Profile photo of crito

by

Gekwalifiseerde aanbevelings

Junie 19, 2012 in Sonder kategorie

Joernaliste word geleer om clichés te vermy. Moenie uitdrukkings en stelswyses gebruik wat jy gereeld in druk sien nie, word gesê. Ek wil graag terugkeer na my opmerking verlede week oor Lona Gericke se aanduiding dat Nanette van Rooyen se Ek was hier “’n boek [is] waarby tieners aanklank sal vind”.

My vernaamste beswaar is dat mens dit nie maklik kan verifieer nie; ek sou net so goed kon gesê het dat dit die soort resensie-cliché is wat weinig betekenis dra.

Op Boeke24 is daar vandeesweek ‘n variant van hierdie cliché. (Mens sou dit seker ook ‘n geykte formulering kan noem, maar cliché klink beter.)  Hannelie Booyens skryf oor Anne Provoost se Die arkvaarders. Sy eindig met: Provoost is bekend om haar jeugromans, maar Die arkvaarders is ’n boek wat deur oopkop-lesers van alle ouderdomme waardeer sal word.”

 

Booyens se resensie is eersteklas. Al gaan dit oor ‘n vertaalde boek, wat ek nie normaalweg vir hierdie blog in aanmerking neem nie, wil ek dit graag voorhou as voorbeeld van ‘n strategies uitstekend beplande resensie.

 

Soos mens uit die slotopmerking kan aflei, is Booyens besig om die boek in verskeie rigtings aan te beveel.

 

Vir eers wil sy aanhangers van Provoost se jeugverhale aanmoedig om ook hierdie “volwasse”-werk te lees. Daarmee saam, uiteraard, wil sy vir mense wat Provoost vermy omdat sy gewoonlik vir ‘n jonger ouderdomsgroep skryf, aansê om Die arkvaarders te lees.

 

Belangriker nog is die argumente en teenargumente oor ‘n boek soos hierdie wat Booyens antisipeer vanuit die geledere van mense wat die Bybel graag letterlik wil begryp asook ander soorte Christelike geloofsfundamentaliste.

 

‘n Mens hoef net die resensie te lees om te weet dat Booyens baie goed weet watse soort kritiek al in die verlede teen hierdie boek ingebring is, en watse soort kritiek waarskynlik in ‘n plaaslike konteks daarteen sal kom. Ek is oortuig deur die manier waarop Booyens ‘n saak vir die boek uitmaak.

 

Wat ek wel eienaardig vind, is die implikasies van haar slotwoorde. As ‘n mens oopkop oor godsdiens dink, sal jy die boek geniet. En as mens die boek nie geniet het nie? Die suggestie is sekerlik dat mens dan nie oopkop is nie.

 

Booyens se vernuf met haar argumentering sorg dat mens reeds weet die gehalte van die skryfwerk is puik, die skrywer se navorsing is op hoë peil, en Daniel Hugo se vertaling is van die heel beste.

 

Booyens voorsien dus hoegenaamd nie dat mens nie van die boek sal hou om literêre redes nie. Sy is seker onderskeidende lesers sal haar evaluering aanvaar. Die ding is net, is hulle oopkop genoeg? (Hierdie cliché het die manier om jou denke in ‘n baan te plaas waaruit nie kan ontsnap nie.)

 

Mens sou haar resensie seker ‘n gekwalifiseerde aanbeveling kan noem. Wat dit op dieselfde vlak plaas as resensies waarin byvoorbeeld alle krieketliefhebbers verseker word dat hulle van ‘n spesifieke boek sal hou omdat dit oor krieket handel.

En dit is net weer ‘n variant van die boekbesprekings wat in die jare vyftig verskyn het waarin boeke aanbeveel is net omdat hulle in Afrikaans geskryf is, of die soort resensies wat in die jare sestig en sewentig so graag boeke aanbeveel het omdat dit mens se kennis verbreed en jou insig verdiep.

Die resensie-cliché is ‘n uitvloeisel van die resensent se geaardheid – iemand wat blatant of subtiel opvoedkundige wil wees. As hulle blatant is, sal die resensies gewoonlik doodgewoon opheffingswerk wees (tieners sal by hierdie jeugboek aanklank vind – resensie geskryf deur iemand in sy/haar sestigs). As dit meer subtiel is, word dit deel van die algemene diskoers (oopkop-lesers sal van hierdie boek oor ‘n Bybelse onderwerp hou – resensie geskryf deur ‘n oopkop-denker oor godsdiens).

Maar dit bly ‘n vorm van ‘n cliché, ‘n herhalende styl van formulering. Mense wat gereeld resensies lees, sal weet waarvan ek praat.

***

Alweer daardie ou probleem: die resensent wat vergeet dat ander mense dalk ook reeds die boek gelees het wat hy nou resenseer. Om dié rede weet ek dat Marius Visser die pot lelik misgesit het met sy resensie in Rapport Boeke van André Krüger se Die twee lewens van Dieter Ondracek.

Dié roman vertel van een persoon se wedervaring in Duitsland voor en ná die Tweede Wêreldoorlog, en daarna in Suid-Afrika in die jare vyftig.

Visser “lees” die boek – aanvanklik heel interessant, bygesê – as een wat handel oor “aandadigheid, skuld, verlossing”. Hy stoei met die inhoud (wat mens kan aflei van die groot klomp vrae wat hy stel) en ervaar uiteindelik ‘n ongemaklikheid oor wat hy meen die boek te sê het oor aanspreeklikheid en die besluite wat mens daaroor neem.

As die boek net oor aanspreeklikheid gehandel het, sou Visser se bespreking miskien nog gedeug het. Maar dit handel oor veel meer: Oor passifisme, oor die patriargale bestel en die wyse waarop ‘n apolitiese passifis telkens die slagoffer daarvan sal word. Dit handel oor die manier waarop ‘n mens se passifisme ook uiting vind in sy liefdesverhoudings, en die manier waarop dit van hom ‘n manipuleerbare mens maak. Dit handel oor vrouens as instigeerders/verleiers en vrouens as slagoffers. Dit handel oor die manier waarop ‘n passifis ‘n slagoffer kan raak van iemand anders se verlede.

Dit is ‘n roman wat sy leser deur verskeie kontraste tot nadenke probeer stem – uiteindelik, uiteraard, die moderne Afrikaanse leser. Visser is bewus daarvan, maar uiteindelik swig hy voor die versoeking om ‘n beterweterige resensie te skryf waarin hy die hele bestaansrede van dié roman bevraagteken. Dat hy in die proses glad geen rekenskap gee van die rol van Magda (die Suid-Afrikaanse vrou wat haar oor Ondracek ontferm, welke ontferming tot Ondracek se ondergang en die slot van die roman lei) in die verhaal nie, skyn hom nie te pla nie.

Dit pla my wel. Waar ek in die begin van die resensie nog met Visser se betoog kon meegaan, het ek teen die einde daarvan gevoel dat geeneen van sy insigte enige gesag dra nie. Hy het geen waardering vir die aansienlike prestasie wat Die twee lewens van Dieter Ondracek as debuutwerk is nie.

En hier is die gelol: Nie al Rapport se resensie-lesers is in my posisie nie. Meeste het sekerlik nog nie hierdie roman gelees nie. Nou kan ‘n mens sinies wees en sê dat die laaste plek waar boekliefhebbers leiding oor Afrikaanse boeke gaan soek, Rapport Boeke is, veral wanneer personeellede van Media24 dit vul met kopie. Maar dit sou onvanpas wees.

Die rekord aangaande Die twee lewens van Dieter Ondracek lees nou dat daar een resensie verskyn het, en dat dit negatief is. Is dit regverdig teenoor die skrywer, André Krüger? Ek dink nie so nie.

Wat my nog verder grief van hierdie resensie, is dat ek op sommige punte dit roerend eens was met Visser. Ek dink ook dat daar minder klem op vertelde gebeurde moes geval het, en meer op aksie wat die gebeurde uitdra. Maar as hy nie eens die rol van Magda kan raaksien en snap nie, dra min wat hy sê vir my enige gewig en verkies ek om liewer te vergeet van die dinge waaroor ek met Visser saamstem.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Dramatiese-oorvertelling-van-Bybelse-storie-vir-oopkop-lesers-20120617

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Leser-se-strydvraag-Vergeef-of-verdoem-20120615

 

8 antwoorde op Gekwalifiseerde aanbevelings

  1. Hasieblou het gesê op Junie 19, 2012

    Dankie, Crito. Omdat ek ook reeds die boek gelees het, was Visser se resensie vir my onbegryplik eng en, met respek, getuig dit nie van die soort ingeligtheid wat mens van ‘n resensent sou verwag oor ‘n roman wat werklik nie enkelduidig gelees kan word nie.

  2. Ek sal graag, uit regte nuuskierigheid, wil weet wat jy dink van die rol wat Magda speel. Dalk hét ek dit nie gesnap nie.

  3. crito het gesê op Junie 21, 2012

    Mens het rede om vrae te vra oor hoe opreg Dieter se passifisme is terwyl hy in Duitsland is. Die oomblik dat hy in Suid-Afrika is, word Magda die persoon wat hom ‘n kans gee om aan die leser te toon dat hy in murg en been ‘n passifis is. Hy word selfs die slagoffer van haar verlede. Sy word vir die leser ‘n soort kontrole – asook ‘n teenhanger vir Sabine. Sonder Magda sou die roman in sy groter ideëlading nie oortuig het nie, en struktureel nog minder. Dieter is nie ‘n doener nie, dinge gebeur eerder met hom. Sabine het met hom gebeur, en daarna Magda. En sonder Magda sou die verhaal nie kon ontknoop soos hy wel doen nie.

  4. Okay, so ek het dit darem gesnap. My gevoel was ek het reeds die punt oor Sabine gemaak dat sy ‘n karikatuur en argetipe sonder persoonlikheid is; ek het gevoel Magda is more of the same, maar net na die ander kant toe. Sabine is die bitch, Magda is die mother. Maar albei is onvoltooide karakters wat slegs beskryf word sover dit nodig is om Dieter te “verstaan”. Ek dink ek het gevoel om haar te noem sou te veel van die verhaal weggee, en oorbodig wees ná wat ek reeds oor Sabine gesê het. Die ideëlading, terloops, misluk vir my by daai stasie in Duitsland waar Dieter die trokke moet gaan “verwyder”. Ek kan my ‘n tweede lewe verbeel waar hy oortuigend verlossing kan bereik, maar dan sou hy moes ophou met sy passifisme. Hy hou egter nié op nie. Anyway, ek verstaan dus Magda se rol in die onknoping, maar dinge stort voor daardie punt vir my reeds in duie. En dammit hoekom vertel Afrikaanse boeke nie stories nie? Hoekom altyd so obviously ‘n voertuig vir ideëladings. Dis teleurstellend. (En met “altyd” bedoel ek baie.)

  5. Hasieblou het gesê op Junie 21, 2012

    Eisj, MariusV, ek wil graag oortuig word dat Sabine ‘n karikatuur is maar ek kry dit nie reg nie. En jou beswaar oor Afrikaanse boeke wat nie meer stories is nie, val op ‘n simpatieke oor by Vleiloerie. Geen literatuur bestaan uit net stories nie – as jy met stories bedoel dat die belangrikste saak is “wat gaan volgende gebeur?”. Binne die prosavorm is daar tog genres wat ook, en soms net, met idee”s werk. Laasgenoemde is weliswaar nie die gewildste romans nie maar dit beteken nie net gewilde romans het bestaansreg nie. Ook meen ek daar is wel ‘n sterk “storielyn” in hierdie roman, in elk geval so sterk dat dit nie deur die “idee” oorskadu word nie.

  6. Vleiloerie, jy’s reg: Daar is baie great boeke wat baie steun op breedvoerige eksposie met min handeling, maar hulle is great om ander redes. Ek sê nie hulle het nie bestaansreg nie, ek dink net baie van die boeke wat ek bv. onlangs in Afrikaans gelees het, het storielyne wat sterk genoeg SOU wees, as hulle nie onder die bagasie van “literatuur” (ek hoop jy weet wat ek bedoel) en dan “ideëlading” gebuk gegaan het nie. Hierdie boek, juis, hét ‘n sterk storielyn, maar dit word nie aan ons gewys nie (jy weet, die cliché van “show, don’t tell”). Ek weet dis ‘n strukturele tegniek om die man se passiwiteit te demonstreer, maar daar was so baie lydende sinne dat ek regtig verwyder gevoel het van die aksie, asof ek op armlengte gehou word. En ek het gevoel ek word met ‘n lepel gevoer oor die temas, eerder as dat ek self kon kyk wat gebeur en my eie mind kon opmaak. Dis nou maar waar ons verskillende opinies ter sprake kom, darem iets wat mens moet onthou met die lees van ‘n resensie (veral as jy die skrywer van die boek is): ek’s maar net één ou wat hierdie opinie het. Maar vir my is die tema so ‘in your face’ dat ek nie die storielyn kon geniet nie.

  7. Hasieblou het gesê op Junie 21, 2012

    Skies, MariusV, as dit jou teleurstel maar ek is nie die skrywer van die boek nie. As ek was, sou dit darem in the face wees! Nee, ek het regtig waardering vir hierdie roman. Die ding van show, don’t tell, is nie eintlik ‘n cliche’ nie. Dis noodsaaklik en hoe meer showing daar is, hoe beter. Moeilik. Nie iets wat ‘n skrywer sommer met die eerste roman baasraak nie. Maar ek glo nie mens kan die volle omvang van ‘n roman op grond daarvan planke toe stuur nie?

  8. Ha! Ek het nie gedink jy is die skrywer nie; daai jy is die onpersoonlike voornaamwoord vir ” ‘n mens”. Ek het gedink oor “enkelduidig” wat jy in jou eerste kommentaar noem. Ek weet wat jy bedoel het, en fair enough, maar dink daaraan: selfs Liewe Heksie kan veelduidig gelees word. Is dit nie bietjie hartseer dat mens spesifiek moet toon dat iets veelduidig gelees kan word nie? Is Afrikaanse lesers só ongesofistikeerd? As ek resensies skryf moet ek enkele aspekte kies wat my uiteindelike opinie van die boek staaf; everything else has to go. Veelduidige besprekings sou baie lekker wees. Ek dink nie ‘n behoorlike resensie moet minder as 1500 woorde wees nie. Ek’s gelukkig as ek 800 mag gebruik. (Nie dat ek dink julle sou met ‘n langer weergawe méér saamgestem het nie 😉 )

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.