Jy blaai in die argief vir 2012 Julie.

Profile photo of crito

by crito

Geesdrif

Julie 31, 2012 in Sonder kategorie

Hans du Plessis het ‘n hele subgenre in die Afrikaanse digkuns aan die gang gekry met sy Griekwapsalms,  Innie skylte vannie Jirre en ander bundels. Christo van Rensburg bespreek op Boeke24 die jongste toevoeging, Karos orie dyne.

Ek is mal oor hierdie verse voor Karos orie dyne – omdat hulle nie opgesmuk is nie. Van Rensburg gee ‘n goeie aanduiding van hul intrinsieke waarde. En nou’s daar nog ‘n sarsie!

Van Rensburg is nie ‘n gereelde bydraer tot die koerante se resensieblaai nie. Hy skryf in ‘n styl wat ‘n mate van ‘n akademiese ingesteldheid verklap, maar hy gee hom nie heeltemal oor aan daardie versoeking nie.

Ek het my verkneukel aan al die taalheerlikhede wat hy aanhaal, en gewens hy wil die eerbare ding doen en meer versreëls in hul geheel aanhaal. Trouens, hy’t so konsekwent gehou by taal-eienaardighede dat hy nie werklik uitkom by ‘n taksering van die digkuns en die gehalte van die gedigte nie.

Ek sou ook wou weet wat Van Rensburg dink van die ses gedigte deur Hans du Plessis self.

Miskien was dit net sy slenter. Van Rensburg gee mens genoeg  rede om die bundel onmiddelik te gaan koop.

En ek is hom ook dankbaar dat hy nie daardie ou voos kwelling laat weerklink het oor hoe vreemd tog dat dit ‘n wit digter is wat die Griekwa-taal so aan die lewe hou. Daai ene is uitgesorteer.

***

Ek weet nie of Christine Barkhuizen le Roux kinders het nie, en of hulle al deur hul kinderjare is nie. Te oordeel aan haar resensie van Hoe gemaak met my dikmond kind? van Suzette Truter (Boeke24), en die gedempte toon waarin sy opgewonde daaroor raak, moes sy baie soet kinders gehad het, as sy gehad het.

“Gedempte toon” is miskien ‘n bietjie oordrewe. Barkhuizen le Roux se reaksie is aan die koue kant van louwarm.

Om die waarheid te sê, dis ‘n vrot resensie.

‘n Mens hoef net na die titel te kyk, en daarna die omslag, om te weet dat die resensent dit nie snap nie wanneer sy skryf “ouers moet besef hierdie kan nie ‘n professionele handleiding vir gedragsprobleme wees nie,” en daarna weer “Dit moet egter in gedagte gehou word dat dit nie ‘n allerantwoord kan bied nie, en dat kommunikasie tussen ouer en kind meer behels as net ‘n gesprek oor ‘n melkskommel hier en daar.”

Pretendeer die boek om meer te wees as ‘n maklik leesbare en populêr geskrewe lewensstyl-werk? Ek twyfel.

Wanneer ‘n resensent dink ‘n boek deug nie, is dit beter om nie doekies om te draai nie. Soetjiespoep-kritiek soos dié wat Barkhuizen le Roux lewer en wat haar uiteindelik bring by hierdie ingedampte opsomming – “Hoe gemaak met my dikmond kind? is ‘n ligte boek vir ouers wat met ‘gewone probleme’ van kinders te make het” – help nòg die skrywer nòg die leser.

En as mens nie daarvoor kans sien nie, los dit liewer.

***

Johan Rademan se bespreking van Riaan Cruywagen – Wat’s nuus? (Boeke24) is aan die ander kant van die spektrum.  Knap, bondig geskryf, met die voordeel dat dit iemand van Cruywagen se portuur is wat die taksering doen.

Ek het deur die jare groot ontsag gekry vir Rademan se talente – hy is ‘n ware jantjie-my-kneg van die radiowese. Vinnig met die mond, en ‘n goue stem ook.

Dis daarom baie verblydend om te sien dat hy as skrywer ook nie terugstaan nie. Sy resensie het ‘n heerlike ontspanne gang, en sy reaksie op die inhoud van die boek is reguit en lekker om te lees.

Nie alle resensente is ewe suksesvol met hul vergelykings nie, maar ek dink ‘n mens sal baie goed moet wees as jy hierdie ene van Rademan wil nadoen:

Gesien hoe radio-ikone soos Roelf Jacobs, Nic Swanepoel, Retief Uys en ander ontslapenes in die broeijare van TV deur die fallopiese buis van Radiopark na die nuwe TV-?gebou gestap het om ‘gou’ die nuus te gaan lees. “

En dan sy slot. Eweneens die moeite werd om aan te haal:

Ons is in ’n internasionale uitsaai-omgewing en deur Cruywagen se boek ontdek jy die groot waarheid: Die verskil tussen Riaan Cruywagen en Chuck Norris – Riaan kan nuus lees!”

 

***

 

Elizabeth de Villiers het ‘n besonder deeglike en afgeronde resensie van Om die Nguni-vure van Myra Scheepers vir Rapport Boeke geskryf.

 

Ek wil net reageer op een opmerking wat sy maak. De Villiers sê op ‘n plek “Dié versameling stories het aanvanklik vir my vreemd gevoel, veral in die gevalle waar die stouterd weg kom met sy dade.”

 

Hoekom sou dit ‘n probleem wees vir iemand wat grootgeword het met sprokies van die Broers Grimm en die ander wat sy noem? Dis ‘n goeie ou tradisie in Europese tale – begin maar lees by Van den vos Reynaerde.

 

 

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Bekoring-van-Griekwa-taal-uit-vervloe-dae-20120729 

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Opvoedgids-populer-geskryf-vir-maklik-naslaan-20120729

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Chuck-Norris-van-Afrikaanse-TV-nuus-20120729

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Onontbeerlik-vir-kinders-van-Afrika-20120728

Profile photo of crito

by crito

Hoflikheid

Julie 24, 2012 in Sonder kategorie

Op LitNet se resensieblaaie het daar ‘n ding gebeur wat my fassineer. Gunther Pakendorf het Hennie van Coller se digbundel Soom geresenseer; Van Coller het die resensie een kyk gegee en geantwoord.

Pakendorf is nie onbekend aan lesers van Afrikaanse boekbesrekings nie. Sy vakgebied is Duits, maar hy het groot insig en kennis van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. In die verlede het ek hom ‘n baie skerp resensent gevind wat nie gehuiwer het om teen die stroom te gaan wanneer hy nie met ander se menings saamstem nie.

Sy bespreking van Soom is nie geesdriftig nie. ‘n Gedempte toon is merkbaar. Sy kommentaar is afgestem op verstegniese sake. Bekla die afwesigheid van humor, betreur sekere skeibrekende stukke digterlike waagmoed van Van Coller.

Hy sê baie oor die bundel, maar min oor die strekking en skakeling van die gedigte. Hy identifiseer nege afdelings, maar gee nie ‘n aanduiding wat hulle bestaansrede is nie.

Op sy eie gesien, sonder kennis van Van Coller se antwoord, sou dit die leser geen ander keuse laat nie as om te dink dat Soom ‘n bundel is waarsonder mens maar kan klaarkom.

Litnet het die skakel na Van Coller se repliek in rooi onderaan Pakendorf se bespreking geplaas. Mens kan dit werklik nie mis nie.

Die literator van Bloemfontein wys dadelik daarop dat dit in die Afrikaanse literêre wêreld die gebruik is dat skrywers nie reageer op resensies van hul boeke nie. Hy wyk van dié gebruik af, sê Van Coller, omdat daar aantoonbare foute in Pakendorf se resensie is.

Hy gee dan ook ‘n uitvoerige analise van Pakendorf se mistastings, en sy repliek is oortuigend. Hy sluit sy betoog uiteindelik met dié vernietigende opmerking: “Dit is die resensent se goeie reg om die pogings negatief te beoordeel. Ongelukkig gaan begrip evaluering egter vooraf.”

Van Coller se laaste paragraaf is genoeg om die gesprek tussen hom en Pakendorf af te sluit, maar ek dink dit sal ‘n goeie idee wees vir Pakendorf om homself by wyse van teenantwoord te verdedig. Nietemin, daardie paragraaf lui:

“’n Skrywer is dankbaar vir die moeite wat die meeste resensente doen met sy werk. Kennis van die onderwerp waaroor die werk veral gaan, is egter nie net ’n etiese voorvereiste nie, maar ook ’n vorm van hoflikheid, wat óók sy plek het in ’n boekbespreking.”

Mens moet Pakendorf se resensie en Van Coller se repliek naas mekaar lees. En dan kan jy begryp hoe ongemaklik sit die opskrif by die resensie: Die grens tussen vryheid en voorskrif.

Van Coller se repliek gaan nog lank bly lui.

***

Die voorval, as mens dit só kan noem, laat mens anders voel oor ‘n resensie soos dié wat Bernard Odendaal op Boeke24 publiseer van In die niks alom, ‘n digbundel deur René Bohnen.

Dit is nie ‘n resensie wat gemaklik en vinnig lees soos Pakendorf s’n nie. Dit is akademies en oninteressant omdat dit van die leser vereis om die bundel byderhand te hê om enigsins die resensie te kan waardeer.

Wat tot Odendaal se eer tel, is dat hy die hoflikheid het om Bohnen se vorige bundel in ag te neem, en meer deeglik in te gaan op inhoud as vormgewing. Só ‘n benadering laat my altyd vermoed dat die bundel verstegnies nie watwonders is nie, maar dat die resensent dít waaroor gedig word, wel die moeite werd ag om te analiseer.

***

Corina van der Spoel en Saartjie Botha besprek albei Wilna Adriaanse se ‘n Klein lewe op Boeke24. Albei hierdie besprekings lei mens reguit na die boekwinkel.

Van der Spoel is ‘n burger van die boekbedryf en wyd belese. Dit blyk uit haar resensie. Die dinge wat sy raaksien, is dan ook die soort dinge wat uit Adriaanse se vertelling wyd uitrank: die pragtige omslag en hoe dit skakel met die inhoud, die leesgeskiedenis wat in die narratief verweef is, die indrukke van Afrika, die soorte aandadigheid op hierdie kontinent.

Een vraagstuk noem sy nie: is dit ‘n outobiografiese roman, of is dit fiksie? Wat is die hoofkarakter se naam?

Dié antwoorde kry mens by Botha, ‘n toneelmens en iemand wat waarskynlik ‘n vertelling soos hierdie uit ‘n effens ander hoek beskou. Vir haar oor is sekere dele van die dialoog nie oortuigend nie maar die res het haar diep getref.

Sy kontekstualiseer ook die roman: Dis die produk van Adriaanse se meestergraadstudie in kreatiewe skryfwerk by prof. Etienne van Heerden van UK, dis cum laude-materiaal, herkenbare outobiografiese gegewens word gebruik, daar is ooreenkomste tussen die naamlose skrywer en die outeur …

Wat ek van albei resensies baie bevredigend gevind het, is die feit dat hulle die intrinsieke trefkrag van die inhoud gebruik het as aanknopingspunt. My afleiding is dat die aard van die skryfwerk van só ‘n hoë peil is dat ‘n uitmergelende literêre ondersoek onmoontlik was. Of onnodig?

Skakels:

http://www.litnet.co.za/Article/soom-die-grens-tussen-vryheid-en-voorskrif

http://www.litnet.co.za/Article/skrywersreaksie-op-die-resensie-van-soom

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Digter-wys-spiere-in-toetsing-van-poetiese-werktuie-20120722

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Oor-menswees-tussen-ander-20120720

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Reis-na-begrip-20120720

Profile photo of crito

by crito

Resensie-sports

Julie 17, 2012 in Sonder kategorie

Uiteindelik ‘n bietjie resensie-sports. Dankie Marius Visser. Die man wat tango waar die engele bang is om te loop.

 

Visser het sy kladwerk vir die resensie wat uiteindelik afgelope Sondag in Rapport verskyn het oor Piet van Rooyen se Rodriguez, vooraf as blog gepubliseer. In die proses het hy antwoorde van die skrywer asook ander belangstellendes ontvang.

 

Maandag het Thys Human dieselfde roman vir Boeke24 geresenseer.

 

Ek glo nie dis nodig om té lank by die blog stil te staan nie. Dis ‘n interessante   eksperiment, vol slordige taal- en tikfoute, en het ongelukkig nie gelei tot ‘n beter resensie as wat Visser in die verlede geskryf het nie. Inteendeel.

 

Wat ek wel moet toegee, is dat Visser nou ‘n klompie keer na mekaar daarin geslaag het om my baie goed te laat kopkrap en herlees in ‘n poging om te besluit wat ek van sy kritiek moet maak.

 

Oor een saak stem ek baie sterk met Visser saam, en dit is dat Rodriguez wemel van taal- en tikfoute. Dit is ook heeltemal korrek dat hy die uitgewer daaroor roskam.

 

Die vraag is net hoeveel die uitgewer en skrywer hulle aan Visser gaan steur. Ek vra dit omdat mens sukkel om Visser heeltemal ernstig op te neem. Hy begin sy resensie met ‘n aksioom van sy eie wat skynbaar humoristies bedoel is: “In stories is daar geen reëls nie. Hier is drie van hulle: In ’n spanningsverhaal moet jy weet wat die held wil bereik. ’n Ware verhaal moet geloofwaardig wees. ’n Parodie moet albei bogenoemde reëls breek.”

 

Mens sou hom op aldrie daarvan kon aanvat.

 

Ek het geen probleme daarmee as ‘n resensent nie van ‘n boek hou nie. Hy moet my net vertel hoekom nie, en dan kan mens self oordeel en besluit of jy saamstem of nie. Die gelol met hierdie resensie is dat Visser dinge aan die roman toeskryf wat hy nie behoorlik kan motiveer nie.

 

Vir eers sê hy Rodriguez is ‘n parodie. Ek het die roman nie só ervaar nie, maar is bereid om oortuig te word. Visser se motivering, naamlik dat die doelloosheid van die gebeure en die onbevredigende “uitbetaling” (syns insiens) hom noop om te aanvaar dat dit ‘n parodie is, gaan net nie vir my op nie.

 

Daarna volg nog ‘n Visser-toeskrywing. Van Rooyen probeer glo Claude Lévi-Strauss se strukturalisme dekonstrueer – iets wat hy maklik aanvaar “gegewe Van Rooyen se agtergrond in volkekunde”. Watse bewysplaas is dit? Ek het nie gedink resensente kan vandag nog sulke twak verkondig en glo nie.

 

Dit verlei hom om ‘n klomp dinge kwyt te raak oor hoe hierdie Van Rooyen vs. Lévi-Strauss-geveg neerslag vind in die roman, en uiteindelik kom Visser se kostelike gevolgtrekking dat dit alles “verwarrend eerder as verruimend” is. Dis verwarring wat Visser self skep. Is hy opgewasse om Rodriguez te resenseer, het ek begin wonder.

 

In die blog publiseer hy vrae wat hy aan Van Rooyen gestuur het, asook Van Rooyen se antwoorde. Toe ek die blog lees, het ek gedink dit is wonderlike stof om in die resensie te ontgin. Maar wat gebeur? ‘n Baie flou reaksie op Van Rooyen se antwoord n.a.v. Visser se korrekte aanduiding in die blog dat P.W. Botha anachronisties is in hierdie verhaal, en ‘n totaal verspeelde kans om aan te dui dat Van Rooyen die gebruik van GPS foutiewelik hanteer. (Enigiemand kan dit naslaan, en die kern van die fout lê in “handgrootte”, nie in GPS as sodanig nie.)

 

Hy raak ook op die blog met Van Rooyen slaags oor ‘n verwysing na Thoreau se Walden. Van Rooyen se antwoord is verduidelikend, maar onvoldoende. Visser besef dit, dog sy argumentasie daaroor klink na vlieë-afvangery. ‘n Mens gee eintlik nie meer om oor wat in die resensie staan nie omdat dit so uiters warhoofdig aandoen.

 

Visser sê in sy blog dat lesers van resensies nie woordspeling en sarkasme verwag nie. Dis bes moontlik waar. Dat hy self nie die rol van ironie in die ontsluiting van Rodriguez gesnap het nie, is ongelukkig ewe juis.

 

Thys Human se resensie lees in teenstelling soos ‘n droom. Sy kontekstualisering is goed gedoen, met die belangrike klem wat hy laat val op die werklikheid wat die verhaal binnetree. Sy opsomming van die verhaalinhoud is bondig.

 

Die ernstige literêre leser sal Human se opmerkings oor die probleme met die fokalisator en die gebruik van die verledetydsvorme baie betekenisvol vind, en nuttig vir verdere kritiese analise.

 

Krediet ook aan Human vir die vermelding van die verkeerde verwagtinge wat die teks op die agterplat skep weens misleidende inligting. Dit is iets waaraan die uitgewer kan aandag gee – in hierdie geval omdat Visser ook (in sy blog, maar nie in sy resensie nie) aandui dat hy na die lees van die flapteks ‘n “boeiende, lekkerlees verhaal wat spanning en intrige suksesvol kan verweef” verwag het, maar nie gekry het nie.

 

Die verskil tussen die twee resensies? By Human vind ek die krag lê in die onttrekking van die resensent as persoon uit die resensie uit, terwyl mens by Visser weer baie bewus is van die resensent as persoon wat reageer op ‘n boek.

 

By Human is daar ‘n wye verwysingsveld, maar hy dring dit nie aan mens op nie. Dit impliseer respek vir skrywer en skryfsel, en plaas dadelik die roman in ‘n ander lig. Ek dink net hy kan ook by Visser iets leer: As ‘n roman soveel tik- en taalfoute het as Rodriguez, noem mens dit.

 

Die ekkerigheid van die Visser-resensie is wat die rooi ligte laat flits – dis vir hom belangriker om sy reaksie te beskryf as wat dit is om met die inhoud slaags te raak. Daarom dat hy so maklik dinge toeskryf aan die skrywer of die roman, en vandaar normatiewe spronge wil maak.


Wat my egter by nabetragting die meeste opgeval het toe ek die twee resensies met mekaar vergelyk, is dat ek nie met Human se argumentasie fout kon vind nie, al het ek self glad nie met Rodriguez opgeskiet nie. Visser het weer heelwat dinge gesê waarmee ek eens was, maar hy het onder my oë die pad byster geraak.

 

Daar is by my geen twyfel oor wie die swaargewig-resensent onder dié twee is nie.

 

 

Skakels:

 

http://aityt.blogspot.com/2012/07/witskrif-van-n-boekresensie.html

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Vergeefse-gesoek-na-leidrade-20120714

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Anderse-maar-ware-Grensverhaal-20120715

 

 

 

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Uit twee hoeke, een slotsom

Julie 11, 2012 in Sonder kategorie

André Krüger se debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek, kan ‘n resensent maklik laat verdwaal. Dit het ons reeds gesien. Maar as die resensent bereid is om dit uitvoerig te analiseer – tematiek, narratief, relevansie – lei dit tot besonderse resensies. Dit word ook duidelik dat dit een van die sterkste debute van die afgelope dekade in Afrikaans is.

Boeke24 het twee resensente gevra om daarna te kyk: Piet Croucamp en Charl-Piere Naudé. Croucamp het ‘n politieke akademiese agtergrond, Naudé is ‘n digter en bekend om sy analitiese vermoëns.

Hul reaksies op die roman is vir my betekenivol. Albei het gereageer op die verwikkelde situasie van ‘n onskuldige (lees: onaktiewe) individue binne ‘n politiek verwronge bestel.

In hierdie opsig het Croucamp ‘n analise van baie groot waarde gemaak. Sy metode sou die antieke Grieke trots gemaak het. Sy uitgangspunt is dat daar ná konflikte (oorlog of institusionele geweld) ‘n aantal vrae gevra móét word. Hy identifiseer dan vier vrae – en dié vier vrae vang in wese vas wat Krüger met sy roman doen:

“Wie is verantwoordelik vir die uiteinde van die geweld teen die mens en die mensdom? Of liewers, waar lê die oorwig van verantwoordelikheid aanvaar vir die skending van regte: by die stelsel of die individu???Is daar iets soos ’n onskuldige toeskouer of is ons skuldig by implikasie of assosiasie eerder as deur ons dade???Kan daar van die gewone mens verwag word om ’n morele onderskeid te tref tussen die twyfelagtige regverdigings vir geweld binne eie groepsverband en die meer aanvaarbare geweld teenoor die verwyderde assosiasies buite die direkte groepsverband? “

Hy reageer dan hierop by wyse van ‘n analise van dít wat in Die twee lewens van Dieter Ondracek gebeur. Dit is ‘n substansiële analise, geskryf vir die onderskeidende leser, met verdere vrae wat gestel word, en vir die leser leidrade gee na dinge wat ondersoek kan word. Sy aanpak is een waaruit sy agting vir die roman en skrywer dadelik blyk.

Hy is bewus van insinkings in die narratief, maar sy slotsom is dat die roman boeiend bly omdat dit genuanseerd kyk na die rol van mense in ‘n politiek gespanne omgewing.

Ek moet sê dat ek Croucamp se resensie met groot waardering gelees het, en dikwels groot plesier geput het uit sy skerpheid. Neem maar hierdie opmerking: “Met so ’n dogma kan Dieter maklik as ’n passiewe lafaard beskryf word. Maar dit sou dieselfde logika wees wat normale onkunde as ’n misdaad definieer.”

Croucamp is nie ‘n resensent wat volgens ‘n patroon skryf nie, en dít alleen verklaar vir my hoekom ek sy resensie as so ‘n vars bries deur die bedompige kamer van Afrikaanse resensies ervaar het.

Naudé se siening van die roman spruit uit ‘n waardering vir dieselfde tematiese substraat as dié wat deur Croucamp uitgelig word, maar Naudé is ‘n woordkunstenaar en dit is te verwagte dat hy sal aandag gee aan die meer literêre aspekte van die roman.

Nes Piet Croucamp resenseer Naudé nie volgens ‘n formule nie. Jy sou hom nooit kon beskuldig van ‘n literêr-akademiese benadering nie.

Hy begin met vyf paragrawe wat mens in ‘n tipiese literêre-akademiese resensie eers teen die einde sou raakloop nadat die resensent stelselmatig daarheen opgebou het. Naudé gee dadelik sy taksering van die roman, en daarna kom sy ontleding in detail.

Net daardie eerste vyf pararawe behoort almal wat belang stel in die skryf van resensies eindeloos te imponeer:

“Hier is nou ’n lekkerlees-roman en ’n literêre prestasie. ’n Mens sou nie sê dis ’n debuut nie. Die romanmatige verwikkeldheid is helder en terselfdertyd maklik ontsluitbaar.

“Subtiliteit en vlotheid loop vervleg.

“André Krüger het iets ongewoons gelewer: toeganklike prosa én letterkunde, spanningsverhaal én filosofiese roman. Veelvlakkig én eenduidig.

“Hier het ons ’n fynbesnaarde, poëtiese vertelling deurspek met talmende oomblikke dog met ’n volgehoue vaart wat sing soos ’n pyl.

“Die taal en styl is ook sterk eietyds, maar terselfdertyd veelsydige, idiomatiese Afrikaans van die boonste rak.”

Naudé staan meer ruimte af aan die bespreking van die narratiewe ontwikkelinge en die tematiese vervlegting wat daarmee gepaard gaan as Croucamp, en ek vermoed dat diegene met ‘n literêre ingesteldheid meer aanklank by Naudé se resensie as by Croucamp s’n sal vind.

Vir my sluit die een die ander nie uit nie. Wanneer mens Croucamp se resensie gelees het, besef jy dat dinge wat jy laas in Antjie Krog se biografiese werke uitgespel gesien het, wel deeglik te verwerk is in ‘n moderne Afrikaanse roman – en dat die tematiek besonder verwikkeld verder gevoer kan word.

Naudé weer lei jou aandag ook terug na die bouwerk van die roman. Ek dink dis vir enigiemand ‘n besonderse gebeurtenis wanneer ‘n digter van Naudé se statuur jou taagebruik komplimenteer, en André Krüger kan sekerlik baie tevrede wees met hierdie resensie.

***

Ek vermoed dat Henning Pieterse se bespreking van Cas Vos se Weerloos lewe een van die mees aangehaalde resensies van ons tyd gaan word.

Hy skryf oor die invloed van ander digters wat in Vos se bundel te bespeur is, en maak dan hierdie stelling: “Álle digters steel. Dis ’n gegewe; sommiges steel en verwerk net slimmer as ander.” (Hou maar die program vir Aardklop dop!)

Ek hou van Pieterse se manier van skryf: geen bladvulling nie, alles reguit en op die punt af. Só ‘n resensie is verkieslik bo een wat doekies omdraai.

***

Dankie, Kay-Lee van Skukuza. Hier’s jou naam in virtuele druk.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Nazi-Berlyn-teenoor-apartheid-SA-20120708

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Roman-sing-soos-n-pyl-20120708