Jy blaai in die argief vir 2012 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Kritiese reaksie

Oktober 30, 2012 in Uncategorized

So kry ons Afrikaans …, deur Christo van Rensburg. Resensent: Jacques van der Elst. (Rapport Boeke)

Van der Elst kry twee dinge reg: Hy maak mens nuuskierig genoeg om die boek te lees; en hy maak jou kwaad genoeg om te wens iemand anders het die boek geresenseer. ‘n Boek soos hierdie is groot nuus, en die primêre taak van ‘n resensent is om aan te dui wat dit nuut bring, en hoe die inhoud verskil van vorige beskouings oor die onderwerp. Van der Elst doen dit nie. Kom naby daaraan (“Met dié publikasie word wegbeweeg van ‘n taalgeskiedenis wat die Afrikaanse gemeenskap verdeel het”), maar dan raak hy die kluts heeltemal kwyt. ‘n Deeglike resensent herhaal nie die skrywer se argumente nie, hy reageer krities, selfs wanneer hy positief is oor die nuwe insigte wat ‘n boek bring.

 

Soom, deur Hennie van Coller. Resensent: Helize van Vuuren. (Boeke24)

‘n Regte agteros-resensie. Maar dis ook die beste resensie van hierdie bundel tot dusver. Van Vuuren se kundigheid getuig uit die breë oorsig en kontekstualisering; sy wys ook op slordige teksversorging. Wie vinger wys … Haar opmerking dat die digter ‘n bydrae maak tot die genre “laat werk” van ouer digters is self swak geformuleer.

 

Dis nou ek, deur Carel Boshoff. Resensent: Reint Dykema. (Boeke24)

Het Reint Dykema geen mening oor hierdie boek nie? Loshande die swakste resensie wat nog deur Boeke24 geplaas is.

 

Profile photo of crito

by crito

Goeie maniere

Oktober 23, 2012 in Uncategorized

Arendsnes, deur Dirk Jordaan. Resensent: Nico Geldenhuys (Boeke24)

Eersteklas, dié resensie! Die roman wentel om ‘n etiese vraagstuk en die resensent sê jou dadelik wat dit is en hoe dit uitkring in die verhaal in. Hy beskryf die verhaal in breë trekke, en plaas die roman in die groter konteks van Afrikaanse skrywers. En hy het goeie maniere ook. Hy sê vir ons die twee hoofkarakters is nie slim genoeg om die etiese dilemma waaroor dit gaan, in woorde om te sit nie – met die implikasie, uiteraard, dat die skrywer wel is en die leser nog meer. Hou daarvan! Skryfstyl goed, al rafel die laaste paragrawe uit om te lyk asof dit nagedagtes was.

 

Arendsnes, deur Dirk Jordaan. Resensent: Riaan Grobler (Boeke24)

Seker maar orraait, hierdie ene. Ek meen, mens volg wat hy sê en alles en dit is baie sinvol. ‘n Nuwe invalshoek in ‘n resepmatige genre, nè. Nou hoekom sal ‘n taalpraktisyn hom dan van ‘n sin soos die volgende bedien: “Dit wil voorkom asof die slagoffers tereggestel is en sy probeer agter die kap van die byl kom.” Ander clichématige woordkeuses (“skarminkel”, “skobbejakke”, “sluwe”) kan hom seker verskoon word, dit roer die gedagtes. Dan tob mens ‘n bietjie oor die nuwe invalshoek, jy onthou van Chris Karsten se vroulike speurder, jy wonder hoekom Grobler dink Konsalik is in die tagtigs gelees en nie in die sestigs en sewentigs toe sy boeke in die winkels was nie … Alles té amper, maar die resensie is seker orraait.

 

Anderkant duskant, deur Pienkes du Plessis. Resensent: Erika de Beer (Boeke24)

Mens moet eintlik vir Erika de Beer dankie sê. Dis nie maklik om goeie negatiewe resensies te skryf nie, en sy doen dit wel. Sonder opsmuk, sonder neerbuiging, sonder fiemies. Selfs die skrywer van die boek sal ‘n resensie soos hierdie kan waardeer.

 

Skaduwee, deur Carel van der Merwe. Resensent: Melt Myburgh (Boeke24)

Wanneer ‘n digter ‘n resensie skryf, verklap die “uitpak” van paragrawe dikwels sy woordnering. Myburgh se resensie is bedrieglik eenvoudig. Hy neem alles in ag waarna ‘n mens by ‘n ‘n roman soos hierdie behoort te kyk, en evalueer elke moontlike aspek. Hoofsaaklik positief. Dan kom: “Literêre snobs sal egter gepla word deur geykte uitdrukkings soos trane wat ‘biggel’ en foute soos ‘stadium’ pleks van ‘stadion’. ” Selfs twee baie positiewe slotsinne daarna kan nie die indruk uitwis dat die resensent die grondseil opgelig het sodat ons die dooie gras daaronder kon sien nie. Baie knap. En vir die skrywer is dit ook konstruktief. Slyp die woorde …

 

Profile photo of crito

by crito

Vakuumverpak

Oktober 16, 2012 in Sonder kategorie

A Spook’s Progress – deur Maritz Spaarwater. Resensie: Danie Marais (By)

Boekeblad-redakteurs wat resensies met onderhoude verwar, gaan lees Marais se aangrypende onderhoud met skrywer Spaarwater. Só maak mens. In die visier: mens én boek. Boeiend aangebied. Een opmerking om te onthou: “… mense wat van hul vleis vakuumverpak hou, [vergeet] graag die slagpale.” Daar word kopstukke geredeneer tussen Marais en Spaarwater, algaande word die boek se temas uitgelê. Sonder drama vermeld Marais ook dat die man waarmee hy gesels, sterwend is. En knoop dit vas aan een van Spaarwater se tematiese lyne in die boek. ‘n Top-poging deur Marais. (Ja, ek weet dis ‘n Engelse boek. Noem dit maar ‘n slegte gewoonte wat ek aangeleer het, hier met die nuwe lente.)

Die neus, deur Deborah Steinmair. Resensie: Elizabeth de Villiers. (Rapport Boeke)

Woes uiteenlopend, al die reaksies op Die neus. Hierdie ene sê sy het nie eintlik woorde om te beskryf hoe sy gevoel het oor die roman nie. Maar dan gebruik sy tog 663 woorde om die roman te prys en uiteindelik te sê mens moet dit nie lees nie, jy moet dit ervaar. Nou ja. Dit werk – maar dis ‘n gevaarlike strategie. Mense sonder woorde kan maklik beskou word met mense sonder begrip.

Die blou van onthou, deur Marita van der Vyver. Resensie: Gerda Taljaard (Boeke24).

Baie deeglike resensie, op die oog af. Taljaard vou die boek vir mens oop, en as ou liefhebber van Van der Vyver se skryfwerk is dit al wat ek nodig het. Een saak bly egter in die lug hang: Hoekom gebruik Van der Vyver die naam Colette?

Die blou van onthou, deur Marita van der Vyver. Resensie: Louise Viljoen (Boeke24).

Meer krities, met ‘n sterk vakkundige invalshoek. Viljoen lê haar vinger op ‘n ou probleem (patroonmatigheid) by Van der Vyver. Maar daar is redding. As skrywer sorg haar bedrewenheid dat sy die patroonmatigheid te bowe kom en ‘n verhaal skryf wat lesers emosioneel sal betrek. Ook sy ignoreer die naam Colette.

Stigmata, deur Tom Gouws. Resensie: Karen de Wet (Boeke24).

Netjies, baie netjies. Ek lees resensies oor digbundels baie versigtig. De Wet gee alle inligting wat mens nodig het, sou jy ‘n liefhebber van Afrikaanse digkuns wees. Jy kan die bundel gerus koop, maar wees versigtig want die man gee homself oor aan overdaad. Sy identifiseer die belangrikste gedigte – nuttig.

Fyn porselein, deur Helena Hugo. Resensie: Bibi Burger (LitNet).

‘n Resensie wat moontlik net so leesbaar soos die boek is waaroor dit handel. Dit lees dalk té maklik. Daarom spring woorde soos “indrukwekkend” in die oë nadat jy verneem het dat daar onoortuigende integrasie van herinneringe is, en dat alles vir die leser uitgespel word. Wat sy uiteindelik sê, is dat die roman “moeitelose vermaak” bied vir diegene wat nie omgee dat alles op ‘n skinkbord vir hulle aangebied word nie.

Profile photo of crito

by crito

‘n Nuwe lente

Oktober 9, 2012 in Sonder kategorie

Daardie storie van die nuwe lente? Hier’s dit.

JM Coetzee: ‘n geskryfde lewe, deur JC Kannemeyer. Resensent: Joan Hambidge. (Rapport Boeke)

Vergeet maar die gerug dat Joan Hambidge soms geneig is om die man te speel en nie die bal nie. Dis twak. ‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede vertel John Kannemeyer aan ‘n paar van ons hoe hy Joan Hambidge tot orde geroep het oor ‘n resensie wat hom te na gekom het. As sy ooit wraakgierig was, het sy nou die kans gehad. Sy neem dit nie. Haar resensie is die eerste oor die literêre biografie waarop ons almal nou al lank wag. En dit is eersteklas. Sy probeer nie té diep delf nie; gee eerder ‘n oorsig oor wat Kannemeyer vermag het. Deeglik, die lees werd.

Onvertelde stories van Afrikaans, deur Ilse Salzwedel. Resensent: Annemarié van Niekerk. (Rapport Boeke)

Dis nuut! Die resensent erken sy is onkundig oor die dinge waaroor die skrywer skryf. Afrikaans in uithoeke van die land, ‘n Afrikaans waarvan min weet. Van Niekerk het ‘n ander probleem ook – sy hou blykbaar nie daarvan dat daar politieke onderrokke uithang in boeke nie. Hier verkwalik sy Salzwedel vir die lansie wat sy vir Solidariteit breek. Sou sy dieselfde gevoel het as dit na die ander kant van die sprektrum was?

Die vrou in die vuur, deur Riana Scheepers. Onderhoud: Solette Stander. (Rapport Boeke)

Interessant dat die redakteur van Rapport Boeke hierdie bundel nie laat resenseer nie. In die plek daarvan ‘n onderhoud. Vir my sê dit die redakteur ag die skrywer interessanter as die boek. En verduidelik asb vir my hoe die opskrif, “Kent gij dat volk?”, op die onderhoud met Scheepers van toepassing is. Joernalistieke slordigheid. Komaan, trek op jul sokkies, Rapport!

Kry my by die gewone plek aguur, deur Loftus Marais. Resensie: Neil Cochrane. (Rapport Boeke)

Hy was lank stil, Neil Cochrane. Maar hy’s terug. Raak woes slaags met die bundel. Anders as in sy resensies ‘n paar jaar gelede is daar nou ook aanduidngs dat Cochrane al hoe meer kieskeurig word in sy formulerings. “Daar is sprake van ‘n aantal verrassings en vernuwende aspekte” sê Cochrane. Dit is nie dieselfde as “Daar is ‘n aantal verrassings en vernuwende aspekte” nie. Netjies.

Flitse, deur Clinton V. du Plessis. Onderhoud: Steyn du Toit. (Rapport Boeke)

Weer die vraag: Ag die redakteur van Rapport Boeke hierdie digter interessanter as sy bundel? Skynbaar die onderhoudvoerder ook. Sku om aan te haal uit Flitse. Liaseer onder “onsuksesvolle onderhoud”. Niks hier maak my nuuskierig oor Du Plessis se verse nie.

Soom, deur Hennie van Coller. Resensent: Hans Pienaar. (Rapport Boeke)

Liewer laat as nooit. Drie maande ná Van Coller met Gunther Pakendorf slaags was oor ‘n resensie van hierdie bundel op LitNet, kom Hans Pienaar se resensie in Rapport aan. Ek neem aan Pienaar het Van Coller se skitterende repliek op Pakendorf gelees. Sy resensie is meer waarderend en boeiend aangepak, al gee hy op ‘n plek toe dat daar ‘n “paar eienaardighede” is (sonder om te sê wat dit is).

Vaarwel, my effens bevlekte held, deur Johann de Lange. Resensent: Nini Bennett. (Rapport Boeke)

Positiewe, oorkoepelende resensie. Niks daarmee fout te vind nie. Maar wanneer gaan daar ‘n resensent na vore kom wat iets werkliks oorspronkliks oor Johann de Lange se digterskap sê? Byvoorbeeld: Bennett verwys na die intertekstuele gesprekke met ander digters. Hierdie resensie kon soveel beter – en langer – gewees het as sy gewoon deeglik op hierdie punt ingegaan het. Die res van haar resensie is nie ongeldig nie, maar enige resensent wat sy sout werd is, kon dit só uiteengesit het. Hoekom nie ‘n slag die uitdaging aanvaar en skryf oor iets in die bundel wat deurlopend en wesentlik tot die geheel is nie?

Evita se bossie sikelela, deur Evita Bezuidenhout. Resensent: Marlene Malan. (Rapport Boeke)

Beloftes maak skuld: “Rapport Boeke plaas later nog van die kookboeke wat op Malan se tafel beland het.” Voorstel: As een hele uitgawe van Rapport Boeke oorgegee kan word aan digkuns (of amper heeltemal), hoekom nie die volgende uitgawe afstaan aan kookboeke met Malan as begeleier nie?

Die neus, deur Deborah Steinmair. Resensent: Dineke Volschenk. (Boeke24)

Steinmair moet pasop dat die ha-ha nie la-la word nie, meen Volschenk. Tog jammer dat só ‘n snaakse boek uiteindelik só ‘n vreemde resensie afgee. Sy ryg die lof in (“malse, vermaaklike, onderhoudende, boeiende en hoogs bevredigende leeservaring”) maar al wat by mens registreer, is “tog behoort Steinmair versigtig wees om nie te laf te raak nie”.

Eilande en enklaves, deur André Pretorius. Resensent: JP Smuts. (Boeke24)

Sy resensiestyl is dadelik herkenbaar, en sy deeglikheid bo verdenking. Die ideale resensent vir André Pretorius se versameling reissketse. Joernalistiek-studente: Só word dit gedoen.

Om die Nguni-vure, deur Myra Scheepers. Resensent: Herman Toerien. (Boeke24)

Wat help dit Toerien vertel vir ons Myra is Riana se ma, dat sy op 80 debuteer, en hy gee ons nie ‘n gevoel van hoe ’n soort skryfster sy is nie. In plaas van aan te karring oor hoe outentiek die vertellings is (hy kon dit in een paragraaf afgehandel het) kon hy vir ons ‘n proeseltjie gegee het van Myra Scheepers se skryfstyl. Mens wil mos weet of die ma die bron van die dogter se talent is. Resensente is ook joernaliste, en moet ‘n nuuswaardigheid kan raaksien.

Profile photo of crito

by crito

Niks voorlopigs nie

Oktober 2, 2012 in Sonder kategorie

Wonderlik! Die naweek was vir my ‘n dwaal – ek het die lees van Ingrid Winterbach se briljante Die aanspraak van lewende wesens klaargemaak terwyl die res van die gesin hul oorgegee het aan rugbybesetenheid – en Maandagoggend wag twee resensie van dié boek op Boeke24.

 

Dis ‘n boek wat deel word van jou gedagtewêreld, wat ‘n emosionele merk by jou laat lank nadat jy dit neergesit het. En die twee resensies, deur Gerrit Olivier en Joan Hambidge, wil ek graag voorhou as die soort besprekings wat ‘n groot roman verdien. Hulle gee jou sleutels tot die inhoudelike rykdom van die werk, prikkel die oningewyde tot by die punt waar die koop en lees van die boek onvermydelik is, maar hulle laat baie ruimte vir die leser se eie aanklank en interpretasie.

 

Olivier, lid van ‘n ouer geslag resensente, se resensie is baie meer konvensioneel gestruktureer, maar meer “modern” as Hambidge s’n in die sin dat hy nie uiteindelik sy resensie afsluit met ‘n evaluerende samevatting nie. Daar is ‘n samevatting, maar dis op die inhoud ingestel.

 

Hambidge se resensie neem weer die vorm aan van ‘n groot aantal aforistiese paragrawe wat elk ‘n indruk oor aspekte van die roman verwoord. Mens kry by haar ‘n omvattender beeld van die kontekstuele omgewing waarin die roman geplaas is, asook ‘n evaluerende samevatting. Gelukkig stem ek met haar saam dat dit ‘n briljante roman is!

 

Wat vir my as leser van die boek baie beteken in Olivier se resensie, is sy vergelyking van Winterbach se skryfstrategie met die werksmetode van ‘n skilder. Dit is baie soos die literêre meting waaraan hy die boek onderwerp.

 

Ofskoon hy nie ‘n slotoordeel wil uitspreek oor die literêre gehalte van die werk nie, gee hy baie inligting oor die kenmerke en sterkpunte van die roman, sodat die skrander leser uiteindelik nie nodig het om ‘n evaluerende samevatting te kry nie. Hy sê gereeld by implikasie dat dit ‘n baie goeie roman is, of dat aspekte daarvan baie bevredigend hanteer is, en analiseer die roman indringend en deeglik.

 

Hambidge se gebruik van die aforistiese paragraaf vind ek ook baie nuttig. Sy sien baie dinge in ‘n groter konteks raak wat die gewone leser nie altyd onmiddelik plaas nie. Ek praat uit ondervinding.

 

Dan kry ‘n mens ook hieruit ‘n idee van die verbluffende omvang van Winterbach se werk – elke waarneming van Hambidge sou kon lei tot ‘n meer akademiese ondersoek van die roman uit die gegewe hoek.

 

Dit is ook goed dat sy aandui welke emosionele uitwerking die roman op die leser daarvan het. Olivier se afsluiting is minder emosioneel, maar open tog ook die resensieleser se oë vir die deernis wat uit die roman straal.

 

In die ou dae sou mens seker na resensies soos hierdie verwys het as “voorlopige oordele”. Maar dit is nie die ou dae nie, en as mens hulle behoorlik lees, dan besef jy dat daar absoluut niks voorlopigs is aan die indrukke wat Olivier en Hambidge van Die aanspraak van lewende wesens gevorm het nie.

 

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Soektog-sonder-eindbestemming-20120930

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Stilte-is-die-grootste-ellende-20120930