Profile photo of crito

by

Tydskrifverhale of nie

Maart 13, 2012 in Sonder kategorie

Weer ‘n skraal week vir Afrikaanse boekresensies. In die Afrikaanse oggendkoerante slegs die een oor Johan en Ria Smuts se Die water wat verby is, geskryf deur S.J. Naudé, en op Boeke24 ‘n tweede mening daaroor, deur Cilliers van der Berg.

Albei resensente is geesdriftig oor hierdie bundel – te oordeel na hul besprekings is die bundel die eerste werklik noemenswaardige literêre publikasie van die jaar.

Waar Naudé se resensie aan alle vereistes voldoen wat ‘n mens van ‘n resensent kan verwag (soos ook tydens die Woordfees baie bondig deur dieselfde Johan Smuts verwoord tydens die gesprek wat hy en Ria Smuts met Kerneels Breytenbach gehad het), is daar tog iets in Van der Berg se opmerkings wat verdere refleksie verdien.

Hy skryf: “Gesien as afsonderlike stories lees baie van die bydraes (met ooglopende uitsonderings soos “Tydskrifverhaal” en “Stephen”) as lekkerleesverhale. Dus tydskrifverhale wat nie voorgee om meer te wees as toeganklike vertellings oor karakters waarmee enigeen kan identifiseer nie, hoewel enkele verhale bietjie meer literêre pretensie as ander het.”

 

Ek sou graag wou sien dat Van der Berg verduidelik presies wat hy onder “tydskrifverhale” verstaan. Hy sluit in sy betoog aan by die bundel se verhaal “Tydskrifverhaal”, en omdat ek die bundel gelees het sedert ek die egpaar Smuts verlede week daaroor hoor praat het, weet ek dat hulle aan tydskrifverhale binne ‘n spesifieke era verwys, naamlik die vroeë sestigs, en spesifiek soos mens daardie verhale in Huisgenoot aangetref het.

 

As ek die bundel egter nie gelees gehad het nie, sou ek dieselfde gedink het? Sou ek nie dalk gedink het aan die soort verhale wat ek al in Rooi Rose of Sarie gelees het nie? Sou ek nie dalk ook ‘n saak kon uitmaak dat met die uitsondering van die inlas-verhaal in “Tydskrifverhaal” al die verhale in Die water wat verby is juis nié tydskrifverhale in die Huisgenoot-, Rooi Rose- of Sarie-sin van die woord is nie? Dat ‘n mens eerder in Abraham H. de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek na eweknieë moet soek?

 

Dit is alles vrae wat opgewerp word omdat tydskrifverhaal soos Van der Berg dit gebruik, té vaag of onspesifiek is.

Die water wat verby is:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Uitbundige-nuwe-vryheid-20120311

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Eindprojek-vol-binnepret-20120311

2 antwoorde op Tydskrifverhale of nie

  1. HeavyHenry het gesê op Maart 13, 2012

    Is Playboy nie ook ‘n tydskrif nie?

    Stem nogal saam oor die vaagheid van die begrip!

  2. lora2me het gesê op Maart 13, 2012

    Ek het die resensie waarna jy verwys met gemengde gevoelens gelees, want ek kon ook nie die kloutjie by die oor kry oor presies wat hierdie bundel se genre nou presies is nie. Met die bietjie wat ek van dr Smuts as dosent aan die US gedurende die laat sewentigs, kan onthou, het hy baie op styl ens. gefokus en was hy, o.a., die outeur van “handleiding(s)” (weer ‘n vae begrip)oor sekere genres in Afrikaans. Dus, dink ek nie dat hy net bloot tydskrifverhale/stories sonder literêre kennis of ‘n spesifieke doelwit sou skryf nie. Miskien sou “populêre skryfkuns” beter gewerk het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.