by

Woordeskat

April 16, 2012 in Sonder kategorie

Herman Jansen se besware teen die gevloekery in Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke van Louis de Villiers, kry ondersteuning by Tom Gouws, maar nie by Koos Kombuis nie (Boeke24). Toe Jansen se resensie begin Maart in Rapport Boeke verskyn het, het ek die roman nog nie gelees nie, maar nou het ek. En is die uiteenlopende sienings daarvan nogal pret.

 

Gouws se vertrekpunt is die skrywer: sy agtergrond, sy selfbeskrywing, sy woordeskat. Daarna die sake van die roman, die verwysingsraamwerke wat dit betrek. Hy wonder wie die teikenmark is, en besluit uiteindelik dat die roman se bewustelike subversie, distopie en burleske skisofrenie hom inhaal.

 

Die resensie het samehang, die argumentering is reguit en deurlopend.

 

By Koos Kombuis is my oordeel oor die resensie presies dieselfde. Die verskil is net dat Kombuis uit die staanspoor sy oë laat gly het oor die vloekwoorde, en die oorweldigende spel van De Villiers se verbeelding raakgesien het as die groot krag van Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke. Hy steur hom nie aan die gevloekery nie, wat wys is, want dit is duidelik een van die skrywer se strategië om sy leser te skok uit die knusheid van sy bestaan.

 

Die res, dui Kombuis aan, is alles bonus. Die rugby, die speurverhaal, die spookstorie. Die hele katastrofe van die moderne Suid-Afrika, om Zorba skeef aan te haal. Daarom dat Kombuis uiteindelik, ondanks Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke se debuutroman-gebreke besluit dat DeVilliers se krag daarin lê dat hy nie dit wat hy in die land raaksien, moet oordeel nie. Hy moet net beskryf.

 

Ek vermoed dat wanneer Kombuis Tom Gouws se resensie lees, hy uiteindelik met Gouws sal saamstem dat die leser bewus raak van die gezoem, of die dreuning in die styl. En Gouws sal op sy beurt waarskynlik vir Kombuis gelyk gee oor die totale aanslag van De Villiers se verbeelding. Albei se resensies sou sulke sienings kon absorbeer.

 

Wat vir my wel opvallend is, is die feit dat een boek twee sulke deeglik beredeneerde uiteenlopende resensie kan ontvang. Vir die diskriminerende koerantleser sal dit wel duidelik wees dat ‘n mens dit hier te make het met ‘n uitsonderlik verbeeldingryke roman.

 

In ‘n ander era sou die boek waarskynlik verbied gewees het (Magersfontein, O Magersfontein sou kon kwalifiseer vir ‘n apokriewe boek van die Bybel, só mak is dit in vergelyking met Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke), maar nou is dit hoogstens ‘n baie goeie poging om die “samelewing waarvan ons in 2012 deel is”, soos Kombuis dit stel, in woorde te laat gestalte kry.

 

Ek vermoed die WAT gaan ‘n baie groot oes aan vernuftige, nuwe Afrikaans uit Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke kan haal. Ek wonder watter woord De Villiers gaan borg?

 

Uiteindelik was dít vir my die krag van hierdie roman: dat De Villiers ‘n enorme, wye woordeskat inspan om te wys hoe klein die Afrikaner se woordeskat geword het.

 

***

Nini Bennett resenseer twee romans oor die broosheid van menslike verhoudings in afgelope Sondag se Rapport Boeke: Die kamer langsaan van Annemari Coetser, en Fyn porselein van Helena Hugo. In albei resensies som sy die verhaal op, en gee ‘n reaksie waarin sy ook die waarde van die roman probeer saamvat. Ná ek die resensies gelees het, het ek gevoel dat ek nou genoeg van die twee boeke weet, en dit nie hoef te lees nie.

 

Maar dit is nie eintlik wat my geïrriteer het nie. Wat my onmiddelik negatief gestem het, was toe ek sien dat Bennett se van verkeerd gespel is op die Rapport-webwerf: “Nennet”. Slordige werk, iets traak-my-nie-agtigs daaromtrent. ‘n Houding wat mens nie aanmoedig om die resensie te lees nie. 

 

***

 

Naas Steenkamp bespreek André P. Brink se Herinneringe aan Parys vir Boeke24. Tien maal korter as die resensie wat Christell Stander daaroor geskryf het. Wat meer het mens vir herverpakkings nodig?

 

 

 

 

 

 

 

1 antwoord op Woordeskat

  1. lora2me het gesê op April 16, 2012

    Ek het vandag Tom se resensie gelees en nogal daarvan gehou, want hy is eerlik, bewonderend en dan ook opreg krities waar nodig. Ongelukkig het ek nie die boek gelees nie. Rachelle Greeff se resensie was ook vir my amper ‘n “kortverhaal-op-sy-eie” omdat sy ‘n baie aangename skryfstyl het. Hulle het my eintlik lus gemaak om die boek te lees, want die “storie” is nie vooruitgeloop en sodoende vir my bederf nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.