by

Seks en ander verlanges

April 30, 2013 in Uncategorized

Afrikamasutra, deur Ilse Carla Groenewald. Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Weekliks)
Rapport is een van die Afrikaanse koerante wat dikwels nuwe tegnieke bedink om ou maniere van inligting oordra nuut te maak. Ek kan begryp dat dit nodig is. Dis net dat ek nie altyd daarvan hou nie. Hul idee om nuwe boeke te hanteer deur onderhoude met die skrywers in plaas van resensies is vir my ‘n ontduiking van die kritiese benadering en uiteindelik streel dit net die skrywer se ego. Die behoefte om die werk krities geweeg te kry word veronagsaam. Die Afrikamasutra kry die ander alternatiewe behandeling: ‘n artikel oor die boek, met ‘n klein bietjie kritiese reaksie weggesteek in ‘n vrystaande “kassie”. Die probleem lê vir my daarin dat Breytenbach se hantering van die onderwerp waarskynlik dieselfde uitwerking sal hê as wat ‘n baie positiewe resensie sou. Maar gestel hy het ‘n prul van ‘n artikel gelewer, en Rapport het dit in ‘n vaak oomblik laat verbyglip? Sou dit nog regverdig gewees het teenoor die skrywers, vertalers en kunstenaars? (‘n Bygedagte: Ek sou baie bekommerd wees as ek Breytenbach was. Hoekom word daar eerste aan hom gedink wanneer boeke oor seks gepubliseer word? Is Nicki Spies nie ‘n meer gepaste keuse nie?)

Karretjiemense, deur Carol Campbell. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Normaalweg bespreek ek nie resensies van vertalings nie. Wyle Gerrit Brand het my daarvan genees. Hierdie ene wil ek tog noem, nie om die spesifieke boek nie, maar om die resensent. Herman Lategan het hierdie resensie geskryf met heimwee wat sy pen dryf. Hy het uit eie ondervinding ‘n liefde vir die mense waaroor die boek handel. Hierdie emosies vind neerslag in die resensie op ‘n manier wat mens dit van voor laat herlees, op soek na die snellers wat jou keel so laat trek. Knapgedaan!

‘n Man van min belang, deur Chris Karsten. Resensie: J.B. Roux. (Boeke24)
J.B. Roux sluit sy resensie met die opmerking “Chris Karsten is ‘n fenomeen”. In die aanloop hiertoe verduidelik hy hoe Karsten tematies hierdie keer sy speurverhaal vanuit ‘n politieke hoek aanbied: Dis ‘n roman oor transformasie, van ‘n speurdiens wat ou, onopgeloste sake uit die stuiptrekkingstyd van apartheid ondersoek. Sy vorige romans, die Abel-reeks, was puik, en Roux probeer die vraag antwoord of Karsten die pyl sal kan volhou. Sy antwoord is bevestigend, en die resensie is só uitgepak dat dit dié mening ondersteun. Wat ek veral van die resensie waardeer (omdat ek die boek self die afgelope week gelees het) is dat Roux pynlik noukeurig is in sy poging om geen geheime te verklap en die lesers se plesier sodoende te bederf nie.

As die wind kom draai, deur Hans du Plessis. Resensie: Susan Cilliers. (Boeke24)
‘n Roman wat in 1844 afspeel, laat volgens die resensent vrae ontstaan wat destyds net so relevant was as wat hulle in die moderne Suid-Afrika is. Sy spel die vrae nie uit nie; tog kry mens die gevoel dat dié vrae oor en rondom die “kleurgrens” sal wees. Die moderne leser sal daardie grens afgebreek wil sien, wat die outeur dan verlei om dinge makliker te laat lyk as wat dit is. Ek vind Susan Cilliers se reaksie op die boek amper net so interessant as die gegewe waarmee Du Plessis werk: jy moet saam met die skrywer droom oor hoe aangenaam onverkwiklike sake opgelos kan word. Die subteks praat egter hard en duidelik: Cilliers sê niks gebeur só maklik nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.