Profile photo of crito

by

Victor Matfield en suur druiwe

Februarie 7, 2012 in Sonder kategorie

Eersteklas resensies duik soms op wanneer jy hulle nie verwag nie – en boonop op plekke waar dit amper uit plek is. Jaco Fouché s’n van Victor – My reis deur Victor Matfield en De Jongh Borchard is een van hulle.

Die resensie het begin van die maand op LitNet se resensiewerf opgeduik.

Dit is geskryf met baie inligting oor die boek – maar ook net genoeg om die leser te laat besef dat die boek self gelees sal moet word vir die volle storie. Vir iemand soos ek, wat elke jaar noodgedwonge saam met die een man in die huis rugby sit en kyk en ‘n soort gevoel opgebou het vir Victor Matfield, is dit ‘n resensie wat ‘n paar keer gelees moes word net om te sorg dat ek niks gemis het nie.

My genoot het my aandag wel gevestig op een paragraaf in die resensie wat Fouché volgens hom met groot dissipline geformuleer het:

“Matfield vertel die hele verhaal, van hoe hy as kind deur sy pa gebrei is om sterk te raak vir sport, hoe hy op skool begin uitblink het, ook in krieket, maar gereeld uit die span of posisie gehou is waarvoor hy gewerk het, hoe die patroon hom in sy studentejare en jong volwasse lewe herhaal het.”

Dit is ‘n formulering, sê hy, wat in ag neem dat Victor Matfield se gunsteling posisie dié van senter is.

Suur druiwe.

***

Rapport se Boeke het twee resensies opgelewer wat gemengde gevoelens wek.

Die eerste, Wilhelm Jordaan se bespreking van Die prinses in elke vrou, deur Cas van Rensburg, is as geheel ‘n deeglik oorwoë reaksie. Ek het baie waardering vir die manier waarop Van Rensburg iets meer probeer maak van die sprokies wat ons so goed ken, maar wat baie mense, soos ekke, altyd net op een vlak beoordeel het.

Jordaan spreek respek vir Van Rensburg uit. Tog kon ek nie help om deurentyd die gevoel te hê dat die “ja, maar …”-oomblik net om die draai lê nie. Dié breek dan ook in die derde laaste paragraaf aan, wanneer Jordaan ‘n vraagteken plaas agter Van Rensburg se “onkritiese aanvaarding van Jungiaanse begrippe”, en die wyse waarop dit veroorsaak dat “betekenis-eksegese plek-plek lukraak en naïef is”.

Die resensie sou kon doen met ‘n ander benadering. Hoekom nie begin met hierdie belangrike kritiek teen Van Rensburg se Jungiaanse inslag nie? Of het ek dit nog altyd verkeerd oor resensies, dat hulle in die eerste plek krities moet wees? Vergoeliking hoef nie altyd die aanknopingsmetode te wees nie.

Die ander resensie is Amanda de Lange s’n oor In mekaar se skoene, ‘n boek deur Andeline Williams-Pretorius. Dit is nie ‘n onbesonne bespreking nie. Sy laat val net vroeg al een van daardie opmerkings wat my dadelik laat wonder of sy nagedink het oor presies wat sy skryf. Dit is: “As skrywer van die boek In mekaar se skoene – waar staan jy? het sy hoofsaaklik staatgemaak op die kennis wat sy versamel het in haar eie lewe en dit kundig vermeng met die wyshede en kennis wat sy as sielkundestudent en leser van talle boeke oor die onderwerp versamel het.”

 

Die beoordeling “kundig vermeng” veronderstel hier dat die resensent volkome op hoogte is met die totale lewenskennis wat Williams-Pretorius versamel het en in staat is om te beoordeel op welke wyse dit geïntegreer is met die wyshede en kennis wat Williams-Pretorius as sielkundestudent en leser van talle boeke oor die onderwerp versamel het.

 

Dit is wanneer mens met só ‘n wilde uitspraak te doen kry vroeg in die resensie dat die res verdag raak, ongeag hóé knap verwoord.

 

***

 

Hans Pienaar, ‘n digter, skryf in dieselfde Rapport Boeke oor Johann de Lange se kwatrynbundel Weerlig van die ongeloof. Hy begaan dieselfde fout as Wilhelm Jordaan hierbo – steek die eintlike ding wat hy wil sê weg op ‘n plek in die resensie net voor die resensie begin oninteressant raak: “Dis ’n unieke bundel, en dit beveg op sigself die hiërargiese, outoritêre strukture wat maar net nie wil wankel in Afrikaans en Afrikaners se wêreld nie.”

 

As hy daarmee begin het, kon Pienaar ‘n hele resensie gebruik het om aan te toon hóé Johann de Lange die hiërargiese, outoritêre strukture beveg. In die plek daarvan het ons egter ‘n flouerige poging om die bundel krities te benader. Geen groot insigte nie. Ek moes my dwing om die resensie end-uit te lees.

 

***

 

Boeke24 se boekeblad buig vandeesweek die knie voor Engels.

3 antwoorde op Victor Matfield en suur druiwe

  1. HeavyHenry het gesê op Februarie 7, 2012

    Alweer ‘n kundige vermenging…

    🙂

  2. Matfield as senter – dis spot.

  3. lora2me het gesê op Februarie 7, 2012

    Er staat niet wat er staat!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.