Profile photo of crito

by

Drempeltrauma

Augustus 28, 2012 in Sonder kategorie

Woordeloos tot verhaal heet ‘n versameling besprekings rondom die onderwerp van trauma en narratief in Afrikaans en Nederlands. Dié bundel staan onder redakteurskap van Hans Ester, Chris van der Merwe en Etty Mulder. Cas van Rensburg bespreek dit vir Boeke24 – ‘n resensie wat opnuut toon hóé fyn Van Rensburg as kritikus ingestel is.

Ek hou van die manier waarop hy met die versameling omgaan. Hy sien telkens ‘n groter gesprek raak en is ook nie huiwerig om ook die gesprekke binne ‘n ander verband te plaas nie – in hierdie geval opmerkings wat Louis Krüger gemaak het in ‘n tydskrifonderhoud in Mei 2006.

Dié omerkings lei weer na ‘n TV-gesprek tussen Adriaan van Dis en Renate Dorrestein oor die ergheid van dinge wat mens beleef.

Wat my ook interesseer, is Van Rensburg se opmerking dat ‘n bundel soos hierdie baat sou gevind het by ‘n figuur soos Johan Degenaar omdat dit vasval in allerlei vrae.

Hou mens prof. Degenaar se geliefkoosde metode van konseptuele analise in gedagte, wonder ek of ‘n mens nie juis van ‘n resensent soos Van Rensburg kan verwag om daardie metode te gebruik om die hoogte- en laagtepunte van die versameling aan te dui nie? Mens wil tog weet (met se eie verwysing na die Van Dis/Dorrestein-gesprek in gedagte) watter bydraes in hierdie bundel getuig van weinig beleef, en watter van baie beleef. Dit sou waarskynlik ook die struktuur en lengte van die resensie aansienlik verander het, maar dit sou besonder lekker dinge kon afgee oor trauma en narratief.

Ek vermoed tog só ‘n benadering sou hom ook by sy belangrike opmerking oor die liminaliteit van die Afrikaner uitgebring het. Soos dit is, dink ek Van Rensburg se analise is besonder indringend – maar dit kon dalk nóg beter gewees het.

Die woord liminaliteit staan soos ‘n blindepuisie uit in die hele bespreking. Van Rensburg gee ‘n verklaring, maar probeer ongelukkig nie ‘n meer toeganklike woord daarvoor skep nie. Het hy dalk drempeltrauma oorweg? Pas mooi.

***

Marius Visser kry met sy bespreking van Kruitvat (Rapport Boeke) ten minste een ding reg, en dis om my nuuskierig genoeg te maak om die boek te wil lees. Die boek het duidelik daarin geslaag om dié resensent te besiel, en dít spreek boekdele.

Visser se voorliefde vir dawerende uitsprake hinder my steeds – omdat dit vooroordele verklap. Voorbeeld: “Dit spin ‘n storie in die hier en nou wat jou laat vergeet hy’s Afrikaans”. Nog een uit dieselfde paragraaf: “… sonder om, en dis nog een van die slaggate in Afrikaanse prosa, jou soos ‘n 12-jarige te behandel.”

Die ergste daarvan kom in sy opsomming van sy gevoel oor die boek: “Vir die moderne Afrikaner, wat sukkel om sinvolle vermaak te kry tussen al die geraas van “Letterkunde” en godsdienstige en ideologiese dwepery, is hierdie boek die regte medisyne.”

Nè? Ek ag myself as ‘n moderne Afrikaner. Ek beskou nie literêre werke as geraas nie, en hou daarvan om oor politieke en ideologiese dwepers te argumenteer nadat ek hul werke gelees het– maar ek hou ook van die soort boek wat Visser my wysmaak Kruitvat is.

Sulke veralgemenings soos Visser oor “die moderne Afrikaner” maak, onthul meer oor die resensent as enigiets anders. Die resensent se issues kniehalter die waardevolle dinge wat hy raaksien.

‘n Laaste gedagte: Ek wens Marinda Ehlers, die uitgewer van Kruitvat en een van die mees gerespekteerde taalpraktisyns in die Wes-Kaap, kon Visser se resensie versorg het voordat dit gepubliseer is.

***

Loftus Marais, die jong digter wie debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters hom verskeie literêre bekronings besorg het, kry by Boeke24 twee resensies vir sy nuwe bundel, Kry my by die gewone plek aguur. Een deur Bibi Slippers, LitNet se Redakteur: Nuwe Skryfwerk; die ander deur Pieter Odendaal, SliP se projekbestuurder.

Die keuse van resensente val hier op. In die lig van Marais se status as bekroonde digter, wonder ek of dat nie beter sou gewees het om ten minste een resensent uit die akademiese gestoeltes te gekry het nie, sodat die digter ten minste ‘n idee kon kry van hóé sy pryssangers van ‘n paar jaar gelede voel oor sy groei nie.

Slippers en Odendaal se besprekings is vir my wel betekenisvol omdat albei só opvallend weg van ‘n swaartillende akademiese benadering beur. In die proses kry ons ‘n baie goeie oplossing vir die ou probleem van resensente wat mense van die digkuns vervreem omdat hul besprekings die indruk wek dat alleen super-intelligente lesers dit sal kan verstaan.

Sowel Slippers as Odendaal skryf reaktief: die resensie gaan oor hul ervaring van die bundel, en nie hul interpretasie nie. (Dié is daar wel, maar dit is nie die kapstok van die resensies nie.) Albei gee baie agtergrond- en tematiese inligting. En albei sorg dat hulle jou aandag hou deur die toon en gerigtheid van hul resensies.

Odendaal se reaksie spreek uit sy woordkeuse en formulering (“Hy voeg sy besondere beeldingsvermoë en idiosinkratiese asem by die Suidoos en blaas sodoende nuwe lewe in die stad in”). Slippers reageer nie in dieselfde toon nie, maar sy gee mens groter toegang tot die bundel se aard deur ‘n hele gedig aan te haal en talle van Marais se waarnemings op te noem (veral die een oor die Lewis-teken laat mens voel jy moet meer daarvan kry).

Uiteindelik dus ‘n redelik geslaagde eksperiment, hierdie keuse van resensente. Wag op LitNet en SLiP vir die meer akademiese besprekings?

Skakels:

 

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Pik-pik-rondom-ons-pakhuis-vol-trauma-20120826

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Sterk-kruit-vat-vlam-op-Kindle-20120823

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Saam-met-die-Suidoos-word-nuwe-asem-ingeblaas-20120826

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Wit-en-pienk-polkakol-bus-wys-vandag-se-Kaapstad-20120826

 

2 antwoorde op Drempeltrauma

  1. Adage10 het gesê op Augustus 28, 2012

    So van die os…
    ek sien Andre Brink het hewig reageer op kritiek, ek glo dis onaanvaarbaar.

  2. Dis darem jammer hoe min reaksie hier is. So ek sal maar:

    Ek het “Letterkunde” in aanhalings gesit. Die hele scare-quote-konvensie is ‘n bietjie duplicitous, maar ek dink die meeste lesers van regte letterkunde kon darem my punt snap daar.

    Ek beskou ook nie literêre werke as geraas nie, dus. Ek beskou “Letterkunde” as geraas. Ek word ook nie vermaak deur dwepery IN prosa nie. Bespiegeling in nie-fiksie is heel lekker, maar ek kan dit nie verdra in PROSA nie.

    Ek het geen probleem daarmee om oop kaarte oor my issues te speel nie; ek het daardie sinne presies só geformuleer sodat my issues sigbaar is, en dié wat by my issues aanklank vind sal dan kan weet waarvan ek praat. Dis trouens deel van my doelwit. Laat hom wat sonder vooroordeel is, die eerste skoot afvuur.

    Sou ook interessant gewees het om te hoor waar jy dink my artikel beter versorg kon gewees het. Jou taal het ook bietjie aandag nodig.

    Nietemin, lees Kruitvat: dis heerlik.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.