by

Agteros

April 16, 2013 in Uncategorized

In die skadu van soveel bome, deur Hennie Nortjé. Resensie: Nini Bennett. (Rapport Boeke)
Hierdie bundel het al verlede jaar verskyn. Het dit nie pas die Eugène Marais-prys vir debuutwerk van die SA Akademie gewen nie, was daar seker nie soveel haas by Rapport om die resensie daarvan te plaas nie. Nini Bennett se resensie is ‘n yl gedoente. Sy hou daarvan om te vertel waaroor gedigte handel. Sy het oogklappe aan vir die aansienlike internasionale tradisie waarby Nortjé met hierdie bundel aansluit. Sy sien sekere taalvindinge raak, maar eien nie die verstegniese toertjies waarmee hy hom in die bundel besig hou nie. Dis ‘n moeilike opdrag om só lank na ‘n bundel se verskyning daaroor te moet skryf, want meeste mense wat in digkuns belang stel, het dit nou al gelees en die bundel se geheimenisse vir hulself ontsluit. Goed, mens kan met geldigheid vra of Bennett die resensie al verlede jaar geskryf het, en of sy dit nou inderhaas op versoek vir Rapport afgehandel het. Indien eersgenoemde, het ek meegevoel met haar, want hierdie resensie sou ‘n beter indruk gemaak het pas na die verskyning van die bundel. Indien laasgenoemde, was dit ‘n oordeelsfout om ‘n resensie te skryf asof niemand nog die bundel onder die oë gehad het nie.

Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde stories, deur Michael le Cordeur en Marlene le Roux. Onder redaksie van Ria Olivier. Resensie: Jo-Ann Floris. (Boeke24)
Dit verg ‘n towenaar om teleurstelling behoorlik te maskeer. Jo-Ann Floris is ‘n joernalis en amper ‘n towenaar. Mens kan sien hoe werk sy haar op om geesdrif te toon vir hierdie boek, wat handel oor haar jeugwêreld, en die kultuurgoed wat sy goed ken. Mens kan aanneem dat sy heeltemal in die kol is wanneer sy sê die boek maak die deur op ‘n skrefie vir jou oop oor die onderwerp van die Wellingtonse Klopse, maar dat dit net ‘n eerste aanduiding gee van dinge wat jy self sal moet gaan soek. Tussendeur laat skemer sy deur wat verkeerd geloop het: vrot redigering, en ontoereikende leiding aan die outeurs deur die uitgewer en redakteur. Sy het duidelik ‘n geloof in die skrywers, en dit blyk dat die fotografie puik is. Maar die geheelindruk is dat Jo-Ann Floris baie vriendelik is met ‘n boek wat skerp kritiek verdien, en dat sy dit besef. Sy sê dit nie reguit nie, maar alle simpatie met Michael le Cordeur en Marlene le Roux, wie se harde werk nou ‘n verspeelde kans geword het.

1 antwoord op Agteros

  1. Ek smaak jou blog baie . Ook dat jy die publikasies duidelik noem waarin die resensies geplaas word . Sodat die lesers van jou resensies van resensies kan weet watter dagblaaie, tydskrifte wel nog Die Letterkunde wil bevorder . My voorstel is dat die publikasiehuise ook by name genoem word wat die geresenseerde boeke publiseer – sodat lesers kan sien wie keur en publiseer deesdae die beste/gewildste boeke in Afrikaans .

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.