Jy blaai in die argief vir 2012 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Voorskriftelike verwagtinge

Junie 26, 2012 in Sonder kategorie

Cecile Cilliers sal altyd onthou word as iemand wat haar mening sonder aansiens des persoons uitgespreek het. In haar boekresenssies het sy haar deur die jare openbaar as iemand wat nie modes gevolg het, of politieke bewegings klakkeloos nagepraat het nie. Sy het ‘n mening, en sal dit uitspreek.

In haar senior jare is sy minder gereeld deur boekeredakteurs genader om ‘n mening (moontlik omdat daar net een oor was), maar wanneer dit wel gebeur het, het sy steeds op haar eie manier standpunte gestel wat nie altyd gesinchroniseer kon word met die tydgenootlike problematiek nie.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is te vind in haar bespreking op Boeke24 van Boereoorlogstories 2, wat deur Jeanette Ferreira saamgestel is.Bly ons in 2012 nog soek na die een of ander versekering dat ons as ’n Afrikanervolk bestaansreg het?” vra sy, skynbaar onbewus van die doen en late van Solidariteit en Agri F, en voel dat ook dat daar geen rede is om in 2012 ‘n bundel van hierdie aard te publiseer nie.

 

Vir Cilliers was die ideaal eerder dat bundels saamgestel moet word wat die lesers sal help om in vrede met hul mede-landgenote te lewe. Dié voorskriftelike versugting is volgens alle berigte slegs opgevolg deur CUM Boeke …

 

Grappies op ‘n stokkie.

 

Cecile Cilliers se bespreking van Boereoorlogstories 2 is ‘n eienaardigheid.

 

Ek kan nie onthou wanneer laas ek so min lus was om ‘n resensie te lees as hierdie een ná sy inleiding nie. As die resensent twyfel het oor die bestaansreg van ‘n bloemlesing, hoekom dit nog resenseer?

 

Nadat sy mens aldus negatief gestem het, gaan sy dan voort en maak opmerkings wat nie alleen getuig van ‘n goeie kritiese ingesteldheid nie, maar van groot waardering vir baie van die verhale in die bundel.

 

Hoe dan nou?

 

Op ‘n plek sê Cilliers selfs dat die bundel “waardevol” is, om spesifieke redes. Daardie redes is dat daar verhale is wat “uit die wete, insig en gevolglike groei van die verlede die hede aanspreek”. En dan sluit sy met die hierbo vermelde ideaal.

 

En skielik het die negatiwiteit weer oor my toegesak. Het Cilliers reg laat geskied aan die bloemlesing?

 

Nee.

 

Die punt is dat mens enige persoonlike voorkeur kan gebruik om ‘n bundel te kruisig. As Cilliers byvoorbeeld vooraf besluit het dat wat die Afrikanervolk nóú nodig het verhale is waarin die mishandeling van diere onder die loep geplaas word, dan sou sy ‘n soortgelyke resensie kon skryf, en die bloemlesing vernietig het omdat daar net enkele verhale is waarin dieremishandeling voorkom.

 

Dit is sekerlik Cilliers se volste reg om haar eie persoonlike agenda te propageer. Miskien moet sy ‘n bloemlesing saamstel van verhale wat lesers sal help om in vrede met hul mede-landgenote te lewe.

 

Maar in soverre Boereoorlogstories 2 ‘n reaksie is op die welslae van ‘n vorige soortgelyke bloemlesing, is die aanknopingspunt tog sekerlik wat Afrikaanse skrywers in 2012 anders met dieselfde tema maak? En: Hoe goed is die skryfwerk? Is daar enige van die verhale wat die grense van Afrikaanse kortkuns versit?

 

Wat hier gebeur het, is dat Boereoorlogstories 2 net-net goed gevind is danksy die insluiting van enkele verhale wat aansluit by haar persoonlike voorkeur. Die bundel self is onvoldoende bespreek.

 

Op ‘n ander dag, in ‘n ander luim, met ander voorkeure, kon “waardevol” vervang gewees het deur “nutteloos” of “skitterend”, wie weet. Hang net af met watter sendingwerk sy die dag gemoeid is.

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Gekwalifiseerde aanbevelings

Junie 19, 2012 in Sonder kategorie

Joernaliste word geleer om clichés te vermy. Moenie uitdrukkings en stelswyses gebruik wat jy gereeld in druk sien nie, word gesê. Ek wil graag terugkeer na my opmerking verlede week oor Lona Gericke se aanduiding dat Nanette van Rooyen se Ek was hier “’n boek [is] waarby tieners aanklank sal vind”.

My vernaamste beswaar is dat mens dit nie maklik kan verifieer nie; ek sou net so goed kon gesê het dat dit die soort resensie-cliché is wat weinig betekenis dra.

Op Boeke24 is daar vandeesweek ‘n variant van hierdie cliché. (Mens sou dit seker ook ‘n geykte formulering kan noem, maar cliché klink beter.)  Hannelie Booyens skryf oor Anne Provoost se Die arkvaarders. Sy eindig met: Provoost is bekend om haar jeugromans, maar Die arkvaarders is ’n boek wat deur oopkop-lesers van alle ouderdomme waardeer sal word.”

 

Booyens se resensie is eersteklas. Al gaan dit oor ‘n vertaalde boek, wat ek nie normaalweg vir hierdie blog in aanmerking neem nie, wil ek dit graag voorhou as voorbeeld van ‘n strategies uitstekend beplande resensie.

 

Soos mens uit die slotopmerking kan aflei, is Booyens besig om die boek in verskeie rigtings aan te beveel.

 

Vir eers wil sy aanhangers van Provoost se jeugverhale aanmoedig om ook hierdie “volwasse”-werk te lees. Daarmee saam, uiteraard, wil sy vir mense wat Provoost vermy omdat sy gewoonlik vir ‘n jonger ouderdomsgroep skryf, aansê om Die arkvaarders te lees.

 

Belangriker nog is die argumente en teenargumente oor ‘n boek soos hierdie wat Booyens antisipeer vanuit die geledere van mense wat die Bybel graag letterlik wil begryp asook ander soorte Christelike geloofsfundamentaliste.

 

‘n Mens hoef net die resensie te lees om te weet dat Booyens baie goed weet watse soort kritiek al in die verlede teen hierdie boek ingebring is, en watse soort kritiek waarskynlik in ‘n plaaslike konteks daarteen sal kom. Ek is oortuig deur die manier waarop Booyens ‘n saak vir die boek uitmaak.

 

Wat ek wel eienaardig vind, is die implikasies van haar slotwoorde. As ‘n mens oopkop oor godsdiens dink, sal jy die boek geniet. En as mens die boek nie geniet het nie? Die suggestie is sekerlik dat mens dan nie oopkop is nie.

 

Booyens se vernuf met haar argumentering sorg dat mens reeds weet die gehalte van die skryfwerk is puik, die skrywer se navorsing is op hoë peil, en Daniel Hugo se vertaling is van die heel beste.

 

Booyens voorsien dus hoegenaamd nie dat mens nie van die boek sal hou om literêre redes nie. Sy is seker onderskeidende lesers sal haar evaluering aanvaar. Die ding is net, is hulle oopkop genoeg? (Hierdie cliché het die manier om jou denke in ‘n baan te plaas waaruit nie kan ontsnap nie.)

 

Mens sou haar resensie seker ‘n gekwalifiseerde aanbeveling kan noem. Wat dit op dieselfde vlak plaas as resensies waarin byvoorbeeld alle krieketliefhebbers verseker word dat hulle van ‘n spesifieke boek sal hou omdat dit oor krieket handel.

En dit is net weer ‘n variant van die boekbesprekings wat in die jare vyftig verskyn het waarin boeke aanbeveel is net omdat hulle in Afrikaans geskryf is, of die soort resensies wat in die jare sestig en sewentig so graag boeke aanbeveel het omdat dit mens se kennis verbreed en jou insig verdiep.

Die resensie-cliché is ‘n uitvloeisel van die resensent se geaardheid – iemand wat blatant of subtiel opvoedkundige wil wees. As hulle blatant is, sal die resensies gewoonlik doodgewoon opheffingswerk wees (tieners sal by hierdie jeugboek aanklank vind – resensie geskryf deur iemand in sy/haar sestigs). As dit meer subtiel is, word dit deel van die algemene diskoers (oopkop-lesers sal van hierdie boek oor ‘n Bybelse onderwerp hou – resensie geskryf deur ‘n oopkop-denker oor godsdiens).

Maar dit bly ‘n vorm van ‘n cliché, ‘n herhalende styl van formulering. Mense wat gereeld resensies lees, sal weet waarvan ek praat.

***

Alweer daardie ou probleem: die resensent wat vergeet dat ander mense dalk ook reeds die boek gelees het wat hy nou resenseer. Om dié rede weet ek dat Marius Visser die pot lelik misgesit het met sy resensie in Rapport Boeke van André Krüger se Die twee lewens van Dieter Ondracek.

Dié roman vertel van een persoon se wedervaring in Duitsland voor en ná die Tweede Wêreldoorlog, en daarna in Suid-Afrika in die jare vyftig.

Visser “lees” die boek – aanvanklik heel interessant, bygesê – as een wat handel oor “aandadigheid, skuld, verlossing”. Hy stoei met die inhoud (wat mens kan aflei van die groot klomp vrae wat hy stel) en ervaar uiteindelik ‘n ongemaklikheid oor wat hy meen die boek te sê het oor aanspreeklikheid en die besluite wat mens daaroor neem.

As die boek net oor aanspreeklikheid gehandel het, sou Visser se bespreking miskien nog gedeug het. Maar dit handel oor veel meer: Oor passifisme, oor die patriargale bestel en die wyse waarop ‘n apolitiese passifis telkens die slagoffer daarvan sal word. Dit handel oor die manier waarop ‘n mens se passifisme ook uiting vind in sy liefdesverhoudings, en die manier waarop dit van hom ‘n manipuleerbare mens maak. Dit handel oor vrouens as instigeerders/verleiers en vrouens as slagoffers. Dit handel oor die manier waarop ‘n passifis ‘n slagoffer kan raak van iemand anders se verlede.

Dit is ‘n roman wat sy leser deur verskeie kontraste tot nadenke probeer stem – uiteindelik, uiteraard, die moderne Afrikaanse leser. Visser is bewus daarvan, maar uiteindelik swig hy voor die versoeking om ‘n beterweterige resensie te skryf waarin hy die hele bestaansrede van dié roman bevraagteken. Dat hy in die proses glad geen rekenskap gee van die rol van Magda (die Suid-Afrikaanse vrou wat haar oor Ondracek ontferm, welke ontferming tot Ondracek se ondergang en die slot van die roman lei) in die verhaal nie, skyn hom nie te pla nie.

Dit pla my wel. Waar ek in die begin van die resensie nog met Visser se betoog kon meegaan, het ek teen die einde daarvan gevoel dat geeneen van sy insigte enige gesag dra nie. Hy het geen waardering vir die aansienlike prestasie wat Die twee lewens van Dieter Ondracek as debuutwerk is nie.

En hier is die gelol: Nie al Rapport se resensie-lesers is in my posisie nie. Meeste het sekerlik nog nie hierdie roman gelees nie. Nou kan ‘n mens sinies wees en sê dat die laaste plek waar boekliefhebbers leiding oor Afrikaanse boeke gaan soek, Rapport Boeke is, veral wanneer personeellede van Media24 dit vul met kopie. Maar dit sou onvanpas wees.

Die rekord aangaande Die twee lewens van Dieter Ondracek lees nou dat daar een resensie verskyn het, en dat dit negatief is. Is dit regverdig teenoor die skrywer, André Krüger? Ek dink nie so nie.

Wat my nog verder grief van hierdie resensie, is dat ek op sommige punte dit roerend eens was met Visser. Ek dink ook dat daar minder klem op vertelde gebeurde moes geval het, en meer op aksie wat die gebeurde uitdra. Maar as hy nie eens die rol van Magda kan raaksien en snap nie, dra min wat hy sê vir my enige gewig en verkies ek om liewer te vergeet van die dinge waaroor ek met Visser saamstem.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Dramatiese-oorvertelling-van-Bybelse-storie-vir-oopkop-lesers-20120617

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Leser-se-strydvraag-Vergeef-of-verdoem-20120615

 

Profile photo of crito

by crito

Buite die konvensie

Junie 12, 2012 in Sonder kategorie

Hoe sou Afrikaanse resensente reageer as hulle voor die uitdaging gestel word van ‘n roman in Afrikaans deur, sê maar, Thomas Bernhard, Antonio Tabucchi of Tom McCarthy? Ek vermoed ‘n paar resensente sal die uitdaging geniet, maar dit is meer waarskynlik dat daar beswaar gemaak sal word teen die onverstaanbaarheid, die onkonvensionaliteit en die aweregsheid.

Hierdie problematiek het by my opgekom toe ek die twee resensies van Gerda Taljaard se Kelder op Boeke24 lees. Rachelle Greeff se resensie is ‘n vreemde gedoente. Jacomien van Niekerk s’n is beter geskryf, maar in die laaste instansie tog ook eienaardig.

Met albei het ek die indruk gekry dat Kelder ‘n verwikkelde, noukeurig beplande skepping is. Naatloos, sê Greeff. Nie naatloos genoeg nie, sê Van Niekerk, maar dis haar enigste werklike kritiek op die roman.

Greeff weer dink Taljaard se skryfstyl werk oppervlakkigheid in die hand, dink die onderwerpe wat in die boek aangeroer word, is “swaartillend” en die vertelling slegs in die laaste hoofstukke ontroerend. Sy dink nie die hoofkarakter se minnaars is oortuigend nie. En so aan.

Wat ek eienaardig van Van Niekerk se betoog vind, is dat sy ten slotte sê dat haar enigste kritiek teen die roman dít is dat Taljaard nie ‘n naatloser vorm daaraan gegee het nie. Maar vorentoe in die resensie kla sy oor die momentum van die vertelling en die spanningslyn wat nie volgehou is nie. Sy voel dus baie positief oor die roman, maar kan nie al haar punte van kritiek onthou nie.

Greeff se resensie is vir my meer problematies. Sy skryf meer onderhoudend as Van Niekerk, maar meer verwarrend.

Greeff neem in die eerste klompie paragrawe ‘n lekker aanloop, en bring mens half onder die indruk dat sy baie positief oor die roman voel. Helaas, sodra sy haar een pragtige formulering afgehandel het (“Taljaard het dit nie oor moekie-skap op haar Biggie Best-beste nie”) begin sy ronddobber.

 

Vir eers is haar samevatting van die verhaal heeltemal té deurmekaar en verwarrend. Van Niekerk se resensie het vir my die begrip gebring. Ten tweede stel Greeff ‘n klompie vrae wat haar onsekerheid oor haar reaksie op die boek beklemtoon. Sy is onseker oor die status van die hoofkarakter se minnaars, wonder hoe die leser moet reageer op dit wat hy lees. Sy is nie seker oor die geldigheid van haar reaksie nie, en vra reguit hoekom sy só voel.

 

Sulke vrae laat ‘n mens hond se gedagte kry oor die woorde wat mens lees; ongelukkig laat dit die leser net wonder of alle inligting oor die boek hom onaangetas bereik.

 

In haar aanloop beskryf Greeff ook die omslag-illustrasie. Hierdie beskrywing het my baie geïntrigeer, positief gestem jeens die boek: “Die omslagfoto is dié van ’n babagesig. Die fokus van dié swart-en-wit foto is onrusbarend. Jy herken onteenseglik die gesig van ’n baba, spesifiek die oop lippe, maar dit adem ’n donkerte, wat ongewoon is vir ’n babafoto. Dit spreek, woordeloos, van seks, ook van die dood.”

 

Ongelukkig sien ek toe die omslag afgedruk by Jacomien van Niekerk se resensie, en besef Greeff se verbeelding het met haar op loop gesit. Die foto is van ‘n baba-pop met die lippe geretoucheer om soos ‘n volwassene s’n te lyk. Wanneer Greeff sê die “ontredderende, sensasionele voorblad klop nie”, wonder ‘n mens hoekom sy dan nie raaksien dat dit juis die punt is nie.

 

Wat anders het sy verkeerd begryp? Mens sal maar die boek móét koop en self besluit. Dié resensie help niemand nie.

 

Onkonvensionele romans kan mens lelik laat struikel.

 

***

 

Lona Gericke, ‘n ou bekende in die biblioteekwese, het ‘n heel prikkelende resensie geskryf oor Nanette van Rooyen se Ek was hier (Boeke24).

Die enigste steurende opmerking in haar andersins uitnemende bespreking is dié waarin sy verklaar dit is “’n boek waarby tieners aanklank sal vind”. Is daar enige manier waarop mens hierdie stelling kan verifieer? So gedink.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Wanneer-die-grafte-praat-20120611

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Slagplaas-van-die-ouerhuis-20120611

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Graffiti-as-kommunikasie-in-pragboek-20120611

Profile photo of crito

by crito

‘n Kritiese benadering

Junie 6, 2012 in Sonder kategorie

Dis ‘n gruwelike oorvereenvoudiging, maar laat ek dit maak: Daar is twee soorte resensente; dié met ‘n kritiese ingesteldheid, en dié wat dit nie het nie. Eersgenoemde kan by die kern van ‘n boek se swak- én sterkpunte uitkom, terwyl laasgenoemde nie kan nie, al laai hulle ‘n resensie met negatiewerige opmerkings. Die verskil tussen hulle lê in wát hulle raaksien.

Cas van Rensburg is vir my ‘n goeie voorbeeld van ‘n resensent met ‘n kritiese ingesteldheid. In sy bespreking van Anchien Troskie se Die staat teen Anna Bruwer (Boeke24) maak mens weer kennis met die groot empatie wat Van Rensburg met mense het. Hy verstaan die kuns om die algemeen menslike knelpunte te snap en daarvoor voorsiening te maak.

In hierdie geval is dit die lewe en karakter van iemand wat besig is om te herstel na jare as slagoffer van seksuele molestering. Van Rensburg verstaan gewis presies wat dit is wat ons aangryp van sulke mense, en skryf dan ook die grootste deel van sy resensie met die fokus daarop. Hy getuig dat hy die boek verslind het, wat seker seine sal gee aan die lesers van Dis ek, Anna wat wil weet of die opvolgboek die moeite werd is om te lees.

Maar dan laat geld hy ook sy kritiese ingesteldheid. Die staat teen Anna Bruwer het ernstige strukturele gebreke, wat hy dan uitwys. Troskie se hantering van die karakter Windhond Webber (die ondersoekbeampte) is onbevredigend en kon uit die roman gesny gewees het. Die dele oor Webber kon ‘n kortverhaal of roman op sy eie gewees het. Hier is dit aangelap, en baie sigbaar só. Dit is baie skerp kommentaar (implissiet ook op die uitgewer), maar die teenhanger is dat Van Rensburg die sentrale vertelling so pakkend vind.

Dit is dan tog wat die leser van ‘n resensie verwag – dat die skrywer daarvan ingelig genoeg oor skryfwerk moet wees om sulke dinge te kan raaksien. Hy moet weet presies wat dit is wat hom verhinder om groot lofredes uit te basuin.

Aan die ander kant, dié van resensente met ‘n minder aktiewe of onaktiewe kritiese ingesteldheid, plaas ek Riette Rust ná haar resensie van Grensoorlogstories, saamgestel deur Jeanette Ferreira (Rapport Boeke).

Ek het al vantevore geskryf oor Rust se styl van resenseer. Sy is op haar beste wanneer sy haar onmiddelike reaksie op ‘n boek kan gee. Só ‘n reaksie is meestal ‘n emosionele en intellektuele reaksie op die inhoud van die boek.

Wat my dadelik opgeval het, is die tydskrif-agtige styl waarin sy die resensie aanbied. Kyk gerus na die eerste drie paragrawe:

Baie van ons ken die Grensoorlog net uit ons geliefdes se nagmerries; die post-traumatiese stres waaraan baie oudsoldate ly.

 

Want praat, praat hulle nie sommer oor die oorlog wat van 1966 tot 1989 aan die noordgrens van Suidwes-Afrika (nou Namibië) gewoed het nie.

 

Die letsels, fisiek en geestelik, lê diep.

Rust is ‘n ervare joernalis en hou dié styl end-uit vol. Sy gee ook ‘n baie netjies aanduiding van presies hoe verskillende tema’s aangesny word, hoe vroulike verslagdoeners al hoe meer aktief raak op die gebied van die grensliteratuur, en bind die bespreking dan baie netjies vas deur in die slot terug te keer na die opmerking oor post-traumatiese stress wat sy in die inleidende paragrawe gemaak het.

 

Mens kan onder geen ander indruk kom as dat dié verhale jou taamlik ontredderd sal laat oor dit wat Jeanette Ferreira noem “die mensdom se stryd teen homself”.

 

Haar gebrek aan kritiese ingesteldheid begin opval wanneer sy die bundel onder bespreking kontekstualiseer. Sy verwys na die skryfwerk van J.C. Steyn, Alexander Strachan, Louis Krüger, Welma Odendaal, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo.

 

Die vraag wat ‘n kritiese resensent dan noodwendig sal vra, is in watter mate is die gehalte van die skryfwerk op dieselfde hoë peil as vermelde skrywers se werk? Het dié soort skryfwerk enigsins nuwe soorte dimensie bygekry? Het die onderwerp enige skryfwerk van besondere gehalte opgelewer, of, uiteraard, swak skryfwerk? Van watse soort materiaal is daar nou sprake, en hoe word dit geïntegreer in die verhale? Dis nie genoeg om net tema’s te noem nie – oortuig daardie tema’s binne hierdie raamwerk? Ontroer hulle mense meer as die geykte tema’s?

 

Rust moet krediet kry vir die manier waarop sy met haar styl volhard het. Maar haar resensie sou vir my meer beteken het as sy een of twee van die sterkste verhale uitgelig het en krities bespreek het. Dit gekontrasteer het met minder geslaagde pogings.

 

En finaal genoem het of Grensoorlogstories ‘n baken gaan word op hierdie gebied, ‘n boek wat jy moet lees naas die werke van J.C. Steyn et al.

Dit gaan vir Rust hoofsaaklik oor fiksie, maar ek dink wanneer mens oor post-traumatiese stres binne ons konteks skryf, moet jy ten minste verwys na Chris Louw se Boetman en die swanesang van die verligtes.

***

Rapport se boekebylaag vir Junie het veroorsaak dat hierdie blog ‘n bietjie later as gewoonlik geplaas word. Uiteindelik het ek besluit dat ek nie geld het om myself te verdedig in moontlike lastersake nie, en het daarom alles geskrap en voor begin.

Maar ek wil darem ‘n paar dinge sê. Eerstens dat die hantering van die resensies van drie Afrikaanse digbundels in hierdie bylaag baie te wense oorlaat. Tweedens dat dit tyd geword het dat die redakteur van hierdie bylae ook haarself as redaksionele redigeerder sal laat geld. ‘n Mens laat nie toe dat Nini Bennett haar naam as resensent skade berokken met hierdie inleidingsin nie: “Joan Hambidge het geen bekendstelling as digter, skrywer en literator nodig nie.” Mens kan sulke dinge nog toelaat in skoolopstelle, maar nie in die boekebylaag van Rapport nie. Derdens wonder ‘n mens hoe die resensente gekies word. Was Joan Hambidge net ongelukkig om ‘n voetganger-resensent te kry, terwyl Louis Esterhuizen die geluk gehad het om Marlies Taljaard op volle toere te kry? En derdens is die uitgewer van Aniel Botha se Pirouette op die webblad aangedui as “Slapband”. Dis eintlik Queillerie. Vantevore is Nini Bennett se van al aangedui as Nennett. Dis sulke onverskoonbare slordigheid wat mens laat wonder hoekom Rapport nog soveel geld uitgee op hierdie bylaag.

 

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Opvolgboek-is-n-reis-na-heling-en-vergifnis-20120603

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Verlossing-van-letsels-20120602

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Poetiese-simfonie-20120605

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/n-Toekomsvisie-uit-die-verlede-20120605

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Obsessie-en-stryd-20120605