Jy blaai in die argief vir 2012 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Ongemak

Desember 4, 2012 in Uncategorized

Nemesis, deur Riana Mouton. Resensent: Ilse Salzwedel. (Rapport Boeke)

Salzwedel laat my ongemaklik voel met hierdie resensie. Mens begryp haar geesdrif, maar wanneer sy jou begin peper met retoriese vrae, besef jy haar strategie is dié van die onkritiese pryssanger. As sy net een van die gevalle van pedofilie beskryf het, en die kind se dilemma, sou haar resensie veel meer trefkrag gehad het as wat dit nou het.

 

Kuier in ‘n plaaskombuis, deur Nico Moolman. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)

Hoekom dit nodig is dat herdrukke geresenseer word, weet ek nie. Die blote feit dat hierdie boek al ‘n sesde keer herdruk is, is genoeg van ‘n aanbeveling. Maar … dit is ‘n opperste plesesier om Herman Lategan daaroor te sien skryf. Mens kan sommer sien hoe geniet hy dit, hoe verlang hy saam met die oom na die dinge wat nie meer daar is nie.

 

Loorita se Griekse voorskoot, deur Dirk en Reinet Nagtegaal. Resensent: Terésa Coetzee. (Rapport Boeke)

‘n Onderhoud is geen resensie nie.

 

Katryn, deur Jan Huisamen. Resensent: JB Roux. (Rapport Boeke)

Netjies. Ek hou van die manier waarop Roux uitkom met die waarneming dat die taalgebruik dié roman se sterkpunt is.

 

Die vloek, deur Johan Kruger. Resensent: JB Roux. (Rapport Boeke)

Roux lê sy vinger hier op ‘n groot kwessie. Hy verwys na Riana Scheepers se gloeiende aanprysing van dié roman op die omslag: “groots, ambisieus, geskakeerd en aangrypend”. Roux gaan deeglik in op die saak en bevind dat dit amper só is. Amper groots, amper aangrypend, en dies meer.  En dan maak hy die fout om te sê, erg verskonend, dat dit ‘n boek is wat verdien om gekoop en gelees te word ondanks Roux se besware. ‘n Goeie resensie verdien nie om só ondergrawe te word nie.

 

Spys en drank, deur Renata Coetzee. Resensent: Peter Veldsman. (Rapport Boeke)

Dis interessant om te sien hoe moeiteloos Veldsman ‘n resensie skryf wat gesag uitstraal. Dis merkwaardig hoeveel inligting hy ingeprop kry, en hoe vinnig hy dan die boek wat hy bespreek takseer. Sonder diep, indringende bespreking van enige spesifieke resepte, maar wanneer hy uiteindelik vir jou sê hierdie is vir hom die boek van die jaar, glo jy hom heeltemal.

 

Katalekte, deur Breyten Breytenbach. Resensent: Louise Viljoen. (Boeke24).

Skynbaar het die nuwe redakteur van Boeke24 heeltemal vergeet van die bekgevegte rondom die samevoeging van die boekeblaaie van Media24 se oggendkoerante. Een van die oplossings wat daaruit gespruit het, was dat meer as een resensie van belangrike publikasies geplaas is. Hierdie bundel sou dit sekerlik verdien het – en daarom is dit die gode sy gedank gelukkig dat Louise Viljoen die bundel resenseer. Viljoen se stem het die afgelope paar jaar stiller geword, maar wanneer sy ‘n resensie skryf, doen sy dit onverbeterlik. En steeds só beleef as kan kom. Dit slotsom wat sy my laat maak, is dat dit ‘n goeie bundel is, maar nie heeltemal op die vlak van sy onmiddelike voorganger nie.

 

Bygelowe en waar hulle vandaan kom, deur Anton Prinsloo. Resensent: Constant Steyn. (Boeke24)

Wat my laat wonder: Is daar enige bygelowe oor resensies? Constant Steyn, soos dit ‘n resensent betaam, verklap net enkele geheime, en resensies is nie een daarvan nie. Steyn gaan dit regkry om my die boek te laat koop.

 

Kapabel, deur Steve Hofmeyr. Resensent: Joan Hambidge. (Boeke24)

Mense wat dit gehoor het, sê Steve Hofmeyr se optrede jare gelede op Radio Kansel het bewys dat hy ‘n buitengewoon skrander mens is. ‘n Super-intellektueel. As mens al die punte van Hambidge se betoog byeenbring, bevestig sy dit. En wat ‘n welkome teken gee sy verder: Hofmeyr is ‘n knap verteller. En dít is die soort mense wat Afrikaans nou nodig het.