Profile photo of crito

by

‘n Kritiese benadering

Junie 6, 2012 in Sonder kategorie

Dis ‘n gruwelike oorvereenvoudiging, maar laat ek dit maak: Daar is twee soorte resensente; dié met ‘n kritiese ingesteldheid, en dié wat dit nie het nie. Eersgenoemde kan by die kern van ‘n boek se swak- én sterkpunte uitkom, terwyl laasgenoemde nie kan nie, al laai hulle ‘n resensie met negatiewerige opmerkings. Die verskil tussen hulle lê in wát hulle raaksien.

Cas van Rensburg is vir my ‘n goeie voorbeeld van ‘n resensent met ‘n kritiese ingesteldheid. In sy bespreking van Anchien Troskie se Die staat teen Anna Bruwer (Boeke24) maak mens weer kennis met die groot empatie wat Van Rensburg met mense het. Hy verstaan die kuns om die algemeen menslike knelpunte te snap en daarvoor voorsiening te maak.

In hierdie geval is dit die lewe en karakter van iemand wat besig is om te herstel na jare as slagoffer van seksuele molestering. Van Rensburg verstaan gewis presies wat dit is wat ons aangryp van sulke mense, en skryf dan ook die grootste deel van sy resensie met die fokus daarop. Hy getuig dat hy die boek verslind het, wat seker seine sal gee aan die lesers van Dis ek, Anna wat wil weet of die opvolgboek die moeite werd is om te lees.

Maar dan laat geld hy ook sy kritiese ingesteldheid. Die staat teen Anna Bruwer het ernstige strukturele gebreke, wat hy dan uitwys. Troskie se hantering van die karakter Windhond Webber (die ondersoekbeampte) is onbevredigend en kon uit die roman gesny gewees het. Die dele oor Webber kon ‘n kortverhaal of roman op sy eie gewees het. Hier is dit aangelap, en baie sigbaar só. Dit is baie skerp kommentaar (implissiet ook op die uitgewer), maar die teenhanger is dat Van Rensburg die sentrale vertelling so pakkend vind.

Dit is dan tog wat die leser van ‘n resensie verwag – dat die skrywer daarvan ingelig genoeg oor skryfwerk moet wees om sulke dinge te kan raaksien. Hy moet weet presies wat dit is wat hom verhinder om groot lofredes uit te basuin.

Aan die ander kant, dié van resensente met ‘n minder aktiewe of onaktiewe kritiese ingesteldheid, plaas ek Riette Rust ná haar resensie van Grensoorlogstories, saamgestel deur Jeanette Ferreira (Rapport Boeke).

Ek het al vantevore geskryf oor Rust se styl van resenseer. Sy is op haar beste wanneer sy haar onmiddelike reaksie op ‘n boek kan gee. Só ‘n reaksie is meestal ‘n emosionele en intellektuele reaksie op die inhoud van die boek.

Wat my dadelik opgeval het, is die tydskrif-agtige styl waarin sy die resensie aanbied. Kyk gerus na die eerste drie paragrawe:

Baie van ons ken die Grensoorlog net uit ons geliefdes se nagmerries; die post-traumatiese stres waaraan baie oudsoldate ly.

 

Want praat, praat hulle nie sommer oor die oorlog wat van 1966 tot 1989 aan die noordgrens van Suidwes-Afrika (nou Namibië) gewoed het nie.

 

Die letsels, fisiek en geestelik, lê diep.

Rust is ‘n ervare joernalis en hou dié styl end-uit vol. Sy gee ook ‘n baie netjies aanduiding van presies hoe verskillende tema’s aangesny word, hoe vroulike verslagdoeners al hoe meer aktief raak op die gebied van die grensliteratuur, en bind die bespreking dan baie netjies vas deur in die slot terug te keer na die opmerking oor post-traumatiese stress wat sy in die inleidende paragrawe gemaak het.

 

Mens kan onder geen ander indruk kom as dat dié verhale jou taamlik ontredderd sal laat oor dit wat Jeanette Ferreira noem “die mensdom se stryd teen homself”.

 

Haar gebrek aan kritiese ingesteldheid begin opval wanneer sy die bundel onder bespreking kontekstualiseer. Sy verwys na die skryfwerk van J.C. Steyn, Alexander Strachan, Louis Krüger, Welma Odendaal, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo.

 

Die vraag wat ‘n kritiese resensent dan noodwendig sal vra, is in watter mate is die gehalte van die skryfwerk op dieselfde hoë peil as vermelde skrywers se werk? Het dié soort skryfwerk enigsins nuwe soorte dimensie bygekry? Het die onderwerp enige skryfwerk van besondere gehalte opgelewer, of, uiteraard, swak skryfwerk? Van watse soort materiaal is daar nou sprake, en hoe word dit geïntegreer in die verhale? Dis nie genoeg om net tema’s te noem nie – oortuig daardie tema’s binne hierdie raamwerk? Ontroer hulle mense meer as die geykte tema’s?

 

Rust moet krediet kry vir die manier waarop sy met haar styl volhard het. Maar haar resensie sou vir my meer beteken het as sy een of twee van die sterkste verhale uitgelig het en krities bespreek het. Dit gekontrasteer het met minder geslaagde pogings.

 

En finaal genoem het of Grensoorlogstories ‘n baken gaan word op hierdie gebied, ‘n boek wat jy moet lees naas die werke van J.C. Steyn et al.

Dit gaan vir Rust hoofsaaklik oor fiksie, maar ek dink wanneer mens oor post-traumatiese stres binne ons konteks skryf, moet jy ten minste verwys na Chris Louw se Boetman en die swanesang van die verligtes.

***

Rapport se boekebylaag vir Junie het veroorsaak dat hierdie blog ‘n bietjie later as gewoonlik geplaas word. Uiteindelik het ek besluit dat ek nie geld het om myself te verdedig in moontlike lastersake nie, en het daarom alles geskrap en voor begin.

Maar ek wil darem ‘n paar dinge sê. Eerstens dat die hantering van die resensies van drie Afrikaanse digbundels in hierdie bylaag baie te wense oorlaat. Tweedens dat dit tyd geword het dat die redakteur van hierdie bylae ook haarself as redaksionele redigeerder sal laat geld. ‘n Mens laat nie toe dat Nini Bennett haar naam as resensent skade berokken met hierdie inleidingsin nie: “Joan Hambidge het geen bekendstelling as digter, skrywer en literator nodig nie.” Mens kan sulke dinge nog toelaat in skoolopstelle, maar nie in die boekebylaag van Rapport nie. Derdens wonder ‘n mens hoe die resensente gekies word. Was Joan Hambidge net ongelukkig om ‘n voetganger-resensent te kry, terwyl Louis Esterhuizen die geluk gehad het om Marlies Taljaard op volle toere te kry? En derdens is die uitgewer van Aniel Botha se Pirouette op die webblad aangedui as “Slapband”. Dis eintlik Queillerie. Vantevore is Nini Bennett se van al aangedui as Nennett. Dis sulke onverskoonbare slordigheid wat mens laat wonder hoekom Rapport nog soveel geld uitgee op hierdie bylaag.

 

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Opvolgboek-is-n-reis-na-heling-en-vergifnis-20120603

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Verlossing-van-letsels-20120602

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Poetiese-simfonie-20120605

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/n-Toekomsvisie-uit-die-verlede-20120605

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Obsessie-en-stryd-20120605

 

 

 

 

1 antwoord op ‘n Kritiese benadering

  1. HeavyHenry het gesê op Junie 6, 2012

    Altyd lekker om hier te lees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.