Profile photo of crito

by

Op die boek af

Februarie 14, 2012 in Sonder kategorie

Verskoon my dat ek oor ‘n resensie skryf wat in die taal van die imperialis gepubliseer is, maar ek het so baie gehou van Eckhard Cloete se bespreking van From Groot Constantia to Google: 1685 to 2010 – A Colourful History of Brands and Branding in South Africa dat ek dit nie wil ignoreer nie.

Dié bespreking is ‘n pragtige voorbeeld van ‘n strydvaardige of agiterende boekbespreking. Met die eerste sin al gee Cloete kennis dat hy nie van die boek hou nie en daarna pak hy uit.

Mens kan alleen ‘n idee kry van hoe deeglik Cloete die boek afransel deur die resensie self op Boeke24 se blad of webwerf te gaan lees. Ek wil veral die aandag vestig op die manier waarop hy in die loop van die bespreking, op die plek waar hy ‘n baie groot pluimpie aan die boek gee, terselfdertyd vir jou vertel presies wat met die boek verkeerd is.

Luister hier: “Die ineenvlegting van handelsmerke se stories met die breër maatskaplike en sosiale agtergrond kan vir sommige mense interessant wees en in dié opsig is die boek grotendeels geslaagd.”

Dit word onmiddelik gevolg deur: “Maar dis ’n lá-a-a-ng lees wat ongelukkig nie die ondersteuning van ’n boeiende skrywerstem of bekwame redakteurshand kry nie.”

 

Mens hoef nie ‘n stipleser te wees nie om te besef hy sê: Vervelig, onprofessioneel gepubliseer, vermy.

 

Verderaan is hy minder subtiel, en sê hy meer direk wat hom pla. Eienaardig genoeg is dit die subtiele houe wat die meeste krag het.

 

Cloete se bespreking het ook ‘n stertjie of nagedagte. Vermoedelik het Cloete of die blad se redakteur, Elmari Rautenbach, raakgesien dat From Groot Constantia to Google ‘n onwaarheid die wêreld instuur oor juis Groot Constantia. Die wynskrywer Tim James word dan aangehaal om hierdie dwaling te weerlê.

Baie interessant. Ek wonder hoe die uitgewer, Ken Wilshere-Preston na dese voel.

***

Joan Hambidge se resensie van Grilbrigade (Fanie Viljoen) op Boeke24 is groot pret. Kundig oor die boek, maar ook met ‘n sardoniese humor oor haarself en haar agtergrond geskryf.

 

Net een vraag, aan die redakteur van die blad: Wat het die opskrif by die resensie, “Viljoen slaag waar vele ander misluk” met die resensie te doen? Hambidge sê niks van die aard nie. Waarin slaag Viljoen? Om Joan Hambidge se guns te wen? Of om ‘n boek te skryf wat jong lesers se aandag sal boei?

 

***

Iemand vra my onlangs wat die ideale soort resensie is. Dis ‘n vraag met baie antwoorde, maar as ek prakties moet wees, sou ek sê dat Leon de Kock op Boeke24 baie naby daaraan gekom het met sy bespreking van In die withaak se skadu en ander Schalk Lourens-stories.

 

Bygesê, dit help dat hy die samesteller was van die enigste vorige bloemlesing van Afrikaanse vertalings van Herman Charles Bosman se werk.

 

In die withaak se skadu het verlede jaar al aandag op hierdie blad en elders gekry, maar De Kock doen eintlik wat nie een van die vorige resensente van die boek gedoen het nie. Hy sê dadelik dat hy nie fout daarmee kan vind nie, en dan identifiseer hy die vraagstuk wat deur die bundel opgewerp word, naamlik in watter mate Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse lesers van Bosman verkies om die verhale in Engels eerder as Afrikaans te lees.

 

Dít is mos die kern van die saak, die enkele gedagte wat die uitgewer ‘n besluit in een rigting laat maak het en wat vir die boek se bestaan verantwoordelik is.

 

Wat De Kock dan doen, is om die onderwerp vir bespreking oop te stel. Sy resensie eindig dan ook nie met ‘n opsommende oordeel nie, maar met ‘n aanduiding van die besprekingsveld.

 

***

 

Ek skud my kop, kan dit nie verstaan nie. In Sondag se Rapport is daar een groot boeke-resensie, ‘n goedige skryfsel deur ‘n goeie omie. En op hul webwerf is daar drie verdere nuwe resensies oor boeke wat al vyf maande gelede verskyn het wat interessanter is en in een geval baie lewendiger geskryf.

Die papier-uitgawe kry Leon Rousseau se oorsig oor ‘n klompie nuwe publikasies wat die jong leser se verbeelding prikkel. Rousseau skryf altyd met gesag, maar ek dink dit is ‘n artikel dié wat net gelees sal word deur mense wat nog kleuters en peuters het. Dis ‘n bietjie tam, in elk geval, vir iemand wat sy Rapport-leessessie begin het met die onthulling oor Eugéne Terre’Blanche se ander vrou.

Maar hoekom, wonder ek steeds, is Celeste Fritze se uiters prikkelende resensie (vir diegene wat in taalgebruik belang stel) van Bloedwater(Douwleen Bredenhann) slegs op die webwerf gepubliseer? En boonop tweede, ná ‘n redelik formulistiese resensie van dieselfde boek deur Elzette Steenkamp?

Die enigste opmerking in Fritze se betoog wat my totaal dronkslaan, is haar slotopmerking: “Die roman word plek-plek ontsier deur tipografiese foute.” Omdat ek die boek verlede jaar al gelees het, het ek dit nou weer goed bekyk, en ek kan nie begryp hoekom Fritze so iets sê nie. Bloedwater is ‘n boek sonder tipografiese foute.

Dis werklik jammer dat Fritze haar goeie werk met sulke nonsens afsluit.

Nini Bennett se bespreking van Kronkelpad (Irma Joubert) kry ook slegs die internet-behandeling. Maande nadat die boek verskyn het. Die teleurstelling van die laat-resensie word alleen versag deur die feit dat Bennett die boek na behore positief beoordeel.

Wanneer gaan iemand Irma Joubert na waarde skat en iets behoorliks skryf oor haar? Tel die feit dat sy nou een van die gewildste trilogië geskryf het wat nog in Afrikaans verskyn het, dan vir niks?

4 antwoorde op Op die boek af

  1. Crito, ek het hengse groot agting vir jou menings en erken sommer pront dat ek eintlik doodbang is vir jou vlymskerp oë wat niks mis nie. Dit vat dus (leeuinne)moed vir my om hier te kom antwoord.

    Maar ek moet opkom vir Celesté Fritze want sy is reg, daar het ongelukkig ‘n paar tipografiese foute in Bloedwater se eerste druk ingesluip. Die boek is nou in tweede druk en dit is sover ek weet, reggestel.

    Wat resensies betref, hou ek in gedagte dat dit die mening van een resensent is en dat smaak verskil. Celesté Fritze het my egter verstom met die mate waarin sy byna alles ondervang wat ek met die teks probeer doen het.

    Dankie aan jou en die resensente vir jul bemoeienis met hierdie betrokke produk uit my pen. En ‘n mega dankie aan Rapport se boekeredakteur vir twee resensies op een dag.

    Groete,
    Douwleen Bredenhann

  2. crito het gesê op Februarie 18, 2012

    Dankie, Henry!

    @ Douwleen: Niks voor bang te wees nie! Ek wonder of ons dieselfde dinge in gedagte het wanneer ons oor tipografie praat. Ek het die heel eerste uitgawe van die boek geneem, en die lesse wat ek jare gelede by Jurgen Fomm geleer het, daarop toegepas. Geen hoerjongens nie (kort teks op boonste reël van bladsye); geen weduwees nie (kort, enkelwoorde in laaste reëls van paragrawe). Ek het die hele boek verskeie kere deurgegaan en kon geen wit riviere in paragrawe sien nie (daardie sigbare tipgrafiese slote wat weens swak justering binne-in paragrawe ontstaan). Die bladraam en -spieël is konsekwent toegepas en daar was geen wisseling van die geut weens swak bindwerk nie. Voorts het die tipograaf ‘n baie sterk keuse t.o.v. die font gemaak, en haar toepassing van die dalende hoofletter en die ruimte daaromheen is, wat my betref, foutloos.
    Watse foute is met die tweede uitgawe reggestel? Ek sal graag wil weet, en as daar was, graag sake regstel met Celeste Fritze.

    • Praat van mosterd na die maal. In my agterkop het ek al ‘n paar maal geantwoord, maar sowaar nog nie sover gekom om hier op Crito se antwoord te kom reageer nie. Die lewe gebeur en mens raak elders betrokke, dis my enigste verweer. Crito is heeltemal reg dat met “tipografie” bladuitleg en drukwerk bedoel word; en niks skort daarmee in Bloedwater nie. In die betrokke resensie moes ek liewer na die paar spel- en proefleesfoute verwys het en “tipografie” se betekenis nie so onverskillig uitgebrei het nie. Dit spyt my, Douwleen!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.