Jy blaai in die argief vir 2012 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Ons grensoorlog

Mei 29, 2012 in Sonder kategorie

Weer ‘n skraal week vir Afrikaanse resensies. Genadiglik is die eensame resensie wat daar wel op Boeke24 is, deur Alexander Strachan van Grensoorlogstories (samesteller Jeanette Ferreira), darem een waarby mens ‘n ruk kan stilstaan. Strachan is waarskynlik die mees geskikte persoon om ‘n bundel van hierdie aard te resenseer.

Ek maak net enkele aantekeninge:

  • In die inleidende paragraaf word gepraat van ‘n “heerlik leesbare boek”, en ten slotte maak Strachan weer melding van ‘n “toeganklike boek wat maklik lees en sekerlik deur baie lesers geniet sal word”. Die vraag wat dit by my wek, is of mens boeke oor ‘n grensoorlog wat vir die Suid-Afrikaanse samelewing geweldig baie negatiewe gevolge en newe-effekte gehad het, moet benader met die verwagting dat hulle ‘n plesierige lees-ondervinding moet afgee?
  •  Strachan verduidelik nie vir die oningeligte leser presies watter grensoorlog hier ter sprake is nie. Hoe baie hedendaagse lesers is bewus van Suid-Afrika se betrokkenheid in Namibië en Angola? Ek glo nie ‘n resensent moet sondermeer aanneem dat almal op hoogte is van sake nie.
  • Ons lees van ‘n inleiding deur die oudsoldaat en skrywer Louis Bothma. Behoort dit vir ons iets te sê? Was Bothma by daardie grensoorlog betrokke, en wat het hy geskryf? Strachan maak té veel aannames oor sy lesers se ingeligtheid. 
  • Wanneer Strachan by sy eie reaksie op die bundel kom, verbeter sake. Hy vermeld feitlik onmiddelik dat die bydraers uiteenlopende houdings het oor die grensoorlog, dat baie van die verhale geskryf is deur vroue of deur mense wat nie self aan die oorlog deelgeneem het nie. Boonop vermeld hy dat hy nie die indruk gekry het enigiemand is polities aan bande gelê met hul vertellings nie.
  • Altesame ses verhale word uitgewys as synde meer krities oor die grensoorlog as wat die ander 25 is. Strachan wonder nie of dit ‘n aanduiding is van die samesteller se eie houding oor die grensoorlog nie. 
  • Ek hou van die inligting wat Strachan gee oor sommige van die verhale. Dis jammer dat hy nie meer daaroor kon skryf nie. Veral bydraes soos Johan Bakkes se “Rondomfok” en Gerda Taljaard se “Kerkparade” klink na verhale waaroor hy kon uitgewei het, tot die leser se voordeel. 
  • In die geheel is Strachan se resensie prikkelend genoeg om mens nuuskierig te maak. Ek sou egter baie graag meer wou gelees het oor hoe hy die verskille sien tussen die skryfwerk oor die grensoorlog van nou, en dié van die jare tagtig. Hy verwys na verskille, maar dit bly net by enkele opmerkings. Hopelik is dit iets wat hy in BY meer breedvoerig kan bespreek?

Skakel:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Toeganklike-bydrae-oor-die-Grensoorlog-20120527 

Profile photo of crito

by crito

Beseringstyd

Mei 22, 2012 in Sonder kategorie

Nes dit nie elke dag Krismis is nie, net so is dit nie elke week dat Rian Malan ‘n boek vir Boeke24 resenseer nie. Hierdie week het hy wel, tewete Willie Esterhuyse se Eindstryd, en dit het soveel stof tot nadenke verskaf soos wat ons laas gehad het in L.I. Bertyn se dae, of toe ‘n jong Joan Hambidge aan die woord was.

Vergelyk dit met Willem Jordaan se bespreking van dieselfde boek, ook vandeesweek by Boeke24. Malan is ‘n reus van ‘n resensent. Jordaan se resensie is nie swak nie, trouens, dit is stewig. Presies die soort deeglike werk wat mens met Jordaan as politieke waarnemer assosieer.

Maar daar is ‘n element van voorspelbaarheid in Jordaan se aanpak wat dit onmiddelik minder interessant as Malan s’n maak.

Malan het die gawe om daardie noodsaaklike vonk in te bed in sy skryfwerk – wat nodig is wanneer die persona van die resensent só oorweldigend sterk soos Malan s’n binne die resensie staan.

Jy lees met volle aandag van begin tot end. Malan is besig om sy allerdiepste reaksie op die boek te beskryf en berei die leser met elke paragraaf voor vir die groot sweepslag in die resensie se slot. Hy verduidelik hoekom hy van Esterhuyse verskil: As hy dieselfde dinge beleef het as Esterhuyse, sou hy presies dieselfde gereageer het, maar hy sou hier, waar Esterhuyse sy opgaaf gee, ‘n ander reaksie gehad het, naamlik die bitter lag van iemand wat vir die gek gehou is.

Jordaan vind ook dat daar nog dinge is van Mbeki wat hy nie kan uitpluis aan die hand van Esterhuyse se vertelling nie. Juistement. Tog maak hy nie die sprong wat Malan maak deur Mbeki te sien as die man wat help sade plant het vir die korrupsie wat nou so sinoniem met die ANC geword het.

Mens moet die twee resensies saam lees; enersyds om net daardie plesier te beleef van twee absoluut uiteenlopende invalshoeke, en andersyds om jou te oriënteer vir die gesprek van noodwendig nou moet volg oor Esterhuyse se boek.

As dít die grootste wins is van Boeke24 se tweevuis-benadering tot die resenseer van belangrike boeke, dan swaai die kritiese skaal in die beoordeling van Media24 se boekeblad-eksperiment sterk in die guns daarvan.

***

Uiteindelik het Rapport Boeke weer ‘n behoorlike resensie. Herman Lategan skryf oor Agter die skerms, Christo Gerlach se vertelling van hoe hy sy alie gesien het weens dwelmmisbruik.

My eerste reaksie was Christo Wie? Lategan het my darem gou reggehelp.

Lategan is daarvoor bekend as iemand wat vreesloos standpunt inneem op die sosiale medium Facebook. Iets daarvan skemer hier deur. As mens sy resensie kan tipeer, is dat dit ‘n “Tough Love”-resensie is.

Lategan gee ‘n boeiende oorsig oor die boek, maar in die slot spreek hy Gerlach direk aan omdat hy steeds ontken dat hy ‘n dwelmverslaafde is. Die implikasies hiervan is verreikend. Vir eers gee Lategan duidelik die teken dat Gerlach se probleme eers verby sal wees wanneer hy die aaklige waarheid in die oë kyk en iets daaraan doen, en ten tweede laat hy die leser wonder oor die rede vir Gerlach se groot ontboeseming. Die antwoorde op laasgenoemde gee Lategan wel in die aanloop tot die slotopmerkings.

Werklik knap geskryf. Dankie ook vir daardie een pragtige beskrywing: “Hy speel met geld soos ‘n bobbejaan met waboomblare …”

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Bitter-grap-20120520

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Van-n-Londense-sitkamer-tot-n-nuwe-SA-20120520

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/TV-ster-bieg-maar-net-in-aanhalings-20120519

Profile photo of crito

by crito

Die persoon agter die resensie

Mei 15, 2012 in Sonder kategorie

Dit is ‘n ou problematiek: In watter mate kan die persoon en persoonlike geskiedenis agter ‘n kunswerk betrek word om die kunswerk te begryp en interpreteer? Die literatore het dié vraag al behoorlik uitgepluis, maar ek haal dit weer op omdat Boeke24 vandeesweek ‘n variasie daarvan ter sprake bring.

Die vraag is nou: In watter mate is kennis van die resensent nodig om die resensie te begryp?

Die oomblik wanneer mens te kenne gee dat jy sulke kennis nodig het om die resensie en/of sy strekking te kan aanvaar, betree jy ‘n gevaarlike terrein. Vir eers moet jy uiteraard uitpluis hoekom jy nie die resensie voetstoots aanvaar nie, en daarna kom jy by die geregverdigde kommer of die personalia van die resensent hoegenaamd relevant is.

Twee resensies het hiertoe aanleiding gegee – Louise Viljoen en Harry Kalmer se besprekings van Riette Rust se ‘n Lyf onthou. Heel toevallig speel die derde resensie op Maandag se Boeke24 vir my ook hierop in: Henning Pieterse se bespreking van Johann de Lange se bundel Vaarwel, my effens bevlekte held.

Viljoen en Kalmer het oponerende menings oor Rust se bundel kortverhale.

Viljoen sê die reklame rondom die bundel het mens ten onregte laat dink die bundel gaan oorwegend oor seks. Dit het vir haar wel genoeg positiewe eienskappe om die leser onder die indruk te bring dat Rust ‘n skrywer is met wie rekening gehou moet word.

Kalmer meen weer dis ‘n uiters swak bundel waarvan die beste verhale met vrug herskryf sou kon word, maar die swakkes sou nie eens met ‘n herskrywing gered kon word nie. “Lomp prosa, onoortuigende dialoog” en literêre pretensie is vir hom die groot swakhede van die bundel. Wat Kalmer betref, sou mens in die toekoms twee keer dink voordat jy weer ‘n Rust-bundel aanskaf.

Kyk mens meer noulettend na die twee resensente se benaderings, merk jy dat Viljoen die kunswerk as afgehandelde kunswerk beskou. Hulle is voldonge feite waaruit sy haar reaksies put: tema, inhoud, aard. Sy eindig by ‘n “literêre balansstaat”, en vind dat die kredietkant uiteindelik meer bevat as die debietkant.

Kalmer op sy beurt beskou ‘n Lyf onthou se verhale nie as afgehandelde kunswerke nie. Hy vind dat die teks sou baat by skaafwerk. “Om goed te skryf, is om oor te skryf”, sê hy. Hy verduidelik ook waarom.

Viljoen is ‘n hoogleraar in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, Kalmer is ‘n bekroonde dramaturg wat ook klasse oor kreatiewe skryfwerk gee.

Viljoen se literêre balansstaat in haar resensie wys wat haar evaluatiewe benadering is, en die punte wat sy maak oor die reklame vir die bundel en die verwagtinge wat dit gewek het, dra vir my baie gewig. Veral as mens wil weet hoe iemand van Viljoen se statuur ‘n bundel soos hierdie takseer – sy het ‘n baie breë verwysingsraamwerk.

Kalmer benader die bundel vanuit die hoek van iemand wat ‘n antwoord soek op die vraag: “Hoe goed is die bundel geskryf?” Hoe mens ookal na resensies kyk, dít is die een vraag wat mens altyd beantwoord wil hê. Wat help dit ‘n skrywer het ‘n ongelooflik verbeeldingryke tematiek en ‘n skitterende strukturele raam, maar die skryfwerk self is pateties?

Dit help die leser van albei resensies dus om te weet wie Viljoen en Kalmer is, en hoekom die een geneig is om ‘n breër pespektief om die bundel te hê, en die ander weer raaksien dat die bouwerk slordig is.

Sou Viljoen met Kalmer saamstem oor die gehalte van die skryfwerk? Moontlik nie in dieselfde verdoemende mate nie. Maar ek wonder tog wat sy sou gesê het as sy Kalmer se fokus op die gehalte van skryfwerk ook in haar resensie kon verwerk het.

Werk dit andersom? Ek’s bevrees Kalmer het meer om in te haal as hy Viljoen se wyer kyk en analise van tematiek wou betrek. Dit is duidelik dat hy so vasgekyk het teen die foute wat Rust gemaak het, dat hy nie by die groter inhoudelike eienskappe van die bundel uitgekom het soos Viljoen het nie.

Moes daar toegewings gemaak gewees het omrede van Rust se status as debuterende skrywer? Vir my gevoel het Viljoen dit wel in rekening gebring, terwyl Kalmer, synde iemand wat voel iets behoort eers gepubliseer te word wanneer dit foutloos is, juis tot die slotsom kom dat hierdie debuut té gou gekom het.

Dit is ‘n uiters interessante tameletjie waarmee Boeke24 vandeesweek vorenag gekom het. Maar wat moet mense doen wat albei resensies gelees het en moet besluit of hulle die bundel moet koop?

***

Henning Pieterse se bespreking van Johann de Lange se nuwe bundel is ‘n goeie samevoeging van Viljoen en Kalmer se metodes. Pieterse, ‘n hoogleraar in kreatiewe skryfkuns by die Universiteit van Pretoria, gee aandag aan inhoud, die verband met vorige publikasies deur dieselfde digter, die gehalte van die skryfwerk en die trefkrag van die poësie. Hy is ten volle bewus van die tematiek en noem die hoogtepunte van die bundel.

Wanneer hy dan uiteindelik opsommenderwys sê dat “hier is ‘n digter op die kruin van sy kragte, tegnies en vormlik”, dan glo mens hom.

Die enigste aspek van die resensie wat hinder, is dit feit dat Pieterse nie werklik opgewonde klink nie. Dit is dieselfde koel, neutrale toon wat in Viljoen se resensie merkbaar is. Só ‘n neutrale toon is sekerlik in orde en te vereenselwig met ‘n nugtere akademiese benadering soos dié van Viljoen en Pieterse, maar dit sal sekerlik moeiliker wees om te handhaaf as mens negatief voel oor ‘n bundel.

Dit sou wel gaaf gewees het as Pieterse ‘n paar lekker byvoeglike naamwoorde   op die lippe kon geneem het.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Bundel-is-gelukkig-meer-as-net-seks-20120513

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Teks-kon-baat-by-baie-skaafwerk-20120513

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Digter-op-die-kruin-van-sy-kragte-20120513

Profile photo of crito

by crito

Die slaggat

Mei 8, 2012 in Sonder kategorie

Effens agterdogtig, dít is wat ek raak wanneer ek die boekeblad in die koerant oopslaan en ek sien die foto van die skrywer(s) is amper groter as die resensie van die boek. Wat beduie dit, wonder ek dadelik.

Boeke24 se plasing van Martie Retief-Meiring se resensie van een stad drie rooikoppe sewe dae het my dadelik laat regop sit. Dié roman is geskryf deur twee susters, Lili en Adeline Radloff.

Ek het besluit om die gebruik van die woord “dollas” (dit is só Staal Burger) in die opskrif te ignoreer, en die foto van die twee skrywers net vinnig te bekyk voordat ek my objektiwiteit verloor. (Die onderskrif beskryf hulle as “sussies” en hulle lyk nogal op mekaar, al het die een blou oë en die ander bruin.)

Ek het die resensie van begin tot einde gelees, en herlees. En nog ‘n paar keer.

Martie Retief-Meiring verwys op ‘n plek na “die reëls van chic lit” (wat waar opgeskryf staan?) maar uiteindelik vorm ‘n mens tog ‘n idee dat sy eerder van gebruike as reëls praat, en dat sy meeste daarvan in hierdie roman gevind het.

Die gelol is net dat sy die inhoud met kleur en geur beskryf – sonder om ooit vir jou te sê wat sy van een stad drie rooikoppe sewe dae dink. Teen die einde spreek sy haar ongemak oor die skrywers se gebruik van die woord “ouens” uit. ‘n Mens kan begryp hoe sy voel, maar sy laat vaar haar beswaar sondermeer en sluit dan uit die bloute af met ‘n ‘n toestemming en/of versugting dat die Radloffs meer moet skryf.

Die probleem met resensies wat so agter ‘n omskrywing van die inhoud wegkruip, is dat dit mens laat smag na ‘n evaluering. Puur verniet. Jy sal aanduidings kry van snelle gang, chaos, hansworstery, vergissings, sitkom wat met Franse klug meeding. Maar is dit goed of swak geskryf? Moet ons van Retief-Meiring se slotparagraaf aflei dat dit goed geskryf is? Ek glo nie so nie.

Uiteindelik het ek tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie soort romans nie noodwendig in Retief-Meiring se smaak val nie, en dat jy net moet soek, jy sal die sleutel tot haar gevoel iewers vind.

Dit was toe ook so. Elmari Rautenbach het ons nog geterg ook daarmee, deur ‘n aanhaling uit die resensie te gebruik in die sub-opskrif by die hoofopskrif: “Hier het ons moderne chick lit wat pens en pootjies – en heel vrolik – in die slaggat van slapstick tuimel”.

Het ‘n boek wat in die slaggat van slapstick in tuimel ‘n ernstiger benadering nodig? Mens se onmiddelike reaksie op die vraag is negatief. Tog bly dit vir my ‘n ope vraag of ‘n roman wat deur twee persone geskryf is, en een van daardie persone het reeds aandag getrek as ernstige skrywer, nie ‘n strenger, meer kritiese benadering geregverdig het nie.

Profile photo of crito

by crito

Van die dinge wat verbygaan

Mei 3, 2012 in Sonder kategorie

Die sub-redakteur is ‘n bedreigde spesie. Die winste aan tegnologiese kant wat self-publikasie moontlik maak, bring ongelukkig ook mee dat al hoe meer geskrewe werk by die publiek se oë uitkom voordat ‘n geoefende redakteursoog daarna kon kyk. Die plek waar self-publikasie sy ernstigste taalkundige wandade uitstal, is in blogs.

Dit verg ‘n spesiale soort narsisme om gedurig jou diepste gedagtes in ‘n blog neer te pen. Asof Facebook nie reeds genoeg ruimte vir die selfbeheptes bied nie, moedig blogs mense aan om geen gedagte, hoe vlietend ookal, ongeblog te laat nie.

Dis hier waar mens verlang na redakteurs wat ‘n skrywer kan vermaan oor selfbeheptheid, of die skrywer kan wys daarop dat sy skryfwerk inhoudelik yl of niksseggend is.

Tom Gouws gee in sy taksering van Philip de Vos se Kop op ‘n blok-blogversameling (Boeke24) erkenning aan die aangename elemente in De Vos se blogs. “Ek het tog plesier gehad aan De Vos se gesels- en skinderbriewe van die gewoon alledaagse en aan die rympiesmaker se verheffende, skerp en stout nonsensversies,” skryf Gouws. “Meermale,” roep hy dadelik homself tot orde, “versand die gesprek helaas in die triviale.”

 

Gouws se resensie is beleef en bondig. Wat jammer is. Kop op ‘n blok het groter betekenis as net die samevatting van De Vos se blogs vir De Vos-bewonderaars. Die uitgewer se besluit om die blogs te bundel wys daarop dat daar gevoel is dat nie almal wat De Vos se boeke gereeld koop, toegang tot die internet het en dus ook sy blogs te lese kry nie.

 

Dit is nie ‘n ongeldige punt nie, maar vir uitgewers lê hierin sekerlik ook ‘n ander gedagte opgesluit, naamlik dat dit nie meer lank sal wees voor die eerste rekenaar-geletterde geslag middeljarig en/of bejaard is nie (verskoon die ou terminologie), en sal meeste mense wat De Vos se blogs wil lees, presies weet hoe om daarby uit te kom. Die internet as argiveringskanaal hou onmeetbare moontlikhede in. Die bundeling daarvan op papier sal oorbodig wees.

 

En dit geld nie alleen blogs nie, maar ook koerantrubrieke. Dit sal interessant wees om te sien watter rubriek- en blogskrywers oor vyf jaar steeds in boekvorm (papier) verskyn, en of boeke uiteraard steeds ‘n proposisie bly.

 

***

 

As daar nou een boek is wat ek graag as oudioboek sal wil hê, is dit Cas van Rensburg se Die prinses in elke vrou. Ek het hom jare gelede in Londen leer ken toe ons albei in daardie stad werksaam was, en wat ek baie goed van hom onthou, is hoe wonderlik sy praatstem is. Vir my selfs mooier as Daniel Hugo s’n. Van Rensburg was destyds al geïnteresseerd in die Jungiaanse sielkunde. Hierdie boek is die jongste uitvloeisel daarvan.

 

Truida Heymann, wat die boek vir Boeke24 bespreek, beskryf dit as ‘n toeganklike inleiding tot die Jungiaanse sielkunde. Met Prinses Diana en Sneeuwitjie as gevallestudies kan dit sekerlik nie anders nie. Uit die omskrywing wat Heymann gee van sy argumentasie, is dit duidelik dat Van Rensburg probeer om die soort dinge wat Caroline Myss op taamlik ingewikkelde wyse in Sacred Contracts verduidelik, vir die gewone Afrikaanse leser verstaanbaar te maak.

 

Heymann se ondervinding as sielkundige maak dit ook vir haar moontlik om soms Van Rensburg se ontledings aan te vul. Soos waar hy verduidelik wat die rol is van die innerlike stiefma of “swart” koningin, wat Heymann laat byvoeg dat die oormatige ophemeling van kinders ook dikwels “opgeblase, donker prinsesse” oplewer.

 

Dié resensie is werklik informatief en prikkelend – net genoeg inligting om die leser te oortuig van die resensent se positiewe oordeel, en die leser na die boekwinkel te laat draf.

 

***

 

Marius Visser begin sy resensie van Clarence van Buuren: Die man agter die donkerbril van Chris Marnewick (Rapport Boeke) met ‘n goeie voorbeeld van ‘n logiese denkfout (gaan lees dit self, dis die moeite werd). Ek sal nie my kop op ‘n blok sit daaroor nie, maar ek vermoed hy begin sy resensie op hierdie manier suiwer om die sardoniese inleiding wat dit hom bied om te probeer begryp waar Chris Marnewick se belangstelling in ‘n moordsaak van meer as vyftig jaar gelede vandaan kom. Wat hom dan stuur na die ontdekking dat die boek danksy Marnewick se speurtog hom baie geboei het, en hoekom.

 

In sy geheel is dit ‘n resensie wat baie beter geskryf kon gewees het. Ek begin agting ontwikkel vir Visser as resensent – die laaste derde van die resensie is besonder goed uiteengesit en geargumenteer. Dit ontbreek die resensent beslis nie aan intelligensie nie.

 

Maar die nuk om eers stof te wil opskop, is irriterend en laat moontlik sommige van sy lesers vroeg wegdeins. Slim vang sy baas: Die inleiding oor die Farao en die takke teen die ruite is onnodig, al probeer hy later met Egiptiese verwysings die gevoel volhou. Al wat hy regkry, is om studente van die formele logika te voorsien van ‘n baie lekker voorbeeld van ‘n denkfout.

 

Aan die ander kant moet mens hom volpunte gee vir sy gebruik, in hierdie konteks, van die verwysing na Willem van Occam se lem.

Skakels:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Baie-sondes-maar-ook-pret-20120429

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Selfkennis-danksy-Sneeuwitjie-Diana-en-Jung-20120429

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/55-j-oue-moordraaisel-boei-20120427