Jy blaai in die argief vir 2011 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Steeds wagtend

Desember 6, 2011 in Sonder kategorie

Meeste van 2011 se boeke is reeds gepubliseer. In boekwinkels word mens deur die winkelbeplanners gelei na die belangrikste boeke van die seisoen. Hulle weet hulle verkoop sowel geskenke as boeke vir ernstige leesgieriges.

En op die boekeblaaie van die koerante sien jy dan ook hoe die belangrikste titels van die somerseisoen die een na die ander verbykom. Ek het gehoop Rapport se Desember-bylaag van Boeke die twee besprekings sou hê waarop ek (en ek is seker die skrywers en hul bewonderaars ook) nou al ‘n ruk wag: Sonja Loots se Sirkusboere en Deon Meyer se 7 Dae.

Maar die hoop het beskaam. Niks oor Meyer se boek nie, terwyl ‘n onderhoud met Loots, gevoer deur Riette Rust, prominent is. Gaan daar ooit ‘n bespreking van elk wees? Dit sal bitterlik jammer wees as mense wat wil lees wat die resesente van hierdie boek sê, moet tevrede bly met die onderhoude wat met die skrywers gevoer is.

Wat wel baie prettig was aan Rapport-Boeke, is Fransjohan Pretorius se reaksie op Margaret Bakkes se Fado vir ‘n vreemdeling. Pretorius is ‘n historikus, nie ‘n literator nie. Hy laat hom dan ook nie uit oor die literêre sy van sake nie, behalwe waar hy die aandag vestig op opmerkings tersyde, wat wesentlik deel is van Bakkes se retoriese strategie.

Wat die resensie aanbevelenswaardig maak, is die feit dat Pretorius deurentyd bewus is van die manier waarop Bakkes se verhaal gebonde is aan feite. En dit is die feite, die waarheid, wat mens raak.

Wanneer Pretorius dan in sy slotopmerkings sy aanloop neem en uiteindelik sê dat hierdie boek lesers aan die hart gaan gryp, is dit nie net die historikus wat praat nie. Dis die stem van ‘n leser, ‘n gewone mens, wat diep, diep ontroer is.

Komend van die persoon wat Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog geskryf het en beslis geen illusies het oor die uiterstes van menslike smart nie, is dit nogal ‘n pluimpie.

Nog ‘n naam wat mens nie té gereeld sien as resensent van literêre publikasies nie, is Saartjie Botha, die bekende toneelregisseur en dramaturg. Boeke24 het Botha gevra om Carina Stander se Wildvreemd te bespreek, met Nini Bennett wat ‘n alternatiewe mening gee.

Bennett se bevinding is baie positief. Sy staan baie ruimte af aan ‘n uiteensetting van die verhaal – wat nie noodwendig altyd ‘n goeie ding is nie. Dit bring haar uiteindelik by enkele opmerkings oor Stander se taalgebruik, en die voortreflikhede van die intrige en die aanwending van ‘n verskeidenheid perspektiewe. Uiteindelik lyk dit vir hierdie leser asof Bennett se slot-evaluasie ingegee is deur die positiewe aspekte van die roman se tematiek: “Stander skryf met hoop: téén wreedheid en ongeregtigheid in, en met die gerusstelling dat liefde, versoening en geregtigheid  seëvier.”

 

Saartjie Botha se resensie, wat meer krities is en die roman nie ‘n ongekwalifiseerde sukses vind nie, is deur Boeke24 as hoofresensie gebruik. Ek het al vantevore gewonder hoekom Boeke24 voorkeur gee aan die meer negatiewe resensies wanneer ‘n hoofresensie vir die papier-weergawe van die blad gekies word.

 

Meestal is die antwoord nie onmiddelik te vind nie, maar hierdie keer wel. Botha se resensie is eenvoudig net ‘n beter geskrewe resensie, en die aard van die kritiek wat uitgespreek word, dui op ‘n kennersoog wat leemtes in die aanbod gevind het.

 

Vergelyk mens Botha en Bennett se resensies, sien jy dat Botha heelwat meer dinge gevind het wat sy kon goedkeur of prys. Aan die ander kant het sy ook meer gebreke raakgesien, en daarom is dit dat mens geneig is om aandag te gee aan haar slotoordeel, naamlik dat Wildvreemd ‘n moedige poging is, maar dat mens uitsien na ‘n volgende roman sonder die tekortkominge.

 

***

 

Ek is tot vroeg in 2012 op reis, maar as iets my oog via die web vang, sal ek van my laat hoor.