Jy blaai in die argief vir 2013 Januarie.

Profile photo of crito

by crito

Kinderboeke

Januarie 28, 2013 in Uncategorized

Vandeesweek is Boeke24 in sy geheel toegespits op boeke vir kinders.

Ek het al ‘n paar jaar gelede geskryf oor die liederlike manier waarop Afrikaanse boekeblaaie vasklou aan die idee dat fiksie en nie-fiksie vir volwassenes al is wat geresenseer moet word. Kinder- en jeugboeke behoort meer ruimte te kry, asook kookboeke en publikasies vir die vele bedrywe wat in en om die huis geskied.

Daarom sal ek volstaan met my drie hoera’s vir hierdie poging. Wat veral belangrik is, is dat die skrywers van die resensies besef het niemand anders as mense met kinders sal daarin belang stel nie, en daarom is die resensies ook só geskryf dat die lesers ‘n idee sal kry van die boeke se uitwerking op die lesers in hul teikengroep.

Knap gedaan!

Profile photo of crito

by crito

Skraal begin vir 2013

Januarie 21, 2013 in Uncategorized

Van vakansies weet mens een ding seker. Hulle kom tot ‘n einde. Ek het my stapel koerante van die afgelope weke deurgegaan, en is ontsteld om te sien dat daar nie werklik veel gebeur het nie. En steeds nie gebeur nie. Die opbrengs vanoggend op Boeke24 is vir nigiemand wat nie in Lance Armstrong belangstel nie, baie skraal:

 

Die verhaal van Racheltjie de Beer, deur Brett Michael Innes. Resensie: Gert van der Westhuizen (Boeke24).
Ek wil Van der Westhuizen graag glo, maar wonder hoe sekuur ‘n resensent is wat ‘n roman meet aan die skrywer se (vermeende?) goeie bedoelings, en sê dat die karakters in ‘n verhaal waarvan ons die uiteinde ken, “redelik voorspelbaar” is.

In die afwesigheid van sin, deur Susan Smith. Resensie: Charl-Pierre Naudé (Boeke24)
Debuutbundels dwing die kritikus om sonder vooroordeel of enige verwagting na die versameling verse te kyk. Charl-Pierre Naudé toon die nodige respek aan sowel digter as gedigte. Hy dui die tekortkominge aan en gee ‘n aanduiding van hoe Smith in die vervolg gemeet sal word. Wat ek mis in die resensie is ‘n aanduiding van òf geesdrif òf teleurstelling. Het niks hom geraak nie?

Getuie, deur Christine Barkhuizen Le Roux. Resensie: Riaan Grobler (Boeke24)
Getuie het duidelik vir Riaan Grobler hard aan die dink gesit oor die godsdienstige tematiek. Wanneer godsdienstige fundamentalisme die lewens van mense verwring en vernietig, reageer mens skerp. Grobler spreek hom nie uit oor dinge soos karakterisering, integrering van materiaal en dies meer uit nie. Moet mens aanneem hy voel positief daaroor? Seker, ja. Omdat Barkhuizen Le Roux se vorige publikasies ‘n wisselende ontvangs gehad het by resensente, sou dit ‘n goeie idee gewees het om aan te dui hoe hy die verbetering/ontwikkeling in haar skryfwerk sien. As die resensent só positief voel oor ‘n roman soos hy hier doen, moet hy ook die skryfwerk takseer.