménse uit. En by “soort”. Daar beweer Crito die welgestelde naamlik dat die lysboek 100 gewildste gedigte ‘n “maatstaf” kan wees of lewer.. Asof dit ‘n eenvormige aanbod is t.o.v. stof, soort óf kwaliteit. Ook asof skrywers op die Internet, spesifiek op Facebook, eenvormig swak is (as skrywers) – en dié wat daar nie publiseer nie, die toon aangee in ‘n leersame proses. Dis nie ver van die opvatting nie dat daar ‘n “korpus doseerbare stellings” (Van Wyk Louw) is, die een of ander moeisame werkvereiste, ouderdomsperk, ens. wat lakmoestoetse is vir elke gedig. Asof daar gehele is buiten by die beskouer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.