Profile photo of crito

by

Die dinge waarin mens glo

Augustus 21, 2012 in Sonder kategorie

Willem Kempen hou duidelik genoeg van Johannes Bertus de Villiers se Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef (Boeke24) om dit met respek te behandel. Dan kom hy uiteindelik ook by die enigste moontlike slotsom uit: Ons moet maar gewoond raak aan die idee dat die mensdom nie vir altyd gaan voortbestaan nie. Anders gestel: Ons almal moet een of ander tyd doodgaan.

Wat my betref ‘n baie volwasse benadering tot die onderwerp.

Christina Landman (Boeke24) se resensie van dieselfde boek is om ander redes vir my meer interessant. Sy is nes Kempen ook ad idem met De Villiers, maar sy speel ook met die idee, sonder om dit uit te spreek maar ongetwyfeld daarmee in die agterkop, dat dit hier gaan oor geloof. Wat glo jy? Glo jy hierdie stories? Of glo jy dít wat die predikers van Gods Woord verkondig?

Landman lees De Villiers se boek met groot begrip vir sy metode. Kempen is ook nie blind vir hierdie metode nie, maar hy sit nie daarna en kyk met die oë van ‘n teoloog nie.

Wat Landman dan doen, is om vir die potensiële leser van die boek aan te dui wat die boek se groot nut is. Dit gee nie alleen insig in die verskeidenheid van voorspellings wat daar bestaan oor die einde van die aarde nie, maar ‘n nugtere reaksie daarop.

Daardie nugtere reaksie, meen Landman, is al wat nodig is om die koring van die kaf te skei en te ontsnap aan die dwase getuienis van allerlei “nuwe christusfigure”. Laasgenoemde sou met ander meer beledigende terminologie ook beskryf kon word.

Ek dink Landman se resensie is een van die bestes wat nog by Boeke24 verskyn het sedert dit tot stand gekom het. In konstruksie en uitvoering is dit amper volmaak – ‘n teoloog se reaksie sonder die sware lading en wroeging van teologiese diskoers.

Ek het gesê “amper volmaak”. Omdat Landman die een moontlikheid wat deur niemand ter sprake gebring is, ook uitspel nie. En dit is dat mens ook lateraal oor hierdie onderwerp moet kan dink, en besef dat einde van die aarde nie noodwendig letterlik geïnterpreteer moet word nie. Dit kan ook beteken dat dit einde van ‘n bestel is, ‘n manier van dinge doen. Die verandering kan innerlik wees, en nie uiterlik nie. Menslike gedrag, nie menslike bestaan nie.

Miskien té na aan die teologie?

***

Solette Stander bespreek in Rapport drie jeugboeke wat welslae behaal het in Lapa se jeugromanwedstryd: Ek was hier, van Nanette van Rooyen, Betower deur Fanie Viljoen en Permanente ink deur Carina Diedericks-Hugo.

Mens se eerste reaksie is ongelukkig die vraag op wie die resensie gemik is. Mens kry tekens dat dit op alle ouderdomme gerig is, wat dan ook verklaar hoekom die resensie met ‘n neutrale toon geskryf is.

Daarmee kan ek nie fout vind nie – maar ek is ook nie blind vir die gevare van só ‘n aanpak nie. Wanneer sy dan van Van Rooyen se boek sê dat dit “’n fyn genuanseerde, beeldryke, alternatiewe liefdesverhaal” is, kan mens dié lof sondermeer aanvaar, maar die res van die sin, “wat die hedendaagse tiener sal bekoor” stel Stander weer bloot aan baie skerp kritiek. Wie is sy om só ‘n oordeel te maak? Hoe kan sy namens hedendaagse tieners besluit? Hoe kan sy só veralgemeen oor hedendaagse tieners se smaak?

By Viljoen se werk sluit sy weer seunslesers uit van die geledere van diegene wat van liefdesverhale hou – ‘n growwe veralgemening, al dink mens dis waarskynlik waar.

En by Diedericks-Hugo fouteer sy weer deur sonder meer te aanvaar dat as die leser ‘n tiener is, hy die verhaal end-uit sal wil lees. Waar kom sy daaraan?

Die probleem is natuurlik dat dit baie moeilik is om altyd die eie reaksie prominent te plaas binne die oordrag van loftuitinge. Sou die teikenmark van hierdie drie boeke, naamlik die lesers van jeugromans, eerder ‘n boek opneem omdat iemand wat verlede jaar ‘n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch verwerf het dit end-uit wou lees as wanneer daardie persoon vir hulle sê dat hulle dit end-uit sal lees omdat hulle tieners is?

Sou die “teikenmark” nie wonder hoekom hierdie resensent haar nie met boeke vir ouer lesers bemoei nie?

‘n Neutrale toon en aanpak is ‘n eenvoudige manier om sulke vrae te ontduik. Maar dan moet die resensent meer as gewoonlik versigtig wees vir veralgemenings binne waarde-oordele.

4 antwoorde op Die dinge waarin mens glo

  1. abrham het gesê op Augustus 21, 2012

    sou graag christina wou sien meer sekulêre boeke resenseer

  2. “‘n growwe veralgemening, al dink mens dis waarskynlik waar.”

    DIt is presies die bekoring van growwe veralgemenings – hulle is gewoonlik nie te ver van die merk af nie…

    Your ball.

    🙂

  3. Ek hou daarvan dat jy daardie moontlikheid van “Die Einde” uitlig: dié van ‘n stelsel, of selfs net die individu se eie einde. Hierdie deel is ‘n probleem, though: “Wat glo jy? Glo jy hierdie stories? Of glo jy dít wat die predikers van Gods Woord verkondig?” Bietjie van ‘n vals dichotomy… Mens kan natuurlik “Gods Woord” ook as net nog een van daai stories sien. Glo jy toorkrag sonder bewyse, of glo jy die enigste vorm van kennis waaroor die mens beskik wat betroubare voorspellings toelaat: die wetenskap?
    Ek sê maar net.

    Oor Solette Stander se insigte in die leesgewoontes van tieners: Is dit regtig nodig vir ‘n resensent om elke sin vooraf te gaan met “Ek dink…”? Sý dink tieners sal daarvan hou. Dis tog geïmpliseer deur haar byline boaan die artikel.

  4. Jy sê ook:
    ‘Sou die “teikenmark” nie wonder hoekom hierdie resensent haar nie met boeke vir ouer lesers bemoei nie?’

    Miskien moet mens tog in ‘n stadium aan die “teikenmark” (lesers van die koerant) verduidelik dat meeste resensente eenvoudig gevra word om ‘n spesifieke boek te resenseer. Dís maar gewoonlik die rede hoekom hulle hulle met daardie boeke bemoei. Ek verstaan jou kritiek teen hierdie kennis-aanspraak deur resensente, maar dis hol kritiek. Dit voel amper asof jy dan wil hê mense moet net boeke resenseer wat hulle wil aanbeveel. Is dit so?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.