Profile photo of crito

by

Uit twee hoeke, een slotsom

Julie 11, 2012 in Sonder kategorie

André Krüger se debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek, kan ‘n resensent maklik laat verdwaal. Dit het ons reeds gesien. Maar as die resensent bereid is om dit uitvoerig te analiseer – tematiek, narratief, relevansie – lei dit tot besonderse resensies. Dit word ook duidelik dat dit een van die sterkste debute van die afgelope dekade in Afrikaans is.

Boeke24 het twee resensente gevra om daarna te kyk: Piet Croucamp en Charl-Piere Naudé. Croucamp het ‘n politieke akademiese agtergrond, Naudé is ‘n digter en bekend om sy analitiese vermoëns.

Hul reaksies op die roman is vir my betekenivol. Albei het gereageer op die verwikkelde situasie van ‘n onskuldige (lees: onaktiewe) individue binne ‘n politiek verwronge bestel.

In hierdie opsig het Croucamp ‘n analise van baie groot waarde gemaak. Sy metode sou die antieke Grieke trots gemaak het. Sy uitgangspunt is dat daar ná konflikte (oorlog of institusionele geweld) ‘n aantal vrae gevra móét word. Hy identifiseer dan vier vrae – en dié vier vrae vang in wese vas wat Krüger met sy roman doen:

“Wie is verantwoordelik vir die uiteinde van die geweld teen die mens en die mensdom? Of liewers, waar lê die oorwig van verantwoordelikheid aanvaar vir die skending van regte: by die stelsel of die individu???Is daar iets soos ’n onskuldige toeskouer of is ons skuldig by implikasie of assosiasie eerder as deur ons dade???Kan daar van die gewone mens verwag word om ’n morele onderskeid te tref tussen die twyfelagtige regverdigings vir geweld binne eie groepsverband en die meer aanvaarbare geweld teenoor die verwyderde assosiasies buite die direkte groepsverband? “

Hy reageer dan hierop by wyse van ‘n analise van dít wat in Die twee lewens van Dieter Ondracek gebeur. Dit is ‘n substansiële analise, geskryf vir die onderskeidende leser, met verdere vrae wat gestel word, en vir die leser leidrade gee na dinge wat ondersoek kan word. Sy aanpak is een waaruit sy agting vir die roman en skrywer dadelik blyk.

Hy is bewus van insinkings in die narratief, maar sy slotsom is dat die roman boeiend bly omdat dit genuanseerd kyk na die rol van mense in ‘n politiek gespanne omgewing.

Ek moet sê dat ek Croucamp se resensie met groot waardering gelees het, en dikwels groot plesier geput het uit sy skerpheid. Neem maar hierdie opmerking: “Met so ’n dogma kan Dieter maklik as ’n passiewe lafaard beskryf word. Maar dit sou dieselfde logika wees wat normale onkunde as ’n misdaad definieer.”

Croucamp is nie ‘n resensent wat volgens ‘n patroon skryf nie, en dít alleen verklaar vir my hoekom ek sy resensie as so ‘n vars bries deur die bedompige kamer van Afrikaanse resensies ervaar het.

Naudé se siening van die roman spruit uit ‘n waardering vir dieselfde tematiese substraat as dié wat deur Croucamp uitgelig word, maar Naudé is ‘n woordkunstenaar en dit is te verwagte dat hy sal aandag gee aan die meer literêre aspekte van die roman.

Nes Piet Croucamp resenseer Naudé nie volgens ‘n formule nie. Jy sou hom nooit kon beskuldig van ‘n literêr-akademiese benadering nie.

Hy begin met vyf paragrawe wat mens in ‘n tipiese literêre-akademiese resensie eers teen die einde sou raakloop nadat die resensent stelselmatig daarheen opgebou het. Naudé gee dadelik sy taksering van die roman, en daarna kom sy ontleding in detail.

Net daardie eerste vyf pararawe behoort almal wat belang stel in die skryf van resensies eindeloos te imponeer:

“Hier is nou ’n lekkerlees-roman en ’n literêre prestasie. ’n Mens sou nie sê dis ’n debuut nie. Die romanmatige verwikkeldheid is helder en terselfdertyd maklik ontsluitbaar.

“Subtiliteit en vlotheid loop vervleg.

“André Krüger het iets ongewoons gelewer: toeganklike prosa én letterkunde, spanningsverhaal én filosofiese roman. Veelvlakkig én eenduidig.

“Hier het ons ’n fynbesnaarde, poëtiese vertelling deurspek met talmende oomblikke dog met ’n volgehoue vaart wat sing soos ’n pyl.

“Die taal en styl is ook sterk eietyds, maar terselfdertyd veelsydige, idiomatiese Afrikaans van die boonste rak.”

Naudé staan meer ruimte af aan die bespreking van die narratiewe ontwikkelinge en die tematiese vervlegting wat daarmee gepaard gaan as Croucamp, en ek vermoed dat diegene met ‘n literêre ingesteldheid meer aanklank by Naudé se resensie as by Croucamp s’n sal vind.

Vir my sluit die een die ander nie uit nie. Wanneer mens Croucamp se resensie gelees het, besef jy dat dinge wat jy laas in Antjie Krog se biografiese werke uitgespel gesien het, wel deeglik te verwerk is in ‘n moderne Afrikaanse roman – en dat die tematiek besonder verwikkeld verder gevoer kan word.

Naudé weer lei jou aandag ook terug na die bouwerk van die roman. Ek dink dis vir enigiemand ‘n besonderse gebeurtenis wanneer ‘n digter van Naudé se statuur jou taagebruik komplimenteer, en André Krüger kan sekerlik baie tevrede wees met hierdie resensie.

***

Ek vermoed dat Henning Pieterse se bespreking van Cas Vos se Weerloos lewe een van die mees aangehaalde resensies van ons tyd gaan word.

Hy skryf oor die invloed van ander digters wat in Vos se bundel te bespeur is, en maak dan hierdie stelling: “Álle digters steel. Dis ’n gegewe; sommiges steel en verwerk net slimmer as ander.” (Hou maar die program vir Aardklop dop!)

Ek hou van Pieterse se manier van skryf: geen bladvulling nie, alles reguit en op die punt af. Só ‘n resensie is verkieslik bo een wat doekies omdraai.

***

Dankie, Kay-Lee van Skukuza. Hier’s jou naam in virtuele druk.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Nazi-Berlyn-teenoor-apartheid-SA-20120708

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Roman-sing-soos-n-pyl-20120708


 

 

 

 

 

 

 

4 antwoorde op Uit twee hoeke, een slotsom

  1. HeavyHenry het gesê op Julie 11, 2012

    Nice!

  2. Ek het die uitstekende resensie van Naudé gelees en dadelik gevoel hierdie boek is ‘n moét op my boekrak.Stom was my verbasing om in gister se Beeld ‘n sms van ene Robert te sien,waarin hy sê die resensie is genoeg om hom nie die boek te laat koop nie.Dit wys weereens hoe mense verskil.
    Dankie vir jou insiggewende ontleding!

  3. Hasieblou het gesê op Julie 11, 2012

    Kragtige kommentaar, Crito. Ek hou meningwaar van wat jy hier skrywe. Gaan jy regtig niks se^ van Marius Visser se vroe”re resensie oor Die twee lewens van Dieter Ondracek nie? Of is dit uit ordentlikheid dat jy daaroor swyg?

  4. Vleiloerie: ‘n Boek kan vol temas en vlakke wees, en steeds sleg wees. Ek hoop nie ordentlikheid laat Crito stilbly nie. Dis goed en wel bogenoemde mense het die boek geniet; ek het nie. Daar’s wragtag nie ‘n reg en verkeerd as dit by opinie kom nie. Bygesê: Ek dink ook bg. 2 resensies was goed geskryf en aangebied in sigself. Ek stem net nie saam nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.