Profile photo of crito

by

Sensuur in sig

Februarie 21, 2012 in Sonder kategorie

Daar is só baie woorde wat mens op die internet kan lees, dat mens soms eers wip nadat jy al na ‘n volgende webbladsy geflits het.

 

Lees mens Jeanette Ferreira se bespreking van Alfabet van die voëls (LitNet, Biebouw-resensies), kom jy op ‘n veelseggende slotparagraaf af:

 

Só word Naudé se sosiale kommentaar op die vergryp in ons huidige samelewing kragtiger as enige vorm van niefiksie. Hy bekoor en fassineer en ontstel tegelyk sy leser. Daarom bly dit so helder by. Nie net omdat stories harder as feite praat nie, maar veral omdat Naudé reeds in sy debuut so geslyp kommunikeer. Diegene wat moet toesien dat die mediawet-in-wording behoorlik nagekom word, sal beslis ’n streng oog op hierdie talentvolle skrywer moet hou. ’n Buitengewone debuut, wat beskryf kan word met ’n passasie uit die bundel: “Dit bevat ’n ganse tuin, dink hy, hierdie nat blom.”

 

‘n Pragtige samevatting, maar dan kom spook die opmerking oor die mediawet-in-wording by jou.

 

Ferreira is nie vandag se kind nie – sy het self die vorige sensuur-bedeling beleef en weet presies hoe die sensors na literêre werke kyk.

 

Haar opmerking oor S.J. Naudé wat so “geslyp” kommunikeer, is vir my baie veelseggend. Dit sê vir my dat sy in hom iemand herken wat die vermoë het om ellipties dinge oor te dra, deur suggestie, verwysings met ‘n omweg, metafore wat vlerke kry. Die soort skrywer wat oor ‘n politieke saak sal kan skryf sonder dat mens dit onmiddelik agterkom. Iemand wat in ‘n toekomstige taalstryd (of watse stryd ookal) saam te neem loopgrawe toe.

 

Op ‘n vreemde manier het hierdie een opmerking van Ferreira vir my opwinding gebring – die vooruitsig van ‘n era waarin van skrywers verwag sal word om weer die taal in sy volle spektrum van subtiliteite en onderduimsheid aan te wend om ‘n drakoniese bestel te ondermyn …

 

Wie sou ooit kon voorspel dat Afrikaanse skrywers weer by dié punt sou kom?

 

***

 

Thys Human, iemand wat hom normaalweg toespits op literêre werke, het dit op homself geneem om Gert Erasmus se boek Witgat vir Boeke24 te bespreek. Die inleiding het my laat terugdeins – hy roep een van P.G. du Plessis se verhale oor ‘n vrou wat met bome praat in herinnering.

 

Nie lank nie, het ek gedink, of Human haal die ou skoolgrappie aan:

 

I talk to the trees

That’s why they put me away …

 

Gelukkig doen hy dit nie. Sondig net op een plek met een van daardie opmerkings wat mens laat voel jy moet sulke resensies met ‘n mondskerm lees: “Want Erasmus kán skryf.” Kan hy ? Nou toe nou.

 

Waaroor dit in Witgat gaan, is bome, spesifiek dié van Suider-Afrika. Erasmus se nering was skynbaar dié van veldwagter in ‘n sekere stadium, daar is ook ‘n verwysing na inligtingsbeampte. Hoe ook, Human is duidelik getref deur sy besonderse manier van skryf oor bome, en die manier waarop hy mense betrek daarby.

 

Dit is nie vir my uit die resensie duidelik of Witgat ooit deur die hoofstroom-uitgewerye afgekeur is nie, maar Human suggereer dat dit moontlik Erasmus se warsheid van politieke korrektheid is wat die grotes afgeskrik het. (Wat by my dadelik die vraag laat ontstaan oor hoeveel goeie boeke sneuwel weens uitgewers se slaafse navolging van politieke korrektheid.)

 

Human bring Witgat nie in verband met Thomas Packenham se Meetings with Remarkable Trees of RemarkableTrees of the World nie, wat mens voorts dwing om af te lei dat Witgat nie ryklik geïllustreer is nie.

 

Wat Human wel duidelik oordra, is dat Gert Erasmus met hierdie self-publikasie ‘n skatkis van boomstories, anekdotes, herinneringe en beskrywings versamel het. Mens moet bedag wees op die ou kwint van self-publikasies, naamlik bloemryke of verromantiseerde beskrywings, maar andersins klink dit na die soort boek wat mens graag in die hande wil kry.

 

Resensie suksesvol!

 

***

 

Marius Visser bespreek Jacques Pretorius se So lig soos klip in Rapport, en laat my onwillekeurig aan Philip Larkin se gedig “This Be The Verse” dink: “Man hands on misery to man.” Ongelukkig kan die gedig nie verder van toepassing op die resensie gemaak word nie – dit verdiep nie soos ‘n coastal shelf nie.

 

‘n Resensent verlam deur literêre pretensie. Wat jammer.

 

Daar sit ‘n klomp teorie in Visser se resensie, en ek het ‘n vermoede dat sy kritiek nie ver van die kol is nie. Die probleem is net dat hy jou toegooi met ‘n mengsel van teorie, spitsvondigheid en cliché. Soms almal in een sin: “Kruisverwysings vorm deel van die stelinkleding, soos plakkate teen ’n muur, sonder om ooit groter te wees as die som van die onderdele.” (En “stelinkleding”? Is dit ‘n verhoogstuk?)

 

Ek hoop om in die toekoms meer resensies deur Marius Visser te lees. Dis die enigste manier waarop die resensent wat hier deurskemer, op koers sal kom.

 

Sonder die teorie.

 

***

 

Nelle Dreyer se outobiografie, Voorbladnooi – Van Pleinstraat tot Parys kry op Boeke24 ‘n kort bespreking deur Haidee Muller. Heeltemal interessant, maar as ek Muller was, sou ek baie kwaad vir Boeke24 wees omdat daar so ‘n aanteelt van onnodige koppeltekens in die teks is. Waar is die taalsubs?

 

1 antwoord op Sensuur in sig

  1. Dankie vir hierdie; dis great om terugvoering te sien. Ek’t vorige resensies op my blog gesit: http://aityt.blogspot.com/

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.