Jy blaai in die argief vir 2013 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Geesdrif

Maart 26, 2013 in Uncategorized

Mediterreense herinneringe, deur André P. Brink. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Herman Lategan het ‘n baie sterk mening oor meeste dinge (dit weet ek danksy Facebook) en in sy resensies is daardie eienskap van hom nie alleen opvallend nie, maar ook baat die leser die meeste daarby. Mens hoef seker nie ‘n groot standpunt oor André P. Brink se reisverhale in te neem nie. Lategan doen dit wel (jammer net van die een geykte uitdrukking, van die mond wat konfyt verdien) en met soveel duidelike geesdrif dat dit die resensie dra. Meeste mense wat Brink se vroeë skryfwerk ken, sal só ‘n resensie net vinnig lees om te sien of daar nuwe skryfwerk ingesluit is. Lategan bevredig hulle betreklik vinnig, en daarna sorg hy dat hy die aandag hou van die lesers wat nie bewus is van Brink se reisverhale nie. Lategan se resensie-strategie is sekuur, maar dit is die inkleding, die geesdrif, wat die saak beklink.

Teen die lig, deur Hennie Aucamp. Resensie: Marius Crous. (Boeke24)
Van geesdrif gepraat. Hierdie resensie loop nie daarvan oor nie. Mens kan jouself wel afvra of mens dié leemte met geldigheid kan aflei in die aangesig van die talle positiewe opmerkings wat Marius Crous maak. Twee dinge verklap dit vir my. Die eerste is die manier waarop Crous die punt maak dat Hennie Aucamp, as digter wat veral sterk klem laat val op rym, hom skuldig maak aan rymdwang weens sy voorliefde vir die gebruik van Afrikaanse woorde wat ongewoon is. Crous is nie die eerste kritikus wat hierdie punt maak nie – mens hoef maar net te gaan lees wat in Aucamp se kabaret-dae geskryf is oor sy taalgebruik – en die voorbeelde wat hy aanhaal laat mens onmiddelik besef dat hy ‘n sterk, onweerlegbare argument het. Die tweede aspek wat ‘n gebrek aan geesdrif aandui, is die feit dat Crous nie die moeite doen om die resensie van ‘n behoorlike samevattende slot te voorsien nie. Hy maak sy opmerking oor die vreemde woorde, en laat die resensie dan in die lug hang, asof hy nie verder daardeur gebodder wil wees nie. As al die voortreflikhede wat hy vooraf genoem het vir hom van deurslaggewende aard was, sou hy sekerlik in ‘n slot die gewig in daardie rigting wou laat oorhel.

Trek, deur Winnie Rust. Resensie: Dineke Volschenk. (Boeke24)
Eienaardig hoe ‘n mens soms ‘n resensie lees, en weer lees – iets hinder jou, maar jy kan nie jou vinger daarop lê nie. Volschenk is ‘n bedrewe uitgewer, en weet presies waarna om te kyk. Haar verslag  is van só ‘n aard dat ‘n mens weet jy sal die boek wil lees, en dat jy in breë presies dít daar sal vind waarop Volschenk jou aandag vestig. Uiteindelik was dit die slotsin wat vir my die sleutel was: “Trek is ‘n stewige roman wat die leser tot nadenke stem”. Nou goed, wat was die aard en inhoud van daardie nadenke? Hoekom nie daardie nadenke in die resensie laat neerslag vind nie? Elke roman verskyn binne ‘n gegewe historiese konteks, en daardie tot-nadenke-stemmery is die soort reaksie wat mens in die jare sewentig kon verwag het met die verskyning van Die swerfjare van Poppie Nongena. Dit wek nadenke, en jy stem volgende keer nie Nasionaal nie. Trek verskyn in 2013, handel oor die jare sewentig en mens reageer anders omdat die konteks so radikaal verskil. Hoeveel anders? En hóé anders? Die belangrikste deel van haar reaksie op die boek het sy uit die resensie weggelaat.

So kry ons Afrikaans, deur Christo van Rensburg. Resensie: Susanne Harper. (Boeke24)
Dis ‘n “lekkerlees-storie” hierdie oor die ontstaan van Afrikaans, sê Susanne Harper. Haar resensie self lees soos ‘n inventaris van die inhoud van die boek, en die een “lekkerlees”-voorbeeld wat sy gee klink vir my maar taamlik vaal. Só werf mens nie belangstelling nie.

Karretjiemense, deur Carol Campbell. Resensie: Erika de Beer. (Boeke24)
Om hierdie boek te lees, sê Erika de Beer, is soos om die veldblomme in September in die Karoo te sien uitslaan. Haar resensie verklap ontroering en meelewing. Sy vertel bietjies-bietjies oor die inhoud, net genoeg om mens waaragtig nuuskierig te maak. En elke paar paragrawe besef jy dat sy die resensie in gedempte toon skryf, dat sy terughou. Dit is werklik ‘n knap resensie, genoeg om mens respekte te laat kry in alle rigtings: vir die resensent, vir die skrywer, vir die vertaler, vir die mense oor wie die boek handel. Volpunte!

Profile photo of crito

by crito

Kalm woorde, groot lof

Maart 19, 2013 in Uncategorized

[vii] deur Gilbert Gibson. Resensie: Marthinus Beukes. (Rapport Boeke)
‘n Digbundel is die enigste Afrikaanse publikasie wat vandeesweek geresenseer word. As mens ‘n oog hou op die “digkuns” wat deesdae Facebook vol lê, dan voel jy oneindig dankbaar dat die verse wat uiteindelik die kritiese oog van ‘n resensent bereik, deur die hande van kundige redakteurs en uitgewers is. En jou dankbaarheidsbeker loop oor wanneer ‘n sterk bundel by ‘n relatief onbekende maar besonder knap resensent uitkom – soos die geval hier is. Ek hou baie van Marthinus Beukes se manier van dinge doen. ‘n Mens voel jy het ‘n taamlik omvattende begrip van Gibson se bundel, en jy sal ten minste met wakker oë begin lees aan die gedigte wanneer jy die bundel voor jou het, danksy Beukes se indringende bespreking. Beukes het ‘n baie kalm toon, en die lof wat hy uiteindelik uitspreek, galm daarom soveel luider.

Profile photo of crito

by crito

Werklik slaags

Maart 12, 2013 in Uncategorized

Asterix en die Galliërs & Asterix en die goue sekel, deur René Goscinny en Albert Uderzo. Resensie: Coenraad Walters (Boeke24)
‘n Eersteklas-bydrae deur iemand wat uitermate geskik is om oor die onderwerp te skryf. Walters se geesdrif vir Asterix-boeke is uit die staanspoor aanwesig, en daarom kan hy met gemak uitwei oor sy eie ervaring van die Asterix-fenomeen. Jy hou om die waarheid te sê van die wydloperigheid, want op elke slingeropmerking maak hy soortgelyke herinneringe wakker – en is seker baie lesers sal my gewaarwording deel. Die vraag is natuurlik of die geesdrif nie misplaas is nie, dat ons wysgemaak word knolle is sitroene. ‘n Resensent kan loftuitinge by die dosyne neerplak, maar mens moet ook bewys hê dat hy werklik met die boeke slaags was. Om dié rede is die talle aanhalings wat Walters gee uit die teks van die vertaler, Sonya van Schalkwyk-Barrois, genoeg om enige vraagtekens oor die aard van die resensie te verwyder.

Snydokter, deur Leon van Nierop. Resensie: Nico du Plessis (Boeke24)
Voorspelbare speurverhale is een van die euwels van ons tyd. Daarom is Snydokter so ‘n welkome verskynsel – ‘n speurroman waaraan baie mense via Facebook bygedra het, danksy die vindingrykheid van die uitgewer. Leon van Nierop het dit uiteindelik geskryf, en al het hierdie resensent nie aanklank gevind by die liefdestoneel nie, is die res van sy bespreking van só ‘n aard dat ek hierdie boek nie sal misloop nie. Te oordeel na Du Plessis se reaksie het die eksperiment geslaag. Is dit dan ook nie die taak van elke resensent nie – om aan te toon hoe ‘n spesifieke publikasie verskil van alles wat voorafgegaan het?

Jonk en krapperig: Suid-Afrika se politieke puberteit, deur Jan-Jan Joubert. Resensie: J.B. Roux (Boeke24)
Denis Healey het in die jare sewentig gesê dat ‘n aanval deur sy opponent Geoffrey Howe was “like being savaged by a dead sheep”. J.B. Roux se poging om hierdie e-boek van Jan-Jan Joubert af te ransel kan in dieselfde trant beskryf word. Die potensiaal is daar vir ‘n sterk kritiese reaksie, waardeur Joubert se argumente in “gesprek” verder gevoer kan word. Ongelukkig is dit effe bo Roux se vuurmaakplek. Studente van die formele logika sal pret hê om die logiese denkfout van sirkulêre redenasie te identifiseer.

Profile photo of crito

by crito

Soms suutjies-poep, soms nie

Maart 5, 2013 in Uncategorized

Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots. Resensie: Harry Kalmer. (Rapport Boeke)
‘n Fassinerende bespreking, omdat Kalmer self so ‘n omvattende kennis van Bram Fischer se lewensverhaal het. Daarom kan hy in sy openingsparagraaf wegval met sy opsommende evaluering. Die res is argumentering en beskrywing, die boublokke van die resensent se kritiese inkyk. Dit is jammer dat Kalmer nie die groter literêre verwysing raaksien nie (ek was baie verbaas oor dié leemte in die resensie), maar aan die ander kant lewer hy ‘n baie goeie betoog oor hoekom die boek die moeite werd is om op te neem en te lees.

Asterix en die goue sekel en Asterix die Galliër, deur Goscinny en Uderzo. Resensie:  Marlize Leyden. (Rapport Boeke)
Ek het nog nie vantevore met Larlize Leyden as resensent kennis gemaak nie. Haar skrywe oor die nuwe Asterix-boeke in Afrikaans is nie baie belowend nie – dit lees soos daardie gedroggies wat so twintig jaar gelede in die koerante as “promosie-artikels” aangebied is. Sy kan waak teen slordige formulering: Om Adoons-hulle en Louis , die laeveldleeu in dieselfde sin te tipeer as “komiese prenteverhale in koerante en tydskrifte” is om groot onkunde ten toon te stel oor die sosiaal-politieke rol van Adoons-hulle in ‘n spesifieke tydsgewrig enersyds, en die rol van politieke en gender-humor in ‘n heeltemal ander tydsgewrig in Louis, die laeveldleeu andersyds. NB-Uitgewers het nie Kuifie of Asterix in Afrikaans vertaal nie – dis deur spesifieke persone in opdrag van een van hul drukname gedoen. Dis maklik om sommer oor sulke irritasies te lees, maar mens verwag groter juistheid van resensente.

Deur ruite van die reis, deur Melanie Grobler. Resensie: Zandra Bezuidenhout. (Rapport Boeke)
Melanie Grobler is een van die mees begaafde digterstemme wat die afgelope dekade of wat opgeklink het. Haar ontwikkeling het enkele jare gelede ‘n terugslag gekry toe plagiaat in ‘n bundel van haar aangetoon is, en sy daarvoor verantwoordelikheid aanvaar het. So iets raak die beeld wat ‘n digter by die lesende publiek het. Tog het sy die trauma van haar afgeskud en weer begin dig. Daarvoor verdien sy ons bewondering. Zandra Bezuidenhout was sekerlik van hierdie agtergrond bewus toe sy die opdrag aanvaar het om Deur ruite van die reis te resenseer. Haar aanpak van die resensie, die respek wat sy aan die digter betoon, en die waardering wat sy het vir die waardigheid waarmee Grobler haar digtersloopbaan weer op koers kry, getuig vir my van ‘n merkwaardige begrip vir alles wat die rol van die resensent behels en verg. Mens moet veral jou hoed lig vir manier waarop sy dit ter sprake bring dat Grobler weer in ‘n enkele geval versuim het om ‘n bron te erken waar sy haar vertaling van enkele reëls uit ‘n Engelse gedig van Dahlia Ravikovitch in ‘n gedig opgeneem het. ‘n Mens kan aanneem dat die uitgewer hieroor ‘n verklaring sal uitreik, maar danksy Zandra Bezuidenhout se manier van dinge doen is dit heelwat makliker vir die uitgewer en digter gemaak.

Hoopvol, deur Derick van der Walt. Resensie: Dineke Volschenk. (Rapport Boeke)
In haar resensie raak Dineke Volschenk die spoor taamlik byster. Sy resenseer ‘n boek nie in terme van sy meriete nie, maar op grond van die probleme wat sy ondervind om dit behoorlik te plaas. Die uitgewer het dit as jeugboek beskou. Sy voel dit mik weer na ouer lesers. Miskien moet sy raad aanvaar van iemand met jare se ondervinding in die biblioteekwese: Uitgewers weet nie altyd die beste nie. Konsentreer op die boek. Vergeet van die teikenmark. En moenie koerantlesers onderwerp aan ‘n verskoning vir ‘n resensie nie.

Vol draadwerk, deur Marius Crous. Resensie: Andries Visagie. (Rapport Boeke)
Dít is hoe ‘n digbundel geresenseer moet word. Skerp, baie krities, en wanneer hy lof toeswaai, weet jy watter gedigte ‘n kans staan om in die volgende Groot Verseboek ‘n staanplek te kry.
Die afwesigheid van sin, deur Susan Smith. Resensie: Johann Lodewyk Marais (Rapport Boeke)
Dit is ‘n plesier om ‘n resensie van ‘n digbundel te lees en te ervaar hoe die resensent die bundel voor jou oopvou, sodat jy later presies die konteks en impikasies snap. Nou moet jy nog net die bundel gaan lees ook. Maar dan kom jy af op hierdie sin: “Kritiek sou kon wees dat van die gedigte soms n tematiese herhalende indruk maak.” Dit is só ‘n suutjies-poep opmerking om te maak! Wat – sou kritiek ook dalk nie kon wees nie ….? Of: Soms maak hulle nie ‘n tematies herhalende indruk nie? As ‘n resensent iets wil sê, laat hom dit reguit sê.

Paddas en paddajolyt, deur Vincent Carruthers en Louis du Preez. Resensie: Neels Jackson. (Boeke24)
Eendag moet ‘n joernalistiek-student nog navorsing doen oor die ruimte wat Afrikaanse koerante deur die jare aan afgestaan het aan digbundels versus ruimte aan boeke oor die natuurwetenskappe. Digbundels maak omtrent skoonskip – maar die dag wanneer iemand ‘n boek soos dié een oor plaaslike paddas bespreek, word dit sonder omhaal van woorde gedoen, in baie goed ook. Neels Jackson skryf nie lank nie, maar die manier waarop sy agting en geesdrif deurslaan het my onmiddelik laat besluit dat ek hierdie boek móét hê.

Roberts-voëlgids. Resensie: Charles Smith. (Boeke24)
Wat vir Neels Jackson hierbo gaan, geld ook vir Charles Smith. Plus: Die beste inleidingsparagraaf wat ek in jare in ‘n resensie oor ‘n natuurwetenskaplike boek gelees het: “Elke natuurkind moet sy Roberts-voëlgids hê. ’n Goeie ma sal voor haar dogter besluit om te trou, die aanstaande skoonseun vra om sy Roberts te wys. Finish en klaar.”