Jy blaai in die argief vir 2013 Mei.

Profile photo of crito

by crito

‘n Filosofiese inset

Mei 21, 2013 in Uncategorized

Wolf, wolf, deur Eben Venter. Resensie: Johann Rossouw. (Rapport Boeke)
Interessant genoeg is dit ‘n filosoof wat hier kort en bondig Eben Venter se jongste roman tematies analiseer, die inhoud ‘n breë konteks gee, en in die loop van die resensie aandui dat Wolf, wolf  ‘n teken is van die mate waarin Venter uitstyg bo ander Afrikaanse skrywers. Met sulke resensies is Rapport Boeke weer ‘n proposisie vir die letterkunde..

Bleek planeet, deur Dolf van Niekerk. Resensie: Neil Cochrane. (Boeke24)
Cochrane gee goeie inligting oor die genre-konteks, asook die tematiese plasing. Uiteindelik sukkel hy om weg te steek dat hy teleurgesteld is: die gehalte van die gedigte is wisselend, hy is nie heeltemal oortuig deur Van Niekerk se argumentasie nie. Mens het nie ‘n rapier nodig as enkele welgekose, beleefde woorde dieselfde resultate kan lewer nie. Ek hou al hoe meer van Cohrane se resensies.

Profile photo of crito

by crito

Die groot en die klein publiek

Mei 14, 2013 in Uncategorized

Die gewildste Afrikaanse gedigte, saamgestel deur Leserskring. Resensie: Ian Raper. (Boeke24)
Wat skryf ‘n resensent oor ’n bloemlesing waarby die publiek via verskeie media hul stem laat hoor het, en waarmee hy wesentlik geen fout te vind het nie? Leserskring se idee om via hul lede, By se lesers en RSG se luisteraars vas te stel wat die gewildste Afrikaanse gedigte is, is só ‘n blink een dat mens eintlik dadelik wil weet hoe lyk die uiteindelike gewildheidsleer. Ian Raper het besef dit sou onverskoonbaar wees om dít te verklap, en dat hy sy resensie moet plooi rondom ‘n paar kernsake, soos vox populi versus die literêre keuses, en die feit dat dit gaan oor die verse waarvan mense hou, nie die digters waarop hulle versot is nie. Raper voer sy argumentasie met heelwat verfyning; ek hou van die manier waarop hy die trefferslys-element ter sprake bring by die indeks. Wat hy nie noem nie, is dat ‘n bundel soos hierdie ‘n baie nuttige bron van kennis is vir diegene wat so maklik hul “verse” op Faceboek uitblerts, salig onder die indruk dat hulle werke van gehalte lewer. Hier is nou ‘n maatstaf!

Rooiland, deur Tertius Kapp. Resensie: Schalk Schoombie. (Boeke24)
Soos Schalk Schoombie die inhoud analiseer, klink Rooiland na ‘n verbluffende skepping. Ek sal sy woord daarvoor aanvaar. Ek is ongelukkig een van daardie mense wat nie dramatekste lees nie. Ek gaan kyk na die opvoering. Schoombie erken self dat Rooiland eers waarlik op die verhoog beslag kry – daar waar spelers en ‘n regisseur my lesersluiheid kan vernietig. Wat in ‘n sin my vermoede bevestig dat hy die opvoering gesien het en daarna die teks gelees het. Maar dit mag andersom wees. Ek het nog altyd gevind dat Schoombie min gelykes het as Afrikaanse toneelresensent en vertrou sy interpretasie van die teks. Wanneer Rooiland in my omgewing opgevoer word, sal hierdie resensie vir my onmisbaar wees. Intussen is daar ‘n vraag wat my bly hinder en wat Schoombie skynbaar nie as deel van sy opdrag geag het nie: Hoeveel mense koop nog Afrikaanse dramatekste vir hul leesgenot? Of selfs ter stigting? Hierdie resensie is die naaste waarin die groot Afrikaanse leserspubliek aan Tertius Kapp se Rooiland gaan kom, en daarom is ek bly dat Schoombie die een is wat dit resenseer.

Vegter en balling, deur Chris Schoeman. Resensie: Riaan Grobler. (Boeke24)
‘n Leesverslag eerder as ‘n resensie. Riaan Grobler het skynbaar geen anekdotes gevind waardeur hy dié boek oor Charles von Maltitz se dagboekinskrywings tydens die Anglo-Boereoorlog vir ons interessant kon maak nie, niks nuuts daarin bespeur wat só eienaardig is dat dit aan die groot klok gehang móés word nie.

‘n Nuwe wildernis, deur Ben Viljoen. Resensie: Jeanette Ferreira. (Rapport Boeke)
Jeanette Ferreira is ‘n ou hand in die uitgewerswese en haar gunstige taksering en warm aanbeveling van hierdie boek is vir my goed genoeg. Wat ek wel interessant vind – en dit in ‘n resensie waarin sy ‘n paar taalsake opper – is haar gebruik van die term roman-in-schuifjes. Ek ken dit nie (wat my fout kan wees, ek hou nie by met literêre jargon nie) en moes my verbeelding gebruik om dit te probeer uitpluis. Beteken schuifjes dieselfde as kleurskuifies, wat andersins ook bekend is as kleurdias? Daardie film in ‘n raampie wat in die jare sewentig en tagtig nog in groot omloop was, en deur projektors op skerms en mure vertoon is voordat Powerpoint alles beduiwel het? Ferreira behoort te waak teen sulke jargon. Of dit verduidelik.

Profile photo of crito

by crito

Woorde wek

Mei 7, 2013 in Uncategorized

Koljander, deur Carié Maas. Resensie: Christell Stander. (Rapport Boeke)
‘n Lekker resensie: Stander toon die soort agting wat ‘n resensent vir die debuutwenner van ‘n romanwedstryd moet toon deurdat sy die roman met erns ontleed. En met die kundigheid van ‘n geoefende resensent werk sy skraps met verhaal-inligting op twee maniere, wat ‘n soort broeiende nuuskierigheid by mens wek. Sy gee om mee te begin nie detail-inligting oor die ongeluk wat die verhaal in ‘n rigting stuur en al die karakters beïnvloed nie. Voorts rig sy haar nooit indringend tot die tekstuur van die verhaal nie en dui net die kernoomblikke en wendings aan. ‘n Mens voel jy weet wat in hierdie boek gebeur, maar jy sal bars om in noukeurighede in te gaan tydens ‘n boekklubbyeenkoms as die resensie al is wat jy gelees het. Jy wil weet wat gebeur het, daarvoor sorg Stander in breë trekke. Tog is haar analise baie fyn, en laat sy ‘n mens met geen onsekerheid oor die redes hoekom Koljander ‘n prysenswaardige debuut is nie. Mens kan voorsien dat Stander met Maas se volgende werk die fokus sal verskuif na die eienskape van die skryfwerk self, na die retoriese krag of gebrek daaraan. Maar vir ‘n eerstelingwerk gee hierdie resensie die volwasse aanpak waarop enige nuweling net positief kan reageer.

Trekkerkinders: Kom trek saam met dapper kinders van die Groot Trek 1835-1838, deur Danie Langner. Resensie: Fransjohan Pretorius (Rapport Boeke)
Hier in die wonderdae van die Gupta/Zuma-regime is dit maklik om te vergeet dat Afrikaner-nasionalisme eens hoog gebloei het. Fransjohan Pretorius vra indringende vrae oor die relevansie van ‘n publikasie wat daardie nasietrots wil aanwakker vir die moderne leser, en sy slotsom, naamlik dat dit eensydig is en net die edele elemente beklemtoon, behoort enige leser te bewapen met genoeg skeptisisme om die lees van só ‘n publikasie gebalanseerd te kan benader.

As die wind kom draai, deur Hans du Plessis. Resensent: Malene Breytenbach. (Rapport Boeke)
Die verwronge beeld oor die trekkers (Voor- of wat die geval ook mog wees) wat baie lank onder Afrikaners geheers het, is dít waarteen Fransjohan Pretorius dit het in sy resensie van Trekkerkinders. Malene Breytenbach se resensie van As die wind kom draai beklemtoon weer die historiese basis waarop Hans du Plessis sy roman gebou het – ‘n bevestiging, as mens dit nodig het, van die mate waarin daar vanuit skrywersgeledere steeds geprobeer word om die drogbeelde van die ou soort geskiedskrywing tot niet te maak. Sy verklap té veel van die verhaal, maar haar tematiese taksering is foutloos.

Trek, deur Winnie Rust. Resensie: Annemarie van Niekerk. (Rapport Boeke)
Mens kan nie anders as ‘n lekker ironiese rukking te beleef by die lees van hierdie resensie nie. Annemarie van Niekerk sit in Europa, waarvandaan die Hervormings-komponent van die Suid-Afrikaanse trekgeestiges gekom het. En sy is lank genoeg uit die land om te besluit om die roman te bespreek uit ‘n verskeidenheid hoeke: konteks, die trek-verskynsel, die geskiedenis van die dorp Wellington, die struktuur, die roman as variant van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Ek is seker as ‘n plaaslike resensent hierdie roman brspreek het, sou dit die meeste klem laat val het op die kern van die verhaal, oor dit wat dertig jaar gelede bekend gestaan het as “ontug” (‘n verhouding tussen ‘n bruin en wit persoon). Ek geniet Van Niekerk se benadering, en wens sy het meer ruimte gehad om die band met Poppie Nongena meer uitvoerig te kon behandel.

So was dit – stories van gister en vandag, deur Johan van Wyk. Resensie: Riette Rust (Boeke24)
Hierdie resensie laat my sommer baie oud voel. Daar was ‘n tyd, wat my betref nie te lank gelede nie, maar skynbaar wel bitter lank terug, toe Vrystaters hulle nie die Volksblad kon indink sonder Johan van Wyk nie. Kapenaars het altyd gespog met W.O. Kühne, Sondagkoerantlesers met Rykie van Reenen, maar só groot was die aanhang van Johan van Wyk se Stop van myne-rubriek dat daar gesê is dat die Volksblad sou sluit die dag dat hy aftree. En hier kom Riette Rust met ‘n resensie waarin sy krediet gee aan sy Kaapse geboorteplek, Calvinia, maar geen woord melding van sy Vrystaatse sielswêreld nie, en niks oor daardie wonderlike rubriek nie. Só Vrystaats dat hy op Hartenbos gaan vakansie hou het. In wese is dit ‘n deeglike resensie, geeesdriftig, maar ‘n resensent soos Rust moet onthou dat al woon ons nie meer in die Vrystaat nie, is die Vrystaatse diaspora verskeie kommando’s sterk.