Jy blaai in die argief vir 2012 September.

Profile photo of crito

by crito

Kortliks

September 25, 2012 in Sonder kategorie

‘n Paar kort gedagtes vandeesweek:

Amper elders, deur Louis Esterhuizen, geresenseeer deur Andries Visage (Boeke24)

Visagie meen hierdie digbundel is goed, maar nie so goed soos sy onmiddelike voorganger nie. Die resensie reflekteer dit: geesdrif sonder juigkrete. Die vraag is vir my dan of dit wel nodig is dat hy die bundel uiteensit soos hy wel doen. Sou dit nie ‘n interessanter resensie gewees het as hy meer aangehaal het uit die voortreflike gedigte waarna hy verwys nie?

            Uiteraard is Visagie as akademikus bestem om die deeglike benadering te volg wat hy gevolg het. Dit is net dat ek die een gedig wat hy aanhaal, só gaaf vind dat ek nog ‘n paar voorsmake sou waardeer het voordat ek boekwinkel toe beweeg.

Tik, deur Piet Steyn, geresenseer deur Jaco Fouché (Boeke24).

Die resensent kondig aan dis sy nooiensvaart met Piet Steyn se skryfwerk. Hy takseer Steyn se skryfwerk bietjie vir bietjie. Vergelyk hom hier met Henning Mankell, roep later Stephen King by. Hy sê hy is aangenaam verras deur Steyn, maar dit is vir my opvallend dat die aangename verrassing van sy kennismaking met Steyn nie gereflekteer word in die toon van die resensie nie.

Tik, deur Piet Steyn, geresenseer deur Tom Gouws(Boeke24)

“In Suid-Afrika is tik deesdae die drug of choice,” sê Tom Gouws ter inleiding. O ja? By sportlui, politici, sakemanne en celebrities is dit kokaïen. Tik is vir skoolkinders en minder vermoëndes.

            Wanneer ‘n resensie met só ‘n onbeholpe veralgemening wegspring, vrees ‘n mens vir die ergste. Gelukkig is Gouws daarna meer oorwoë. Wanneer hy by die kern van sy kritiek uitkom – en hy spreek hom baie direk en krities oor die roman uit – begin ek ‘n vermoede ontwikkel oor die dinge wat Jaco Fouché nie uitgespel het nie.

            Nóg ‘n voordeel van die tweevuis-resensies: Sáám kom mens by ‘n geheelbeeld uit.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Duiwe-reis-saam-in-sjarmante-stadspoesie-20120923

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Hardekwasboek-met-speurders-wat-jy-ken-20120923

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Laat-maar-loop-houding-maak-riller-futloos-20120923

Profile photo of crito

by crito

Om saam te praat met die resensent

September 18, 2012 in Sonder kategorie

Chris Karsten het verlede jaar twee ATKV-pryse ontvang vir Abel se lot, die voorloper van Die afreis van Abel Lotz. En sy manuskrip vir ’n Man van min belang is in Maart as naaswenner aangewys in NB se Groot Romanwedstryd. Aldus Boeke24.

 

Waar plaas mens Karsten? Letterkunde of ontspanningslektuur?

 

Die redakteur van Boeke24 het oënskynlik met hierdie probleem geworstel toe sy resensente gesoek het vir Die afreis van Abel Lotz. Haar keuse het toe geval op Leon van Nierop, ‘n spanningskrywer, en Cilliers van den Berg, ‘n literator van die Universiteit van die Vrystaat.

 

Van Nierop is ‘n ou hand, Van den Berg een van die nuwe geslag kritici, en iemand oor wie se vermoë om bondig en gekonsentreerd te skryf, ek groot waardering het.

 

Van die twee is dit Van Nierop wat uiteindelik die mees afgeronde werk lewer. Moontlik moet mens dit toeskryf aan die feit dat hy weet wat dit verg om ‘n roman soos Die afreis van Abel Lotz te skryf. Of dit geregverdig is om dit te vergelyk met die TV-reeks Homeland, weet ek nie. Het dit nie gesien nie.

 

Maar as iemand wat die boek pas gelees het, weet ek dat Van Nierop in die kol is wanneer hy praat van die roman se “makabere betowering”, of wanneer hy klem daarop lê dat ‘n mens die roman baie noukeurig moet lees om te weet presies wat uiteindelik gebeur.

 

Sy eindoordeel is dat Die afreis van Abel Lotz ‘n briljante leeservaring bied en die Afrikaanse misdaadroman vernuwe.

 

Laasgenoemde is sekerlik die hoogste lof wat hy ‘n werk soos hierdie kan toeswaai.

 

Van den Berg se reaksie is effens meer gedemp. Daar is dinge waaroor ek met hom saamstem (die gebrek aan dramatiek wanneer Abel Lotz en Ella Neser mekaar uiteindelik weer ontmoet) maar in die geheel is dit vir my duidelik dat ek die boek meer as hy geniet het en derhalwe hinder dit my dat hy so moeilik toegee dat die boek spannend is, en voel ek dat hy dit totaal mis het wanneer hy sê daar is potensiële diepgang in die gegewe wat nie ontgin is nie.

 

Goed. Van den Berg se resensie is nie negatief jeens die boek nie. Wat ek wel kan vra, ietwat sleepvoetend, is of my eie reaksie op Van den Berg se resensie geregverdig kan word. Kan ek die feit dat ek toevallig die boek onder bespreking gelees het en twee dawerende menings verwag het, en toe net een en ‘n half gekry het, hoegenaamd bysleep wanneer die meriete van die twee resensies bepaal word?

 

Ek vermoed dat gevalle soos hierdie, waar die koerantleser saampraat met die resensent, een van die toevallige plesiere is wat mens uit die lees van koerantresensies kan put. Meermale is hulle jou barometer, is die resensent die persoon wat uit sy keuse van woorde, uit die soort dinge wat hy onder sy hofies pro en contra lys vir jou as leser begin motiveer om die boek te lees, of jou afskrik om dit te doen.

 

In hierdie geval meen ek sal Leon van Nierop heelwat lesers vir die roman wen, terwyl Van den Berg hulle nie in hordes sal afskrik nie.

 

Trouens, soos meermale in sake rakende literatuur (van enige aard) gebeur, sal vorige ondervinding van die akuraatheid van Van den Berg se menings mens noop om die roman te lees, en ‘n soort sekondêre diskoers van jou eie te begin oor die kritiese punte wat Van den Berg gemaak het.

 

En as mens laasgenoemde aanvaar, dan weet jy hoekom dit vir jou belangrik is om in ag te neem dat die skrywer van Die afreis van Abel Lotz tweede in daardie kompetisie gekom het, en nie eerste nie. Van den Berg se literêre aanvoeling is waarskynlik tien maal meer sekuur as myne. Hy sien die gebreke in terwyl my kop nog draai van die kringe wat die roman loop.

 

Maar ek en Leon van Nierop hou van dieselfde soort ontspanning.

 

 

 

 

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Laaste woorde

September 4, 2012 in Sonder kategorie

Vir die werklike groot publikasies van die oomblik verwag mens gewoonlik een van die gereelde bydraers tot die boekeblaaie. Jakes Gerwel en Ena Jansen is onverwagse keuses as resensente vir André P. Brink se Philida (Boeke24). Albei lewer resensies wat uitstyg bo die problematiek wat rondom dié roman ontstaan het weens persepsies en wanopvattings rondom die toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs aan Brink.

 

Brink is in die verlede so dikwels stief behandel deur sy resensente dat ek gewonder het of daar enige kritici sou wees wat, gegee die agtergrond van sy ontstaan, die roman nie as deel van die literêre sondeval sou beskou nie.

 

Gerwel en Jansen se resensies is van die heel hoogste gehalte.

 

Jansen s’n as voorbeeld van hoe ‘n kritikus konsekwent die fokus op die literêre werk kan hou en haar oordeel nie laat besoedel deur dinge wat nie met die roman te make het nie. Gerwel s’n weer is ‘n juweel van ‘n resensie, ‘n beskouiing van Philida binne die lang ontwikkelingslyn van Brink se oeuvre, met een van die treffendste geformuleerde slotoordele wat ek in baie jare gelees het.

 

Jansen se aanknopingspunt is Brink se appropriasie van die slavin se verhaal asook, uiteraard, die historiese agtergrond van só ‘n verhaal, aangevul deur fabulasie. Sy vind dit in orde, gegee die inligting wat bekend is, en vandaar bou sy haar argumentasie oor dít wat hierdie roman oor die negetiende eeu en die vrystelling van slawe vir vandag se leser te sê het. Uit dié hoek gesien is Philida vir Jansen lofwaardig en noodsaaklik.

 

Vir diegene wat Brink se werk ken, teken sy die raakpunte met Brink se ander werke aan: Oomblik in die wind, Houd-den-bek en Bidspringkaan. Uiteindelik bring dit haar by daardie bekende etiket van jare gelede, “betrokke skrywer”, en die wyse waarop Brink Philida se verhaal vir vandag se leser relevant maak.

 

Gerwel sluit by Jansen aan met sy uitwysing van die konseptuele implikasies van vryheid en slawerny, aan die hand van Brink se formulerings. Gerwel se aanknopingspunte is die verhouding tussen wit base en bruin slawe en die perverse intimiteit wat daarmee gepaard gegaan het.

 

Dit voer hom na die tematiese onderbou (rondom die konsep vryheid) en die vrymaking van die slawe, wat hy tereg aandui as ‘n “duur gekoopte begin van die pad na daardie vryheid van binne.”

 

Wat Gerwel se resensie vir my daarna lig bo die vlak van ‘n baie goeie koerantresensie, nes Jansen s’n, is die manier waarop hy Philida in beskouiing neem as deel van Brink se groter kommunikasie met lesers. Dit is ‘n roman wat nie net raakpunte met ander van Brink se romans het nie, maar dit staan ook binne ‘n oeuvre met sekere baie spesifieke kenmerke, kenmerke eie aan Brink.

 

Daarmee neem hy die leser na daardie slot, vir my ‘n ongelooflik skrander manier om die totale debat oor en om hierdie roman in perspektief te plaas: “Dis veral ‘n kragtige herinnering aan die verlede waaruit ons kom, ‘n verlede wat soveel van vandag se patrone van sosiale wangedrag gekondisioneer – en selfs bepaal – het.”

 

Ek beskou hierdie twee resensies as van die belangrikste wat nog vanjaar verskyn het. Nie alleen oor hul bydrae tot die gesprek oor Philida nie, maar ook oor die manier waarop hulle in hul erns oor en respek vir die spesifieke publikasie bereid is om ‘n evaluasie te maak.

 

Vir die student in die resensiekunde lewer Gerwel die beste bewys van die waarde van ‘n sluitende evaluering met integriteit. Daardie sin alleen is ‘n bespreking werd!

 

***

 

Van slotte gepraat. Malan Steyn sê in sy resensie van die draaiboek van die fliek Die wonderwerker, deur Chris Barnard (Boeke24) dat dit op sigself ‘n boeiende leeservaring is. Die resensie self behandel die agtergrond en inhoud van die verhaal. Het hy maar ‘n bietjie uit die teks aangehaal. Hy moet ons oortuig dat ‘n draaiboek só ‘n leeservaring kan wees.

 

***

 

Rapport se boekebylaag vir September is iets besonders danksy, onder meer, Fanie Olivier se resensie van Petra Müller se digbundel om die gedagte van geel. Ek huiwer om in die oortrefende trap te praat, maar dit is ‘n skitterende resensie.

 

Digbundels is een van die moeilikste publikasies om te bespreek. Die inhoud is nie een verhaal nie, maar ‘n versplintering van verhale, van indrukke, van temas en vervlegting van gedagtestrome. Dit is moeilik om te hanteer omdat dit nodig is om baie aan te haal. Dit is ‘n amper onbegonne taak om te verrig as jy dit ordentlik wil doen sonder om literêre jargon in te span.

 

Tog slaag Olivier daarin om ‘n resensie te skryf wat mens omtrent net vir die plesier kan lees. Die rede daarvoor lê in die manier waarop hy jou ‘n insae gee van hoe een digter ‘n ander se werk lees. Hy sien dinge raak wat vir die gewone leser nie dadelik belangrik is nie; die patrone in die tipografiese aanbod, die gebruik van hoofletters in die begin van gedigte al dan nie, die verwagtinge wat herhalende patrone in die lees van ‘n digbundel skep en so meer.

 

Olivier se bespreking is omvattend, afgestem op die inhoudelike. Hy het die gawe om nooit hoogdrawend te klink nie, nie eens wanneer dit oor meer eteriese dinge gaan nie. Wanneer hy hom tot aanhalings wend, verwens jy hom die bondigheid daarvan. Jou nuuskierigheid is geprikkel, nie alleen deur die bundelwêreld wat so aanloklik lyk nie, maar ook die voorsmaak wat jy kry van die geheel.

 

Wanneer hy dan verklaar dat dit ‘n oorweldigende bundel is, glo jy hom.

 

Dit is jammer dat die Rapport-lesers wat die papier-uitgawe gekoop het, ‘n verkorte weergawe van die resensie gekry het. Die volledige weergawe is op die internet beskikbaar. En soos dit gaan, is waarskynlik die belangrikste deel van die resensie in die papier-weergawe uitgesny – daar waar Olivier dit het oor die leesbelewenis self, en die indrukke wat dit maak die verwagtinge wat dit skep deur die tipografiese aanbod.

 

***

 

Christell Stander bespreek (ook in Rapport se September-boekebylaag) Die aanspraak van lewende wesens, die nuwe roman deur Ingrid Winterbach.

 

Ek is onverhoeds betrap deur die papperige inleidingsparagraaf. Ek kon nie glo dat Christell Stander met ‘n vaal sin soos “Die afwagting op die verskyning van Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach is amper verby” open nie. Maar daarna kom Stander werklik op dreef.

 

Die toon van haar resensie is neutraal, maar teen die tyd dat sy verklaar dat hierdie nuwe werk ‘n “Groot Roman” is, weet jy presies hoekom. Jy weet ook hoe dit skakel met die res van haar oeuvre, en in watter mate en watter manier sy hierdie keer die grense van haar skrywerskap verskuif het. Stander het alles waarna mens behoort op te let by ‘n werk van Winterbach, geteleskopeer in ‘n kompakte resensie.

 

Ek kry wel die gevoel (wanneer sy sê dat sy die lees van die boek doelbewus vertraag het) dat daar dinge is wat sy opgemerk het waaroor sy heelwat sou kon skryf, maar wat sy nie vermeld het nie omdat sy nie die ruimte gehad het om dit behoorlik te doen nie. Ek mag verkeerd wees, maar Stander se resensie toon al die tekens van iemand wat noodgedwonge bondig moes skryf.

 

En dít kan sy goed doen. Haar opmerkings maak telkens ‘n sterk indruk omdat sy dit met soveel selfvertroue maak.

 

 

***

 

Heel interessant. Die vorige redakteur van Rapport Boeke, Rachelle Greeff, kom vorendag met ‘n eersteklas voorbeeld van ‘n swak geskrewe resensie in dieselfde boekbylaag in Rapport. Sy bespreek André P. Brink se Philida. Kelderverdieping teenoor Christelle Stander en Fanie Olivier se daktuin in dié wolkekraber van kritiek. En dan kom sy dit oor met haar stuk oor die een Suid-Afrikaanse roman wat vanjaar internasionaal hoog aangeskryf word.

 

Dit begin met ‘n interessante spel met die taalstyl van die roman. Daarna beweeg dit na historiese kontekstualisering. Dan probeer Greeff desperaat om te beweeg na die vlak van kritiese respons op die roman, net om te verdwaal in die rigting van die onsmaaklikhede rondom die toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs aan Brink. Uiteindelik is haar slotoordeel op die persoon van die skrywer gemik.

 

Dit is ‘n resensie wat nooit werklik op dreef kom nie. Die resensent laat dit nie toe om te ontwikkel nie – asof sy haarself gedurig in die rede val. Dit is flardes gedagtes, opgedis sonder inagneming van die behoefte van die koerantlesers om te weet of dit ‘n boek is wat hulle sal wil lees.

 

Die aanvaarbaarste deel van die resensie is die eerste, en later telkens die dele waarin sy die roman se taalspel weerspieël. Maar sy is bang om polities aanstootlik te wees, wat verklaar hoekom sy na die gebruik van Korhaan gaan wegkruip agter (sic). Luister sy nooit Vrydagoggende om 6:55 na RSG nie?

 

Greeff verspeel talle kanse. Wat sy sê oor Brink en sy roman is nie vry te spreek van vooroordeel nie. Sy het Philida nie as roman geresenseer nie. Veral nie as historiese roman wat sig op ‘n baie spesifieke manier tot die moderne leser rig nie. Sy het nie die verband tussen Philida en Houd-den-bek raakgesien nie, of die raakpunte met van sy ander romans nie. Sy het nie die publikasie probeer beoordeel as eerste neerslag van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs nie en die manier waarop hierdie roman by Jan Rabie se romans aansluit nie. En, les bes, het sy nie die uiters problematiese inhoud van Brink se erkennings aan die einde van die roman behoorlik evalueer nie.

 

Laasgenoemde, veral die kleinserige deel daarvan, verdien uitvoerige bespreking – dit is nie iets wat net in die verbygaan genoem kan word nie. Dit kon ‘n werklik goeie kapstok vir die hele resensie gewees het. Greeff sou die kans kon benut om beter in die bres te tree vir nie alleen Jongbloed, Hambidge en Botha nie, maar ook vir die roman Philida.

 

Maar sy het nie. Sy het die erkennings net bygesleep as nagedagte nadat sy haar eie vooroordele verklap het oor die toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs. Vandaar is dit ‘n maklike sprong na een van die mees aangehaalde clichés: The lady doth protest too much, methinks.


Vergelyk mens die slotte van die drie Philida-resensies, dan is Greeff se toevlug tot hierdie aanhaling meer ‘n bewys van lui en slordige denke as werklik kritiese insig. ‘n Resensent moet nog meer as ‘n skrywer kan uitstyg bo die banale, soos Jakes Gerwel én Ena Jansen doen.

 

 

Skakels:

 

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Intieme-wreedheid-of-wrede-intimiteit-20120902

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Philida-lofwaardig-en-noodsaaklik-20120902

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Gewonde-heler-wat-homself-nie-kon-heel-nie-20120902

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Mens-kom-ook-met-kleur-20120831

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Ligte-blik-op-chaos-van-leef-20120831

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Dit-vergoeilik-die-sonde-nie-20120831