Jy blaai in die argief vir 2012 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Skrywer as resensent – Maltesers en bokdrolle

Maart 28, 2012 in Sonder kategorie

Die skrywer as resensent – wat verklap dit?

‘n Ervare skrywer (Welma Odendaal) en ‘n opwindende nuweling op die toneel (Nicole Jaekel-Strauss) bespreek vandeesweek op Boeke24 vir Réney Warrington se debuutroman Oktober. In Rapport Boeke is dit Kerneels Breytenbach wat Johan en Ria Smuts se Die water wat verby is resenseer.

Odendaal en Breytenbach het albei jare se joernalistieke ondervinding, en by Odendaal is dit belangrik om dit te weet. In die joernalistiek word deeglik onderskei tussen ‘n kiekie en ‘n goeie foto. In die woorde van Daantjie Malan, destyds nog by Die Transvaler: ‘n Goeie foto het nie woorde nodig nie.

Odendaal kom uit daardie skool. Boonop het sy ‘n baie opvallende sensitiwiteit vir die onderskeid tussen reportage en subtiele fiksionalisering.

Daarom dat Oktober – ‘n roman aangevul deur foto’s – nie vir Odendaal oortuig nie. En so min as wat ek hou van resensies wat so oorheersend negatief is soos Odendaal s’n, moet ek haar krediet gee vir haar ewewigtigheid. Sy het besin oor die gebruik van foto’s by die literêre teks. Sy het die literêre teks geweeg en dit swak gevind. Sy het die samestelling getakseer en bevind dat selfbeheptheid die totale poging pootjie.

Ek kon nie vinnig ‘n eksemplaar van die boek in die hande kry nie, en het Warrington se fotografie net probeer kontroleer aan die hand van haar webwerf. Die foto’s wat dáár met die roman in verband gebring word, laat my skrik. Sjokoladeblik-materiaal wat aangebied is as “subteks” tot die geskrewe woord.

Odendaal lys genoeg besware om mens te laat besef dat haar verdoemende oordeel deeglik oorweeg is voordat dit neergepen is. As gesoute skrywer sien sy nogtans raak dat Warrngton wel deeglik skryftalent het, en besluit dan dat die boek ‘n redakteur nodig gehad het wat die outeur kon lei.

Die dilemma wat nou ontstaan, is dat mens nie die voordeel geniet van die boek in die hand te hê nie, en jy wil graag die vraag beantwoord hê of die gehalte van die boek sodanig is dat dit ‘n vernietigende resensie soos Odendaal s’n verdien? Haar argumente staan vas, en haar goeie naam as resensent is bo verdenking, maar ‘n resensie van hierdie aard laat my altyd besluit om eers net self te loer voordat ek die mening onderskryf.

Is dit nie baie gemeen om so iets aan ‘n debuut-werk te doen nie?

Die antwoord hierop is natuurlik dat dit juis oor hierdie problematiek is dat Nicole Jaekel-Strauss se ressensie oor die boek nuttig behoort te wees.

Van Strauss se resensie is dit die onbevange gewilligheid om geïmponeer te word wat dadelik opval. Mens kry die gevoel dat sy met die lees van Oktober diep beïndruk was met die andersheid van hierdie debuutroman – hoe verbete die skrywer daarop uit was om ‘n nuwe soort roman tot stand te bring.

Haar benadering is in vergelyking met Odendaal s’n onkrities en vir haar is die tegniese leemtes wat Odendaal uitwys, geen probleem nie. Trouens, sy geniet die roman op verhaalvlak en pleks van te reageer op die eendimensionaliteit wat Odendaal uitwys, raak sy eerder verstrengel in die vraag of die hoofkarakter in die boek nie ook die skrywer/fotograaf is nie.

So ‘n vraagstelling is vir my gevoel ‘n teken van die onervarenheid van Strauss as resensent – maar dit is net so geldig as Odendaal s’n binne die eenvoudige raamwerk waarbinne Strauss haar beoordeling doen, en dit is duidelik ‘n nie-literêre raamwerk. Strauss het agting vir die hooffiguur se storie; sy bewonder ook die hoofpersonasie se vermoëns as fotograaf. Strauss dui die tematiek van die verhaal aan, sonder kritiek.

Mens kan dus Strauss se mening oor die boek respekteer – maar jy kan baie ongemaklike vrae vra oor haar vermoë as resensent om die literêre onderbou van die roman te takseer, of die estetiese en komposisionele aspekte van die fotografie.

Wat moet ons dan maak van hierdie tweevuis-resepsie van Réney Warrington se Oktober?

Ek kry Warrington bitter jammer – dit kan nie lekker wees om ‘n resensie op die lyf te loop soos die een wat Welma Odendaal van Oktober geskryf het nie. Maar Odenaal wys daarop dat as mens jou lyf tameletjie wil hou, moet jy bereid wees om gekou te word. Warrington het meegedoen aan die narsistiese bedryf rondom die publikasie via haar webblad, mens het dus rede om te dink dat sy moes geweet het waarvoor sy haarself inlaat.

Mens kan die skares wat jou webblad en jou Facebook-inskrywings lees wysmaak dat jy Maltesers aanbied, maar sodra hulle begin eet, gaan iemand agterkom dis bokdrolle.

***

Die een vraag wat mens jou dikwels afvra terwyl jy ‘n resensie lees, is hoe wyd die resensent se leeservaring is. Kerneels Breytenbach se bespreking van Die water wat verby is verklap dat hy langer in die land is as die twee veel jonger resensente van dieselfde bundel in Boeke24 (Cilliers van der Berg en S.J. Naudé).

Hy weet met watter skrywers van die verlede Johan en Ria Smuts die beste skakel, wat dan ook sy resensie vir my die mees afgeronde ene maak van die drie. Wat ook in sy voordeel tel, is dat hy hul resensies sekerlik gelees het voordat hy geskryf het. Wat miskien verklaar hoekom hy op geen negatiewe aspekte van die bundel wys nie?

Profile photo of crito

by crito

Tipies versigtig

Maart 19, 2012 in Sonder kategorie

Ek stel nie eintlik belang in hoe ander mense oor God dink nie. Maar daar is skynbaar mense wat wel nuuskierig is daaroor, wat waarskynlik die rede is hoekom George Claassen en Fritz Gaum se God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles tot stand gekom het.

Boeke24 het ook sterk genoeg oor die onderwerp gevoel om twee resensente vir die boek te kry: Sakkie Spangenberg en Cas Vos.

Hoe het hierdie twee gevaar in hul poging om die aandag te behou van hierdie ongeïnteresseerde leser?

Spangenberg het my aandag die langste gehou; by Vos het hulle begin dwaal weens sy brokkelrige aneenryg van paragrawe. Dit lyk soms asof hy net losse gedagtes en reaksie neerpen.

In die proses van deurworstel het ek darem twee dinge agtergekom.

Die eerste is dat albei nie heeltemal positief is oor ‘n boek van hierdie aard nie. Spangenberg se gebruik van die woord “slinger” om mense se leesmetodes en gewaarwordinge te tipeer laat die aap uit die mou. By Vos is dit weer sy slotopmerking oor die struikelende manier waarop gesprekke soos hierdie geskied wat verklap dat hy nie heeltemal jubel oor die gesprek tussen godsdiens en wetenskap nie.

Die tweede is dat albei rats genoeg is om nie oordele uit te spreek oor die meriete van die veelvoud van sienings wat uitgespreek is nie. Slim soos die houtjie, onse Afrikaanse teoloë.

In die plek daarvan wys Vos eerder daarop dat hier kwalik van ‘n oop gesprek sprake is. Gaum en Claassen het elkeen met hul geesgenote gesels. Spangenberg weer is erg beïndruk deur die feit dat daar so baie vroulike deelnemers is. Dit moet seker ‘n nadraai wees van die worsteling van die Afrikaanse kerke met die rol van die vrou.

Spangenberg stel selfs ‘n lysie op van al die vroue wat aan die gesprekke deelneem. Nie een van die twee resensente vind dit die moeite werd om te noem watter mans betrokke was nie – slegs die naam van Breyten Breytenbach duik in die verbygaan op.

Twee teoloë wat dus nie self betrokke wil raak by die gesprek nie, en op die meeste die werking van die gesprek in die boek gebruik as vertrekpunt vir die stel van hul gewaarwordinge.

Sou mens dit nogtans positiewe resensies kan noem? As dit dan regtig moet, seker ja, maar eintlik wil ek sê dat dit weer tipies versigtinge resensies deur tipies versigtige Afrikaanse teoloë.

Profile photo of crito

by crito

Tydskrifverhale of nie

Maart 13, 2012 in Sonder kategorie

Weer ‘n skraal week vir Afrikaanse boekresensies. In die Afrikaanse oggendkoerante slegs die een oor Johan en Ria Smuts se Die water wat verby is, geskryf deur S.J. Naudé, en op Boeke24 ‘n tweede mening daaroor, deur Cilliers van der Berg.

Albei resensente is geesdriftig oor hierdie bundel – te oordeel na hul besprekings is die bundel die eerste werklik noemenswaardige literêre publikasie van die jaar.

Waar Naudé se resensie aan alle vereistes voldoen wat ‘n mens van ‘n resensent kan verwag (soos ook tydens die Woordfees baie bondig deur dieselfde Johan Smuts verwoord tydens die gesprek wat hy en Ria Smuts met Kerneels Breytenbach gehad het), is daar tog iets in Van der Berg se opmerkings wat verdere refleksie verdien.

Hy skryf: “Gesien as afsonderlike stories lees baie van die bydraes (met ooglopende uitsonderings soos “Tydskrifverhaal” en “Stephen”) as lekkerleesverhale. Dus tydskrifverhale wat nie voorgee om meer te wees as toeganklike vertellings oor karakters waarmee enigeen kan identifiseer nie, hoewel enkele verhale bietjie meer literêre pretensie as ander het.”

 

Ek sou graag wou sien dat Van der Berg verduidelik presies wat hy onder “tydskrifverhale” verstaan. Hy sluit in sy betoog aan by die bundel se verhaal “Tydskrifverhaal”, en omdat ek die bundel gelees het sedert ek die egpaar Smuts verlede week daaroor hoor praat het, weet ek dat hulle aan tydskrifverhale binne ‘n spesifieke era verwys, naamlik die vroeë sestigs, en spesifiek soos mens daardie verhale in Huisgenoot aangetref het.

 

As ek die bundel egter nie gelees gehad het nie, sou ek dieselfde gedink het? Sou ek nie dalk gedink het aan die soort verhale wat ek al in Rooi Rose of Sarie gelees het nie? Sou ek nie dalk ook ‘n saak kon uitmaak dat met die uitsondering van die inlas-verhaal in “Tydskrifverhaal” al die verhale in Die water wat verby is juis nié tydskrifverhale in die Huisgenoot-, Rooi Rose- of Sarie-sin van die woord is nie? Dat ‘n mens eerder in Abraham H. de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek na eweknieë moet soek?

 

Dit is alles vrae wat opgewerp word omdat tydskrifverhaal soos Van der Berg dit gebruik, té vaag of onspesifiek is.

Die water wat verby is:

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/n-Uitbundige-nuwe-vryheid-20120311

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Eindprojek-vol-binnepret-20120311

Profile photo of crito

by crito

Bekruipende preutsheid

Maart 5, 2012 in Sonder kategorie

Die nuwe Suid-Afrika het baie dinge verander, behalwe Afrikaners se ingebore preutsheid. En nou sal dit Louis de Villiers wees wat in Rapport Boeke ‘n pris-snotklap of tien kry by Herman Jansen, een van sy joernalis-kollega’s.

 

Diegene wat De Villiers ken uit sy skryfwerk (hy is ‘n rugby-joernalis wat vir Rapport en Media24 se Afrikaanse oggendkoerante skryf) sal weet dat hy ‘n eiesoortige manier het van skryf. Lees hom – dit klink asof hy met homself praat. Sy rugbyverslae is ‘n soort gesellige kontak met die allergrootste werklikheid.

 

Diegene wat al binne hoorafstand van hom gewerk het, sal weet van die ontembare stroom van Louis se riffing op temas gaaf en goor. Mens weet, tussen die punktuasie van sy roggelry, wat hy van dinge dink.

 

Terwyl ek Jansen se resensie lees, val die aanhalings wat Jansen maak uit De Villiers se debuutroman, Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke, alte lekker op die oor. Dis ons Louis! Jansen het ‘n soort bewondering vir die vindingryke hoekies van De Villiers se verbeelding, maar De Villiers se gekruide taal stuit hom.

 

Wat het Jansen van ‘n opregte rugbyroman verwag? In die boek se 254 bladsye, verseker Jansen ons, word fok en variante daarvan omtrent 200 keer gebruik. Wel, ou Herman, as dit omtrent 500 keer was, sou ek fokken ontsteld gewees het. Daar is darem net 18 knope met die Allerhoogste se naam. Joegie, ons vertrou jy het reg getel.

 

Jansen kry dit op ‘n manier reg om die roman se heerlikhede te suggereer. Die wyse waarop hy aangaan oor die taalgebruik (hy gee darem hier en daar blyke van waardering vir die lewenskrag van De Villiers se skryfwerk) laat mens amper verby sy teoretiese dwalinge lees.

 

Jansen maak byvoorbeeld beswaar teen sommige van die karakters wat te dik is vir ‘n daalder. Vir enigiemand wat nog nie die roman gelees het nie, soos ek, is dit uit Janse se aanhalings en beskrywings duidelik (as die titel jou nog nie die insig laat kry het nie, bygesê) dat Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke ‘n burleske roman is. Een waar alles tot die punt van parodie en hansworstery oordryf word.

 

Kan dit wees dat Jansen eintlik ontstel is deur Louis de Villiers se ontmaskering van die pedantiese ghwarredom wat Suid-Afrikaanse rugby deesdae is?

 

***

 

Die resensie-onderhoud (wátter een van die twee is dit nou eintlik?) oor Riette Rust se kortverhaalbundel ‘n Lyf onthou (ook in Rapport Boeke) verkondig weer hoe skaars seks in Afrikaanse boeke is. Seks is nie alleen taboe nie, dis ook ‘n taboe-onderwerp. “Jy praat mos nie daaroor nie …” word die blonde apologeet deur Marlene Malan aangehaal.

 

Is dit regtig só? Mens vra jouself af in watter omgewing Rust en Malan hulle bevind. Het die opkoms van die Afrikaanse hygroman hulle ontgaan? Is hulle hoegenaamd bewus daarvan dat voorstedelike Afrikaanse vroue sekshulpmiddel-partytjies hou soos hul ma’s jare gelede tupperware-partytjies gehou het?

 

Preutsheid laat mense eienaardige dinge doen. Pleks van die kortverhale in ‘n Lyf onthou te bespreek, neem Malan die maklike uitweg en laat die skrywer motiveer hoekom haar kortverhale seks as vernaamste boustof het. Hoekom nie liewer skryf oor die kortverhale en hoekom hulle jou tref nie?

 

Gedagtend aan wat al vantevore met skrywers gebeur het wat sulke resensie-onderhoude in Rapport Boeke had, voel ek jammer vir Riette Rust. Hier is haar debuutbundel, en die kans dat sy lateraan ‘n volwaardige resensie oor hierdie bundel in Rapport gaan lees, is uiters skraal.

 

Of is sy een van daardie sonderlinge skrywers wat nie wil weet wat mense van haar skryfwerk dink nie?

 

***

 

Mens kan nog jou kop skud oor preutsheid en vergeet daarvan – maar ek weet werklik nie wat om te maak van Moira Richards se resensie van Donker leuens van Lien Roux-de Jager nie (Rapport Boeke). Is dít ‘n resensie?

 

As ek Lien Roux-de Jager was, sou ek gehoop het ‘n resensent vertel aan die leserspubliek presies wat dit is wat my Donker leuens die koop en lees werd maak. Maar wat het sy gekry? ‘n Betoog waarin ewe veel vae inligting oor die roman is as wat daar vae inligting is oor die skrywer, waarskynlik verkry uit die uitgewer se inligtingsbrosjure. Met ‘n titseltjie persoonlike reaksie en dan uiteindelik die stempel van goedkeuring.

 

Daar is darem baie woorde in die resensie.

 

Wat ek mis in hierdie “resensie”, is kritiese waardering en substansiële blyke van meelewing sodat die stempel van goedkeuring welverdiend oorkom. Lien Roux-de Jager het beter behandeling verdien.

 

***

 

Enkele weke gelede het ek hier geskryf oor Marius Visser se bespreking in Rapport Boeke van So lig soos kip van Jacques Pretorius. Waarvan ek onbewus was, was dat die outeur oorlede is voordat sy boek gepubliseer is. Alles in ag genome, maak dit Visser se resensie en die manier waarop dit geskryf is, nog ‘n groter oefening in vertonerige futiliteit.

 

Die saak is darem op ‘n manier besweer deur die resenies wat van die boek in Boeke24 verskyn het. Die resensente is Cas van Rensburg en Jaco Fouché. Van Rensburg is ‘n joernalis, dramaturg en skrywer met ‘n wye agtergrond in die sielkunde, Fouché eweneens ‘n joernalis en skrywer.

 

Soos Fouché dit stel, lees mens die boek met die wete dat jy nooit sal sien hoe die belofte daarin vervul word deur toekomstige publikasies nie. Hierdie is Pretorius se een groot kans.

 

Dit is insiggewend om te sien hoe verskillend die twee resensente die werk benader. Fouché noem feitlik onmiddelik dat die baie geweld in die begin hom pla, maar bespreek en oorpeins in die res van die resensie hoekom dit uiteindelik nie soveel saak maak nie: Pretorius het ‘n strategie gevolg wat wel die teensy van gewled ontbloot.

 

Van Rensburg begin (helaas!) met ‘n preutse opmerking oor kragwoorde, maar plas dit dan onmiddelik uit sy raam en maak ‘n paar opmerkings waarop sy resensie moeiteloos voortbou. Dit is só goed geformuleer dat ek dit graag herhaal.

 

Die eerste is: “Maar wanneer jy die boek uiteindelik toemaak, is dit asof jy ’n hou op die maag gekry het en jy wonder: Was daar al ooit in Afrikaans ’n boek wat die brose psige van die man só blootgelê het?”

 

Hy vermeld dan dat Pretorius oorlede is, en maak dan die volgende opmerking: “Ek noem dit omdat ’n mens agterna voel asof sy eie lewe in hierdie verhaal uitgebloei het.”

 

Dit is die moeite werd om die res van Van Rensburg se resensie goed te lees. Hy het ‘n baie sterk aanvoeling nie alleen vir die struktuur van die roman nie, maar ook vir die sielkundige onderbou.

 

Hy is die enigste van die drie resensente wat die klip van die titel behoorlik verduidelik.

 

Toe Boeke24 gelanseer is, is baie gepraat oor die moontlikheid van meer as een resensie van belangrike boeke. Presies hóé belangrik So lig soos klip is, kan mens sekerlik nie nou bepaal nie, maar ek is baie bly dat hierdie stelsel benut kon word om twee sulke resensies naas mekaar te plaas.

 

Fouché s’n is bevredigend omdat dit vanuit ‘n skrywer se hoek die boustene nagaan; Van Rensburg s’n is so puik omdat dit sowel tema’s as boustof evalueer.