Jy blaai in die argief vir 2013 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Buite die algemene boekhandel

Februarie 26, 2013 in Uncategorized

44 Gedichten voor Antjie Krog, saamgestel deur Peter Swanbom & Robert Dorsman. Resensie: Joan Hambidge (Boeke24)
Nederlandse digters vier Antjie Krog se sestigse verjaardag met hierdie geleentheidsbundel, verlede Oktober gepubliseer deur die Nederlandse en Belgiese tydskrif vir Nederlandse letterkunde, Tortuca. Joan Hambidge merk tereg op dat dit skandelik is dat Krog nie in Suid-Afrika deur iets soortgelyks vereer word nie. Mens kan dié opmerking sekerlik beaam – maar dit is helaas so dat huldigingsbundels vir digters die uitsondering is eerder as die reël. Breyten Breytenbach het dit sekerlik al oor en oor verdien, so ook TT Cloete, Wilma Stockenström, om enkeles te noem. As die hoofstroom-uitgewerye nie meer sulke publikasies wil aanpak nie, is hier sekerlik ‘n groot geleentheid vir die e-uitgewerye. Maar terug by die resensie: Die vraag vir my is altyd hoeveel nut só ‘n bespreking het. Die tydskrif is nie hier vryelik beskikbaar nie, en Joan Hambidge se bespreking, waarin ‘n mens haar op haar beste vind, wek ‘n irritasie want jy weet dit gaan lank wees voordat jy bevrediging kan kry. Die vermelding van ‘n kontak-adres is te verwelkom.

Koedoesrand-kronieke: Die verhaal van Meester in sy eie woorde, deur S.W. Breytenbach. Resensie: Fransjohan Pretorius (Boeke24)
Nog ‘n boek wat skynbaar nie in die algemene handel beskikbaar is nie. Fransjohan Pretorius dink dis die moeite werd om te lees, omdat dit ‘n blik gee op die ontwikkeling van die Afrikaner in ‘n plattelandse omgewing, waar swaarkry die maklike manier van oorleef was. Terwyl dit inhoudelik ons aandag werd is, vestig Pretorius die aandag daarop dat dit ‘n boek is wat ‘n professionele uitgewer nodig gehad het – té veel spel- en tikfoute. As al hoe meer Afrikaanse boeke buite die sfeer van die Afrikaanse uitgewerye verskyn, wat gaan word van die peil van Afrikaans wat daarin verskyn?

Sandsteenpraatjies, deur Susan Maré. Resensie: Erika de Beer (Boeke24)
Hoflikheid is darem ‘n mooi eienskap. Veral by resensente. Met piëteit haal Erika de Beer die voorwoord aan: “Elke essay wil iets van die voorreg en veelkantigheid van menswees op aarde vier, besing en beskryf.” Ongetwyfeld het De Beer ook ‘n paar Facebook-vriende wat haar mal maak met hul gejubel elke oggend oor hoe geseënd mens dan nou eintlik is. De Beer het ook agting vir die essayis se belesenheid en musiekkennis. En haar geestelike sy. Veral die essay “Sweef soos ‘n arend in koesterende genade” het haar oog gevang. Daar is wel ‘n paar probleempies, soos vaagheid en die kontreigebondenheid van meeste van die verwysings. Onder die omstandighede kan De Beer nie anders as bevind dat slegs Oos-Vrystaters hierdie bundel essays sal geniet nie. Die res van ons kan dit net naby die bundel waag met ‘n papiersakkie byderhand, lyk my.

Profile photo of crito

by crito

Nie heeltemal goed genoeg

Februarie 19, 2013 in Uncategorized

Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots. Resensie: Gert van der Westhuizen. (Boeke24)
Die idee agter hierdie boek is intrigerend genoeg om mens nader te lok: ‘n poging om die gees en gedagtesfeer van Bram Fischer en sy kamerade oop te skryf. Gert van der Westhuizen het diep onder die indruk daarvan gekom, en volgens sy resensie het die lees van die boek hom ontroer en laat nadink oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit is ook duidelik dat hy nog nie werklik die boek uitgeput het met sy analise daarvan nie, en die melodramatiese inslag wat sy resensie soms neem, laat mens terugdeins en wonder hoe opreg die belewing is. Kyk gerus na die vyf paragrawe wat gekonstrueer is rondom die begrip “‘n mens” teen die einde van die resensie. En sekerlik is Van der Westhuizen se analise in die geheel gebrekkig weens die totale veronagsaming van die enorme verwysingsruim wat opgesluit lê in die woord “Alleman”. Die klokkies het nie vir die resensent gelui toe hy die naam sien nie, nog minder toe die roman drie reisgenote vir Fischer introduseer nie. As mens jou ressensie begin met ‘n opmerking oor die letterkunde, en dié kunsvorm as invalshoek kies, móét jy tog sekerlik ook die verband kan trek tussen “Alleman” en die gevierde Nederlandse moraliteitspel Elckerlijc (circa 1470) of die Engelse variant Everyman, of Duitse variant Jedermann. Fischer se drie reisgenote kan ook weer slaan op die reisgenote wat Elckerlijc of Everyman in die middeleeuse voorganger soek en afwys. Uiteindelik dus ‘n ontoereikende resensie.

In die skadu van soveel bome, deur Hennie Nortjé. Resensie: Charl-Pierre Naudé (Boeke24)
Dis makliker om resensies oor digbundels te lees as wat dit is om met die bundels self slaags te raak. Voel dan ‘n bietjie simpatie met die digter wat oor ‘n ander digter se werk moet skryf. Charl-Pierre Naudé behandel Hennie Nortjé se In die skadu van soveel bome met paslike nonchalance. Maar omdat dit makliker is om resensies oor digbundels te lees, word dit gou duidelik uit sy resensie dat hy dit baie geniet het, dat hy meer as heelwat van Nortjé se digterlike vaardigheid dink, en die bundel as ‘n kosbare kleinnood beskou. My woorde, nie syne nie. Dit is, alles in ag genome, ‘n digter wat die resensie skryf.

Duiwelsasem, deur Karin Roodt. Resensie: Fransi Phillips (Boeke24)
Die versoeking is groot om lank en snedig oor hierdie resensie te skryf, maar dit is nie die moeite werd nie. Fransi Phillips gee ‘n opsomming van die verhaal van Duiwelsasem, dui dan aan dat alles goed eindig, en prys die skrywer. Watse rede bly daar oor om die boek te lees? Ons weet mos nou wat gebeur. Fransi Phillips moet ernstig daaroor besin of sy hoegenaamd resensies moet skryf.

Die koekieboek, deur Maritza Breitenbach. Resensie: Marius Crous (LitNet)
Ek wonder hoe groot die versoeking vir Marius Crous was om hierdie resensie op “frappante” manier aan te pak, soos hy dit op ‘n plek stel. Gelukkig het hy nie, al sou mens die resensie plek-plek ‘n deadpan-resensie kon noem. Te oordeel aan die inhoud van sy eie digbundel Vol draadwerk sou ek nie gedink het hy het veel vat aan koekies nie, maar Crous skryf oor Die koekieboek met insig, humor en respek. Daar slaan selfs bewondering deur vir die outeur, Maritza Breitenbach, en die manier waarop sy haar onderwerp benader het. In baie opsigte is hierdie ‘n onverbeterlike resensie. Ek kan nie wag om te sien wat Rapport en Boeke24 se resensente van Die koekieboek gaan maak nie! (Belangeverklaring: Ek is dikwels ‘n klant by Maritza Breitenbach se haarsalon op Stellenbosch.)

Profile photo of crito

by crito

‘n Chaos sal dit bly

Februarie 12, 2013 in Uncategorized

Chaos, of Op soek na Superman, deur Hans Pienaar. Resensie: Jaco Nel (Boeke24)
‘n Resensie wat mens nie uitnooi om die boek te gaan lees nie. Nel skryf nie die boek af nie, trouens, dit lyk of hy sy bes probeer om dit ten minste interessant te laat klink. Maar uiteindelik erken hy dat die boek hom koudgelaat het, wat seker nie is wat Hans Pienaar sou wou gehoor het nie. Kompleksiteit in takt? Nooit gesien nie. Mens wil nogtans liggies giggel oor Nel se teregwysing aan Pienaar dat wanneer mens oor chaos wil skryf, jy struktuur moet hê. Anders bly dit ‘n chaos.

Vuilspel, deur Bettina Wyngaard. Resensie: Marida Fitzpatrick (Boeke24)
Verlede week in Rapport Boeke het Annemarié van Niekerk hierdie roman ‘n goeie gemiddelde speurroman gevind. Met voorskryf-potensiaal. Marida Fitzpatrick het die roman meer krities benader, en die besware wat sy daarteen opper, verleen onmiddelik baie gesag aan haar besluit dat die aktuele tema hierdie roman nie kan red nie. Uiteraard maak hierdie meningsverskil dat mens voel jy wil ten minste gaan snuffel in hierdie roman om agter te kom watter resensent is naaste aan die waarheid. Die geneuk is net dat Fitzpatrick se sterk betoog my nou al laat vermoed dat teleurstelling op my wag.

Profile photo of crito

by crito

‘n Resensie deur ‘n kenner

Februarie 5, 2013 in Uncategorized

Koffer in Berlyn, deur Hennie Aucamp. Resensie: Schalk Schoombie (Boeke24)
‘n Boek deur ‘n kenner op ‘n vakgebied sal altyd die beste geresenseer word deur iemand wat daardie vakgebied net so goed ken, indien nie beter nie. Daarom is Schalk Schoombie die regte persoon om Koffer in Berlyn te resenseer. Schoombie skryf bondig – aanvanklik oorsigtelik, daarna in reaksie op die inhoud. Sy opmerkings verklap sy eie erudisie en ervaring van die vakgebied – iets wat afwesig is in Riette Rust se bespreking in Rapport. Dit sal net iemand soos Schoombie wees wat agterkom dat daar leemtes in Aucamp se boek is. Op ‘n baie mooi manier sê hy dan ook aan Aucamp dat sy boek nie werklik op datum is ten opsigte van die internasionale gebeure op die kabaret-verhoog nie. En hoeveel boekeresensente wens seker nie dat hulle eendag ‘n kans sal kry om ‘n slotsin te skryf soos die een wat Schoombie hier kon plaas nie. Gaan lees dit gerus hier:
http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Koffer-vol-van-Aucamp-rykdom-20130203

Koffer in Berlyn, deur Hennie Aucamp. Resensie: Riette Rust (Rapport Boeke)
Riette Rust  se resensie is met die nodige eerbied en verwondering geskryf, maar teen die einde duik daar twee sinne op wat my meteens laat wonder het of sy die “ironiese lewensruimte” bereik het waarna Hennie Aucamp verwys. Ek lees hulle (“Regdeur Koffer in Berlyn val Aucamp se passie vir sy onderwerp op. Groot leesplesier.”) en lees hulle weer. Is sy besig op sarkasties te wees? Moet wees. Ek het Koffer in Berlyn gelees, en dit was nie leesplesier nie. Dit het my met hartseer gevul, met weemoed oor die vergane dinge. Van die kultuur waarvan Aucamp skryf, is hier ter plaatse weinig anders as enkele opvoerings jaarliks by Aardklop of die KKNK oor. Maar ek is nie die resensent nie, Rust is. En die ander dinge wat sy oor dié boek sê, is ‘n flukse naderklap.

Vol draadwerk, deur Marius Crous. Resensie: Neil Cochrane. (Boeke24)
Dis lekker om Neil Cochrane se naam weer by ‘n resensie te sien. Sy tydperk van swye het ook verandering gebring – dit lyk asof hy nou meer as vantevore bereid is om skerp of negatiewe opmerkings te maak. Naas die positiewe stel hy dan ook die negatiewe aspekte van die bundel voor hom. Anders as so baie resensente wat dan sal afsluit met ‘n opmerking oor hoe die bundel tog ‘n reddende element het, doen Cochrane dit nie, en eindig met ‘n opmerking wat die uitgewer oor die kole haal vir die plasing van die inhoudsopgaaf agterin die bundel. Dis jammer – dié gebruik is baie oud en het niks met die bundel se gehalte te make nie.

Vuilspel, deur Bettina Wyngaard. Resensie: Annemarié van Niekerk (Rapport Boeke)
Goed geformuleer, haar idees en gewaarwordinge knap georkestreer in ‘n stuk skryfwerk wat die Annemarie van Niekerk-stempel van gehalte dra. En dan iets onsinnigs. Vir diegene wat te make het met die voorskryf van boeke op skoolvlak, is haar opmerking dat ‘n goeie, gemiddelde speurroman soos hierdie oorweeg moet word vir voorskrywing aan Suid-Afrikaanse skoliere iets wat alleen met ‘n byderwetse L.O.L. geantwoord kan word.

Getuie, deur Christine Barkhuizen le Roux. Resensie: Nini Bennett (Rapport Boeke)
Bennett se resensie lei ‘n voornemende leser met min omhaal in die problematiek van die roman in. Haar uiteensetting van verhaal, tematiek en sfeer maak daarvan ‘n baie aanvaarbare kritiese respons. Maar wanneer sy begin met voorstelle oor wat die outeur kon gesny het uit die roman, omdat sy by die lees sekere dele minder interessant gevind het, raak ek bekommerd. Hoe sou sy op Jonathan Littell se The Kindly Ones gereageer het – hom gevra het om dit te reduseer tot kortverhaal?

‘n Bordjie vergifnis, saamgestel deur Anzil Kulsen. Resensie: Tienie Holtzhausen (Rapport Boeke)
Die resensent val weg deur te verklap dat sy nie lid is van die tydskrif Kuier se teikengehoor nie. Maar sy hou van die tydskrif se kortverhaal-kompetisie, en die bundeling daarvan is ook lekker omdat die Afrikaans so beskrywend is. Maar, skryf sy, die grootste beswaar teen hierdie bundel “kan wees” dat dit nie vergelykbaar is met ander Afrikaanse kortverhaalbundels nie. Vermoedelik sou daardie bundels moontlik dalk kon kom uit die omgewing van die teikengehoor waarvan die resensent wel lid is. Ek maak nou groot omhaal daarvan, maar hierdie is sommer ‘n vrot resensie. Twee verhale word uitgesonder vir kritiek sonder dat gesê word wie die skrywers daarvan is. Met verwysing na die foto op die omslag van die bundel, verwys die resensent na twee van die bydraers, Johrné van Huyssteen en Christo Davids se verhale, sonder om ‘n kritiese reaksie daarop te bied. As bekendes se bydraes nie sodanige reaksie uitlok nie, wat moet ‘n skrywer dan nog meer doen om ‘n resensent se mening uit te lok?