Jy blaai in die argief vir 2012 April.

Profile photo of crito

by crito

Oor baie en min woorde

April 24, 2012 in Sonder kategorie

Dis soos brug. Iemand wat die eerste keer in groot geselskap speel, is geneig om aan die praat te gaan. Die ou hande aan die tafel weet van min woorde en harde slae wat val.

Dit het mens nou weer gesien met Claude Schroeder se resensie van Briewe aan my kinders deur Jonathan Jansen (Raport Boeke), geplaas teenoor dié deur Peter Veldsman van sout + peper deur Niël Stemmet (Boeke24). Veldsman skryf ook oor Hetta van Deventer-Terblanche se Cape Winelands Cuisine.

Wat onmiddelik opval, is dat Schroeder bekkig dog versigtig is, amper asof hy die kaarte uit sy hand uit wil praat voordat hy lei. Volgens Rapport is Schroeder betrokke by landelike en maatskaplike ontwikkeling in die Kaapse Wynlanddistrik, terwyl dit welbekend is dat Veldsman lank joernalis was.

Wat die twee resensies vir my betekenisvol maak, is dat Schroeder se respek vir Jonathan Jansen deurentyd sigbaar is. Die feit dat hy hom tot Jansen rig, suggereer vir my dat hy hom waarskynlik beter ken as net deur Facebook en Twitter met hom te skakel, en die aanspreekvorm “Prof” dui daarop dat hy moontlik in een of ander stadium ‘n student van Jansen was.

Schroeder put baie uit Jansen se Twitter-aforismes. Die klompie wat hy aanhaal, is werklik treffend en wek die indruk dat Jansen as skrywer van aforismes iets van die gevatheid van ‘n Dirk Hertzog het en die insig van ‘n J.J. Degenaar. Maar sy skeppings is op ‘n moderner gehoor gerig – en beslis meer divers.

Ek hou ook van Schroeder se nugterheid (vgl. sy opmerking oor swaarmoedigheid en negatiwiteit). As Anastasia de Vries vir vuurwerke gesoek het, sou sy iemand soos Dan Roodt kon gevra het om hierdie boek te resenseer. Claude Schroeder is egter ‘n goeie keuse. As mens lesers op hoogte wil bring met die uitwerking van Jansen se aforismes, was hierdie die perfekte roete om te volg.

Ek weet ek het al vantevore geskryf oor hoe baie ek Peter Veldsman se resensies geniet. Omdat dit nie baie gereeld is nie, is sy dubbeldoor-poging vandeesweek des te meer kosbaar omdat hy gedwing word om nie te lank by elk van die boeke stil te staan nie.

Só ‘n beperking dwing die resensent om terug te val op sy vernuf en ondervinding.

Veldsman ken ewe veel ruimte aan albei boeke toe. Stemmet se boek oor die kos van die Noordweste tipeer hy as ‘n hartstog-boek, en Hetta van Deventer-Terblanche s’n as ‘n boek vir die verstand.

Dekodeer dit: Eersgenoemde sal meer onopgesmuk wees, laasgenoemde meer gekunsteld; eg. meer eenvoudig en sprekend tot ‘n leser wat sonder te veel kookondervinding die resepte sal kan bemeester, lg. meer ingewikkeld en gerig op lesers met ‘n kulinêre aanloop.

Wil gedoen wees!

Veldsman is positief en warm ingestel jeens Stemmet se boek, maar sy invoegsel “(sic”) by “bros aartappels” spreek boekdele oor wat hy dink van diegene wat die taalversorging van die publikasie behartig het.

Van Hetta van Deventer-Terblanche se boek maak Veldsman een opmerking wat vir die versamelaars van kookboeke van groot belang is: Dié boek is ‘n natuurlike vervolg op Renata Coetzee se Spys en drank, met Hettie Claassens as historiese begeleier. Hy bring ook Hetta se aanslag, benutting van die sjef Chris Erasmus se kennis en die aansluiting by Leipoldt ter sprake.

Nege paragrawe, ‘n essay se verwysings saamgetrek.

Daarom sê sy opmerking “Hoed af, hand op die hart, ek salueer hierdie kwartet werkers vir ’n erfstuk” vir my als wat ek nodig het om te weet wanneer ek vrede moet maak met die feit dat ek een hele tenk vol petrol gaan moet opoffer, maar hierdie boek moet ek hê.

Profile photo of crito

by crito

Woordeskat

April 16, 2012 in Sonder kategorie

Herman Jansen se besware teen die gevloekery in Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke van Louis de Villiers, kry ondersteuning by Tom Gouws, maar nie by Koos Kombuis nie (Boeke24). Toe Jansen se resensie begin Maart in Rapport Boeke verskyn het, het ek die roman nog nie gelees nie, maar nou het ek. En is die uiteenlopende sienings daarvan nogal pret.

 

Gouws se vertrekpunt is die skrywer: sy agtergrond, sy selfbeskrywing, sy woordeskat. Daarna die sake van die roman, die verwysingsraamwerke wat dit betrek. Hy wonder wie die teikenmark is, en besluit uiteindelik dat die roman se bewustelike subversie, distopie en burleske skisofrenie hom inhaal.

 

Die resensie het samehang, die argumentering is reguit en deurlopend.

 

By Koos Kombuis is my oordeel oor die resensie presies dieselfde. Die verskil is net dat Kombuis uit die staanspoor sy oë laat gly het oor die vloekwoorde, en die oorweldigende spel van De Villiers se verbeelding raakgesien het as die groot krag van Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke. Hy steur hom nie aan die gevloekery nie, wat wys is, want dit is duidelik een van die skrywer se strategië om sy leser te skok uit die knusheid van sy bestaan.

 

Die res, dui Kombuis aan, is alles bonus. Die rugby, die speurverhaal, die spookstorie. Die hele katastrofe van die moderne Suid-Afrika, om Zorba skeef aan te haal. Daarom dat Kombuis uiteindelik, ondanks Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke se debuutroman-gebreke besluit dat DeVilliers se krag daarin lê dat hy nie dit wat hy in die land raaksien, moet oordeel nie. Hy moet net beskryf.

 

Ek vermoed dat wanneer Kombuis Tom Gouws se resensie lees, hy uiteindelik met Gouws sal saamstem dat die leser bewus raak van die gezoem, of die dreuning in die styl. En Gouws sal op sy beurt waarskynlik vir Kombuis gelyk gee oor die totale aanslag van De Villiers se verbeelding. Albei se resensies sou sulke sienings kon absorbeer.

 

Wat vir my wel opvallend is, is die feit dat een boek twee sulke deeglik beredeneerde uiteenlopende resensie kan ontvang. Vir die diskriminerende koerantleser sal dit wel duidelik wees dat ‘n mens dit hier te make het met ‘n uitsonderlik verbeeldingryke roman.

 

In ‘n ander era sou die boek waarskynlik verbied gewees het (Magersfontein, O Magersfontein sou kon kwalifiseer vir ‘n apokriewe boek van die Bybel, só mak is dit in vergelyking met Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke), maar nou is dit hoogstens ‘n baie goeie poging om die “samelewing waarvan ons in 2012 deel is”, soos Kombuis dit stel, in woorde te laat gestalte kry.

 

Ek vermoed die WAT gaan ‘n baie groot oes aan vernuftige, nuwe Afrikaans uit Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke kan haal. Ek wonder watter woord De Villiers gaan borg?

 

Uiteindelik was dít vir my die krag van hierdie roman: dat De Villiers ‘n enorme, wye woordeskat inspan om te wys hoe klein die Afrikaner se woordeskat geword het.

 

***

Nini Bennett resenseer twee romans oor die broosheid van menslike verhoudings in afgelope Sondag se Rapport Boeke: Die kamer langsaan van Annemari Coetser, en Fyn porselein van Helena Hugo. In albei resensies som sy die verhaal op, en gee ‘n reaksie waarin sy ook die waarde van die roman probeer saamvat. Ná ek die resensies gelees het, het ek gevoel dat ek nou genoeg van die twee boeke weet, en dit nie hoef te lees nie.

 

Maar dit is nie eintlik wat my geïrriteer het nie. Wat my onmiddelik negatief gestem het, was toe ek sien dat Bennett se van verkeerd gespel is op die Rapport-webwerf: “Nennet”. Slordige werk, iets traak-my-nie-agtigs daaromtrent. ‘n Houding wat mens nie aanmoedig om die resensie te lees nie. 

 

***

 

Naas Steenkamp bespreek André P. Brink se Herinneringe aan Parys vir Boeke24. Tien maal korter as die resensie wat Christell Stander daaroor geskryf het. Wat meer het mens vir herverpakkings nodig?

 

 

 

 

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Oorversadiging

April 3, 2012 in Sonder kategorie

Rapport Boeke se maandelikse bylaag het ‘n welkome verandering gebring in sy April-uitgawe: Minder tydskrif-artikels en meer resensies. Tot sover die goeie nuus. Die slegte nuus is dat die sterkste bydraes ‘n mens se melk in jou koffie laat skif. Moenie ‘n fout maak nie, daar word diep gedink en uitvoerig geredeneer, maar bevredigende resensies, dít is hulle nie.

Die grootste sondaar is Christell Stander, wie se bespreking van André P. Brink se Herinneringe aan Parys oënskynlik positief is: “Sjarmant soos sy Parys”.

Sodra mens die resensie begin lees, kom jy vinnig agter dat die resensent se eie oordeel vir haar só belangrik is dat elke moontlike geleentheid benut word om haar smake, standaarde en oordele te promoveer.

Só ‘n benadering is alleen aanvaarbaar wanneer die resensent met buitengewone nuwe of oorspronklike insigte kom. Ek is bevrees Stander doen dit nie.

Stander lei haar taksering in deur te sê dat sy die meeste van lang romans hou, daarna kom poësie en kortverhale en laagste op haar leesagenda is sketse. ‘n Mens kan jou sekerlik verheug in die feit dat sy ‘n leesagenda het, meeste onderwysers is deesdae só besig met hul dagtaak dat hulle kwalik kans kry om te lees.

Nietemin, Brink het haar ‘n nuwe waardering vir sketse gegee. Sy lys dan Brink se goeie hoedanighede soos te vinde in hierdie sketse, en kontrasteer dit dan met iets wat haar irriteer van sy romans, naamlik “egoïstiese oorversadiging”, sonder om te verduidelik presies wat sy bedoel. Die resensent voorop.

‘n Mens begin wonder wat Stander se saak met Brink is, veral wanneer sy “’n Vreemdeling in die stad” as een van haar gunstelinge tipeer en sê Brink self is uit die vertelling verwyder. Dit is ‘n debateerbare opmerking, maar dit feit dat sy dit maak, is betekenisvol.

In die daaropvolgende deel van die resensie, waarin sy ‘n mens ‘n idee gee van die omvang en aard van die sketse, het sy my amper teruggewen, maar dan swig sy volledig voor die versoeking om haar eie oordeel die middelpunt van aandag te maak:

“Die opeenvolging van die verhale as ’n geheel, in ’n spel met die res van sy prosa, kan seer sekerlik ook gelees word vir spore van sy ontwikkeling as prosaïs en verteller…Tog is daar in dié sketse reeds tekens van wat vir my altyd as tekortkominge voorgekom het in sy latere oeuvre.”

 

Waarop sy dan die dinge noem wat haar van Brink se langer prosawerke hinder. Wel, regtig? Die enigste manier waarop sy dié gedeelte kan laat lyk na meer as ‘n aanhaling uit haar eie universiteitsnotas van die verlede, is om elke punt met voorbeelde te staaf. Wat sy nie doen nie. Christell Stander se mening is dus hier belangriker as die boek wat sy resenseer.

 

Haar betoog herstel dan effe ná hierdie swewing. Sy vra ‘n baie geldige vraag: naamlik na die redes hoekom hierdie woordbeeld nóú verskyn. Sy sê tereg dat dit Brink op sy mees poëtiese is wat hier aan die woord is, en nie die “seksuele revolusionêr, of betrokke skrywer, of skrywer van postmodernistiese geskiedenisse nie”.

 

Maar dan laat hang sy haar onderrok lelik uit: “Die ’ander’ Brink, die een wat ontstig, selfs aanstoot gee, is hier afwesig …”

Vandaar is die sprong wat sy na haar slotopsomming maak, amper vanselfsprekend. Sy sê dat sy hierdie bundel van Brink se sketse verkies bo die res van sy prosa omdat dit by haar tuisgebring het dat mens jou die eietydse gebeurde nie so erg moet aantrek nie, veral nie met dieselfde erns waarmee dit aan mens opgedwing moet word nie.

Die aanloop hiertoe is ‘n opmerking wat mens laat vermoed dat Christell Stander heelwat beleef het in haar loopbaan (van dosent in Afrikaanse letterkunde en genderstudies tot tandarts tot iemand wat tans “in die onderwys” is) en dat dit van só ‘n aard was dat sy graag daaraan sal wil ontsnap:

Herinneringe aan Parys is ’n aangename mymering. Dit haal die leser vir ’n oomblik uit die ongelooflik komplekse hedendaagse werklikheid. Die sagte ironiserende blik op onwrikbaarhede, onveranderlikhede en die aard van menswees te midde van alles lei tot die besef dat daar hoop te vinde is in oorganklikheid.”

 

Het ek haar té kras beoordeel deur haar eie egoïstiese oorversadiging as steurnis te identifiseer? Ek glo nie. ‘n Resensent se persoonlike omstandighede behoort geen invloed te hê op die ewewigtigheid van sy mening nie. Wat dit ookal was wat Christell Stander laat besluit dat sy die deernis en sagte sy van Brink in Herinneringe aan Parys hoër skat as die res van sy prosa, ek is nie oortuig nie. Kan sy dit werklik beter en/of verkieslik vind bo Lobola vir die lewe, Die ambassadeur, ‘n Droë wit seisoen, ‘n Oomblik in die wind, Duiwelskloof en Bidsprinkaan?

 

As ‘n mens dan jou eie kanoniserende oordeel voorop wil stel in ‘n resensie van Herinneringe aan Parys, moet jy ten minste verduidelik hoe dié bundel skakel met Latynse reise (1990), asook die verbande met Brink se uitlatings in Vurk in die pad aandui. Dit sou ook nie onvanpas gewees het om Brink se voorwoord tot Jan Rabie se Paryse dagboek ter sprake te bring nie.

 

Dit doen sy nie. Trouens, die resensie wek die indruk van iemand wat aangenaam verras is deur die skryfwerk van iemand vir wie sy lankal reeds ‘n onvleiende etiket om die nek gehang het. Die vraag is dan sekerlik hoekom sy nou eers by Brink se reisverhale uitkom. As sy dit wel voorheen gelees het, sou ek veel eerder wou hoor wat sy aanvanklik daarvan gedink het indien sy ‘n ander mening toegedaan was – en hoekom het dit nou verander?

 

Die ironie van hierdie resensie is dat die slotsom waartoe Stander kom, naamlik dat Brink se reisverhale oor Europa in ‘n tyd van verandering iets te sê het, iets salwends te sê het boonop, vir die moderne Afrikaanse leser in ‘n tyd van verandering. Het sy langs ‘n ander weg hierby uitgekom, en nie haar opvattings oor Brink se romans gebruik as hefboom om uit te kom by haar verrassende reaksie op sy sketse nie, sou mens gedink het dat Stander wel iets buitengewoons sê.

 

Lees gerus ook wat Arthur Krystal te sê het oor hierdie soort resensies op Boeke24 se webwerf, of by die adres http://chronicle.com/article/Should-Writers-Reply-to/131157/

 

***

 

Wat ek wel van Stander se resensie waardeer, is dat sy onderhoudend skryf, argumenterend, en slegs ‘n paar keer haar toevlug neem in akademiese formulering. In dieselfde boekebylaag is daar weer twee resensente doenig wat na die teenoorgestelde kant oorhel: Marlies Taljaard en Marthinus Beukes, wat onderskeidelik oor Cas Vos se Weerloos lewe en Tom Gouws se Stigmata skryf.

Albei resensente was duidelik bewus daarvan dat hulle vir ‘n Sondagkoerant skryf, vandaar die bondgheid van hul besprekings. Albei is egter ook onder die illusie dat hulle hoofsaaklik vir lesers met ‘n baie sterk akademiese agtergrond skryf, en wat skynbaar ook die bundels wat hulle bespreek, goed ken.

Derhalwe kry mens byvoorbeeld dat Taljaard verwys na “die reeks gedigte wat hul stof uit klassieke tekste neem” en net sê die gedigte is aangrypend mooi – sonder enige illustrerende aanhalings of verdere inligting.

By Beukes kry mens weer stellings wat smeek om toeligting en aanhaling: “Die benutting van ‘n verskeidenheid gedigvorme, byvoorbeeld o.a. die sonnette, rondeel, septet en haikoe steun die idee van ‘n groter wordende taalkonstruksie waarin die verweerde en verwonde bestaansdinge saamgebind word. Dit is egter merkwaardig hoedat Gouws met rym as eenheidskeppende middel daarin slaag om die gedig léwe te gee.” Om laasgenoemde te volg met “Vergelyk hier die bewustelik  oordadige dreun van die rym in die sonnet oor “die elisabeth eybers-boekklub” met die enkele afwyking in die “gewelstad” as demonstrasie van die gestileerde styl van die transvestietteeparty” is eenvoudig net nie genoeg as ‘n mens die soort resensie skryf wat Beukes skryf nie.

 

Albei resensies getuig van ‘n skerp analitiese benadering. Albei word gepootjie deur die uitweg wat hulle neem: stellings te maak oor eienskappe van die digter of elemente van die bundel, dit nie te staaf nie, en dit te volg met volgende waarnemings en reaksies. Mens voel heel dikwels lus om te smeek dat hulle tog net moet sê na watter gedigte hulle nou verwys, hulle hoef nie eens aan te haal nie.

 

Ek dink byvoorbeeld dat Taljaard meer inligting kan gee as net te verwys na “ars poetica-gedigte”, “twee Kaïn-en-Abel-gedigte” of gedigte waarin daar stylfigure is wat ook in Bybelse poësie voorkom.

 

Beukes weer trap soms in die strik van maklike dog onsinnige formulerings. Om te praat van “Gouws se plek-plek meesterlike talent” ruk my tot stilstand. Wat beteken dit? Dat Gouws net plek-plek meesterlike talent toon, en al die ander plekke gewone of geen talent?

 

Vir my gevoel behoort Taljaard en Beukes se resensies, met al die leemtes gevul deur aanhalings en verduideliking, eerder tuis op die webwerwe van LitNet, SLiP of Versindaba. Dáár sal hul aannames oor hul waarskynlike lesers geregverdig wees, en sal hul bydraes deur diskriminerende lesers as voortreflik beskou word.

 

***

 

Lees resensies by:

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Sjarmant-soos-sy-Parys-20120329

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/3-digters-sing-saam-n-simfonie-van-poesie-20120329