Jy blaai in die argief vir 2012 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Drempeltrauma

Augustus 28, 2012 in Sonder kategorie

Woordeloos tot verhaal heet ‘n versameling besprekings rondom die onderwerp van trauma en narratief in Afrikaans en Nederlands. Dié bundel staan onder redakteurskap van Hans Ester, Chris van der Merwe en Etty Mulder. Cas van Rensburg bespreek dit vir Boeke24 – ‘n resensie wat opnuut toon hóé fyn Van Rensburg as kritikus ingestel is.

Ek hou van die manier waarop hy met die versameling omgaan. Hy sien telkens ‘n groter gesprek raak en is ook nie huiwerig om ook die gesprekke binne ‘n ander verband te plaas nie – in hierdie geval opmerkings wat Louis Krüger gemaak het in ‘n tydskrifonderhoud in Mei 2006.

Dié omerkings lei weer na ‘n TV-gesprek tussen Adriaan van Dis en Renate Dorrestein oor die ergheid van dinge wat mens beleef.

Wat my ook interesseer, is Van Rensburg se opmerking dat ‘n bundel soos hierdie baat sou gevind het by ‘n figuur soos Johan Degenaar omdat dit vasval in allerlei vrae.

Hou mens prof. Degenaar se geliefkoosde metode van konseptuele analise in gedagte, wonder ek of ‘n mens nie juis van ‘n resensent soos Van Rensburg kan verwag om daardie metode te gebruik om die hoogte- en laagtepunte van die versameling aan te dui nie? Mens wil tog weet (met se eie verwysing na die Van Dis/Dorrestein-gesprek in gedagte) watter bydraes in hierdie bundel getuig van weinig beleef, en watter van baie beleef. Dit sou waarskynlik ook die struktuur en lengte van die resensie aansienlik verander het, maar dit sou besonder lekker dinge kon afgee oor trauma en narratief.

Ek vermoed tog só ‘n benadering sou hom ook by sy belangrike opmerking oor die liminaliteit van die Afrikaner uitgebring het. Soos dit is, dink ek Van Rensburg se analise is besonder indringend – maar dit kon dalk nóg beter gewees het.

Die woord liminaliteit staan soos ‘n blindepuisie uit in die hele bespreking. Van Rensburg gee ‘n verklaring, maar probeer ongelukkig nie ‘n meer toeganklike woord daarvoor skep nie. Het hy dalk drempeltrauma oorweg? Pas mooi.

***

Marius Visser kry met sy bespreking van Kruitvat (Rapport Boeke) ten minste een ding reg, en dis om my nuuskierig genoeg te maak om die boek te wil lees. Die boek het duidelik daarin geslaag om dié resensent te besiel, en dít spreek boekdele.

Visser se voorliefde vir dawerende uitsprake hinder my steeds – omdat dit vooroordele verklap. Voorbeeld: “Dit spin ‘n storie in die hier en nou wat jou laat vergeet hy’s Afrikaans”. Nog een uit dieselfde paragraaf: “… sonder om, en dis nog een van die slaggate in Afrikaanse prosa, jou soos ‘n 12-jarige te behandel.”

Die ergste daarvan kom in sy opsomming van sy gevoel oor die boek: “Vir die moderne Afrikaner, wat sukkel om sinvolle vermaak te kry tussen al die geraas van “Letterkunde” en godsdienstige en ideologiese dwepery, is hierdie boek die regte medisyne.”

Nè? Ek ag myself as ‘n moderne Afrikaner. Ek beskou nie literêre werke as geraas nie, en hou daarvan om oor politieke en ideologiese dwepers te argumenteer nadat ek hul werke gelees het– maar ek hou ook van die soort boek wat Visser my wysmaak Kruitvat is.

Sulke veralgemenings soos Visser oor “die moderne Afrikaner” maak, onthul meer oor die resensent as enigiets anders. Die resensent se issues kniehalter die waardevolle dinge wat hy raaksien.

‘n Laaste gedagte: Ek wens Marinda Ehlers, die uitgewer van Kruitvat en een van die mees gerespekteerde taalpraktisyns in die Wes-Kaap, kon Visser se resensie versorg het voordat dit gepubliseer is.

***

Loftus Marais, die jong digter wie debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters hom verskeie literêre bekronings besorg het, kry by Boeke24 twee resensies vir sy nuwe bundel, Kry my by die gewone plek aguur. Een deur Bibi Slippers, LitNet se Redakteur: Nuwe Skryfwerk; die ander deur Pieter Odendaal, SliP se projekbestuurder.

Die keuse van resensente val hier op. In die lig van Marais se status as bekroonde digter, wonder ek of dat nie beter sou gewees het om ten minste een resensent uit die akademiese gestoeltes te gekry het nie, sodat die digter ten minste ‘n idee kon kry van hóé sy pryssangers van ‘n paar jaar gelede voel oor sy groei nie.

Slippers en Odendaal se besprekings is vir my wel betekenisvol omdat albei só opvallend weg van ‘n swaartillende akademiese benadering beur. In die proses kry ons ‘n baie goeie oplossing vir die ou probleem van resensente wat mense van die digkuns vervreem omdat hul besprekings die indruk wek dat alleen super-intelligente lesers dit sal kan verstaan.

Sowel Slippers as Odendaal skryf reaktief: die resensie gaan oor hul ervaring van die bundel, en nie hul interpretasie nie. (Dié is daar wel, maar dit is nie die kapstok van die resensies nie.) Albei gee baie agtergrond- en tematiese inligting. En albei sorg dat hulle jou aandag hou deur die toon en gerigtheid van hul resensies.

Odendaal se reaksie spreek uit sy woordkeuse en formulering (“Hy voeg sy besondere beeldingsvermoë en idiosinkratiese asem by die Suidoos en blaas sodoende nuwe lewe in die stad in”). Slippers reageer nie in dieselfde toon nie, maar sy gee mens groter toegang tot die bundel se aard deur ‘n hele gedig aan te haal en talle van Marais se waarnemings op te noem (veral die een oor die Lewis-teken laat mens voel jy moet meer daarvan kry).

Uiteindelik dus ‘n redelik geslaagde eksperiment, hierdie keuse van resensente. Wag op LitNet en SLiP vir die meer akademiese besprekings?

Skakels:

 

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Pik-pik-rondom-ons-pakhuis-vol-trauma-20120826

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Sterk-kruit-vat-vlam-op-Kindle-20120823

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Saam-met-die-Suidoos-word-nuwe-asem-ingeblaas-20120826

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Wit-en-pienk-polkakol-bus-wys-vandag-se-Kaapstad-20120826

 

Profile photo of crito

by crito

Die dinge waarin mens glo

Augustus 21, 2012 in Sonder kategorie

Willem Kempen hou duidelik genoeg van Johannes Bertus de Villiers se Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef (Boeke24) om dit met respek te behandel. Dan kom hy uiteindelik ook by die enigste moontlike slotsom uit: Ons moet maar gewoond raak aan die idee dat die mensdom nie vir altyd gaan voortbestaan nie. Anders gestel: Ons almal moet een of ander tyd doodgaan.

Wat my betref ‘n baie volwasse benadering tot die onderwerp.

Christina Landman (Boeke24) se resensie van dieselfde boek is om ander redes vir my meer interessant. Sy is nes Kempen ook ad idem met De Villiers, maar sy speel ook met die idee, sonder om dit uit te spreek maar ongetwyfeld daarmee in die agterkop, dat dit hier gaan oor geloof. Wat glo jy? Glo jy hierdie stories? Of glo jy dít wat die predikers van Gods Woord verkondig?

Landman lees De Villiers se boek met groot begrip vir sy metode. Kempen is ook nie blind vir hierdie metode nie, maar hy sit nie daarna en kyk met die oë van ‘n teoloog nie.

Wat Landman dan doen, is om vir die potensiële leser van die boek aan te dui wat die boek se groot nut is. Dit gee nie alleen insig in die verskeidenheid van voorspellings wat daar bestaan oor die einde van die aarde nie, maar ‘n nugtere reaksie daarop.

Daardie nugtere reaksie, meen Landman, is al wat nodig is om die koring van die kaf te skei en te ontsnap aan die dwase getuienis van allerlei “nuwe christusfigure”. Laasgenoemde sou met ander meer beledigende terminologie ook beskryf kon word.

Ek dink Landman se resensie is een van die bestes wat nog by Boeke24 verskyn het sedert dit tot stand gekom het. In konstruksie en uitvoering is dit amper volmaak – ‘n teoloog se reaksie sonder die sware lading en wroeging van teologiese diskoers.

Ek het gesê “amper volmaak”. Omdat Landman die een moontlikheid wat deur niemand ter sprake gebring is, ook uitspel nie. En dit is dat mens ook lateraal oor hierdie onderwerp moet kan dink, en besef dat einde van die aarde nie noodwendig letterlik geïnterpreteer moet word nie. Dit kan ook beteken dat dit einde van ‘n bestel is, ‘n manier van dinge doen. Die verandering kan innerlik wees, en nie uiterlik nie. Menslike gedrag, nie menslike bestaan nie.

Miskien té na aan die teologie?

***

Solette Stander bespreek in Rapport drie jeugboeke wat welslae behaal het in Lapa se jeugromanwedstryd: Ek was hier, van Nanette van Rooyen, Betower deur Fanie Viljoen en Permanente ink deur Carina Diedericks-Hugo.

Mens se eerste reaksie is ongelukkig die vraag op wie die resensie gemik is. Mens kry tekens dat dit op alle ouderdomme gerig is, wat dan ook verklaar hoekom die resensie met ‘n neutrale toon geskryf is.

Daarmee kan ek nie fout vind nie – maar ek is ook nie blind vir die gevare van só ‘n aanpak nie. Wanneer sy dan van Van Rooyen se boek sê dat dit “’n fyn genuanseerde, beeldryke, alternatiewe liefdesverhaal” is, kan mens dié lof sondermeer aanvaar, maar die res van die sin, “wat die hedendaagse tiener sal bekoor” stel Stander weer bloot aan baie skerp kritiek. Wie is sy om só ‘n oordeel te maak? Hoe kan sy namens hedendaagse tieners besluit? Hoe kan sy só veralgemeen oor hedendaagse tieners se smaak?

By Viljoen se werk sluit sy weer seunslesers uit van die geledere van diegene wat van liefdesverhale hou – ‘n growwe veralgemening, al dink mens dis waarskynlik waar.

En by Diedericks-Hugo fouteer sy weer deur sonder meer te aanvaar dat as die leser ‘n tiener is, hy die verhaal end-uit sal wil lees. Waar kom sy daaraan?

Die probleem is natuurlik dat dit baie moeilik is om altyd die eie reaksie prominent te plaas binne die oordrag van loftuitinge. Sou die teikenmark van hierdie drie boeke, naamlik die lesers van jeugromans, eerder ‘n boek opneem omdat iemand wat verlede jaar ‘n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch verwerf het dit end-uit wou lees as wanneer daardie persoon vir hulle sê dat hulle dit end-uit sal lees omdat hulle tieners is?

Sou die “teikenmark” nie wonder hoekom hierdie resensent haar nie met boeke vir ouer lesers bemoei nie?

‘n Neutrale toon en aanpak is ‘n eenvoudige manier om sulke vrae te ontduik. Maar dan moet die resensent meer as gewoonlik versigtig wees vir veralgemenings binne waarde-oordele.

Profile photo of crito

by crito

Groot sports met Afrikaners

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

 In die tagtigs was dit ‘n gereelde verskynsel in Engelse koerante, soms ook in Afrikaanse publikasies: Wat is nou eintlik ‘n Afrikaner? En dan word Afrikaners uit alle hoeke, maar veral taal- en rasse-hoeke bekyk. Agterna kom ‘n vlaag ontstoke korrespondensie van Afrikaners wat hewig ontstoke is oor enigiemand buite die kring wat kielie-kielie aan die heilige Afrikaanse siel.

Mens kan sommer sien hoe die geskiedenis hom gaan herhaal met die publikasie van die Nederlander Fred de Vries se Rigtingbedonnerd – op die spoor van die Afrikaner Post-’94.

Die eerste resensent wat behoorlik daaroor skryf, Wilhelm Jordaan (Boeke24), het ‘n baie slim ding gedoen. Sy resensie is in ‘n rustige toon geskryf, ewewigtig en beredeneerd, sonder enige tekens van ‘n humeurigheid.

Alles wat hy oor die boek skryf, laat jou besef dat hier groot sports op ‘n kol is. Van die omslag – wat klink asof dit deur ‘n strukturalis uitgedink is – tot by sy (De Vries se) verantwoording vir die weglating van bruin Afrikaners is dit dinge wat groot onstuimigheid by die voorheen uitverkore volk kan ontketen.

De Vries het skynbaar met almal onder die son gesels, en dis dan ook te verstane dat as mens met klakouse, drinkers en doemprofete gesels, jy onderweg ook ‘n paar verteenwoordigende figure sal betrek, soos Dan Roodt, F.W. de Klerk, Steve Hofmeyr, Theunis Eloff, Jannie Mouton, Rian Malan, Antjie Krog en so vele meer.

Wat Jordaan se resensie so deksels goed maak, is dat hy vir jou bondig sê wat jy in die boek verwag sonder om vir jou te sê wat dit is. Hy gee eerder leidrade: “Hy luister na hul musiek, vertoef by hul monumente, lees hul boeke, gedigte, tesisse en ander geskrifte” suggereer dat die boek inhoudelik baie substansie sal hê. As jy meer wil weet oor watse musiek en watter monumente, gaan lees die boek.

Die resensie word dan eerder ‘n analise an De Vries se metode, sodat die pitkos oorbly vir die leesslag.

Wanneer hy uiteindelik by sy belangrike punt van kritiek kom, oor die afwesigheid van bruin Afrikaners, voel ek, bederf hy eintlik sy resensie. Dis ‘n punt wat met veel meer verontwaardging gemaak moes gewees het. Die resensie bou op na ‘n punt waar die resensent emosie kán verklap.

Die gevaar verbonde aan die gebruik van ‘n gedempte, ewewigtige – intellektuele? – toon dwarsdeur die resensie is dat die leser kan wonder hoe ernstig die resensent oor dié gebrek van die boek voel.

Te oordeel na die twee aanhalings wat hy dan gebruik, voel Jordaan wel baie sterk daaroor. As hy aan die een kant kan praat van “’n verruklike geheel”, kan hy sekerlik met meer animasie gesels oor iets wat duidelik ‘n jammerlike gemis is.

Andersins ‘n werklik voortreflike stuk skryfwerk waarin die essensie van ‘n koerant-resensie straal: Hy oortuig jou dat die boek die lees werd is, maar as jy nie daarby uitkom nie, sal jy, gewapen met sy resensie, ten minste weet hoe De Vries uitkom by die bevolkingsgroep “wat van alles en nog wat [is]…”

***

Karen de Wet resenseer Petra Müller se jongste bundel, om die gedagte van geel vir Boeke24. Ek was nogal verbaas daaroor dat dit nie een van die meer bekende resensente is wat die bundel bespreek nie – mense soos Heilna du Plooy of Louise Viljoen.

Maar – en aansluitend by wat ek gesê het oor Wilhelm Jordaan se resensie as goeie koerant-resensie­ – na ‘n paar keer se deurlees het ek besef dat De Wet binne die bestek van een korterige resensie regkry wat Du Plooy et al veel meer ruimte op LitNet of Versindaba sal verg vir ‘n meer formeel akademiese analise.

‘n Mens moet seker aanvaar dat nie alle digbundels hierdie soort behandeling kan kry nie. Soms is dit nodig om te neig na ‘n meer formele literêre bespreking omdat die poësie sig nie daartoe leen nie – of omdat die bundel eenvoudig te swak is.

De Wet se bespreking kan vergelyk word met ‘n lokprent vir ‘n groot filmuitreiking. Ná ‘n werklik bondige inleiding begelei sy jou met bondige skakels van aanhaling tot aanhaling tot aanhaling. Jy kry ‘n idee van die konteks van die bundel, en van Müller se vernuf as digter.

En wanneer jy by die laaste paragraaf kom, tintel jy van opgewondenheid oor die bundel. Onder ander omstandighede sou De Wet se slot ietwat presieus geklink het, maar nou glo jy dit terwyl Müller se woorde nog by jou klink: “Lees dit vir die diep plesier uit foutlose dog onpretensieuse teks. Lees dit ter wille van jou self. En sê dankie. Dankbaar vir hierdie digterstem in hierdie taal.”

***

J.B. Roux het sy lyf maar skaars gehou die laaste ruk op die resensieblaaie – net hier en daar ‘n onderhoud met skrywers, as ek dit nie mis het nie.

Sondag het hy in Rapport teruggekeer met ‘n resensie van Chris Karsten se Die afreis van Abel Lotz.

 

Dit is ‘n resensie wat vir my om een spesifieke rede besonders is: Roux is die eerste persoon wat aandag gee aan Karsten as liefhebber van die Afrikaanse taal. Met die lees van Karsten se vorige romans het dit my opgeval hoeveel moeite hy maak om dinge presies te benoem. Daar is geweldig baie vaktaal, maar daar is ook ‘n vloed van woorde wat in sommige gevalle besig is om in onbruik te raak.

Dit is goed dat Roux die aandag daarop vestig – veral omdat dit kom in ‘n genre waar mens dit nie verwag nie.

Die resensie is om ‘n ander rede ook vir my interessant. Karsten is al in die verlede dit verkwalik dat sy romans té verwikkeld is, té veel verhaallyne. Roux keer daardie kritiek nou op die kop: Die vernuf in hierdie skryfwerk lê vir hom in die wyse waarop Karsten juis die uiteenlopende storielyne ineenvleg tot hulle “bots”.

Nog ‘n resensie wat mens reguit boekwinkel toe lei.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Om-Afrikaner-wees-beter-te-verstaan-20120813

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Om-in-te-luister-op-die-kwalik-ontsyferbare-taal-van-dinge-20120813

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Min-sal-Karsten-dit-kan-nadoen-20120809

Profile photo of crito

by crito

Jags al dan nie

Augustus 7, 2012 in Sonder kategorie

Daar het nog nooit ‘n resensie oor ‘n bundel Afrikaanse erotiese verhale verskyn waarin die resensent pront verklaar het dat dit die kol getref het nie. Ek het deur my knipsels van ou resensies (waaronder Lyfspel/Body Play en Die dye trek die dye aan) geblaai en hulle het almal een ding gemeen. Dít is resensente wat verseg om te erken dat enigiets in die bundels die bekende onrus in hul lendene laat roer het.

Daarom is ek glad nie verbaas dat Bloots (saamgestel deur Karin Eloff en Peter van Noord, in Boeke24 bespreek deur Welma Odendaal en Jan Taljaard en in Rapport Boeke deur Riette Rust) nie staande ovasies gekry het nie.

Welma Odendaal sê dis die slim geskrewe verhale wat die beste is, nie die blatant erotiese verhale nie. Jan Taljaard sê in sy opskrif die verhale is geil, dog die aanslag is te bewus literêr. Rust maak dubbel seker dat haar lesers weet dit gaan in Bloots om erotiek en nie om pornografie nie.

Maar as mens Taljaard se resensie gaan lees, sien jy dat hy eintlik net bedoel het die tyd is ryp vir geil leestof. Geil is natuurlik die woord wat in Nederlands en Duits gebruik word om dieselfde toestand aan te dui wat in Afrikaans deur jags aangedui word.

Voor ek verder gaan, net een gedagte tersyde. As mense liefdesverhale resenseer, word dit gemeet in terme van die emosie en dergelike gevoelens wat die verhale wek. Dit ontroer, voer mee, bring ‘n groot emosinele ontlading en so meer. Spanningsverhale gryp aan, hou jou betrokke, sleur mee, bou groot spanning op by die leser, en so meer.

Waarom, in die name van Yoni en Lingham, wil ‘n mens dan erotiese verhale gaan staan en meet aan enige ander maatstawwe as die mate waarin dit katoolsheid by die resensent ontketen het?

Nou, dis wat ek mis. Kan die resensente dit nie vir almal makliker maak en sommer net reguit sê “Hier is nou ‘n klomp lekker katoolse stories” of “Hierdie bundel het nie eintlik lekker jags stories nie”?

Ja, ek weet, ek weet. Ons resensente is ook op ons privaatheid gesteld. Seksuele prikkeling is nie ‘n toeskouersport nie …

Maar dit sou gehelp het as Odendaal, Taljaard en Rust net so ‘n bietjie skietgegee het en reguit gepraat het. Ek “koop” Odendaal se argument. Ek kan sien waarvandaan Taljaard kom met sy siening. Ek hou van die manier waarop Rust die verhale benader. Sy is duidelik die een wat die meeste genoegdoening uit die verhale geput het, en die eiesoortigheid daarvan probeer takseer het. Of was Taljaard net skugter?

Maar asseblief, volgende keer laat weet tog net van die jagsheid! Al dan nie. En as die sub-redakteurs die woord nie wil toelaat nie, wat mens seker kan verwag, vind ‘n manier om dit te sê. Hierdie drie resensies laat mens dink aldrie skrywers het nie eens een ou diep asemsnakkie beleef nie …

***

Nini Bennett resenseeer in Rapport Boeke die kortverhaalbundel Bloedfamilie van M.S. Burger. Op die webwerf is daar geen aanduiding van wie die uitgewer is nie – Rapport ag dit seker nie belangrik nie.

As mens wil weet wat in hierdie bundel aan die gang is, is daar seker nie ‘n beter aanvangspunt as Bennett se resensie nie. Dit is egter jammer dat sy nog toelaat dat buite-literêre sake haar negatiewe reaksies aanvuur. Wie is die sensitiewe lesers wat sy probeer beskerm teen kru taalgebruik en eksplisiete verwysings na gewelddadige seks? Op watter vlak lê die steurings weens die skrywer se persoonlike bemoeienis met familiekonflik en psigiatriese probleme?

Dis beslis nie oorwegings wat haar tog uiteindelik laat besluit het dat Bloedfamilie ‘n sterk bundel is nie.

Miskien illustreer dit net daardie ou opvatting dat Afrikaners se default-posisie dié van dominee of onderwyser is.

***

Dineke Volschenk se eerste resensie sedert sy die basilisk met die snaakse oë gesien het, is ‘n baie knap bespreking van Wilna Adriaanse se roman ‘n Klein lewe (Rapport Boeke). Dit is interessant om hierdie bespreking te vergelyk met dié deur Corina van der Spoel en Saartjie Botha (onlangs op Boeke24). Volschenk kan die roman dadelik plaas binne ‘n groter publikasiespektrum, maar beskryf ook hoe Adriaanse se bestekopname uitkring tot ‘n meer universele verhaal.

Ek het ‘n Klein lewe ná Botha en Van der Spoel se resensies gekoop, gelees, en vind dat Volschenk se bespreking ná die lees vir my die beste saamvat wat ek met die leesproses ervaar het.

Hopelik raak sy nou ‘n regular. Haar aanpak van die resensie getuig van jare se ondervinding met boeke – die belangrikste vir my is die gewilligheid om die inhoud van die boek krities te takseer sonder om dit geniepsig of neerbuigend te doen.

***

‘n Ander boek kry ook die Esmé Euverard-behandeling op Boek24: Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag, wat onder redakteurskap van Fransjohan Pretorius staan. Die een resensie is geskryf deur André Wessels, die ander deur Albert Grundlingh.

Die twee resensente verskil eintlik nie baie van mekaar nie. Een sou foto’s waardeer het, die ander wonder hoekom sport en kultuur nie ook aan die bod kom nie. Albei aanvaar Pretorius se standpunt dat daar ‘n korrektief nodig is op die swart struggle-sentriese geskiedskrywing (ná jare van wit apartheid-sentriese geskiedskrywing). Onder meer.

Die boek het 22 medewerkers, en albei laat na om inligting oor hul identiteit te gee.

In die algemeen is dit egter nie resensies wat onderwerp kan word aan fel kritiek nie – albei is baie verantwoord aangebied en die gevalle van vitterigheid kan mens maar toeskryf aan provinsiale klemverskille.

Die vraag het wel by my opgekom of dit nie veel meer sin sou gehad het – as mens dan die tweevuis-benadering tot resensies wil volg – om ‘n swart geskiedkundige vanuit die swart struggle-sentriese kamp te kry om een van die resensies te skryf nie.

Of andersins die filosoof en denker Dan Roodt. Hy sou sekerlik ‘n mening hê.

Skakels:

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/In-die-taal-van-die-lyf-20120803

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Eenvoud-moet-wagwoord-bly-20120805

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Geil-dog-aanslag-te-bewus-literer-20120805

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Om-tot-verhaal-te-kom-20120803

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Net-n-gewone-lewe-smag-sy-20120803

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Besonderse-Afrikaanse-bydrae-tot-die-eindelose-diskussie-20120805

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Afrikaanse-historici-laat-stem-hoor-20120805