Profile photo of crito

by

Liefde en seks en die spiere van verhale

November 1, 2011 in Sonder kategorie

Die karige opbrengs aan resensies van Afrikaanse boeke het vandeesweek darem vir ‘n bietjie pret gesorg. J.B. Roux verwys in sy resensie van Maretha Maartens se Laduma vir die liefde (Rapport) na die feit dat dié roman die laaste is wat in Tafelberg se Mirre-reeks gepubliseer gaan word.

Skynbaar is die bestaan van dié reeks boeke, waarin liefdesverhale uit ‘n godsdienstige hoek oorgedra word, afhanklik van die boekklub Leserskring. Leserskring het gevind Mirre-boeke verkoop swak. Soos Roux dit stel: “Romanses en godsdiens is nie ‘n goeie kombinasie nie.” Glo té heilig vir mense wat oor liefde wil lees.

Hy haal ook vir Maartens aan, wat voel dat die boeke nie duidelik genoeg as Christelike verhale bemark is nie. Miskien kwel dit haar nie dat Leserskring se Moslem-lede dan nie haar boeke sal bestel nie.

Wat die redes ookal mag wees, ek kon nie help om te lag oor die groot ironie wat hier aan die werk is nie. As mense nie Mirre-boeke wil koop omdat daar net liefde in is, en geen seks nie, is dit mos die finale bewys dat daar mense is vir wie seks gelyk is aan liefde.

My ouers en ons dominee sal nie met hulle saamstem nie, maar daar het jy dit. Wie is ons om met Leserskring se lede te argumenteer?

Ernstig nou: Ek is bly om weer Cilliers van den Berg se naam op Boeke24 se blad te sien. Hierdie keer resenseer hy S.J. Naudé se bundel kortverhale, Alfabet van die voëls.

Dit is Naudé se debuutbundel, en ofskoon Van den Berg ‘n taamlik neutrale toon in sy resensie handhaaf, is daar baie aanduidings in die resensie dat Alfabet van die voëls een van vanjaar se balangrike Afrikaanse publikasies is.

Van den Berg se neutrale toon kan sekerlik na sy akademiese benadering herlei word; dit is wat hy sê wat mens laat snap dat hy baie opgewonde is oor die bundel.

Met resensies soos hierdie is ek altyd bedag op die aanbreek van die “maar”-oomblike – daardie plek in die resensie waar ‘n positiewe betoog omgeswaai word om negatiewe kritiek aan die bod te stel.

In hierdie resensie is daar twee “maar”-oomblikke, wat Van den Berg teen jou lees-verwagting na ‘n ander rigting as negatiewe opmerkings laat beweeg. Hy gebruik die eerste maar om die fokus in sy eie betoog te verskuif en die leser se aandag te vestig op ‘n belangrike element wat die verskillende verhale verbind, en die tweede maar om die uitwerking van die lees van die bundel saam te vat en dit aan te bied as ‘n positiewe aanduiding van die bundel as geheel se krag.

Wat ek wel in Van den Berg se resensie mis, is ‘n aanduiding van hoe hy Alfabet van die voëls takseer binne die groter literêre konteks. Sou hy byvoorbeeld sê dat nie baie van die verhale in Alfabet van die voëls in Die groot Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem kan word nie, omdat hulle nie onafhanklik van mekaar gesien kan word nie? En hoe vergelyk Naudé se werk met dié van ander skrywers wat steeds die kortverhaal as genre bedryf?

En les bes sou dit die koerantleser se eerste kennismaking met S.J. Naudé soveel interessanter gemaak het as Van den Berg meer uit Naudé se skryfwerk aangehaal het as wat wel die geval is. Mens kry die idee dat die liggaam mooi is, maar hoe lyk die definissie van die spiere?

1 antwoord op Liefde en seks en die spiere van verhale

  1. ek het vir die eerste keer so paar weke gelede op ‘n christelike roman afgekom. dit was goed geskryf en alhoewel daar nie seks in was nie, was dit wel ‘n “sexy” boek. die tension was daar, maar bygese was daar ook die persoonlike ervaring van geestelike groei. Dit was vir my iets nuuts. as leser sal ek graag weer so iets wil lees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.