by

Om saam te praat met die resensent

September 18, 2012 in Sonder kategorie

Chris Karsten het verlede jaar twee ATKV-pryse ontvang vir Abel se lot, die voorloper van Die afreis van Abel Lotz. En sy manuskrip vir ’n Man van min belang is in Maart as naaswenner aangewys in NB se Groot Romanwedstryd. Aldus Boeke24.

 

Waar plaas mens Karsten? Letterkunde of ontspanningslektuur?

 

Die redakteur van Boeke24 het oënskynlik met hierdie probleem geworstel toe sy resensente gesoek het vir Die afreis van Abel Lotz. Haar keuse het toe geval op Leon van Nierop, ‘n spanningskrywer, en Cilliers van den Berg, ‘n literator van die Universiteit van die Vrystaat.

 

Van Nierop is ‘n ou hand, Van den Berg een van die nuwe geslag kritici, en iemand oor wie se vermoë om bondig en gekonsentreerd te skryf, ek groot waardering het.

 

Van die twee is dit Van Nierop wat uiteindelik die mees afgeronde werk lewer. Moontlik moet mens dit toeskryf aan die feit dat hy weet wat dit verg om ‘n roman soos Die afreis van Abel Lotz te skryf. Of dit geregverdig is om dit te vergelyk met die TV-reeks Homeland, weet ek nie. Het dit nie gesien nie.

 

Maar as iemand wat die boek pas gelees het, weet ek dat Van Nierop in die kol is wanneer hy praat van die roman se “makabere betowering”, of wanneer hy klem daarop lê dat ‘n mens die roman baie noukeurig moet lees om te weet presies wat uiteindelik gebeur.

 

Sy eindoordeel is dat Die afreis van Abel Lotz ‘n briljante leeservaring bied en die Afrikaanse misdaadroman vernuwe.

 

Laasgenoemde is sekerlik die hoogste lof wat hy ‘n werk soos hierdie kan toeswaai.

 

Van den Berg se reaksie is effens meer gedemp. Daar is dinge waaroor ek met hom saamstem (die gebrek aan dramatiek wanneer Abel Lotz en Ella Neser mekaar uiteindelik weer ontmoet) maar in die geheel is dit vir my duidelik dat ek die boek meer as hy geniet het en derhalwe hinder dit my dat hy so moeilik toegee dat die boek spannend is, en voel ek dat hy dit totaal mis het wanneer hy sê daar is potensiële diepgang in die gegewe wat nie ontgin is nie.

 

Goed. Van den Berg se resensie is nie negatief jeens die boek nie. Wat ek wel kan vra, ietwat sleepvoetend, is of my eie reaksie op Van den Berg se resensie geregverdig kan word. Kan ek die feit dat ek toevallig die boek onder bespreking gelees het en twee dawerende menings verwag het, en toe net een en ‘n half gekry het, hoegenaamd bysleep wanneer die meriete van die twee resensies bepaal word?

 

Ek vermoed dat gevalle soos hierdie, waar die koerantleser saampraat met die resensent, een van die toevallige plesiere is wat mens uit die lees van koerantresensies kan put. Meermale is hulle jou barometer, is die resensent die persoon wat uit sy keuse van woorde, uit die soort dinge wat hy onder sy hofies pro en contra lys vir jou as leser begin motiveer om die boek te lees, of jou afskrik om dit te doen.

 

In hierdie geval meen ek sal Leon van Nierop heelwat lesers vir die roman wen, terwyl Van den Berg hulle nie in hordes sal afskrik nie.

 

Trouens, soos meermale in sake rakende literatuur (van enige aard) gebeur, sal vorige ondervinding van die akuraatheid van Van den Berg se menings mens noop om die roman te lees, en ‘n soort sekondêre diskoers van jou eie te begin oor die kritiese punte wat Van den Berg gemaak het.

 

En as mens laasgenoemde aanvaar, dan weet jy hoekom dit vir jou belangrik is om in ag te neem dat die skrywer van Die afreis van Abel Lotz tweede in daardie kompetisie gekom het, en nie eerste nie. Van den Berg se literêre aanvoeling is waarskynlik tien maal meer sekuur as myne. Hy sien die gebreke in terwyl my kop nog draai van die kringe wat die roman loop.

 

Maar ek en Leon van Nierop hou van dieselfde soort ontspanning.

 

 

 

 

 

 

 

6 antwoorde op Om saam te praat met die resensent

  1. Klink na iets wat die moeite werd is om te lees

  2. hoop jy sal ook pertinent in WordPress jou blog voortsit … dankie.

  3. Chris Karsten het in 2011 twee ATKV-pryse ontvang vir “Abel se ontwaking” en nié vir “Abel se lot” soos in die Boeke 24-resensie beweer word nie.

  4. Ek het die eerste twee Abel boeke gelees, eintlik verslind. Afreis van Abel wag op my boekrak.

    Leon van Nierop se resensie is stellig nader aan die kol. Wat die volgende betref: “Daar is dinge waaroor ek met hom saamstem (die gebrek aan dramatiek wanneer Abel Lotz en Ella Neser mekaar uiteindelik weer ontmoet)” kan ek net sê dat ek nie dink dat ‘n mens met ‘n karakter soos sou kon verwag nie. Dit is juis die kalm, koue manier van sy optredes wat hierdie boeke vir my so besonders gemaak het. Die beskrywings van sy moorde en hoe hy velle ge-oes het, getuig daarvan.

  5. Ek lees nou sommer die 3de Abel Lotz boek – my 1ste kennismaking. Ek voel aan die negatiewe kant. Daar is soveel woorde wat soos swak vertalings klink. Daar is stukke en ritse feite wat met die gang van die storie niks te doen het nie en wat ook klink of dit netso uit die vakliteratuur of iemand anders se fiksie oorgeskrywe is . Stukke oor Pashtuns en Pakistan ( dit is hinderlik) Toe iemand my ewe entoesiaties van h/d boeke vertel het, was my 1ste reaksie: ‘Hannibal Lecter in Afrikaans’ niks oorspronklik nie, dus. Op Engels is daar baie sulke boek en jy kry die idee dat jy ‘n aangepaste en opgesmukte boek kry waarvan min oorspronklik is.
    Hinderlik is woorde soos infidelle, drone, magnitude, bloesems en ‘tatoe’ wat eintlik die vertaling is vir ‘military tattoo’ Dit gee my die gevoel dat dit vertaalwerk is en nie oorspronklike skryfwerk nie.
    Speurder wat harp speel, dis ook nou dik vir ‘n daalder.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.